KINDER DIAGNOSES

{ Hoe kan ons jou help? }

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Wie is ek? op RSG

Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS) is naas depressie die tweede grootste diagnose van geestestoestande in Suid-Afrika. Dit affekteer nie net kinders nie, maar ook volwassenes. Die emosionele uitwerking wat hierdie toestand op individue het, hou reuse-implikasies in vir hulle algemene omgang met die wêreld. Professionele hulp is egter beskikbaar en kan in sowel kinders as volwassenes se lewe ‘n verskil maak. Luister na die RSG potgooi

Facebook

AANDAGSGEBREK-HIPER-AKTIWITEIT-STEURING (AGHS)

WAT IS AGHS?

AGHS is ‘n probleem wat kinders se ontwikkeling benadeel. Die kern van die probleem is dat die kind se aandag maklik afgelei word of dat oormatig hiperaktiewe gedrag hom of haar verhinder om op ‘n taak te konsentreer. Dit kan ook ‘n kombinasie van albei wees. ‘n Gebrek aan konsentrasie lei daartoe dat die kind nie in staat is om nuwe dinge aan te leer of inligting in te neem nie, en dit vertraag sy of haar ontwikkeling.

Het jy geweet?

  • AGHS kom by sowat 8% van alle kinders voor.
  • Byna vyf keer meer seuns as meisies word met AGHS gediagnoseer.

Simptome kan reeds van vroeg af waargeneem word en as dit nie goed bestuur word nie, kan dit tot in die laat tienerjare en selfs tot in volwassenheid voortduur.

Die spesifieke oorsake van AGHS is onseker, maar daar word algemeen aanvaar dat genetiese faktore die grootste oorsaak is. Hierby kan dieet, asook die sosiale en fisieke omgewing van die kind, ‘n rol speel. AGHS kan suksesvol behandel word, en normaalweg word ‘n kombinasie van medikasie en ‘n gedragsprogram voorgestel.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN AGHS?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word:


  1. Om vas te stel of jou kind aan AGHS ly, moet hy of sy ses of meer van óf 1) aandagafleibaarheid óf 2) hiperaktiwiteit/impulsiwiteit-simptome toon. Simptome moet vir ten minste 6 maande voorkom en nie algemeen wees vir die ontwikkelingsouderdom van die kind nie.
    1. Aandagafleibaarheid
      1. Sukkel om aandag te gee aan besonderhede of maak agtelosige foute met huiswerk of ander aktiwiteite.
      2. Sukkel om aandag te behou met take of spel.
      3. Wek die indruk dat hy of sy nie aandag gee wanneer iemand met hom of haar praat nie.
      4. Voltooi nie sy of haar huistake en/of huiswerk nie.
      5. Sukkel om take en aktiwiteite te beplan en te organiseer.
      6. Vermy take of weier om take te verrig wat volgehoue konsentrasie verg.
      7. Verloor gereeld dinge wat nodig is om take te voltooi, bv. boeke, speelgoed, penne, ens.
      8. Aandag word maklik afgetrek deur ander gebeure rondom hom of haar.
      9. Gereelde, daaglikse vergeetagtigheid.
    2. Hiperaktiwiteit/impulsiwiteit
      1. Vroetel gedurig of kan nie stil sit nie.
      2. Verlaat gereeld sy of haar sitplek in ‘n klaskamer as dit nie nodig is nie.
      3. Hardloop rond of klim en klouter in situasies waar dit onvanpas is.
      4. Sukkel om rustig alleen te speel.
      5. Is gedurig “aan die gang” en “aan die beweeg”.
      6. ‘n Konstante, oormatige gepraat.
      7. Tree impulsief op.
      8. Blaker dikwels antwoorde uit voordat die vraag klaar gevra is.
      9. Sukkel om sy of haar beurt af te wag.
      10. Onderbreek gereeld ander se gesprekke.
  2. Sommige simptome is voor die ouderdom van 7 teenwoordig.
  3. Sommige simptome kom in twee of meer situasies voor, bv. by die skool en in die huis.
  4. Daar moet duidelike tekens wees dat jou kind meer as die ander kinders by die skool sukkel om sosiaal aan te pas.

BEHANDELING VAN AGHS

1. Moet my kind medikasie neem?
Dit is nie altyd nodig nie en hang van kind tot kind af. Verreweg die beste resultate word met behulp van medikasie bereik.

2. Wat is die voordele van medikasie?
Omdat die basis van AGHS hoofsaaklik te doen het met foutiewe chemiese regulering en fisiologiese faktore, spreek die medikasie gewoonlik die simptome en die probleem gelyktydig aan.

3. Wie moet my kind diagnoseer met AGHS?
Enige psigiater of sielkundige wat gespesialiseerd is om met gedragsafwykings by kinders te werk.

4. Wie kan die medikasie vir my kind voorskryf?
Soms kan ‘n algemene praktisyn medikasie voorskryf, maar ons raai jou aan om die medikasie te laat voorskryf deur ‘n psigiater wat gespesialiseer het in gedragsafwykings by kinders.

5. Die medikasie werk nie vir my kind nie; kan ek dit maar net los?
Daar is nie ‘n “one size fits all”-medikasie vir die behandeling van AGHS nie. Wat vir een kind werk, mag dalk nie vir iemand anders werk nie. Gee die psigiater tyd om ‘n paar keer van middel en/of dosis te verander totdat die regte resultate verkry word. Moet nooit self besluit om sommer net die medikasie te los nie. Dit is uiters belangrik om altyd ‘n professionele persoon te raadpleeg.

Daar is baie ouers wat glo vitamine- en omega-aanvullers is net so effektief soos chemiese medikasie. Alhoewel hierdie en ander natuurlike produkte soms van hulp kan wees, dui navorsing duidelik daarop dat aanvullers nie die probleem aanspreek nie.

BILL OF RIGHTS FOR ADHD

(saamgestel deur Reyhana Ravat)
The Bill of Rights for ADHD is opgestel vir ouers om die denke, gevoel en gedrag van hulle kinders met AGHS beter te verstaan. Die meeste ouers met kinders wat met AGHS gediagnoseer is, sukkel om hulle kinders se gedrag te verstaan. In so ‘n geval kan die die handves van groot hulp wees.
  • Help my om te fokus. Help me focus.
  • Ek het nodig om te weet wat volgende gaan gebeur. I need to know what comes next.
  • Gee my asseblief ‘n gestruktureerde omgewing en betroubare roetine. Please give me a structured environment and dependable routine.
  • Waarsku my wanneer enige verandering gaan plaasvind. Give me advance warning if there is going to be a change.
  • Gee my ‘n kans om oor iets na te dink. Wait for me, I'm still thinking.
  • Gun my die geleentheid om iets op my eie tyd, teen my eie tempo, te doen. Wanneer jy my aanjaag, raak ek verward en ontsteld. Please allow me to go at my own pace. If I rush, I get confused and upset.
  • Help my om opsies te genereer wanneer ‘n probleem opgelos moet word. Ek wil graag weet watter ompaaie ek kan gebruik wanneer ek voel my pad word geblok. Please offer me options for problem solving. I need to know what detours there are when the road is blocked.
  • Gee my so gou moontlik terugvoer sodat ek kan weet wanneer ek iets reg doen. Is it right? I need to know. Please give me immediate feedback on how I am doing.
  • Ek het nie noodwendig vergeet nie; ek het net nie die opdrag gehoor nie. I didn't forget. I didn't hear it in the first place.
  • Gee my net een opdrag op ‘n slag en vra my dan om te herhaal wat jy van my verwag. Please give me directions one step at a time and ask me to repeat what I think you said.
  • Ek was nie bewus daarvan dat ek nie in my sitplek was nie. Herinner my daaraan om te stop, te dink en dan op te tree. I didn't know I wasn't in my seat. Please remind me to stop, think and act.
  • Kort werktye en kort werkopdragte met korttermyndoelstellings help my. Am I almost done now? Please give me short work periods with short work goals.
  • Wanneer ek nie ‘n opdrag uitvoer of verstaan nie, herhaal wat jy wil hê ek moet doen, maar gebruik dié keer ander woorde. Handtekens en simbole help my baie. Please don't say, "I already told you that." Tell me again in different words. Give me a signal, draw me a symbol.
  • Beloon my vir my pogings, nie net vir my prestasies nie. Selfverbetering is net so belangrik soos sukses. I know it is all wrong, isn't it? Please give me praise for partial success, reward me for self-improvement, not just for perfection.
  • Moet my nie net op my foute wys nie, maar ook op positiewe gedrag. Why do I always get yelled at? Please catch me doing things right and praise me for my specific positive behaviour.
  • Herinner my (en jouself) aan my goeie eienskappe en suksesse wanneer ek ‘n slegte dag ervaar. Remind me (and yourself) of my good points when I'm having a bad day.

{ Ons kenners se opinies oor AGHS }

AGHS:
Braam se mening

AGHS:
Wat sê Johannes?

AGHS:
Louis se opinie

OUTISME EN ASPERGERSINDROOM

WAT IS OUTISME EN ASPERGERSINDROOM?

Outisme is 'n ontwikkelingsversteuring wat gekenmerk word deur onttrekking van ander mense, herhalende gedrag en vrees vir verandering in die omgewing. Die versteuring belemmer die brein se vermoë om inligting te ontvang en te verwerk. Dit is ‘n versteuring wat neurologiese ontwikkeling benadeel, en begin gewoonlik in die babastadium of vroeë kinderjare. Die toestand is chronies en word gekenmerk deur gebrekkige sosiale interaksie en kommunikasie, asook deur beperkte belangstellings of herhalende gedrag. Daar is nog nie ‘n volledige oplossing vir outisme gevind nie; daarom behels behandeling oorwegend die bestuur van simptome.

Aspergersindroom is die naaste aan outisme wat simptome en moontlike oorsake betref, maar met die verskil dat aspergerlyers se taalvermoë normaal ontwikkel.

Belangrik

Ongeveer die helfte van ouers van kinders met outismeverwante versteurings let gewoonlik hulle kind se ongewone gedrag teen die ouderdom van 18 maande op, en die meeste ouers teen 24 maande. Die volgende is ‘n lys van “mylpale” wat bereik moet word, en ouers word sterk aangeraai om hulle kinders te laat evalueer as net EEN van die volgende nie bereik word nie:
  • Geen gebrabbel teen 12 maande nie.
  • Geen handtekens (bv. om te waai of na iets te wys) teen 12 maande nie.
  • Geen enkelwoorde teen 16 maande nie.
  • Geen tweewoordfrases wat sin maak teen 24 maande nie.
  • Enige gebrek aan taal- of sosiale vaardighede, op enige ouderdom.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN OUTISMEVERWANTE STEURNIS?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word:

Het jy geweet?

In Suid Afrika is die voorkoms van outismeverwante versteurings, in verskillende grade, reeds meer as een uit 200 kinders.

‘n Totaal van 6 of meer simptome van (A),(B) en C), met ten minste (2 van (A), en 1 elk van (B) en (C):


  1. ‘n Duidelike belemmering in sosiale interaksie, soos aangedui deur ten minste 2 van die volgende:
    1. Sukkel om sekere gebare te maak, bv. oog-tot-oog staar, of om gesigsuitdrukkings en liggaamstaal in kommunikasie met ‘n ander persoon te toon.
    2. Onvermoë om verhoudings op te bou wat toepaslik is vir die ouderdom van die kind rondom sy eie portuur.
    3. Spontane genot in ‘n taak ontbreek, asook die vermoë om belangstellings of take wat suksesvol voltooi is met ander te deel.
    4. Gebrekkige vermoë om dinge aan die ouers uit te wys of om iets te gaan haal as daarvoor gevra word.
    5. Gebrek aan emosionele deel, bv. saamspeel met ander kinders.
  2. ‘n Duidelike belemmering in kommunikasie, soos aangedui deur ten minste 1 van die volgende:
    1. Stadige of geen ontwikkeling in praat en taal.
    2. n Duidelike belemmering in die vermoë om ‘n gesprek te begin of vol te hou met kinders wie se spraak wel ontwikkel het.
    3. Aanhoudende herhaling van dieselfde woorde.
    4. Gebrek aan spontane speel, soos gemeet teen ander kinders van dieselfde ouderdom.
  3. Beperkte, herhalende gedrag, belangstellings of aktiwiteite, soos gewys in ten minste 2 van die volgende:
    1. Buitengewone belangstelling in een of meer aktiwiteite, wat abnormaal in intensiteit en fokus is.
    2. Streng navolging van roetines of rituele wat geen klaarblyklike funksie het nie.
    3. Herhalende fisieke mannerismes, bv. ‘n onwillekeurige gewaai van die hande of vingers, of ingewikkelde bewegings van die lyf.
    4. Volgehoue belangstelling in slegs sekere onderdele van voorwerpe.

BEHANDELING VAN OUTISME

1. Wie moet my kind diagnoseer?
Enige psigiater of sielkundige wat daarin gespesialiseer het om met gedragsafwykings by kinders te werk.

2. Gaan my kind medikasie moet neem?
Nie noodwendig nie. Sommige medikasie help wel met aanverwante simptome, soos dié van depressie.

3. Wat gaan my kind se behandeling nog behels?
Dit is die ideaal dat die behandeling en bestuur van ‘n kind wat met ‘n outismeverwante versteuring gediagnoseer is, langtermyn sal wees. Dit behels ook ‘n multispanbenadering. Afhangende van die graad (erns) van die diagnose, speel ‘n psigiater, sielkundige, arbeidsterapeut en selfs dieetkundige ‘n belangrike rol.

4. Watter rol speel die ouers in die behandeling van ‘n outistiese kind?
Ouers word gewoonlik deel van die behandeling en bestuur omdat outistiese kinders gewoonlik permanente hulp met die bestuur van hul omgewings nodig het.

OPPOSISIONELE-UITDAGINGVERSTEURING

WAT IS OPPOSISIONELE-UITDAGINGVERSTEURING?

As jou kind of tiener 'n volgehoue patroon van woedebuite (“tantrums”) het, konstant met iemand stry, en kwaai of ontwrigtende gedrag teenoor jou en ander gesagsfigure toon, kan hy of sy moontlik aan ‘n diagnoseerbare opposisionele-uitdagingversteuring ly.

Aanleidende oorsake van hierdie versteuring kan 'n kombinasie van oorerwings- en omgewingsfaktore insluit, bv. ‘n kind se natuurlike ingesteldheid, beperkende of ontwikkelingsagterstande in 'n kind se vermoë om gedagtes en gevoelens te prosesseer, gebrek aan toesig, wisselvallige of oormatige dissipline, mishandeling of verwaarlosing, of ‘n wanbalans in sekere brein-chemikalieë. Dit is soms moeilik om die verskil tussen 'n “stout” of emosioneel ontstelde kind, en een met 'n opposisionele-uitdagingversteuring te herken.

Opposisionele gedrag is normaal in sekere stadiums van 'n kind se ontwikkeling; dus moet ‘n mens eerder na ‘n patroon van gedrag kyk. Oor die algemeen kan tekens van hierdie probleem voor die ouderdom van 8 waargeneem word. Simptome kan in sommige gevalle ‘n bietjie later ontwikkel, maar dit gebeur byna altyd vóór die vroeë tienerjare. In die begin ontwikkel die simptome geleidelik en vererger dan oor die volgende paar maande of jare. Professionele persone vind dit soms moeilik om ander toestande uit te sluit, bv. aandagsgebrekhiperaktiwiteitsteuring. Dit gebeur dikwels dat hierdie twee toestande saam gediagnoseer word.

Behandeling behels individuele terapie, gesinsterapie om te help met die opbou van positiewe familie-interaksie, en moontlik medikasie.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN OPPOSISIONELE-UITDAGINGVERSTEURING?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word:


'n Patroon van gedrag wat ten minste ses maande duur en ten minste vier van die volgende insluit:

  1. Herhaalde humeuruitbarstings.
  2. Argumenteer dikwels met volwassenes.
  3. Uittarting of weiering om te voldoen aan volwassenes se versoeke of reëls.
  4. Frustreer mense dikwels met opset.
  5. Blameer ander vir sy of haar foute of wangedrag.
  6. Is liggeraak of raak maklik geïrriteer deur ander.
  7. Is dikwels kwaad en wrokkig.
  8. Is dikwels moedswillig of wraaksugtig.

Om verder gediagnoseer te word met opposisionele-uitdagingversteuring moet die kind se gedrag:

  1. beduidende probleme by die skool, werk of huis veroorsaak
  2. onafhanklik plaasvind, eerder as deel van die verloop van 'n ander geestesgesondheidsprobleem, bv. depressie

BEHANDELING VAN OPPOSISIONELE-UITDAGINGVERSTEURING

1. Kan behandeling my kind of tiener se gedrag verander?
Ja, daar is goeie resultate met sekere vorms van psigoterapie en gesinsterapie.

2. Wie moet ek gaan spreek om die nodige behandeling te kry?
‘n Sielkundige wat gespesialiseerd en opgelei is om terapeuties met kinders te kan werk.

3. Sal my kind medikasie moet neem?
Nie noodwendig nie. Sommige medikasie help wel met aanverwante simptome, soos dié van depressie.

4. Watter rol kan ‘n ouer speel in die behandeling van hierdie versteuring?
Ouers word gewoonlik deel van die behandeling en bestuur, veral deur die proses van gesinsterapie.

TOURETTESINDROOM

WAT IS TOURETTESINDROOM?

Tourettesindroom is ‘n oorerflike neurologiese versteuring wat in die kinderjare begin en gekenmerk word deur verskeie fisieke “tics” (onwillekeurige bewegings, bv. gesig wat trek of arm wat ruk) en verbale “tics”(onwillekeurige geluide).

Die versteuring is vroeër as ‘n vreemde en bisarre toestand beskou, meestal omdat dit geassosieer is met onbeheersde vloek of obsene woorde. In werklikheid kom die gevloek slegs by ‘n baie klein persentasie van mense met Tourettesindroom voor.

Het jy geweet?

  • Ongeveer twee persent (2%) van alle kinders tussen 5 en 18 kan moontlik Tourettesindroom hê.
  • Tourettesindroom kom ook drie tot vier keer meer onder mans as vroue voor.

Ekstreme gevalle by volwassenes is baie raar, en die versteuring beïnvloed nie intelligensie of lewensverwagting nie. ‘n Groot persentasie van die simptome verdwyn ook geleidelik soos kinders ouer word en deur hulle tienerjare gaan.

Daar is nie duidelike ooreenstemming tussen kundiges oor die oorsake van Tourettesindroom nie, en behandeling verskil van kind tot kind. Medikasie en ‘n terapeutiese proses waarby die ouers betrek word, word in die meeste gevalle toegepas.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN TOURETTESINDROOM?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word:

'n Patroon van gedrag wat ten minste een jaar duur en die volgende insluit:

  1. Verskeie fisieke “tics”, en ten minste een of meer verbale “tic” (geluid).
  2. Hierdie “tics” moet vir meer as drie maande ononderbroke voorkom.

Die gedrag moet voor die ouderdom van 18 begin en nie die gevolg van enige ander mediese toestand wees nie.

BEHANDELING VAN TOURETTESINDROOM

1. Wie moet my kind diagnoseer?
Enige psigiater of sielkundige wat daarin gespesialiseer het om met gedragsafwykings by kinders te werk.

2. Gaan my kind medikasie moet gebruik?
Dit is nie altyd nodig nie, en hang van kind tot kind af. Soms kan goeie resultate bereik word met die hulp van medikasie, veral om fisieke trekkings (“tics”) te beheer. Oor die algemeen word terapie sterk aanbeveel om die probleem psigoterapeuties te behandel.

3. Wat behels behandeling van ‘n kind met Tourettesindroom?
Saam met medikasie, is sekere vorme van psigoterapie, veral gedragsterapie, aangedui in die behandeling.

4. Kan my kind genees word?
Daar is nie regtig ‘n genesing vir Tourettesindroom nie, maar behandeling fokus op die beheer van impulsiewe gedrag en veral fisieke trekkings (”tics”) wat kan inmeng met interpersoonlike funksionering. As die fisieke trekkings nie te erg voorkom nie, is behandeling soms onnodig.

{ Hoe kan ons jou help? }

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Wie is ek? op RSG

Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS) is naas depressie die tweede grootste diagnose van geestestoestande in Suid-Afrika. Dit affekteer nie net kinders nie, maar ook volwassenes. Die emosionele uitwerking wat hierdie toestand op individue het, hou reuse-implikasies in vir hulle algemene omgang met die wêreld. Professionele hulp is egter beskikbaar en kan in sowel kinders as volwassenes se lewe ‘n verskil maak. Luister na die RSG potgooi

Facebook