IMPULS-BEHEERVERSTEURINGS

WAT IS IMPULS-BEHEERVERSTEURINGS?

Impuls-beheerversteurings behels probleme met die regulering van gedrag en/of emosies. Vreemde gedrag vind op die ingewing van die oomblik plaas óf die gedrag kan beplan wees. Dit kan soms gebeur dat hierdie gedrag toevallig teen die wet is, met ernstige gevolge vir die oortreder of ander mense. Daar is verskeie impuls-beheerversteurings (kleptomanie/haaruittreksteurnis/piromanie/intermitterende eksplosiewe versteuring) wat die persoon in konflik bring met aanvaarbare sosiale norme.

Belangrik

  • Impuls-beheerversteurings ontwikkel meestal in die kinder- of tienerjare.
  • Dit kom meer dikwels onder mans as vroue voor.

{ Hoe kan ons jou help? }

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Facebook

KLEPTOMANIE

Het jy geweet?

Die hoogste persentasie van kleptomanie kom onder tieners en jong volwassenes voor.
Kleptomanie is ‘n onvermoë om die behoefte te onderdruk om items te steel wat geen persoonlike of finansiële waarde vir die persoon het nie. Dit verskil van “gewone” diefstal, wat gemotiveer word deur die waarde wat die gesteelde items vir die dief inhou.

Die mees algemene kenmerke van kleptomanie is onwillekeurige gedagtes aan steel, ‘n onvermoë om hierdie gedagtes te onderdruk en die gevoel van “verligting” nadat die daad gepleeg is. Hierdie simptome is na aan dié van obessief-kompulsiewe versteurings. Persone wat met kleptomanie gediagnoseer word, sukkel gewoonlik ook met toestande soos lae gemoed, algemene angs, eetversteurings en dwelmgebruik. Gevoelens van stres, skuld en berou kom ook dikwels voor. Depressie is ‘n algemene verskynsel saam met die diagnose van kleptomanie.

Omdat die simptome van kleptomanie met dié van vele ander angsversteurings ooreenstem, kan dit effektief behandel word. ‘n Kombinasie van medikasie en psigoterapie is ideaal in die behandeling van kleptomanie. Om by ‘n algemene praktisyn én kliniese sielkundige om hulp aan te klop is dus ‘n goeie begin.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN KLEPTOMANIE

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

Om diagnoseerbaar te wees moet drie of meer van die volgende simptome vir ten minste 6 maande chronies voorkom:

  • ‘n Onvermoë om die behoefte te onderdruk om items te steel wat nie belangrik is vir privaat gebruik of finansïele gewin nie.
  • Spanning en “druk” wat opbou voor die diefstal gepleeg word.
  • Verligting, “vervulling” of ontspanning net voor of net na die diefstal gepleeg is.
  • Die diefstal moet nie as gevolg van wraak, of optrede teen iemand spesifiek, wees nie.

HAARUITTREKSTEURNIS

Haaruittreksteurnis is ‘n sterk behoefte om jou eie hare uit te pluk. Soos piromanie en kleptomanie, voel die persoon gespanne voor die aksie en verligting na haaruittrekking voltooi is. Die steurnis ontwikkel meestal in die kinderjare, waar die persoon herhaaldelik hul kophare, wenkbroue en/of wimpers uittrek. Soms kan ‘n persoon met haaruittreksteurnis selfs baarde, onderarmhare of pubiese hare uitpluk. Haaruittreksteurnis word nie geassosieer met pyn nie; die aksie veroorsaak eerder ‘n prikkelende of tintelende sensasie. Die toestand kan wissel, maar is oorwegend kronies.

Het jy geweet?

  • Trichotillomanie kom van die Griekse begrip “passion for pulling hair”.
  • Haaruitplukkers neig ook om hul kneukels te knak en hul naels te byt.
  • Sommige persone met trichotillomanie sit die uitgeplukte hare in hul mond, en byna 30% van persone met haaruittreksteurnis sluk die hare in.

Belangrik

  • Persone met trichotillomanie is skaam oor hul toestand en steek dit goed weg; daarom is dit onduidelik hoe algemeen die toestand is.
  • Haaruittreksteurnis onder een persent (1%) van die volwasse samelewing voor.
  • Haaruittreksteurnis is baie meer algemeen by vroue as by mans

WAT IS DIE SIMPTOME VAN HAARUITTREKSTEURNIS

Daar is nie simptome as ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die gesaghebbendste bron, nie. Daar is slegs essensiële kenmerke. Let asb. daarop dat ‘n amptelike identifikasie slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

  • Herhaalde persoonlike haaruittrekking wat kaal kolle (geen hare) veroorsaak.
  • Onsuksesvolle pogings om die haaruittrekgedrag te beheer.

PIROMANIA

Piromanie is ‘n onvermoë om die behoefte te onderdruk om objekte aan die brand te steek. Die mees algemene simptome van piromanie is onwillekeurige gedagtes aan vuur en brandstigting, ‘n onvermoë om hierdie gedagtes te onderdruk en die gevoel van “verligting” nadat die daad gepleeg is. Gevoelens van stres, skuld en berou kom ook dikwels voor.

Die hoogste persentasie van piromanie kom onder tienerseuns en jong volwassenes voor. Dit ontwikkel meestal gedurende die kinderjare. Persone wat met piromanie gediagnoseer word, sukkel gewoonlik ook met ander toestande, byvoorbeeld lae gemoed. Omdat die simptome met dié van vele ander versteurings ooreenstem, kan dit doeltreffend behandel word. ‘n Kombinasie van medikasie en psigoterapie is ideaal in die behandeling van piromanie. Om by ‘n algemene praktisyn, kliniese sielkundige of psigiater om hulp aan te klop is dus ‘n goeie begin.

Piromanie word geklassifiseer as ‘n impulsbeheerversteuring, maar die persone tref dikwels tydsaam voorbereiding. Hulle neig ook om leidrade te laat, amper asof hulle wil hê iemand moet hulle identifiseer.

Het jy geweet?

Persone met piromanie is geïnteresseerd in verskeie aspekte van vuur en brandstigting. Hulle is geneig om die brandweer met inligting oor beweerde brande (vals inligting) te bel, om as toeskouers by bv. veldbrande op te daag, en apparate te versamel wat deur brandslaners gebruik word.

Essensiële kenmerke van piromanie

Die persoon stig doelbewus brande, sonder enige motivering of voordele. Dis eerder ‘n algemene belangstelling in vuur en vuurverwante objekte. Persone met piromanie voel gespanne of opgewonde voor die brand, en verligting daarna.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN PIROMANIA

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

Om diagnoseerbaar te wees moet die volgende simptome voorkom:

  • Doelbewuste brandstigting, by verskeie geleenthede.
  • Spanning voor die aksie.
  • Belangstelling in en fassinasie met vuur.
  • Verligting, “vervulling” of ontspanning net na die aksie voltooi is.
  • Die aksie moet nie as gevolg van wraak of optrede teen iemand spesifiek wees nie.
  • Daar is nie ‘n ander verduideliking vir die gedrag (bv. ‘n maniese episode of ‘n ander sielkundige versteuring) nie.

ONDERBROKE EKSLOSIEWE VERSTEURING

Onderbroke eksplosiewe versteuring is ‘n onvermoë om aggressie te onderdruk. Persone met onderbroke eksplosiewe versteuring het tydperke van ernstige aggressie, wat ‘n skielike aanvang neem en waarvoor daar ‘n geringe of selfs geen verduideliking is nie. Onderbroke eksplosiewe versteuring kan slegs verbaal wees, maar kan ook gewelddadig raak. In albei gevalle kan die situasie vinnig eskaleer, soms tot op die punt waar die persoon heeltemal beheer verloor. Die episode duur meestal minder as 30 minute en eindig in skuldgevoelens en verleentheid.

Het jy geweet?

Die hoogste persentasie van onderbroke eksplosiewe versteuring kom onder tienerseuns en jong volwassenes voor.

Persone wat met intermitterende eksplosiewe versteuring gediagnoseer word, sukkel gewoonlik ook met toestande soos lae gemoed, algemene angs en dwelmgebruik. Gevoelens van stres, skuld en berou kom ook dikwels voor.

Omdat die simptome met dié van vele ander versteurings ooreenstem, kan dit effektief behandel word. ‘n Kombinasie van medikasie en psigoterapie is ideaal in die behandeling van intermitterende eksplosiewe versteuring. Om by ‘n algemene praktisyn, kliniese sielkundige of psigiater om hulp aan te klop is dus ‘n goeie begin.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN ONDERBROKE EKSLOSIEWE VERSTEURING?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

Om diagnoseerbaar te wees moet die volgende simptome voorkom:

  • Herhalende gedragsuitbarstings wat verteenwoordigend is van die onvermoë om aggressiewe impulse te beheer. Dit sluit die volgende in: 1. Verbale of fisieke aggressie teenoor objekte, diere of ander persone sowat twee keer per week vir ‘n tydperk van drie maande. 2. Drie skadelike gedragsuitbarstings binne ‘n tydperk van 12 maande.
  • Die uitbarstings is buite alle proporsie tot die situasie.
  • Die herhaalde aggressie is impulsief en hou geen voordele in nie
  • Die herhaalde aggressie veroorsaak sigbare ongemak vir die persoon en werk nadelig in op persoonlike en werkverhoudings.
  • Die persoon moet minstens ses jaar oud wees.
  • Daar is nie ‘n ander verduideliking vir die gedrag (bv. ‘n maniese episode of ander sielkundige versteuring) nie.

ADVIES VIR GELIEFDES EN FAMILIELEDE WAT SAAM MET IEMAND WOON OF WERK WAT GEDIAGNOSEER IS MET 'N IMPULS-BEHEERVERSTEURINGS.

As ‘n geliefde of vriend(in) gediagnoseer word met 'n impuls-beheerversteuring, kan jou ondersteuning en motivering ‘n baie belangrike rol speel in die aanvaarding en hantering van hulle diagnose. Hier is riglyne hoe jy ‘n individu kan bystaan:

  • Wees geduldig. Mense wat onder die aanslag van ‘n impuls-beheerversteuring verkeer, het nie altyd die vermoë om te sê hoe hulle voel of wat hulle ervaar nie. Gee hulle ‘n kans om eers gewoond te raak aan die diagnose, en om geleidelik ‘n daadwerklike plan te kan uitwerk om hulle lewe van nou af te bestuur.
  • Wees ingelig oor impuls-beheerversteuring. Hoe meer jy en jou geliefde, familielid of kollega van die siekte weet en verstaan, hoe meer kan julle saamwerk aan ‘n plan om die persoon te ondersteun en die siekte te bestuur.
  • Vra wat jou geliefde van jou verwag. ‘n Mens kan maklik dink jy weet wat die beste vir ‘n ander persoon is, maar die maklikste is om te vra hoe hy of sy wil hê jy moet optree
  • Luister na hom of haar, en moenie konstant raad gee of met logika probeer redeneer nie. Dit is balangrik dat die persoon self verantwoordelikheid neem vir die siektetoestand en die effek wat dit op sy/haar lewe gaan hê. Wanneer iemand keuses namens iemand anders maak, kan dit dalk veroorsaak dat persone afhanklik raak van jou en dan nie self die siekte wil beveg nie. Dit is nie jóú siektestoestand nie, maar jou geliefde s’n. Luister is wel ‘n wonderlike manier om jou geliefde te ondersteun.
  • Leer ken die tekens en die simptome sodat jy vroegtydig kan optree. Almal se simptome van impulsbeheerversteuring manifesteer nie op dieselfde manier nie, so dit is baie belangrik om te verstaan hoe die persoon in jou lewe se simptome manifesteer. Wanneer jou geliefde byvoorbeeld skielik aansienlik meer angs ervaar as ander tye, kan jy solank maatreëls begin tref.
  • Neem deel aan fisieke aktiwiteite saam met die individu. Dit is nie ‘n cliché dat gereelde oefening mense met sielkundige diagnoses help nie. Oefening verlig spanning en angstigheid, en help met die produksie van oordragstowwe wat lae gemoed beveg. Gereelde oefening is dus eintlik ‘n suksesvolle antidepressant.
  • Moedig ‘n gesonde eet- en slaappatroon aan. ‘n Gevestigde roetine help nie net die persoon om hul siekte te bestuur nie, maar help ook om tekens/simptome vroegtydig raak te sien.
  • Kyk mooi na jouself! Onthou, ‘n persoon met gediagnoseerde impuls-beheerversteuring kan jou ook negatief beïnvloed deur jou by hul versteuring te betrek. Om saam met ‘n persoon te leef wat gediagnoseer is met angs kan frustrerend, uitputtend en soms chaoties voel. Maak tyd vir jouself ook.

ALGEMENE INLIGTING OOR BEHANDELING VAN IMPULS-BEHEERVERSTEURINGS

1. Hoekom is behandeling nodig vir impuls-beheerversteurings?Sonder die regte behandeling kan die simptome van impuls-beheerversteurings buite beheer raak en die betrokke individu in groot moeilikheid by die samelewing en/of die gereg laat beland. Impuls-beheerversteurings kan in díe opsig met ander siektes, bv. diabetes, vergelyk word. Albei vereis deurlopende farmakologiese behandeling (medikasie) en monitering deur ‘n professionele persoon, en die resultate is oor die algemeen heelwat beter as die persoon gereeld psigoterapie by ‘n sielkundige ontvang. Om te voorkom dat mense of diere seerkry of dat die persoon se gedrag hom of haar met die gereg laat bots, is professionele behandeling uiters belangrik vir enigiemand wat gediagnoseer is met ‘n impuls-beheerversteuring.

2. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
Ons raai jou aan om jou slegs deur ‘n kliniese sielkundige of psigiater te laat toets en diagnoseer. Hulle is opgelei om tussen verskillende sielkundige versteurings, wat soortgelyke simptome mag hê, te onderskei.

3. Watter rol speel ‘n sielkundige in die behandeling van impuls-beheerversteurings?
‘n Sielkundige kan impuls-beheerversteurings diagnoseer en psigoterapeuties behandel. Dit beteken dat hy of sy jou kan help om jou diagnose te verstaan en daarmee saam te leef, asook om ‘n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. ‘n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met ‘n psigiater in spanverband.

4. Hoe suksesvol is die gebruik van medikasie?
Die regte medikasie is gewoonlik suksesvol en kan impuls-beheerversteurings in sommige gevalle totaal beheer.

4. Wat is die verskil tussen 'n huisdokter, kliniese sielkundige en psigiater?
Huisdokter:‘n Huisdokter studeer medies vir sewe jaar. Omdat hulle nie in die rigting van psigiatrie gespesialiseer het (soos ‘n psigiater) nie, het hulle slegs ‘n beperkte blootstelling aan die opleiding wat noodsaaklik is om mense met sielkundige/psigiatriese toestande te diagnoseer en te behandel. Jou huisdokter mag wel medikasie voorskryf, maar is ook eties verplig om ‘n pasïent te verwys na ‘n spesialis as dit nodig is.

Kliniese Sielkundige:‘n Kliniese sielkundige studeer menslike gedrag en psigoterapie, en moet in Suid-Afrika minstens ‘n meestersgraad hê (ses jaar +), met ‘n internskap en navorsing wat voltooi moet wees om te kan registreer. Dit is die persoon wat jou gaan help om jou sielkundige diagnose (soos posttraumatiese stresversteuring) te verstaan en daarmee saam te leef.

Psigiater:‘n Psigiater studeer ook medies vir sewe jaar, maar spesialiseer verder in psigiatrie, naamlik die chemiese behandeling van afwykings wat met menslike gedrag te doen het. ‘n Psigiater is dus die dokter wat jou kan diagnoseer en die regte medikasie kan voorskryf vir jou sielkundige toestand. Die verwysing na “sielkundige toestande” of “psigiatriese toestande” is presies dieselfde.

5. Is daar ‘n spesifieke soort sielkundige wat ek moet sien?
In Suid-Afrika bestaan daar tans vyf verskillende kategorieë of spesialis-areas waarbinne alle sielkundiges moet registreer:

  • Kliniese sielkundige
  • Voorligtingsielkunde
  • Opvoedkundige sielkunde
  • Bedryfsielkunde
  • Navorsingsielkunde

Die verskillende kategorieë dui die spesialis-areas aan waarbinne sielkundiges volgense regulasies moet hou en aan etiese en wetlike vereistes moet voldoen. Slegs ‘n kliniese sielkundige kan volgens die HPCSA ‘n kliniese diagnose maak.

{ Hoe kan ons jou help? }

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Facebook