PERSOONLIKHEIDS VERSTEURINGS

WAT IS PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING?

‘n Persoonlikheidsversteuring verskil van ander diagnoseerbare versteurings in dié opsig dat dit “deel” is van ‘n persoon, en nie iets wat die persoon “onder lede” het nie (soos bv. depressie). As ‘n mens ‘n persoonlikheidsversteuring kan vergelyk met ‘n fisieke toestand, kan dit dus eerder met ‘n rare oorerflike siekte as ‘n tydelike toestand soos verkoue vergelyk word. Dit is dus belangrik om eers te verstaan wat ‘n persoonlikheidsversteuring is vóór daar na spesifieke versteurings gekyk word.

Het jy geweet?

Slegs sowat 10% van die bevolking ly aan persoonlikheidsversteurings.

Hou in gedagte dat volledige, gediagnoseerde persoonlikheidsversteurings statisties baie selde voorkom. Antisosiale persoonlikheidsversteuring kom byvoorbeeld slegs onder ongeveer 4% van die bevolking voor, en narsistiese persoonlikheidsvesteuring onder ongeveer 5%.

‘n Persoonlikheidsversteuring moet voldoen aan die volgende kriteria:

Alle mense tree by tye op maniere op wat op daardie spesifieke oomblik net soos die gedrag van iemand met ‘n persoonlikheidsversteuring lyk. Almal het al vir ‘n paar sekondes, minute of selfs ‘n dag of twee opgetree soos iemand met ‘n antisosiale persoonliheidsversteuring (die korrekte term vir “psigopaat”) deur byvoorbeeld selfsugtig en “sonder gewete” op iets te reageer en vir daardie klein tydperk oënskynlik “niks omgegee” het nie. As iemand egter aanhoudend so optree, maand in en maand uit, praat ons van ‘n volgehoue sielkundige en gedragspatroon. Hierdie gedragspatroon moet beduidend anders wees as wat die samelewing van ‘n persoon verwag; die grootste deel van die samelewing moet die gedragspatroon met ander woorde onaanvaarbaar vind. Die volgende areas van ‘n persoon met ‘n persoonlikheidsversteuring se funksionering moet sterk beïnvloed word om aan ‘n diagnose te kan voldoen:>

  1. Denke: Hoe die persoon oor hom- of haarself en ander mense of gebeure dink, verskil in ‘n groot mate van die denke van die “gemiddelde” persoon. Hy of sy kan byvoorbeeld oortuig wees dat ander mense hulle móét bewonder (narsisme) of dat ander mense met gemak misbruik kan word (antisosiale persoonlikheidsversteuring).
  2. Gevoel: Die intensiteit, toepaslikheid, duur of afwesigheid van emosie is heelwat anders en konstant as by die “gemiddelde” persoon. Iemand met antisosiale persoonlikheidsversteuring sal ander mense bv. deur die bank misbruik en selde indien ooit skuldig voel oor sy of haar optrede.
  3. Interpersoonlike funksionering:Op die lang termyn word mense oor die algemeen afgestoot deur iemand met ‘n persoonlikheidsversteuring; daarom het iemand met so ‘n versteuring min standhoudende verhoudings.
  4. Impulskontrole:Beheer oor emosies of gedrag is gewoonlik heelwat laer as by die gemiddelde persoon. As iemand met narsistiese persoonlikheidsversteuring byvoorbeeld ervaar dat hy of sy in die openbaar verkleineer word, sal dit feitlik altyd ‘n ernstige woede-uitbarsting tot gevolg hê.
  5. Hierdie patroon moet “onbuigsaam” en rigied wees en in ‘n verskeidenheid situasies en kontekste voorkom. Dit moet ook ‘n beduidende impak op die persoon se werk, verhoudings en ander belangrike areas hê. Dit is dus “deel” van die persoon en kom aanhoudend, oral en altyd voor.
  6. Die patroon moet oor ‘n lang tyd ononderbroke voorkom en reeds tydens adolessensie of vroeë volwassenheid begin het.
  7. Die patroon moet ook nie beter verklaarbaar wees deur ‘n ander vorm van gemoedsversteuring, mediese kondisie (bv. breinbesering) of as gevolg van substansmisbruik nie.

{ Hoe kan ons jou help? }

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Facebook

ANTISOSIALE PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING

Antisosiale persoonlikheidsversteuring (APV) is in die volksmond meer bekend as psigopatie. Die versteuring word oor die algemeen gekenmerk deur ‘n gebrek aan morele sin of skuldgevoel. Gewoonlik gaan dit gepaard met ‘n geskiedenis van misdaad, probleme met die gereg, impulsiwiteit en aggressiewe gedrag. APV is ‘n moeilike toestand om te behandel en het baie selde ‘n suksesvolle diagnose.

Het jy geweet?

  • "Iemand met ‘n antisosiale persoonlikheidsversteuring" is die korrekte manier om te verwys na ‘n persoon wat aan hierdie versteuring ly.
  • Die term "psigopaat" word steeds wyd gebruik, alhoewel dit lankal nie meer van toepassing is nie.
  • "Antisosiaal" verwys nie na ‘n skaam of teruggetrokke of selfgenoegsame soort persoon nie, maar in hierdie geval na iemand wat kronies téén ("anti") die sosiale norme optree. Dit is dus iemand wie se gedrag hom of haar gedurig in die moeilikheid by ander mense en selfs met die gereg laat beland.
  • APV kom meer dikwels onder mans voor.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN ANTISOSIALE PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word:


  1. ‘n Volgehoue patroon van gebrek aan omgee vir ander en miskenning van ander se regte. Die patroon moet teen die ouderdom van 15 begin en word aangedui deur drie of meer van die volgende:
    1. Onvermoë om aan sosiale norme met betrekking tot gedrag te voldoen; om bv. herhaaldelik dade te pleeg wat teen die wet is.
    2. Verdoeseling van die waarheid deur leuens te vertel, alias te gebruik of ander om die bos te lei vir persoonlike wins of plesier.
    3. Impulsiwiteit of gebrek aan vooruitbeplanning.
    4. Irritasie en aggressie, soos aangedui deur insidente van fisieke geweld.
    5. Roekelose ignorering van gebeure wat die veiligheid van die self of ander bedreig.
  2. Aanhoudende onverantwoordelikheid, soos aangedui deur herhaalde onvermoë om werk te behou of finansïele verpligtinge na te kom.
  3. Gebrek aan spyt of skuldgevoelens, of rasionalisering wanneer ander seergemaak of benadeel word.
  4. Die individu moet ten minste 18 jaar oud wees.
  5. Daar moet aanduidings van gedrag wees wat reeds voor die ouderdom van 15 jaar voorgekom het.
  6. Die gedrag is nie as gevolg van skisofrenie of ‘n maniese episode nie.

LOUIS EN LISE BESPREEK ANTISOSIALE PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING

LISE VRA: Die argaïese term vir iemand met ‘n antisosiale persoonlikheidsversteuring is “psigopaat”. Wanneer die meeste mense aan ‘n psigopaat dink, dink hulle aan ‘n gewelddadige moordenaar of reeksmoordenaar. Is dit waar van alle mense wat diagnoseerbaar is met hierdie versteuring?
LOUIS ANTWOORD: Nee, uiteraard nie. Alle mense met antisosiale persoonlikheidsversteurings is nie naastenby gewelddadig of gevaarlik nie. Feitlik alle reeksmoordenaars is egter wel diagnoseerbaar met hierdie persoonlikheidsversteuring.
LISE VRA: Verstaan ek dit reg? ‘n Persoon word gebore met ‘n antisosiale persoonlikheidsversteuring, so dit is nie ‘n siekte wat hulle algaande ontwikkel nie?
LOUIS ANTWOORD: Navorsing is tans nog onseker oor die komplekse oorsake en instandhouding van persoonlikheidsversteurings. Die algemene konsensus is dat genetiese en epigenetiese faktore ‘n groot rol speel, maar omgewingsfaktore kan ook tot die versteuring bydra.
LISE VRA: Werk behandeling vir hierdie versteuring?
LOUIS ANTWOORD: Baie selde. Indivdidue kan wel daarin slaag om met volgehoue behandeling sekere antisosiale gedrag self te identifiseer en te monitor, maar dit is omtrent die beste resultate wat tans bereik kan word.
LISE VRA: Antisosiale persoonlikheidsversteuring is ‘n baie komplekse diagnose. Kan jy verduidelik waarom dit so moeilik is om te diagnoseer?
LOUIS ANTWOORD: Soos met alle persoonlikheidsversteurings, is die simptome van antisosiale persoonlikheidsversteuring moeilik om sommer net so waar te neem. Individue met antisosiale persoonlikheidsversteurings slaag oor die algemeen daarin om die simptome weg te steek, want hulle weet goed wat die samelewing as aanvaarbare gedrag beskou.
LISE VRA: Kan ‘n verhouding met iemand wat ‘n antisosiale persoonlikheidsversteuring het, suksesvol wees?
LOUIS ANTWOORD: Waarskynlik nie soos die meeste mense ‘n “suksesvolle” verhouding sal definieer nie. APV word deur selfsug gekenmerk en werk gewoonlik nie op die langtermyn vir albei partye nie.
LISE VRA: Wanneer ek die simptome van ‘n antisosiale persoonlikheidsversteuring bekyk, sien ek sommige van daardie trekke in myself. Is ek dalk diagnoseerbaar met hierdie versteuring?
LOUIS ANTWOORD: Ons almal het antisosiale eienskappe, in ‘n mindere of meerdere mate, en tree by tye op ‘n selfsugtige, gewetenlose, “antisosiale” manier op, maar dit beteken nie ons is almal diagnoseerbaar met ‘n persoonlikheidsversteuring nie. As dit by APV kom, is die persoon se gedrag permanent antisosiaal.

BEHANDELING VAN 'n ANTISOSIALE PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING

1. Watter behandeling werk suksesvol in die behandeling van ‘n antisosiale persoonlikheidsversteuring?
Psigoterapie, veral psigoterapie wat fokus op die identifisering en monitering van eie gedrag, kan in sommige geval help dat individue met APV meer suksesvol in interpersoonlike verhoudings kan funksioneer. Die sukses met behandeling is egter beperk, veral omdat mense met APV nie voel dat hulle behandeling nodig het nie.

2. Kan medikasie help?
Daar is tans geen medikasie wat voorgeskryf word vir mense wat diagnoseerbaar is met APV nie.

3. Wie moet my of ‘n geliefde diagnoseer?
Omdat APV so kompleks is, kan dit slegs deur ‘n kliniese sielkundige of psigiater gediagnoseer word. Hulle is opgelei om tussen verskillende versteurings te onderskei.

ADVIES VIR GELIEFDES EN FAMILIELEDE WAT SAAM MET IEMAND WOON OF WERK WAT GEDIAGNOSEER IS MET ANTISOSIALE PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING:

  1. Dis uiters moeilik om ‘n persoon wat volledig met antisosiale persoonlikheidsversteuring gediagnoseer is, by te staan of te ondersteun. Die rede hiervoor is dat hierdie persone ander mense gewoonlik meer as objekte sien, en min tot geen empatie wys nie. Net omdat hulle nie simpatie ervaart nie, beteken nie dat hulle dit nie kan verstaan nie. Mense met ’n diagnose van APV ’n kan empaties optree, maar ongelukkig is dit meestal omdat dit hul help om ander te manipuleer. Die slegte nuus is dat mens dus nie eintlik veel kan doen om die persoon te help nie. Hoe sleg dit ook al klink, moet mens jouself maar beskerm teen ’n persoon met ’n APV diagnose, of ernstige grense vir ’n persoon stel. Die ideaal sal wees om jou maar eerder uit die situasie of verhouding te verwyder.
  2. Maar wat as jy nie jouself kan verwyder nie? Ouers met volwasse kinders met hierdie diagnose MOET partykeer daarmee saamleef. In hierdie geval is dit gewoonlik die beste om nie te reageer op manipulasie nie en baie ferm grense te stel. Die idee is dat sekere voorwaardes vir gedrag gestel word, en dat daarby gehou MOET word. Byvoorbeeld: “Jy is enige tyd welkom om by ons te kuier en oor te slaap, maar nie meer as drie aande nie, en as jy dit misbruik mag jy nie weer hier oorbly nie.". Probeer dus eerder GEDRAG reguleer, eerder as om die persoon te probeer verander.

GRENSLYN PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING

Grenslynpersoonlikheidsversteuring (GPV) word gekenmerk deur ongewone variasies en dieptes in gemoed. Hierdie gevoelskommelinge kan ernstige negatiewe gevolge in denke en interpersoonlike verhoudings veroorsaak. Die hoofkenmerke van GPV is gevoelens van verwerping, impulsiewe gedrag en onstabiliteit in emosies, interpersoonlike verhoudings en selfbeeld. Dit kom meer algemeen onder vroue voor, en behandeling deur middel van medikasie en psigoterapie kan soms verbetering fasiliteer.

Mense wat onder GPV gebuk gaan, is gereeld besig om hulleself en ander óf te idealiseer óf in hul gedagtes af te kraak. Dit veroorsaak dan ‘n wisseling tussen ‘n baie hoë agting vir self en ander tot intense teleurstelling in en minagting van self en ander. Selfbeserings en selfdoodpogings kom ook algemeen voor.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN GRENSLYN PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

GPV word gekenmerk deur ‘n volgehoue patroon van onstabiliteit in interpersoonlike verhoudings, selfbeeld en gemoed, asook impulsiwiteit. Dit begin by vroeë volwassenheid en kom in verskeie situasies voor, soos aangedui deur 5 of meer van die volgende:


  1. Paniekerige pogings om werklike of verbeelde verwerping te vermy.
  2. ‘n Patroon van onstabiele en intense verhoudings, wat gekenmerk word deur ‘n wisseling tussen ekstreme “aanbidding” en “walging”.
  3. ‘n Duidelike en volgehoue patroon van onstabiele selfbeeld of gevoel oor self.
  4. Impulsiwiteit in ten minste twee situasies wat nadelige gevolge kan inhou (bv. oorbesteding, substansmisbruik, roekelose bestuur, seks, ooreet).
  5. Konstante gedagtes aan selfdood of aanduidings daarvan, of selfbeseringsgedrag.
  6. Episodes van emosionele onstabiliteit weens wisselende gemoed duur gewoonlik ‘n paar uur lank, maar selde langer as ‘n paar dae.
  7. Chroniese gevoelens van “leegheid”.
  8. Ontoepaslike, intense woede of woedebuie, wat moeilik is om te beheer.
  9. Angsverwante paranoïese gedagtes rakende self, of simptome van verlies aan kontak met die werklikheid.

LOUIS EN LISE BESPREEK GRENSLYN PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING

LISE VRA: Wanneer ek lees van mense met grenslynpersoonlikheidsversteuring, voel dit vir my asof hulle konstant ongelukkig moet voel.
LOUIS ANTWOORD:Ongelukkig is jy reg. Persone wat hiermee sukkel, kry dit selde reg om oor ‘n lang tydperk tevrede met hulleself te voel. Dit is gewoonlik omdat hulle emosies baie wissel en baie intens kan wees. Mense met hierdie diagnose ervaar enige vorm van verwerping intens en kan nie help om sterk emosioneel daarop te reageer nie.
LISE VRA: Om in ‘n verhouding te wees met iemand wat diagnoseerbaar is met hierdie persoonlikheidsversteuring moet baie moeilik wees, of sal dit maar afhang van hoe ‘n geliefde die persoon hanteer?
LOUIS ANTWOORD: Dit is beslis moeiliker. ‘n Mens kan egter nie almal etiketteer of oor dieselfde kam skeer nie, want verhoudings se sukses al dan nie word ook sterk beïnvloed deur ander faktore. Die verhouding waarin grenslynpersoonlikheidversteuring by een of albei individue voorkom, gaan gewoonlik met baie meer konflik gepaard omdat dinge meer persoonlik opgeneem word en die individue sukkel om hul emosies te beheer.
LISE VRA: Is behandeling suksesvol wanneer dit kom by ‘n grenslynpersoonlikheidsversteuring?
LOUIS ANTWOORD: Navorsing wys in baie gevalle definitiewe resultate met sekere vorme van psigoterapie, maar sukses in dié geval beteken die beheer van gedrag en nie die verdwyning van die versteuring self nie. Die behandeling van grenslynpersoonlikheidsversteuring behels dus om gedrag te beheer, en nie noodwendig om die “probleem” op te los nie. Iemand se persoonlikheid kan nie verander nie.

BEHANDELING VAN GRENSLYN PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING

1. Watter behandeling werk suksesvol in die behandeling van grenslynpersoonlikheidsversteuring?
Sekere vorme van psigoterapie is meer suksesvol as ander, maar daar is geen enkele behandeling wat 100% suksesvol is nie. Behandeling is eintlik meer toegespits op die handhawing van lewenskwaliteit, want dit is nie ‘n spesifieke toestand wat “opgelos” kan word nie.

2. Kan medikasie help?
Daar is tans geen medikasie wat voorgeskryf kan word vir mense wat diagnoseerbaar is met GPV nie, maar daar is wel medikasie vir sekere van die simptome, veral gemoedskommelinge wat ‘n groot deel uitmaak van hierdie persoonlikheidsversteuring.

3. Hoekom is dit so moeilik om ‘n grenslynpersoonlikheidsversteuring te diagnoseer?
Die term “grenslyn” beskryf die probleem: hierdie persoonlikheidversteuring “grens” aan ander persoonlikheidsversteurings. Dit beteken dat grenslynpersoonlikheidsversteuring ‘n “stukkie” van die ander persoonlikheidsheidsversteurings ook bevat.

4. Wie moet my of ‘n geliefde diagnoseer?
Omdat GPV so kompleks is, kan dit slegs deur ‘n kliniese sielkundige of psigiater gediagnoseer word. Hulle is opgelei om tussen verskillende versteurings te onderskei.

ADVIES VIR GELIEFDES EN FAMILIELEDE WAT SAAM MET IEMAND WOON OF WERK WAT GEDIAGNOSEER IS MET GRENSLYN PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING:

  1. Wees konsekwent en voorspelbaar. Hou by jou woord. As jy ingee tydens uitdagende gedrag, word die grenslyngedrag versterk. Dit is ‘n bose kringloop waar die gedrag net erger en erger word.
  2. Moedig verantwoordelikheid aan. Moenie ‘n persoon met GPV se redder word nie. Geliefdes kan maklik gemanipuleer word om verantwoordelikheid te neem vir die persoon se onverantwoordelike aksies. Die persoon gaan geen motivering vir verandering hê as iemand deurentyd tot sy of haar redding kom nie.
  3. Wees eerlik. Persone met GPV dink dikwels dat hulle deur almal onregverdig behandel word. Bied eerlike terugvoer in so situasie.
  4. Moenie argumente laat eskaleer nie. Persone met GPV kan dit wat jy probeer oordra, verkeerd interpreteer. As jy kritiek lewer, gaan jy heel waarskynlik hoor hoe “veragtelik” jy is. Gee jy ‘n kompliment, moet jy dalk hoor hoe “skynheilig” jy is. Verduidelik jy jou bedoelinge, vererger jy waarskynlik die emosies. Sorg dus dat jy nie vasgevang word in ‘n onnodige argument nie. Doen jou bes om kalm te bly, al voel jy gefrustreerd, magteloos en verlam deur jou geliefde se reaksies.

NARSISTIESE PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING

Die algemene kenmerke van ‘n narsistiese persoonlikheidsversteuring (NPV) is ‘n oormatige beheptheid met selfbeeld, mag en vertoon, en om die regte beeld voor te hou.

Die persoon met NPV het oënskynlik baie selfvertroue, maar die verskil tussen die versteuring en “normaliteit” tree in wanneer dit tot die persoon se eie nadeel patologies raak. Mense wat hieraan ly, se idee van hul selfwaarde is so hoog dat hulle hulself as beter en belangriker as ander beskou. Hulle het egter ‘n kenmerkende lae selfbeeld en sukkel om kritiek te hanteer, wat veroorsaak dat hulle gereeld probeer kompenseer deur ander te verkleineer. Dit is hierdie “sadistiese” kenmerk wat NPV onderskei van ander toestande wat met selfwaarde verband hou.

Het jy geweet?

Die versteuring kom by ongeveer drie persent (3%) van die bevolking voor, en meer by mans as by vroue.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN NARSISTIESE PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

‘n Volgehoue patroon van “oomatige belangrikheid” in gedrag of fantasieë. Die patroon gaan oor die behoefte aan bewondering deur en gebrek aan empatie met ander, wat in vroeë volwassenheid begin en in verskillende situasies voorkom. Vyf of meer van die volgende simptome moet voorkom:


  1. ‘n Oormatige gevoel van selfbelang; vergroot talente en prestasies; verwag om as superieur beskou te word.
  2. Is behep met gedagtes aan onbeperkte sukses, mag, briljantheid, skoonheid of ideale liefde.
  3. ‘n Oortuiging dat hy of sy “spesiaal” en uniek is en slegs met mense van hoë status kan assosieer.
  4. Vereis oormatige bewondering.
  5. ‘n Sin vir geregtigheid, bv. verwagtinge om gehoorsaam of as spesiaal behandel te word.
  6. Interpersoonlike uitbuiting, bv. om misbruik te maak van ander tot sy of haar eie voordeel.
  7. 'n Gebrek aan empatie; onwillig en/of nie in staat om met ander se gevoelens te identifiseer nie.
  8. Is afgunstig op ander, en/of glo dat ander afgunstig is op hom of haar.
  9. Kom arrogant en hooghartig voor in gedrag of houding.

LOUIS EN LISE BESPREEK NARSISTIESE PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING (NPV)

LISE VRA: Statistieke dui daarop dat baie min mense diagnoseerbaar is met hierdie persoonlikheidsversteuring. Maar hoekom word daar so baie hieroor geskryf en sê so baie mense hulle lewe saam met of ken iemand wat ‘n narsis is?
LOUIS ANTWOORD: Daar word baie maklik na die term “narsis” gegryp as uitbeelding van hoe selfsugtig en ongevoelig sekere mense kan wees. Dit definieer verreweg nie ‘n narsistiese persoonlikheidsversteuring nie, want hierdie versteuring is iets wat eintlik onder ‘n baie klein persentasie mense voorkom.
LISE VRA: Word ‘n persoon met ‘n persoonlikheidsversteuring gebore?
LOUIS ANTWOORD: Dit is dalk te eenvoudig om te sê dat iemand so “gebore” word, maar as jy bedoel dat dit geneties bepaal word, is jy heeltemal reg.
LISE VRA: Hoekom word ‘n narsis se omstandighede (hoe hy of sy grootgeword het, familie-omstandighede, ens.) vir sy versteuring geblameer? Watter rol speel hierdie twee faktore in die toestand?
LOUIS ANTWOORD: Natuurlik speel omgewingsfaktore ‘n rol by almal se ontwikkeling. Tot op hede is daar nog nie genoeg navorsing oor persoonlikheidsversteuring om ten volle te kan sê wat die oorsaak daarvan is nie, maar die algemene konsensus is dat genetiese faktore domineer.
LISE VRA: Jy het al gereeld in ons radioprogram gesê dat mense nie sommer iemand self moet diagnoseer met narsisme nie. Wat is die gevaar daaraan verbonde?
LOUIS ANTWOORD: Afgesien daarvan dat ‘n mens nie iemand kan diagnoseer by wie jy subjektief betrokke is nie, is persoonlikheidsversteurings waarskynlik die moeilikste van alle psigiatriese toestande om te diagnoseer. Dit moet met groot omsigtigheid gedoen word, en dan ook net ná ‘n waarnemingstydperk.
LISE VRA: Hoe suksesvol kan ‘n verhouding wees met ‘n persoon wat waarlik diagnoseerbaar is met narsistiese persoonlikheidsversteuring?
LOUIS ANTWOORD: Waarskynlik nie so suksesvol soos ‘n mens graag sou wil hê nie. NPV word deur selfbelang gekenmerk en werk gewoonlik nie op die lang duur vir albei partye nie.

BEHANDELING VAN NARSISTIESE PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING

1. Kan ‘n persoon met hierdie diagnose genees word?
Die algemene konsensus in hierdie stadium is dat persoonlikheidsversteurings nie “genees” kan word nie, maar soms word resultate verkry deur die persoon se gedrag meer toepaslik te rig.

2.Is daar medikasie vir hierdie persoonlikheidsversteuring?
Daar is tans geen medikasie wat voorgeskryf kan word vir mense wat diagnoseerbaar is met NPV nie.

3. Kan ‘n kliniese sielkundige help om ‘n persoon met narsisme te help verander, veral in ‘n verhoudingskonteks?
Sekere resultate kan wel bereik word, maar oor die algemeen sal mense wat sukkel met narsisme nie vrywillig vir sielkundige hulp gaan nie, bloot omdat hulle nie sal erken dat daar “fout” is nie.

4. Wie kan iemand met hierdie persoonlikheidsversteuring diagnoseer?
Omdat NPV so kompleks is, kan dit slegs deur ‘n kliniese sielkundige of psigiater gediagnoseer word. Hulle is opgelei om tussen verskillende versteurings te onderskei.

ADVIES VIR GELIEFDES EN FAMILIELEDE WAT SAAM MET IEMAND WOON OF WERK WAT GEDIAGNOSEER IS MET NARSISTIESE PERSOONLIKHEIDS VERSTEURING?

  1. Stel vas met watter tipe narsisme jy te doen het. Daar is verskeie tipes NPV’s. ‘n Kwesbare narsistiese persoon voel diep binne-in nie noodwendig goed oor hulleself nie. ‘n Grandiose narsistiese persoon, aan die ander kant, voel goed oor hulleself.
  2. Erken jou irritasie. Persone met NPV kan geweldig antagonisties wees. Dit kan voel of die persoon met NPV “onder jou vel” inkom. As jy ‘n taak probeer uitrig en die narsis onderbreek jou vordering konstant, erken waar jou frustrasie vandaan kom. Dit kan jou bemagtig om die gedrag aan te spreek en grense te stel.
  3. Verstaan waar die gedrag vandaan kom.Persone met NPV het dikwels ‘n probleem met gesag. Verstaan dat dit meestal uit ‘n plek van onsekerheid kom. Só kan jy die persoon net genoeg gerusstelling bied om te kalmeer en hul fokus te verskuif.
  4. Evalueer die konteks. NPV is nie ‘n alles-of-niks persoonlikheid nie. Sommige situasies kan die persoon aanmoedig om verdedigend, wraaksugtig en/of nydig op te tree. Alle gedrag is nie altyd aan ‘n persoon se toestand te wyte nie.
  5. Bly positief. Dit is belangrik om te weet dat persone met NPV wat genot ervaar deur ander emosioneel seer te maak, aangemoedig word om die gedrag te herhaal as hulle sien dat hulle pyn veroorsaak. Moenie aandag daaraan gee nie, selfs al ervaar jy frustrasie. Hoe minder aandag die uitdagende gedrag kry hoe minder sal dit plaasvind.
  6. Moenie jouself ontspoor nie. Dit is ongelukkig maklik om jou eie sin vir waarde te verloor as jy jou lewe met ‘n narsis deel. Jy hoef nie aandag te skenk aan alles wat die persoon van jou verwag nie. Vind ‘n balans tussen die rigting waarin jy wil beweeg en die verligting van ‘n persoon met NPV se onsekerhede en angs. Jy kan die narsistiese persoon se gevoelens erken, maar steeds aanbeweeg met jou dag.
  7. Behou jou sin vir humorJy kan ‘n persoon met NPV se “bluf” uitdaag. Dit kan beteken dat jy gewoonweg die gedrag ignoreer of soms selfs ‘n grappie daaroor maak. Moet dit nie op ‘n neerhalende, wrede manier doen nie, maar jy mag die onvanpastheid van sy of haar gedrag uitwys.
  8. Moedig psigoterapie aan.‘n Persoon met NPV het dikwels ‘n lae selfbeeld en gevoelens van ontoereikendheid. Om NPV aan te spreek is nie iets wat jy op jou eie kan aanpak nie; dis iets waarmee slegs ‘n gekwalifiseerde persoon kan werk.

{ Hoe kan ons jou help? }

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Facebook