KOGNITIEWE VERSTEURINGS

WAT IS KOGNITIEWE VERSTEURINGS?

Kognisie verwys na die brein se DENKE, met ander woorde, die verwerking van inligting - meer spesifiek geheue, herwinning en die bestuur van inligting om kennis te stoor. Kognitiewe versteurings (delirium, demensie en alzheimer) is abnormaliteite in denke wat geassosieer word met tydelike of permanente breindisfunksie.

Belangrik

Hoofsimptome sluit in: Probleme met geheue, balans, taal, informasieprosessering, en die onvermoë om te fokus.

{ Hoe kan ons jou help? }

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Facebook

DEMENSIE

WAT IS DEMENSIE?

Demensie is ‘n verlies aan algemene kognitiewe vermoëns in ‘n voorheen helderdenkende persoon. Dit het dus ‘n neurologiese oorsaak. Demensie is ‘n sambreelterm waaronder meer as honderd verskillende soorte demensie sorteer. Alzheimer is die bekendste vorm van demensie.

In die geval van ouer mense word demensie slegs vermoed wanneer die verlies aan sekere dinkfunksies beduidend meer is as wat ‘n mens van die meeste ouer persone sou verwag. Demensie is nie ‘n spesifieke toestand nie, maar eerder ‘n sindroom wat die geheue, aandag, taal en probleemoplossingsvermoë aantas. Dit kom meestal voor ná die ouderdom van 65, maar kan in uitsonderlike gevalle ook vóór 65 voorkom.

Veral in later stadia van demensie kom persone wat hieraan ly gedisorïenteer voor. Hulle het ook nie ‘n goeie idee van tyd (bv. die dag van die week), ruimte (bv. waar hulle is) en persone (wie hulleself en ander is) nie.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN DEMENSIE?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

Inkorting van geheue.Sukkel om nuwe inligting aan te leer of om inligting te herroep wat voorheen aangeleer is. Simptome moet vir ten minste 6 maande voorkom en nie algemeen wees vir die ouderdom van die persoon nie.

EN

Een of meer van die volgende, ook vir ten minste 6 maande:

  • afasie (sukkel om taal toepaslik te gebruik)
  • apraksie (bewerig, vat mis, sukkel om motoriese bewegings uit te voer, ens.)
  • agnosie (sukkel om bekende voorwerpe of mense te herken, selfs al is daar nie fout met sig of gehoor nie)
  • Sukkel om basiese denkfunksies soos beplanning of organisering uit te voer.

Die simptome moet ook nie aan enige ander mediese toestand toegeskryf kan word nie.

ALZHEIMER

Het jy geweet?

Alzheimer is die mees algemene vorm van demensie; 60-80% van demensiegevalle word gediagnoseer met alzheimersiekte.

WAT IS ALZHEIMER?

Alzheimer is ‘n vorm van demensie wat probleme veroorsaak op die gebied van geheue, denke en gedrag. Simptome ontwikkel gewoonlik stadig en vererger met verloop van tyd, wat ernstig genoeg raak om in te meng met daaglikse take.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN ALZHEIMER?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

Inkorting van geheue. Die persoon sukkel om nuwe inligting aan te leer of om inligting te herroep wat voorheen aangeleer is. Simptome moet vir ten minste 6 maande voorkom en nie algemeen wees vir die ouderdom van die persoon nie.

EN

Een of meer van die volgende, ook vir ten minste 6 maande:

  • afasie (sukkel om taal toepaslik te gebruik)
  • apraksie (bewerig, vat mis, sukkel om motoriese bewegings uit te voer, ens.)
  • agnosie (sukkel om bekende voorwerpe of mense te herken, selfs al is daar nie fout met sig of gehoor nie)
  • Sukkel om basiese denkfunksies soos beplanning of organisering uit te voer.

Die simptome moet ook nie aan enige ander mediese toestand toegeskryf kan word nie.

DELIRIUM

WAT IS DELIRIUM?

Delirium is die snel ontwikkelende, veranderende stand van verminderde bewustheid. Die persoon sukkel met bewustheid of fokus en het ten minste een defek in geheue, geaardheid, persepsie of taal.

Demensie verskil van delirium in dié opsig dat delirium ‘n vorm van demensie is.

Belangrik

Simptome moet nie beter verklaar word deur 'n koma of ander kognitiewe versteuring, bv. alzheimer, nie.

Gewoonlik moet simptome van demensie vir ten minste 6 maande voorkom om ‘n diagnose te kan maak. As die verlies aan kognitiewe vermoë korter duur, praat ons van delirium. Veral in later stadia van demensie kom persone wat hieraan ly gedisorïenteer voor. Hulle het ook nie ‘n goeie idee van tyd (bv. die dag van die week), ruimte (bv. waar hulle is) en persone (bv. wie hulleself en ander is) nie.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN DELIRIUM?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

  • Vermindering in bewustheid en aandag, vergesel deur
  • ‘n soort bykomende kognitiewe tekort, soos probleme met oriëntasie, geheue, taal, persepsie of visueel-ruimtelike kapasiteit.

Die intensiteit van hierdie simptome is geneig om te wissel gedurende die loop van die dag.

BEHANDELING VAN KOGNITIEWE VERSTEURINGS

1. Is behandeling noodsaaklik wanneer dit kom by kognitiewe versteuring?
In menige gevalle kan ‘n kognitiewe versteuring nie noodwendig suksesvol gekeer of behandel word nie, veral as dit in ‘n later stadium gediagnoseer word. ‘n Kombinasie van sielkundige en psigiatriese behandeling is egter uiters belangrik omdat mense met kognitiewe versteurings toenemend sukkel om na hulleself om te sien en die wêreld rondom hulle te bestuur. In uiterste gevalle is die beste vorm van behandeling permanente sorg.

2. Hoekom is behandeling nodig vir kognitiewe versteurings?
Soos met enige toestand, kan behandeling ten minste die persoon se lewenskwaliteit verbeter. In menige gevalle kan toepaslike behandeling die simptome van kognitiewe versteurings verbeter of selfs beheer. Mense met ernstige grade van kognitiewe agteruitgang kan ook ‘n groot fisieke gevaar vir hulleself of ander inhou, deur byvoorbeeld te vergeet om ‘n stoof af te skakel of ‘n deur te sluit.

3. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
Omdat kognitiewe versteurings ‘n neurologiese basis het kan ‘n aanvanklike diagnose net deur ‘n algemene praktisyn, kliniese sielkundige of psigiater gemaak word. Hulle is opgelei om te kan onderskei tussen verskillende sielkundige versteurings wat baie soortgelyke simptome mag hê. In die meeste gevalle sal ‘n neuroloog noodsaaklik wees om die diagnose te bevestig, asook om deel te wees van die behandeling.

4. Wat is die verskil tussen 'n huisdokter, kliniese sielkundige en psigiater?
Huisdokter:‘n Huisdokter studeer medies vir sewe jaar. Omdat hulle nie in die rigting van psigiatrie gespesialiseer het (soos ‘n psigiater) nie, het hulle slegs ‘n beperkte blootstelling aan die opleiding wat noodsaaklik is om mense met sielkundige/psigiatriese toestande te diagnoseer en te behandel. Jou huisdokter mag wel medikasie voorskryf, maar is ook eties verplig om ‘n pasïent te verwys na ‘n spesialis as dit nodig is.

Kliniese Sielkundige:‘n Kliniese sielkundige studeer menslike gedrag en psigoterapie, en moet in Suid-Afrika minstens ‘n meestersgraad hê (ses jaar +), met ‘n internskap en navorsing wat voltooi moet wees om te kan registreer. Dit is die persoon wat jou gaan help om jou sielkundige diagnose (soos posttraumatiese stresversteuring) te verstaan en daarmee saam te leef.

Psigiater:‘n Psigiater studeer ook medies vir sewe jaar, maar spesialiseer verder in psigiatrie, naamlik die chemiese behandeling van afwykings wat met menslike gedrag te doen het. ‘n Psigiater is dus die dokter wat jou kan diagnoseer en die regte medikasie kan voorskryf vir jou sielkundige toestand. Die verwysing na “sielkundige toestande” of “psigiatriese toestande” is presies dieselfde.

5. Is daar ‘n spesifieke soort sielkundige wat ek moet sien?
In Suid-Afrika bestaan daar tans vyf verskillende kategorieë of spesialis-areas waarbinne alle sielkundiges moet registreer:

  • Kliniese sielkundige
  • Voorligtingsielkunde
  • Opvoedkundige sielkunde
  • Bedryfsielkunde
  • Navorsingsielkunde

Die verskillende kategorieë dui die spesialis-areas aan waarbinne sielkundiges volgense regulasies moet hou en aan etiese en wetlike vereistes moet voldoen. Slegs ‘n kliniese sielkundige kan volgens die HPCSA ‘n kliniese diagnose maak.

Slegs ‘n kliniese sielkundige kan volgens die HPCSA ‘n kliniese diagnose maak. ‘n Neuroloog of psigiater in samewerking met ‘n sielkundige wat spesialiseer in neurologiese sielkunde, is egter die aangewese professionele persone in die geval van kognitiewe versteurings.

ADVIES VIR GELIEFDES EN FAMILIELEDE WAT SAAM MET IEMAND WOON OF WERK WAT GEDIAGNOSEER IS MET KOGNITIEWE VERSTEURINGS.

As ‘n geliefde of vriend(in) gediagnoseer word met kognitiewe versteuring, kan jou ondersteuning en motivering ‘n baie belangrike rol speel in die aanvaarding en hantering van hulle diagnose. Hier is riglyne hoe jy ‘n individu kan bystaan:

  • Wees geduldig. Mense wat onder die aanslag van ‘n kognitiewe versteuring verkeer, het nie altyd die vermoeë om te sê hoe hulle voel of wat hulle ervaar nie. Gee hulle ‘n kans om eers gewoond te raak aan die diagnose en om geleidelik ‘n daadwerklike plan te kan uitwerk om hulle lewe van nou af te bestuur. Onthou dat die versteuring waarskynlik geleidelik gaan vererger en dat die indvidu wat daarmee gediagnoseer is geen beheer daaroor het nie.
  • Wees ingelig oor kognitiewe versteurings. Hoe meer jy en jou geliefde, familielid of kollega van die siekte weet en verstaan, hoe meer kan julle saamwerk aan ‘n plan om die persoon te ondersteun en die siekte te bestuur.
  • Vra wat jou geliefde wat van jou verwag word. ‘n Mens kan maklik dink jy weet wat die beste vir ‘n ander persoon is, maar die maklikste is om te vra hoe hy of sy wil hê jy moet optree.
  • Luister na hom of haar, en moenie konstant raad gee of met logika probeer redeneer nie. Dit is belangrik dat die persoon self verantwoordelikheid neem vir die siektetoestand en die effek wat dit op sy of haar lewe gaan hê. Wanneer iemand keuses namens iemand anders maak, kan dit dalk veroorsaak dat persone afhanklik raak van jou en dan nie self die siekte wil beveg nie. Dit is nie jóú siektestoestand nie, maar jou geliefde s’n. Luister is wel ‘n wonderlike manier om jou geliefde te ondersteun.
  • Leer ken die tekens en die simptome sodat jy vroegtydig kan optree. Almal se simptome van kognitiewe versteuring manifesteer nie op dieselfde manier nie, so dit is baie belangrik om te verstaan hoe die persoon in jou lewe se simptome manifesteer. Wanneer jou geliefde byvoorbeeld skielik aansienlik meer kognitiewe disfunksie ervaar as ander tye, kan jy solank voorafbeplande maatreëls begin toepas.
  • Neem deel aan fisieke aktiwiteite saam met die individu. Dit is nie ‘n cliché dat gereelde oefening mense met sielkundige diagnoses help nie. Oefening verlig spanning en angstigheid, en help met die produksie van oordragstowwe wat lae gemoed beveg. Gereelde oefening is dus eintlik ‘n suksesvolle antidepressant.
  • Maak baie seker dat jy verstaan watter behandeling (asook tipe medikasie) toegepas word, sodat jy dit kan ondersteun. Moedig ‘n gesonde eet- en slaappatroon aan. ‘n Gevestigde roetine help nie net die persoon om hul siekte te bestuur nie, maar help ook om tekens/simptome vroegtydig raak te sien.
  • Kyk mooi na jouself! Onthou, ‘n persoon met gediagnoseerde kognitiewe versteuring kan jou ook negatief beïnvloed deur jou by hul versteuring te betrek. Om saam met ‘n persoon te leef wat gediagnoseer is met kognitiewe versteuring kan frustrerend, uitputtend en soms chaoties voel. Maak tyd vir jouself ook.

{ Hoe kan ons jou help? }

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Facebook