GEWELD IN SUID AFRIKA

LISE VRA: Ons almal leef daagliks saam met geweld in ons land. Dié van ons wat dit nie eerstehands ervaar nie, lees daarvan in die koerant en hoor en sien dit oor die radio en op televisie. Dit moet tog ‘n effek op die meeste mense hệ?

LOUIS ANTWOORD: Absoluut. Suid-Afrika het een van die hoogste geweldsmisdaadsyfers ter wêreld, en die misdaadberigte alleen moet ‘n impak op die meeste mense hệ.

Diegene wat ná ‘n besoek aan die buiteland na Suid-Afrika terugkeer, kom telkens met ‘n skok agter hoe onveilig hulle hier voel.

LISE VRA: Is misdaad en geweld dieselfde ding?

LOUIS ANTWOORD: Nee. By geweldsmisdaad is daar ‘n oortreder en ‘n slagoffer, en slegs die oortreder neem vrywillig deel. Die slagoffer het geen keuse nie. ‘n Boksgeveg is ook gewelddadig, maar dit is nie ‘n misdaad nie omdat albei partye vrywillig deelneem en bepaalde reëls tydens die geveg moet gehoorsaam.

LISE VRA: Watter sielkundige toestand kan mense wat aan geweldsmisdaad blootgestel is ontwikkel, selfs diegene wat nog nie direk daarmee te doen gekry het nie?

LOUIS ANTWOORD: Angstoestande onder ‘n baie groot aantal Suid-Afrikaners kan direk aan ons hoë geweldsmisdaadsyfer toegeskryf word. Angs is per definisie iets wat ‘n mens net oor die toekoms kan hệ, nie oor die verlede nie. Algemene angsversteuring kan ontwikkel oor bekommernis wat met veiligheid en sekuriteit verband hou. Ons weet ook dat angs en depressie baie nou aan mekaar verwant is, en dit is reeds bekend dat talle Suid-Afrikaners aan depressie ly, ongeag hul sosio-ekonomiese omstandighede.

Iemand wat aan ‘n geweldsmisdaad blootgestel is, kan ook posttraumatiese stresversteuring ontwikkel. Dit is ‘n erge vorm van angsversteuring. Selfs diegene wat nie direk blootgestel is nie maar tog baie nou by die slagoffer betrokke is (bv. familie of vriende) kan die simptome ontwikkel. In hierdie geval praat ons van ‘n sekondệre posttraumatiese stresversteuring.

Ek wil voorstel dat ons volgende week net oor posttraumatiese stresversteuring gesels omdat a) dit so ‘n gespesialiseerde toestand is en b) buitengewoon baie mense in Suid-Afrika daaronder gebuk gaan.

LISE VRA: Dis reg so! Maar hoe bly ‘n mens geestesgesond te midde van al die geweld?

LOUIS ANTWOORD: Dit is natuurlik moeilik, maar ‘n mens moet realisties wees. Dit help nie ons ontken wat om ons gebeur nie, want dit kan tot onbewuste angs lei. Die teenvoeter vir angs is beheer, maar dan oor slegs dit wat jy kán beheer. Om jou oor ‘n waarskynlike aanval in die toekoms op te werk is vrugteloos, want jy kan dit nie beheer nie. Jy kan wel beplan wat jy gaan doen indien jy aangeval word, of jy kan soveel moontlik doen om te sorg dat jy nié aangeval word nie.

Omdat mense se omstandighede verskil, sal elkeen se beplanning en voorsorg anders lyk. Dit is egter belangrik dat mense op hierdie manier beheer sal neem oor ‘n situasie waaroor hulle andersins geen beheer het nie.