ANGS VERSTEURINGS

WAT IS ANGS?

Angs is ‘n toestand wat almal van ons in sekere stadiums van ons lewens ervaar, al is dit net vir ‘n paar minute. Die aanwesigheid van angs in sekere situasies is alledaags en gesond, want die liggaam word dan “in gereedheid gedwing” om weerstand te bied teen fisieke gevaar, realistiese bekommernisse of situasies waarin ‘n mens normaalweg gespanne sou voel. Mense ervaar byvoorbeeld ‘n mate van angs tydens nuwe, uitdagende of gevaarlike situasies. Gesonde angs maak ‘n persoon gereed om hierdie situasies beter te kan hanteer deurdat die liggaam meer adrenalien in die spiere spuit, jou hart vinniger laat klop en jou visie vernou. As die liggaam egter hierdie angs “oordryf” (as daar nie regtig ‘n logiese rede vir die angsgevoel is nie) of meer gereeld laat voorkom as wat nodig is, praat ons van algemene angsversteuring.

LOUIS EN LISE BESPREEK Angs

LISE VRA: Aan die begin van 2012 is ek gediagnoseer met algemene angs. Na ‘n baie lang en moeilike proses van besluitneming het ek gekies om medikasie te gebruik. Dit het my lewe verander.
  • DENKE: Vóór medikasie is ek voortdurend gepla deur die vraag “wat as?” en het deurentyd gefokus op alles wat verkeerd kan loop.
  • GEVOEL: Daar was ‘n bang gevoel en ‘n konstante knoop in my maag, al het ek nie geweet waarvoor ek bang was nie.
  • GEDRAG: My buie het van dag tot dag gewissel, en dan het ek sosiaal onttrek. Ek was ook byna chronies geïrriteerd.
Uiteindelik het ek ‘n psigiater gaan spreek, wat verduidelik het hoe medikasie my kan help. En dit het!
LOUIS ANTWOORD: Dit is ‘n baie goeie voorbeeld van ‘n algemene angsversteuring, wat ‘n medies diagnoseerbare toestand is. Dit kom ook redelik algemeen voor, veral in ons moderne tyd. Tientalle pasiënte in my spreekkamer sukkel daarmee. Soos met enige ander toestand, kom dit in verskillende grade voor. Die ergste voorbeeld is herhaalde paniekaanvalle. In sommige gevalle is daar selfs ‘n onvermoë by die persoon om sonder vrees by sy of haar voordeur uit te loop. Maar gelukkig is hierdie erge graad van angs nie so algemeen nie en weet die meeste mense wat aan algemene angs ly nie eens dat hulle tekens daarvan het nie.
Drie of meer van die volgende simptome moet vir ten minste 6 maande kronies voorkom:
  • rusteloosheid; “on the edge”-gevoel
  • moegheid of uitputting
  • onvermoë om te konsentreer
  • geïrriteerdheid
  • spiersametrekkings
  • ‘n abnormale slaappatroon; slaap óf te veel óf te min.
Die simptome moet nie die gevolg van fisieke probleme soos siekte of die gebruik van dwelmmiddels wees nie.
LISE VRA: Beteken dit dat mense wat nie toegang tot medikasie het of dit nie kan bekostig nie, niks aan ‘n angstoestand kan doen nie?
LOUIS ANTWOORD: Nie noodwendig nie. Die meeste mense maak die fout om te dink daar is “iets verkeerd in hulle “kop” as hulle gediagnoseer word met ‘n angstoestand. Dit is gewoon nie waar nie, omdat angssimptome ‘n fisieke basis het. Dit is jou outomatiese senuweestelsel wat jou hart vinniger laat klop, adrenalien in jou bloedstroom spuit en jou spiere meer laat saamtrek as normaalweg. Jy kan dit nie verhelp nie. Daarom werk medikasie effektief en vinnig, want dit is nogal eenvoudig. ‘n Mens kan angs bestry deur ‘n gesonde leefstyl, meditasie en fisieke oefening, wat eintlik ideaal is. So ‘n leefstyl neem net langer as medikasie om die simptome te beheer.

ALGEMENE ANGSVERSTEURING

Het jy geweet?

Ongeveer 8% van volwassenes in Suid-Afrika kan diagnoseerbaar met algemene angsversteuring wees. Dit kom ook meer onder vroue as onder mans voor.
Gesonde angs gaan oor in ‘n angsversteuring wanneer dit ‘n mens se lewe negatief begin beïnvloed, soos om jou produktiwiteit te verminder en te veroorsaak dat jy nie soos vroeër kan funksioneer in jou alledaagse lewe nie. Persone wat aan algemene angsversteuring ly, het dikwels ook 'n swak selfbeeld en is besonder sensitief vir kritiek, verwerping of om geïgnoreer te word. Hulle beskik gewoonlik oor swak hanteringsvermoëns en is geneig om tot uiterstes te gaan om situasies wat hulle angstig maak te vermy.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN ALGEMENE ANGS?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word. Die simptome gaan grootliks daaroor om konstant bekommerd te wees en om heeltyd “iets sleg wat gaan gebeur” te verwag. Om diagnoseerbaar te wees moet drie of meer van die volgende simptome vir ten minste 6 maande kronies voorkom:


  • rusteloosheid; “on the edge”-gevoel
  • konstante moegheid of uitputting (bv. om “pap” te voel)
  • onvermoë om te konsentreer
  • geïrriteerdheid
  • spiersametrekkings
  • ‘n abnormale slaappatroon; slaap óf te veel óf te min.

Belangrik

Die simptome moet nie die gevolg van ander fisieke kondisies soos siekte of die gebruik van dwelmmiddels wees nie.

BEHANDELING VAN ALGEMENE ANGS

1. Hoekom is behandeling nodig vir algemene angs?
Omdat angsversteuring se simptome FISIEK van aard is kan dit gewoonlik suksesvol behandel word, maar dan word professionele behandeling vereis. Die toestand klaar selde vanself op. Die eerste stap is medikasie, wat deur ‘n huisdokter of psigiater voorgeskryf word of, as jy dit nie kan bekostig nie, deur ‘n mediese praktisyn by enige algemene hospitaal se ongevalle-afdeling. Saam met medikasie is hulp en ondersteuning deur ‘n kliniese sielkundige, opgeleide berader of selfs ‘n geestelike leier of betroubare berader in jou gemeenskap uiters belangrik. Medikasie is hoogs suksesvol in die behandeling van angs. Dit is oor die algemeen die doeltreffendste en werk die vinnigste.

2. Beteken dit dat mense wat nie toegang tot medikasie het of dit nie kan bekostig nie, niks aan 'n angstoestand kan doen nie?
Nie noodwendig nie. ‘n Mens kan angs bestry deur ‘n gesonde leefstyl, meditasie en fisieke oefening, wat eintlik ideaal is. So ‘n leefstyl neem net langer as medikasie om die simptome te beheer. Basiese medikasie vir algemene angstoestande is ook relatief goedkoop.

{ Hoe kan ons jou help?}

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Facebook

Louis gesels

Kom luister hoekom Louis dink dat angs die siekte van ons tyd is.

Wat is angs?

FOBIE

Fobie is deel van angsversteurings en kom gewoonlik voor as ‘n volgehoue, onlogiese vrees vir ‘n spesifieke objek of situasie. Die persoon wat daaraan ly, sal tot die uiterste gaan om hierdie voorwerpe of situasies te vermy. Die vrees is gewoonlik ook onrealisties en word so deur die persoon wat die vrees ervaar, gesien. As die persoon nie daarin slaag om die situasie of objek (bv. ‘n spinnekop of vergadering) te vermy nie, veroorsaak dit intense ongemak of angs en sukkel die persoon om sy/haar huidige aktiwiteit te voltooi. Fobies word oor die algemeen in drie kategorieë verdeel:

  • Sosiale fobie: Vrees vir ander mense of sosiale situasies, bv. verleentheid of selfbewustheid in ander mense se teenwoordigheid; vermyding van openbare situasies of gesprekke met ander.
  • Spesifieke fobie: Vrees vir iets spesifieks, bv. spinnekoppe, hoogtes, slange, noutes, ens. Die meeste mense ervaar ‘n mate van vrees vir hierdie dinge, maar iemand met ‘n volledige fobie sal enigiets doen om hierdie voorwerpe of situasies te vermy.
  • Agorafobie: ‘n Algemene vrees om ‘n mens se huis of ‘n spesifieke, “veilige” area te verlaat, met moontlike paniekaanvalle wat daarop kan volg. Hierdie angs kan ook aangevuur word deur spesifieke fobies, soos vrees vir kieme, openbare plekke, winkelsentra, ens.

Belangrik

  • Oor die algemeen neem fobies ‘n aanvang in die tienerjare, veral vanaf die ouderdom van 13.
  • Daar word beraam dat sowat 8% van alle volwassenes aan die een of ander fobie ly.
  • Na beraming ly sowat 15% van alle tieners aan die een of ander fobie.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN 'N FOBIE?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word. Om diagnoseerbaar te wees moet daar ‘n herhalende patroon van duidelike en aanhoudende irrasionele vrees wees, wat geaktiveer word deur ‘n spesifieke objek of situasie (bv. vlieg, diere, ‘n inspuiting). Blootstelling aan hierdie situasies of objekte veroorsaak onmiddellike angs, wat fisiek waarneembaar is (bv. huil, paniekaanvalle).


  • Die persoon besef dat sy of haar angs irrasioneel is (behalwe by kleiner kinders).
  • Die situasie of objek word met intense angs en stres ervaar.
  • Pogings om die gevreesde situasie of objek te vermy, meng in met die persoon se sosiale funksionering op daardie oomblik.
  • By individue onder 18 jaar moet dit ten minste 6 maande lank voorkom.

BEHANDELING VAN FOBIE

1. Hoekom is behandeling nodig vir fobie?
Fobie is ‘n ernstiger graad van angs. In sommige gevalle is daar selfs ‘n onvermoë by die persoon om sonder vrees by sy of haar voordeur uit te loop. Hulp en ondersteuning deur ‘n kliniese sielkundige of ander kategorie sielkundige wat ervaring van die toestand het, is uiters belangrik om hierdie versteuring te behandel. Psigoterapie word ook dikwels in kombinasie met medikasie toegepas om ‘n fobie te behandel.

Louis se fobie

Louis gesels oor sy fobie en hoe hy daarmee saamleef.

Lise se fobie

Lise vertel van haar fobie en die effek wat dit op haar lewe het.

Wie is ek? op RSG

Die meeste van ons het ‘n vrees vir iets. Wanneer is dit ‘n vrees en wanneer is dit ‘n fobie? Louis (volwassebehandeling) en Braam (kinderbehandeling) gesels oor fobies, hoe dit ‘n persoon se lewenskwaliteit affekteer en hoekom professionele behandeling ‘n dramatiese verskil kan maak. Luister na die RSG-potgooi

PANIEKAANVALLE

Paniekaanvalle is nie ‘n angsversteuring op sigself nie, maar verdien bespreking as aparte onderwerp. ‘n Paniekaanval is ‘n skielike, oorweldigende gevoel van akute angs. So ‘n episode voel soos 'n ramp en gaan gewoonlik gepaard met simptome soos onreëlmatige of vinnige hartkloppings, kortasemigheid en borspyn. Die aanval begin skielik en bou vinnig op tot 'n hoogtepunt. Die ervaring kan van ‘n paar minute tot 'n halfuur duur, en kan verskil in intensiteit.

Interessante feite

  • Paniekaanvalle is algemeen; byna 30% van alle volwassenes het ten minste al een paniekaanval ervaar.
  • Vroue word meer dikwels aangetas as mans.
  • Paniekaanvalle kan as geïsoleerde ervarings in normale volwassenes voorkom; in sulke gevalle is daar geen diagnose nie.

Patologiese (baie ernstige) paniekaanvalle begin gewoonlik in 'n persoon se twintigerjare. Paniekaanvalle kan in isolasie voorkom (as die simptome nie kwalifiseer vir 'n diagnose van ‘n angsversteuring nie) of in samehang met 'n verskeidenheid ander versteurings, wat agorafobie, sosiale angsversteuring, spesifieke fobie, posttraumatiese stresversteuring (PTSV), gemoedsversteurings en psigotiese versteurings insluit. Angsversteuring kan ook weens 'n ander mediese toestand, soos sekere breinbeserings, voorkom.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN PANIEKAANVAL?

‘n Paniekaanval is vrees wat skielik ontstaan en onmiddellik 'n verskeidenheid van klassieke “veg-of-vlug”-simptome vertoon. Die volgende simptome gaan met ‘n paniekaanval gepaard:

  • pyn in die bors
  • koue rillings
  • warm gevoel
  • verstikking
  • kortasemigheid
  • vinnige of onreëlmatige hartklop
  • gevoelloosheid
  • oormatige sweet
  • naarheid
  • duiseligheid en/of
  • bewing

As gevolg hiervan kan mense in ’n paniekaanval-episode ‘n gevoel van onwerklikheid ervaar (‘n buite-die-liggaam-gevoel), bang wees dat hulle hul verstand verloor of selfs dink dat hulle besig is om dood te gaan.

BEHANDELING VAN PANIEKAANVALLE

1. Hoekom is behandeling nodig vir paniekaanvalle?
Paniekaanvalle kan in ‘n intense formaat fisiologiese gevolge hê of ten minste baie verwarrend voel. Behandeling is soms selfs maklik, bv. om in ‘n papiersakkie asem te haal. Daar is ook medikasie beskikbaar wat paniekaanvalle kan voorkom. Medikasie is hoogs suksesvol in die behandeling van paniekaanvalle, en werk gewoonlik effektief en vinnig. Daarmee saam is hulp en ondersteuning deur ‘n kliniese sielkundige of ‘n ander kategorie sielkundige wat ervaring hiervan het, uiters belangrik om hierdie versteuring te behandel. Psigoterapie word ook dikwels in kombinasie met medikasie toegepas om ‘n fobie te behandel.

2. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
Omdat paniekaanvalle kompleks is sou ons jou aanraai om slegs deur ‘n kliniese sielkundige of psigiater gediagnoseer te word. Hulle is opgelei om tussen verskillende angsversteurings te onderskei.

3. Watter rol speel ‘n sielkundige in my behandeling?
‘n Sielkundige kan paniekaanvalle identifiseer en psigoterapeuties behandel. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om ‘n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. ‘n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk normaalweg saam met ‘n psigiater in spanverband.

OBSESSIEF-KOMPULSIEWE VERSTEURING

Het jy geweet?

  • Obsessief-kompulsiewe versteuring is ‘n angsversteuring wat op enige ouderdom ‘n aanvang kan neem, maar dit begin meestal in die jongvolwassenestadium.
  • Die versteuring raak twee tot drie persent van die samelewing en kom onder alle ekonomiese groepe, rasse en gelowe voor.
  • Obsessief-kompulsiewe versteuring kan lyers se lewe oorweldig; dit kan hulle ongeskik maak vir werk en sosialisering en hulle verhinder om familiebyeenkomste te geniet.
Obsessief-kompulsiewe versteuring is ‘n vorm van angsversteuring. Dit word gekenmerk deur gedagtes wat oor en oor herhaal word en ongemak, afwagting, vrees of kommer tot gevolg het. Deur herhalende gedrag probeer persone dan hierdie gedagtes “orden”. Algemene simptome is ‘n obsessie met higiëne (hande word bv. herhaaldelik gewas); herhaalde seker maak dat sekere dinge reeds gedoen is (dat die voordeur bv. gesluit is); oormatige versameling van items; beheptheid met seksuele, gewelddadige of godsdienstige gedagtes; ‘n afsku van sekere syfers, en senuweeagtige rituele (bv. om ‘n deur eers drie keer oop te maak voor hy of sy ‘n vertrek binnegaan). Hierdie rituele neem baie tyd in beslag en veroorsaak kroniese emosionele en finansïele probleme. Deeglik bewus van sy of haar eienaardige gedrag en dat dit vir ander mense “vreemd” of “psigoties” mag lyk, maak sy of haar gedragsimptome die persoon net meer angstig.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN OBSESSIEF-KOMPULSIEWE VERSTEURING?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

Om diagnoseerbaar te wees moet daar ‘n herhalende patroon van beheptheid met ordelikheid, perfeksionisme en sielkundige beheer wees. Hierdie patroon moet van so ‘n aard wees dat dit die persoon se algemene aanpassing en effektiwiteit belemmer, en moet ten minste vier of meer van die volgende simptome insluit:


  • Beheptheid met besonderhede, reëls, orde, struktuur en skedules, met die gevolg dat die oorspronklike doel van die aktiwiteit verlore raak.
  • Perfeksionisme, wat inmeng met die voltooiing van take (bv. ‘n projek wat nie kan voortgaan nie omdat “alles nie reg is nie”).
  • Oormatige toewyding aan werk en produktiwiteit (nie om ekonomiese redes nie), tot by die punt waar vrye tyd en vriendskappe verlore gaan.
  • Oormatige pligsgetrouheid, voorbeeldigheid en onbuigsaamheid ten opsigte van morele aangeleenthede.
  • Onvermoë om ongebruikte of verouderde artikels weg te gooi, selfs al het hulle geen sentimentele waarde nie.
  • Huiwering om te delegeer of saam met ander te werk, tensy hulle presies soos hy of sy te werk gaan.
  • ‘n Suinige benadering tot die spandering van geld op self en ander.
  • Ongewone rigiditeit en hardkoppigheid.

BEHANDELING VAN OBSESSIEF-KOMPULSIEWE VERSTEURING

1. Hoekom is behandeling nodig vir obsessief-kompulsiewe versteuring?
Omdat dit ‘n angsversteuring is kan obsessief-kompulsiewe versteuring gewoonlik effektief met medikasie, in samehang met psigoterapie, behandel word. ‘n Huisdokter of enige algemene praktisyn is gewoonlik ‘n goeie begin. Indien moontlik, is dit raadsaam om ‘n psigiater te gaan spreek. Psigiaters is spesiaal opgelei om hierdie simptome te behandel.

2. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
Omdat obsessief-kompulsiewe versteuring so kompleks is sou ons jou aanraai om jou net deur ‘n kliniese sielkundige of psigiater te laat diagnoseer. Hulle is opgelei om tussen verskillende angsversteurings te onderskei.

POSTTRAUMATIESE STRESVERSTEURING (PTSV)

Posttraumatiese stresversteuring is ‘n ernstige angsversteuring wat kan ontwikkel ná enige voorval wat sielkundige trauma veroorsaak het. Dit kan ‘n situasie wees waarin jou eie lewe bedreig is of waar jy betrokke was by ‘n situasie waarin iemand anders gesterf het of in lewensgevaar was. Trauma kan ook veroorsaak word deur gebeure wat die persoon se fisieke, seksuele of sielkundige funksionering negatief beïnvloed het en waar hy of sy ‘n gevoel van magteloosheid ervaar het.

Verdere voorbeelde van oorsake kan die volgende insluit:

  • herhaalde blootstelling aan geweld
  • die dood van ‘n geliefde, troeteldiere ingesluit
  • ‘n ongeluk (motorongeluk; ‘n ongeluk by die werk of in die huis)
  • ‘n gewapende roof, huishoudelike geweld, verkragting
  • ‘n kaping (“highjacking”) of breek-en-gryp ervaring (“smash & grab”)
  • die opbreek van ’n verhouding
  • natuurrampe, ‘n brand of ‘n vloed
  • diagnose van ‘n terminale siekte
  • oorlog

Het jy geweet?

Posttraumatiese stres is ‘n term wat baie bekend is in die algemene spreektaal, maar wat selde korrek verstaan word. Terme soos “bomskok”, “bossies” en verskeie ander beskrywings vir die toestand word gereeld gebruik. Dit kan enigiemand oorkom, ongeag sy of haar kultuur, geslag, oortuigings, ens.

Hoekom is professionele hulp nodig vir trauma?

Dit is belangrik om te besef dat dit vir die meeste mense normaal is om stres te ervaar as hulle aan bogenoemde situasies blootgestel word. Sommige mense is gelukkig in die sin dat hulle nie normaalweg vatbaar is vir stres en trauma nie, maar dit kan ook gesê word dat elke persoon sy of haar grense het wat oorgesteek kan word om trauma te veroorsaak.

Het jy geweet?

In Suid-Afrika is die voorkoms van PTSV abnormaal hoog, veral onder lede van die veiligheidsmagte en sekuriteitsdienste. Hierdie voorkoms word direk toegeskryf aan die hoë voorkoms van misdaad.
Vir sommige mense sal die reaksies op en simptome ná ‘n traumatiese gebeurtenis verminder en na ‘n paar weke weggaan (bekend as akute stresversteuring), MAAR indien hierdie simptome vir 6 weke of langer voortduur, kan dit tot PTSV lei. Simptome van PTSV verskyn normaalweg binne ‘n paar weke na die trauma, maar dit gebeur soms dat ‘n lang periode tussen die snellergebeurtenis en die aanvang van PTSV-simptome verloop. Vir sommige mense, veral kinders, kan dit maande of selfs jare neem voordat hulle enige van die simptome wat met PTSV geassosieer word, vertoon.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN POSTTRAUMATIESE STRESVERSTEURING (PTSV)?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die DSM5(Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders 5, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.


  1. Blootstelling aan ‘n traumatiese gebeurtenis. Hierdie gebeurtenis moet die volgende insluit:
    1. ‘n verlies aan “fisieke integriteit”, of gevaar van ernstige besering aan self of ander, en risiko van dood;
    2. ervaring van hierdie gebeurtenis as intens angsaanjaend en afgryslik.
  2. Herhaalde herbelewing van die gebeurtenis. Een of meer van die volgende moet teenwoordig wees:
    1. terugflitse
    2. herhalende, onstellende drome
    3. herhaalde gedagtes aan die voorval
    4. intense negatiewe fisieke of sielkundige reaksie as die persoon blootgestel word aan iets wat hom of haar aan die gebeurtenis herinner (bv. ‘n televisieprogram).
  3. Volgehoue vermyding en emosionele afgestompheid.Dit sluit doelbewuste vermyding van gedagtes, gevoelens, fisieke plekke, geheue of enigiets in wat aan die voorval herinner.
  4. Aanhoudende simptome van fisieke geagiteerdheid, wat nie daar was voor die insident nie. Dit kan die volgende insluit: versteurde slaappatrone, probleme met aggressie en/of konsentrasie en/of algemene spanning. Verdere tekens kan konstante irritasie en oormatige skrikreaksies insluit.
  5. Die simptome moet meer as 4 weke lank duur.
  6. Die persoon se simptome moet beduidende probleme in belangrike areas van die lewe soos werk, belangstellings, ontspanningsaktiwiteite en verhoudings veroorsaak.

Belangrik

Ons ervaar almal stres na traumatiese situasies, selfs oor ‘n lang tydperk, maar dit beteken nie dat ons almal diagnoseerbaar is met PTSV nie. Dis egter belangrik om jouself of jou geliefdes dop te hou as ligte tekens meer gereeld oor ‘n tydperk van 4-6 weke voorkom.

LOUIS EN LISE BESPREEK posttraumatiese stresversteuring

LOUIS: Posttraumatiese stres is ‘n ernstige, diagnoseerbare mediese toestand. Dit sorteer ook onder angsversteurings. Om daarmee gediagnoseer te word moes ‘n persoon in ‘n situasie gewees het waar hy of sy in lewensgevaar was of teenwoordig gewees het toe iemand anders in lewensgevaar was.
Ons het ‘n abnormale hoë voorkoms van posttraumatiese stres in Suid-Afrika, veral onder mense in sekuriteitsberoepe (polisie, korrektiewe dienste, privaat sekuriteitsdienste, ens.).
LISE VRA: ‘n Mens hoor net van polisiemanne en Amerikaanse soldate wat aan posttraumatiese stres ly. Kan gewone burgers ook daaraan ly?
LOUIS ANTWOORD: Enigiemand, ongeag die persoon se kultuur, geslag of ouderdom kan aan posttraumatiese stres ly. Dit kom oraloor voor. Die slagoffers van Hurricane Katrina in New Orleans en die 2005 tsunami-slagoffers is ekstreme voorbeelde, maar mense dwarsoor die wêreld wat daagliks aan geweld blootgestel word, kan daaraan ly. Omdat ons voorkoms van geweldsmisdaad so hoog is kom posttraumatiese stres in ‘n mindere of meerdere mate onder alle Suid-Afrikaners voor.
LISE VRA: Dit maak ‘n mens bekommerd! Hoe weet ‘n mens as jy aan posttraumatiese stres ly?
LOUIS ANTWOORD: Daar is ‘n lys van simptome waaraan jy moet voldoen, net soos wat ‘n mens verkoue of griep sou diagnoseer. Die kernsimptoom van posttraumatiese stres is terugflitse, waar die persoon die traumatiese insident oor en oor in sy of haar gedagtes herleef en geen beheer daaroor het nie. Saam daarmee ervaar die persoon ‘n algemene skrikkerigheid, sukkel hy of sy om te slaap, kry nagmerries en vermy ook enigiets, bv.televisieprogramme of gesprekke, wat hom of haar aan die voorval herinner.
LISE VRA: Gaan die simptome na ‘n ruk vanself weg?
LOUIS ANTWOORD: Nee, baie selde. Binne die eerste twee weke na ‘n persoon aan ‘n gebeurtenis blootgestel is (die tydperk waarin hy gewoonlik nog “in skok” is), praat ons van ‘n akute stresreaksie. As dit na twee weke nog voorkom, noem ons dit ‘n posttraumatiese stresversteuring. Hierdie toestand word selde beter. In my praktyk was daar al kliënte wat langer as twintig jaar aan posttraumatiese stres ly.
LISE: Genade! Wat staan mense te doen as hulle die simptome ervaar?
LOUIS: Professionele behandeling, so gou moontlik, is die belangrikste. Hoe langer ‘n mens wag, in die hoop dat die simptome sal weggaan, hoe moeiliker raak dit om hulle onder beheer te kry. Dit is nie iets wat jy sonder professionele hulp moet doen nie, want mense wat hiermee sukkel is vasgevang in hulle simptome en kan nie objektief daarna kyk nie. Onthou, omdat dit ‘n angsversteuring is en dus fisieke simptome het is jy nie “mal” as jy hieraan ly nie. Medikasie verrig wondere, en met die regte begeleiding kan ‘n mens leer om die gebeure “uit jou kop” te kry en te begin beheer.
Omdat simptome algaande kan vererger indien ‘n mens niks daaromtrent doen nie, is posttraumatiese stres nie iets waarmee ‘n mens speel nie. As jy ‘n slagoffer is, gaan soek so gou moontlik hulp by ‘n professionele persoon.

BEHANDELING VAN POSTTRAUMATIESE STRESVERSTEURING

1. Hoekom is behandeling nodig vir posttraumatiese stresversteuring?
Die primêre behandeling vir posttraumatiese stresversteuring is medikasie, psigoterapie (individuele, groeps- en/of familieberading) en ondersteuningsgroepe. Omdat PTSV in wese ‘n ANGSversteuring is (d.w.s in wese FISIEKE simptome het) is dit belangrik om die simptome so gou moontlik met medikasie aan te spreek. Psigoterapie daarmee saam is belangrik om te keer dat die toestand intensifiseer, en om die simptome, indien hulle vroeg genoeg hanteer is, op te los.Die veiligste is om jou huisdokter so gou moontlik na ‘n traumatiese voorval te spreek. Verwysing na ‘n psigiater of kliniese sielkundige sal normaalweg die volgende stap wees. In sulke gevalle is dit beter om veilig te speel (“rather safe than sorry”), aangesien dit ál moeiliker raak om PTSV te behandel as daar te veel tyd tussen ‘n voorval en behandeling verloop.

2. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
Omdat PTSV so kompleks is sou ons jou aanraai om net deur ‘n kliniese sielkundige of psigiater gediagnoseer te word. Hulle is opgelei om tussen verskillende angsversteurings te kan onderskei.

3. Watter rol speel sielkundige in my behandeling?
‘n Sielkundige kan PTSV diagnoseer en psigoterapeuties behandel. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om ‘n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. ‘n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met ‘n psigiater in spanverband.

4. Wat doen medikasie?
Die simptome van posttraumatiese stresversteuring manifesteer baie sterk op ‘n fisieke vlak; die simptome sit, met ander woorde, hoofsaaklik “in die liggaam”. Medikasie probeer om die fisieke simptome van angs wat met terugflitse saamhang, te reguleer.

5. Hoe lank moet ek die medikasie gebruik?
Dit verskil van persoon tot persoon. Jou psigiater sal op ‘n individuele basis aanbeveel hoe lank jy medikasie moet gebruik.

6. My medikasie werk nie vir my nie, wat nou?
Daar is nie “one size fits all”-medikasie vir posttraumatiese stresversteuring nie. Wat vir een persoon werk, mag dalk nie vir iemand anders werk nie. Neem jou medikasie volgens jou psigiater se instruksies, en wanneer jy voel dit het die verkeerde effek op jou of jy ervaar geen verandering nie, gaan spreek so gou moontlik weer jou psigiater. Moet nooit self besluit om sommer net jou medikasie te los nie. Dit is uiters belangrik om altyd ‘n professionele persoon te raadpleeg.

ADVIES VIR GELIEFDES EN FAMILIELEDE WAT SAAM MET IEMAND WOON OF WERK WAT GEDIAGNOSEER IS MET ANGS.

As ‘n geliefde of vriend(in) gediagnoseer word met angs, kan jou ondersteuning en motivering ‘n baie belangrike rol speel in die aanvaarding en hantering van hulle diagnose. Hier is riglyne hoe jy ‘n individu kan bystaan:

  • Wees geduldig. Mense wat onder die aanslag van ‘n angsversteuring verkeer, het nie altyd die vermoë om te sê hoe hulle voel of wat hulle ervaar nie. Gee hulle ‘n kans om eers gewoond te raak aan die diagnose, en om geleidelik ‘n daadwerklike plan te kan uitwerk om hulle lewe van nou af te bestuur.
  • Wees ingelig oor angsversteuring. Hoe meer jy en jou geliefde, familielid of kollega van die siekte weet en verstaan, hoe meer kan julle saamwerk aan ‘n plan om die persoon te ondersteun en die siekte te bestuur.
  • Vra wat jou geliefde van jou verwag. ‘n Mens kan maklik dink jy weet wat die beste vir ‘n ander persoon is, maar die maklikste is om te vra hoe hy of sy wil hê jy moet optree
  • Luister na hom of haar, en moenie konstant raad gee of met logika probeer redeneer nie. Dit is balangrik dat die persoon self verantwoordelikheid neem vir die siektetoestand en die effek wat dit op sy/haar lewe gaan hê. Wanneer iemand keuses namens iemand anders maak, kan dit dalk veroorsaak dat persone afhanklik raak van jou en dan nie self die siekte wil beveg nie. Dit is nie jóú siektestoestand nie, maar jou geliefde s’n. Luister is wel ‘n wonderlike manier om jou geliefde te ondersteun.
  • Leer ken die tekens en die simptome sodat jy vroegtydig kan optree. Almal se simptome van angs manifesteer nie op dieselfde manier nie, so dit is baie belangrik om te verstaan hoe die persoon in jou lewe se simptome manifesteer. Wanneer jou geliefde byvoorbeeld skielik aansienlik meer angs ervaar as ander tye, kan jy solank maatreëls begin tref.
  • Neem deel aan fisieke aktiwiteite saam met die individu. Dit is nie ‘n cliché dat gereelde oefening mense met sielkundige diagnoses help nie. Oefening verlig spanning en angstigheid, en help met die produksie van oordragstowwe wat lae gemoed beveg. Gereelde oefening is dus eintlik ‘n suksesvolle antidepressant.
  • Moedig ‘n gesonde eet- en slaappatroon aan. ‘n Gevestigde roetine help nie net die persoon om hul siekte te bestuur nie, maar help ook om tekens/simptome vroegtydig raak te sien.
  • Kyk mooi na jouself! Onthou, ‘n persoon met gediagnoseerde angs kan jou ook negatief beïnvloed deur jou by hul versteuring te betrek. Om saam met ‘n persoon te leef wat gediagnoseer is met angs kan frustrerend, uitputtend en soms chaoties voel. Maak tyd vir jouself ook.

ALGEMENE INLIGTING OOR BEHANDELING VAN ANGSVERSTEURINGS

1. Hoekom is behandeling nodig vir angsversteurings?Sonder die regte behandeling kan die simptome van angsversteurings geleidelik erger en erger raak. Angsversteurings kan op dié manier met ander siektes, bv. diabetes, vergelyk word. Albei vereis deurlopende farmakologiese behandeling (medikasie) en monitering deur ‘n professionele persoon, en die resultate is oor die algemeen heelwat beter as die persoon gereeld psigoterapie by ‘n sielkundige ontvang. Professionele behandeling is uiters belangrik vir enigiemand wat gediagnoseer is met ‘n angsversteuring omdat daar ‘n sterk chemiese onderbou van simptome is en dit moeilik is om die simptome onder beheer te hou (dit kan m.a.w. eskaleer) sonder medikasie en/of psigoterapie.

2. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
Alle sielkundige diagnoses is kompleks; daarom raai ons jou aan om slegs deur ‘n kliniese sielkundige of psigiater getoets en gediagnoseer te word. Hulle is opgelei om tussen verskillende sielkundige versteurings met soortgelyke simptome te onderskei.

3. Watter rol speel sielkundige in my behandeling?
‘n Kliniese sielkundige kan enige sielkundige toestand diagnoseer en psigoterapeuties behandel. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om ‘n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. ‘n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met ‘n psigiater in spanverband.

4. Wat is die verskil tussen 'n huisdokter, kliniese sielkundige en psigiater?
Huisdokter:‘n Huisdokter studeer medies vir sewe jaar. Omdat hulle nie in die rigting van psigiatrie gespesialiseer het (soos ‘n psigiater) nie, het hulle slegs ‘n beperkte blootstelling aan die opleiding wat noodsaaklik is om mense met sielkundige/psigiatriese toestande te diagnoseer en te behandel. Jou huisdokter mag wel medikasie voorskryf, maar is ook eties verplig om ‘n pasïent te verwys na ‘n spesialis as dit nodig is.

Kliniese Sielkundige:‘n Kliniese sielkundige studeer menslike gedrag en psigoterapie, en moet in Suid-Afrika minstens ‘n meestersgraad hê (ses jaar +), met ‘n internskap en navorsing wat voltooi moet wees om te kan registreer. Dit is die persoon wat jou gaan help om jou sielkundige diagnose (soos posttraumatiese stresversteuring) te verstaan en daarmee saam te leef.

Psigiater:‘n Psigiater studeer ook medies vir sewe jaar, maar spesialiseer verder in psigiatrie, naamlik die chemiese behandeling van afwykings wat met menslike gedrag te doen het. ‘n Psigiater is dus die dokter wat jou kan diagnoseer en die regte medikasie kan voorskryf vir jou sielkundige toestand. Die verwysing na “sielkundige toestande” of “psigiatriese toestande” is presies dieselfde.

5. Is daar ‘n spesifieke soort sielkundige wat ek moet sien?
In Suid-Afrika bestaan daar tans vyf verskillende kategorieë of spesialis-areas waarbinne alle sielkundiges moet registreer:

  • Kliniese sielkundige
  • Voorligtingsielkunde
  • Opvoedkundige sielkunde
  • Bedryfsielkunde
  • Navorsingsielkunde

Die verskillende kategorieë dui die spesialis-areas aan waarbinne sielkundiges volgense regulasies moet hou en aan etiese en wetlike vereistes moet voldoen. Slegs ‘n kliniese sielkundige kan volgens die HPCSA ‘n kliniese diagnose maak.

{ Hoe kan ons jou help? }

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Facebook