VERSLAWING

WAT IS ‘N VERSLAWING?

Wanneer ‘n persoon ‘n middel inneem (bv. alkohol of dwelms) of deelneem aan ‘n genotvolle aktiwiteit (bv. eet, dobbel, seks) waar herhaalde betrokkenheid by die middel of aktiwiteit kompulsief raak en die normale funksionering van die persoon beïnvloed, praat ons van verslawing. Mense met verslawing weet soms nie dat hulle gedrag buite beheer is nie. Hulle kom dikwels nie agter dat dit probleme in hul lewens veroorsaak nie.

Het jy geweet?

Wetenskaplikes wat dwelmverslawing ondersoek, het die afgelope sowat 80 jaar kragtige mites en wanopvattinge oor die natuur van verslawing aangespreek. Toe verslawing aanvanklik bestudeer is (in die 1930’s), is daar geglo dat mense wat verslaaf is aan middels/aktiwiteite moreel gebreek is of geen wilskrag het nie. Hierdie uitkyk het ons samelewing se reaksie teenoor verslawing sterk beïnvloed. Ons neig om verslawing as ‘n gebrek aan moraliteit te sien, eerder as ‘n ernstige gesondheidsprobleem.

Danksy die wetenskap het die uitkyk op verslawing dramaties verander. Ons weet nou dat verslawing ‘n versteuring is wat beide die brein en gedrag affekteer.

WAT VEROORSAAK 'N VERSLAWING?

Verslawing oefen ‘n lang en kragtige invloed op die brein uit, op drie verskillende maniere:

  1. Drang (craving) na die objek van verslawing.
  2. Verlies aan beheer oor gebruik van die objek.
  3. Aanhoudende betrokkenheid ten spyte van negatiewe gevolge.

Belangrik

Alhoewel die standard diagnostic manual verskillende verslawings beskryf, is daar konsensus dat dit veelvoudige uitdrukkings van dieselfde onderliggende breinproses is.

Vir baie jare het kenners geglo dat slegs alkohol en dwelms tot verslawing kan lei. Tegnologie wys nou dat aktiwiteite wat genot bring ook tot verslawing kan lei, byvoorbeeld eet, dobbel en seks.

Navorsing oor die toestand duur steeds voort, maar ‘n kombinasie van medikasie en pisgoterapeutiese behandeling (om ‘n sielkundige te gaan spreek) kan die simptome grootliks verlig en die persoon se lewenskwaliteit verbeter.

{ Hoe kan ons jou help? }

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Facebook

ALKOHOLVERSLAWING

Misbruik van alkohol is ‘n groot probleem in Suid-Afrika. Afgesien van die gesondheidsgevare, is die risiko’s baie hoër as wat ‘n mens dalk besef. ‘n Geweldige hoë persentasie van noodlottige padongelukke is aan alkohol te wyte. Mense pleeg ook makliker selfdood onder die invloed van alkohol.

HIV/VIGS-voorkoms is in baie gevalle ook direk verwant aan alkoholmisbruik: Mense wat onder die invloed van alkohol is, is baie meer geneig om onveilige seksuele praktyke toe te pas. Daarmee saam is daar in Suid-Afrika ‘n abnormale hoë voorkoms van babas wat gebore word met fetale alkoholsindroom, veral in die Wes-Kaap. Hierdie kinders word gebore met spesifieke agterstande wat die res van hulle lewens probleme kan veroorsaak.

Kriminele gedrag hou direk verband met alkoholmisbruik. Verdere skokkende feite is dat 46% van Suid-Afrikaners wat weens onnatuurlike oorsake sterf, ‘n verhoogde bloedalkoholinhoud het. Dieselfde geld vir die 39% van alle pasïente wat by hoësorgeenhede (ICU) opgeneem word.

Alkolhol is ‘n dwelmmiddel. Dit is wel sosiaal aanvaarbaar om alkohol in te neem, maar dit bly ‘n dwelmmiddel, net soos kokaïen, nikotien, “tik”, ensovoorts. Daarmee word nie bedoel dat alkohol heeltemal ontoelaatbaar moet wees nie, maar ‘n mens moet altyd onthou dis ‘n dwelmmiddel wat fisiek verslawend is.

Belangrik

Konstante alkoholmisbruik, of alkoholisme, het ‘n uitwerking op twee areas:
  • Fisiek, waar die persoon se liggaam letterlik verslaaf raak as gevolg van gereelde gebruik. Die toets hier is of die persoon vir lang tydperke sonder alkohol kan klaarkom, en of hy of sy fisieke onttrekkingsimptome kry as daar nie alkohol ingeneem word nie.
  • Sosiaal/persoonlik, waar gereelde gebruik veroorsaak dat die persoon se werk negatief beïnvloed word, die verslawing probleme met sy of haar gesin, familie en vriende veroorsaak, of waar dit tot terneergedrukte gemoed by die persoon self lei.

As ‘n persoon aan hierdie tekens voldoen, is rehabilitasie die antwoord. Dit kan soms by die persoon se huis gebeur, waar hy of sy met die regte ondersteuning heeltemal ophou om alkohol te gebruik, maar rehabilitasie werk die beste in ‘n kliniek, wat privaat kan wees of deur die staat ondersteun word (bv. Claro Kliniek). Normaalweg is dit beter vir mense oor die ouderdom van 40 om vir die res van hulle lewens nie weer alkohol te gebruik nie, aangesien die neurologiese patrone al so vasgelê is dat een drankie na 10 jaar die persoon weer kan aktiveer om verslaaf te raak.

Die belangrikste is om te onthou dat alkohol in wese ‘n dwelmmiddel is, en die oorsaak van duisende ongelukkige huwelike, verhoudings en individue. Verantwoordelikheid bly die grootste verweer teen die gevare hiervan.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN ALKOHOLVERSLAWING?

Het jy geweet?

  • Suid-Afrika is die derde grootste alkoholgebruiknasie in Afrika, en die 19de grootste alkoholgebruiknasie in die wêreld.
  • Huidige navorsing dui ook daarop dat een uit elke vier mans en een uit elke tien vroue in Suid-Afrika simptome van alkoholafhanklikheid toon.

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word:

Om diagnoseerbaar te wees, moet die volgende simptome voorkom:

  1. Afhanklikheid: Drie of meer van die volgende simptome binne ‘n 12 maande periode:
    1. Toleransie – toename in gebruik van die middel, met geleidelike vermindering van die effek.
    2. Fisieke onttrekkingsimptome, en kortstondige verdwyning van die simptome sodra die dwelm gebruik word.
    3. Die middel word in ‘n groter mate en vir langer tydperke gebruik as wat aanvanklik beplan is.
    4. Konstante behoefte of onsuksesvolle pogings om die gebruik van alkohol te staak.
    5. Baie tyd en energie word daaraan bestee om die dwelm in die hande te kry, te gebruik en van onttrekkingsimptome te herstel.
    6. Belangrike sosiale en werkverpligtinge en vryetydaktiwiteite word verminder of opgegee.
    7. Gereelde gebruik, ten spyte van die bewustheid van die gevare daarvan.
  2. Misbruik: Een of meer van die volgende simptome binne ‘n 12 maande periode:
    1. Aanhoudende gebruik, wat lei tot die onvermoë om belangrik take by die werk, skool of huis uit te voer.
    2. Aanhoudende gebruik in potensieel gevaarlike situasies (bv. motorbestuur).
    3. Herhaalde botsings met die gereg as gevolg van dwelmgebruik.
    4. Voortdurende gebruik ten spyte van sosiale of interpersoonlike probleme wat deur die gebruik veroorsaak word.

BEHANDELING VAN ALKOHOLVERSLAWING

1. Hoekom is behandeling nodig vir alkoholverslawing?
Alkoholverslawing kan ernstige fisieke en gesondheidsrisiko’s inhou en in menige gevalle selfs tot individue se dood lei. Behandeling kan in sommige gevalle by die persoon se huis gebeur, waar hy of sy met die regte ondersteuning heeltemal ophou om alkohol te gebruik. Meestal werk rehabilitasie egter die beste in ‘n kliniek, wat privaat kan wees of deur die staat ondersteun word.

2. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
Omdat alkoholverslawing so kompleks is, sou ons jou aanraai om slegs deur ‘n algemene praktisyn, kliniese sielkundige of psigiater getoets en gediagnoseer te word. Hulle is opgelei om tussen verskillende versteurings te onderskei.

3. Watter rol speel ‘n sielkundige in my behandeling?
‘n Sielkundige kan dwelmverslawing diagnoseer en in samewerking met ander mediese spesialiste psigoterapeuties behandel. Baie sielkundiges spesialiseer spesifiek in verslawing. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om ‘n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. ‘n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met ‘n psigiater in spanverband.

DWELMVERSLAWING

Dwelmafhanklikheid (soms ook dwelmverslawing genoem) word gediagnoseer wanneer die gebruiker voel hy of sy moet dwelmmiddels gebruik om normaal te kan funksioneer, ten spyte van die persoonlike, fisieke en interpersoonlike probleme wat daardeur veroorsaak word. Wanneer hierdie dwelm/s nie beskikbaar is nie, ervaar die persoon onttrekkingsimptome. Aanhoudende gebruik lei gewoonlik tot fisieke toleransie, wat veroorsaak dat al hoe meer gebruik moet word om dieselfde effek te kry.

Dwelmafhanklikheid kan gediagnoseer word met of sonder fisieke afhanklikheid. Navorsing toon dat diegene wat vroeg met dwelmgebruik begin het (14 jaar en jonger) waarskynlik vroeg reeds ernstige probleme met dwelmgebruik sal ontwikkel. Dit geld vir alle vorms van dwelmmisbruik, maar spesifiek wat alkohol betref.

Het jy geweet?

  • Onlangse navorsing wys dat dwelms twee keer meer in Suid-Afrika gebruik word as wat die norm vir die res van die wêreld is.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN DWELMVERSLAWING?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word:

Om diagnoseerbaar te wees, moet die volgende simptome voorkom:

  1. Afhanklikheid: Drie of meer van die volgende simptome binne ‘n 12 maande periode:
    1. Toleransie – toename in gebruik van die middel, met geleidelike vermindering van die effek.
    2. Fisieke onttrekkingsimptome, en kortstondige verdwyning van die simptome sodra die dwelm gebruik word.
    3. Die middel word in ‘n groter mate en vir langer tydperke gebruik as wat aanvanklik beplan is.
    4. Konstante behoefte of onsuksesvolle pogings om die gebruik van dwelm te staak.
    5. Baie tyd en energie word daaraan bestee om die dwelm in die hande te kry, te gebruik en van onttrekkingsimptome te herstel.
    6. Belangrike sosiale en werkverpligtinge en vryetydaktiwiteite word verminder of opgegee.
    7. Gereelde gebruik, ten spyte van die bewustheid van die gevare daarvan.
  2. Misbruik: Een of meer van die volgende simptome binne ‘n 12 maande periode:
    1. Aanhoudende gebruik, wat lei tot die onvermoë om belangrik take by die werk, skool of huis uit te voer.
    2. Aanhoudende gebruik in potensieel gevaarlike situasies (bv. motorbestuur).
    3. Herhaalde botsings met die gereg as gevolg van dwelmgebruik.
    4. Voortdurende gebruik ten spyte van sosiale of interpersoonlike probleme wat deur die gebruik veroorsaak word.

BEHANDELING VAN DWELMVERSLAWING

1. Hoekom is behandeling nodig vir dwelmverslawing?
Dwelmverslawing verwoes fisieke en breinstrukture en kan tot ernstige fisieke toestande of selfs die dood lei. Dit is dus uiters belangrik om behandeling te ondergaan. Rehabilitasie werk die beste in ‘n kliniek, wat privaat bedryf of deur die staat ondersteun word (bv. Claro Kliniek).

2. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
Omdat dwelmverslawing so kompleks is, sou ons jou aanraai om jou slegs deur ‘n algemene praktisyn, kliniese sielkundige of psigiater te laat toets en diagnoseer. Hulle is opgelei om verskillende verslawings te behandel.

3. Watter rol speel ‘n sielkundige in my behandeling?
‘n Sielkundige kan dwelmverslawing diagnoseer, en in samehang met ander mediese spesialiste psigoterapeuties behandel. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om ‘n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. ‘n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met ‘n psigiater in spanverband.

KOSVERSLAWING

Die idee dat iemand verslaaf kan wees aan kos het onlangs toenemende ondersteuning begin kry. Breinskanderings wys dat die brein se plesiersentrum met kosverslawing geaffekteer word soos by enige ander verslawing. Die tipe verslawende kosse bevat gewoonlik

  1. suiker
  2. vet
  3. sout

Belangrik

Ons almal eet soms te veel op een slag, selfs oor ‘n lang tydperk, maar dit beteken nie dat ons almal aan kos verslaaf is nie. Dis egter belangrik om jouself of jou geliefdes dop te hou as ligte tekens meer gereeld voorkom.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN OOR-EET/KOSVERSLAWING?

Oor-eet is ‘n diagnoseerbare mediese toestand, met ‘n lys van simptome waaraan voldoen moet word voordat ‘n spesialis dit kan diagnoseer.

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word:

Wenk

Individue wat oor-eet, ervaar verleentheid en skuld oor hul eetgewoontes; daarom kan simptome soms goed weggesteek word.

Om diagnoseerbaar te wees, moet een of albei van die volgende twee simptome voorkom, vir 'n tydperk van ten minste ses maande

    1. Aanhoudend eet, selfs al die persoon versadig
    2. Onvermoë om op te hou eet of om dit wat ingeneem word te beheer.
    3. Opgaring van voedsel om in ‘n later stadium te eet wanneer die persoon alleen is.
    4. Eet normaal in sosiale situasies, maar oor-eet in isolasie
    5. Gevoelens van stres en angstigheid wat net verlig word deur oor-eetepisodes.
    6. Gevoelens van gevoelloosheid of verlies aan sensasie gedurende oor-eetepisode.
    7. Ervaar nooit versadiging of ‘n gevoel van satisfaksie nie, ongeag die hoeveelheid voedsel wat ingeneem word.

Belangrik

Die gevolge van oor-eet hou baie fisieke, sosiale en emosionele probleme in. Sommige van die komplikasies is:
  • Kardiovaskulêre probleme
  • Tipe 2 diabetes
  • Insomnia of slaapapnee
  • Hipertensie
  • Galblaasprobleme
  • Spier- en gewrigpyn
  • Depressie en/of angs

BEHANDELING VAN KOSVERSLAWING

1. Hoekom is behandeling nodig vir kosverslawing?
Kosverslawing kan ernstige fisieke en gesondheidsrisiko’s inhou, en in sommige gevalle selfs tot individue se dood lei. Professionele ondersteuning deur sielkundiges, psigiaters en dieetkundiges is meestal die mees effektiewe manier om kosverslawing te behandel. ‘n Behandelingsplan raak aan onderliggende aspekte geassosieer met vernietigende eetpatrone. Dis belangrik om te kyk na emosionele snellers. Gesonde hanteringsmeganismes kan deur behandeling in plek gesit word.

2. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
Omdat kosverslawing so kompleks is, sou ons jou aanraai om jou slegs deur ‘n algemene praktisyn,kliniese sielkundige of psigiater te laat toets en diagnoseer. Hulle is opgelei om tussen verskillende versteurings te onderskei.

3. Watter rol speel ‘n sielkundige in my behandeling?
‘n Sielkundige kan kosverslawing diagnoseer, en in samehang met ander mediese spesialiste psigoterapeuties behandel. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om ‘n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. ‘n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met ‘n psigiater in spanverband.

DOBBELVERSLAWING

Dobbelverslawing, ook kompulsiewe dobbelversteuring genoem, is die onstuitbare drang om te dobbel, ten spyte van die negatiewe impak wat dobbel op die persoon se persoonlike, professionele of finansiële welstand kan hê. Dobbelverslawing is, soos alkoholisme en dwelmverslawing, ‘n kroniese kondisie.

Het jy geweet?

  • Ten minste 2.9 % van die volwasse samelewing ly aan dobbelverslawing.
  • Dobbelverslawing affekteer twee keer soveel mans as vroue.
  • Vroue ontwikkel later as mans dobbelprobleme en soek vinniger behandeling.
  • Sommige mense raak slegs gedurende sekere tye verslaaf, bv. tydens ‘n sportseisoen.

Dobbel is baie algemeen, maar kan tot verslawing lei as dit jou lewe ontwrig. Daar is treffende ooreenkomste tussen dobbelverslawing en ander verslawings soos dwelm- en alkoholverslawing. Gedurende ‘n episode voel dobbelverslaafdes “onder die invloed” (high) of baie opgewek. Hierdie gedrag hou gewoonlik ‘n paar jaar aan voordat dit ‘n afwyking raak en probleme veroorsaak. Aanvanklik lei sukses tot ‘n toename in dobbelgewoontes. Daar kan op ‘n verskeidenheid aktiwiteite gedobbel word: sport, Casino-aktiwiteite, hondegevegte, perderesies, Bingo, Lotto, ens.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN DOBBELVERSLAWING?

Dobbelverslawing is ‘n diagnoseerbare mediese toestand, met ‘n lys van simptome waaraan voldoen moet word voordat ‘n spesialis dit kan diagnoseer.

Die volgende 10 simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word:

Wenk

Individue wat dobbel, ervaar verleentheid en skuld oor hul gedrag; daarom kan simptome soms goed weggesteek word.

Om diagnoseerbaar te wees, moet vyf of meer van die volgende simptome voorkom:

  1. ‘n Beheptheid met dobbel.
  2. Die onvermoë om op te hou dobbel.
  3. Geïrriteerdheid wanneer die persoon minder probeer dobbel.
  4. Die behoefte om groter bedrae te wen.
  5. Dobbel om van stres ontslae te raak.
  6. Konstante pogings om geld terug te wen.
  7. Leuens oor die erns van die dobbelprobleem.
  8. Maak staat op ander vir geld om dobbelskuld te delg.
  9. Verwoes persoonlike of professionele verhoudings as gevolg van dobbel.
  10. Kriminele gedrag kom soms voor om dobbel moontlik te maak.

BEHANDELING VAN DOBBELVERSLAWING

1. Hoekom is behandeling nodig vir dobbelverslawing?
Kompulsiewe dobbelaars weerstaan meestal behandeling omdat hulle nie dink dis ‘n probleem nie. Die meeste dobbelaars kry eers behandeling ná druk van hul vriende of familie. Behandeling vir dobbelverslawing is net so belangrik soos dwelmverslawingbehandeling, en die proses is dieselfde.

2. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
Omdat dobbelverslawing so kompleks is, sou ons jou aanraai om jou deur ‘n kliniese sielkundige of psigiater te laat behandel. Hulle is opgelei om met verskillende verslawings te werk.

3. Watter rol speel ‘n sielkundige in my behandeling?
‘n Sielkundige kan dobbelverslawing diagnoseer en in samehang met ander mediese spesialiste psigoterapeuties behandel. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om ‘n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. ‘n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met ‘n psigiater in spanverband.

SEKSVERSLAWING

Seksverslawing word verduidelik as kompulsiewe deelname of betrokkenheid by seksuele aktiwiteite en spesifiek seksuele omgang, ten spyte van negatiewe effekte. Seksuele aktiwiteite raak die fokuspunt van die persoon se lewe, tot op die punt waar persoonlike welstand afgeskeep word. Seksverslaafdes ervaar ‘n toename in spanning of affektiewe opwekking oombliklik voor seksuele aktiwiteit, en verligting na seksuele gedrag. Die patroon van seksuele drang en gedrag veroorsaak persoonlike, opvoedkundige, familie- en werkdilemmas.

Daar is verskillende vorme van seksverslawing:

  1. Oormatige pornografie
  2. Gereelde seks met prostitute
  3. Oormatige masturbasie of seksfantasieë
  4. Oormatige seksueel sadistiese/masochistiese gedrag
  5. ontbloting/voyeurisme
  6. Ander oormatig seksuele strewes

Het jy geweet?

  • Seksverslawing is nie meer ‘n diagnoseerbare mediese toestand nie.
  • Seksverslawing is voorheen “Hypersexual disorder” genoem

Wat is die gevolge van seksverslawing?

  1. Sowat 38% van mans en 45% van vroue met seksverslawing het ‘n veneriese siekte.
  2. Swangerskap is ‘n algemene gevolg van seksverslawing.

Wenk

Individue met seksverslawing ervaar verleentheid en skuld oor hul gewoontes.

Seksverslawing kan ook ‘n negatiewe impak op verskeie lewensareas hê. Dit kan tot die volgende lei:

  1. ‘n afname in persoonlike verhoudings en sosiale en familie-interaksie
  2. ‘n afname in konsentrasie en produktiwiteit
  3. Fisieke gevolge soos seksueel oordraagbare siektes (SOT’s)

Seksverslawing kan ‘n diepgaande sielkundige uitwerking hê, soos gevoelens van skuld, ontoereikendheid en emosionele nood.

Belangrik

Oormatige seksuele gedagtes en/of gedrag kan jou lewe baie negatief beïnvloed. Dit is steeds belangrik om te onthou dat hulp en behandeling beskikbaar is.

BEHANDELING VAN SEKSVERSLAWING

1. Hoekom is behandeling nodig vir seksverslawing?
Soos alle verslawing, kan seksverslawing mense se lewens ernstig benadeel. Professionele ondersteuning deur sielkundiges en psigiaters is meestal die mees effektiewe manier om seksverslawing te behandel. ‘n Behandelingsplan raak aan onderliggende aspekte geassosieer met vernietigende seksuele gedrag. Dis belangrik om uit te kyk vir emosionele snellers. Gesonde hanteringsmeganismes kan deur behandeling in plek gesit word.

2. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
Omdat seksverslawing so kompleks is, sou ons jou aanraai om jou slegs deur ‘n kliniese sielkundige of psigiater te laat toets en diagnoseer. Hulle is opgelei om te kan onderskei tussen verskillende versteurings.

3. Watter rol speel ‘n sielkundige in my behandeling?
‘n Sielkundige kan seksverslawing diagnoseer en in samehang met ander mediese spesialiste psigoterapeuties behandel. Dit beteken dat hy of sy jou kan help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om ‘n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. ‘n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met ‘n psigiater in spanverband.

ADVIES VIR GELIEFDES EN FAMILIELEDE WAT SAAM MET IEMAND WOON OF WERK WAT GEDIAGNOSEER IS MET VERSLAWING.

As ‘n geliefde of vriend(in) gediagnoseer word met verslawing, kan jou ondersteuning en motivering ‘n baie belangrike rol speel in die aanvaarding en hantering van hulle diagnose. Hier is riglyne hoe jy ‘n individu kan bystaan:

  • Wees geduldig. Mense wat onder die aanslag van ‘n verslawing verkeer, het nie altyd die vermoë om te sê hoe hulle voel of wat hulle ervaar nie. Gee hulle ‘n kans om eers gewoond te raak aan die diagnose, en om geleidelik ‘n daadwerklike plan uit te werk om hulle lewe voortaan te bestuur.
  • Wees ingelig oor verslawing. Hoe meer jy en jou geliefde, familielid of kollega van die siekte weet en verstaan, hoe meer kan julle saamwerk aan ‘n plan om die persoon te ondersteun en die siekte te bestuur.
  • Vra wat jou geliefde van jou verwag. ‘n Mens kan maklik dink jy weet wat die beste vir ‘n ander persoon is, maar die maklikste is om te vra hoe hy of sy wil hê jy moet optree
  • Luister na hom of haar en moenie konstant raad gee of met logika probeer redeneer nie. Dit is belangrik dat die persoon self verantwoordelikheid neem vir die verslawing en die effek wat dit op sy of haar lewe gaan hê. Wanneer iemand keuses namens iemand anders maak, kan dit dalk veroorsaak dat die persoon afhanklik raak van jou en dan nie self die verslawing wil beveg nie. Dit is nie jóú verslawing nie, maar jou geliefde s’n. Luister is wel ‘n wonderlike manier om jou geliefde te ondersteun.
  • Leer ken die tekens en die simptome sodat jy vroegtydig kan optree. Almal se simptome van verslawing manifesteer nie op dieselfde manier nie, so dit is baie belangrik om te verstaan hoe die persoon in jou lewe se simptome manifesteer. Wanneer jou geliefde se gemoed byvoorbeeld skielik verander, kan jy solank maatreëls begin tref.
  • Neem deel aan fisieke aktiwiteite saam met die individu. Dit is nie ‘n cliché dat gereelde oefening mense met sielkundige diagnoses help nie. Oefening verlig spanning en angstigheid, en help met die produksie van oordragstowwe wat lae gemoed beveg. Gereelde oefening is dus eintlik ‘n suksesvolle antidepressant.
  • Moedig ‘n gesonde eet- en slaappatroon aan. ‘n Gevestigde roetine help nie net die persoon om hul verslawing te bestuur nie, maar help ook om tekens/simptome vroegtydig raak te sien.
  • Kyk mooi na jouself! Onthou, ‘n persoon met ‘n verslawing kan jou ook negatief beïnvloed deur jou by hul verslawing te betrek. Om saam met ‘n persoon te leef wat vir verslawing behandel word kan frustrerend, uitputtend en soms chaoties voel. Maak tyd vir jouself ook.

ALGEMENE INLIGTING OOR BEHANDELING VAN VERSLAWING

1. Hoekom is behandeling nodig vir verslawing?Sonder die regte behandeling kan die simptome van verslawing geleidelik vererger. Verslawing kan in dié opsig met ander siektes, bv. diabetes, vergelyk word. Albei vereis deurlopende farmakologiese behandeling (medikasie) en monitering deur ‘n professionele persoon, en die resultate is oor die algemeen heelwat beter as die persoon gereeld psigoterapie by ‘n sielkundige ontvang. Professionele behandeling is uiters belangrik vir enigiemand wat gediagnoseer is met ‘n verslawing omdat daar ‘n sterk chemiese onderbou van simptome is en dit moeilik is om die simptome onder beheer te hou (dit kan m.a.w. eskaleer) sonder medikasie en/of psigoterapie.

2. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
Alle sielkundige diagnoses is kompleks; daarom raai ons jou aan om slegs deur ‘n kliniese sielkundige of psigiater getoets en gediagnoseer te word. Hulle is opgelei om verskillende verslawings te behandel.

3. Watter rol speel sielkundige in my behandeling?
‘n Kliniese sielkundige kan enige sielkundige toestand diagnoseer en psigoterapeuties behandel. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om ‘n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. ‘n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met ‘n psigiater in spanverband.

4. Wat is die verskil tussen 'n huisdokter, kliniese sielkundige en psigiater?
Huisdokter:‘n Huisdokter studeer medies vir sewe jaar. Omdat hulle nie in die rigting van psigiatrie gespesialiseer het (soos ‘n psigiater) nie, het hulle slegs ‘n beperkte blootstelling aan die opleiding wat noodsaaklik is om mense met sielkundige/psigiatriese toestande te diagnoseer en te behandel. Jou huisdokter mag wel medikasie voorskryf, maar is ook eties verplig om ‘n pasïent te verwys na ‘n spesialis as dit nodig is.

Kliniese Sielkundige:‘n Kliniese sielkundige studeer menslike gedrag en psigoterapie, en moet in Suid-Afrika minstens ‘n meestersgraad hê (ses jaar +), met ‘n internskap en navorsing wat voltooi moet wees om te kan registreer. Dit is die persoon wat jou gaan help om jou sielkundige diagnose (soos posttraumatiese stresversteuring) te verstaan en daarmee saam te leef.

Psigiater:‘n Psigiater studeer ook medies vir sewe jaar, maar spesialiseer verder in psigiatrie, naamlik die chemiese behandeling van afwykings wat met menslike gedrag te doen het. ‘n Psigiater is dus die dokter wat jou kan diagnoseer en die regte medikasie kan voorskryf vir jou sielkundige toestand. Die verwysing na “sielkundige toestande” of “psigiatriese toestande” is presies dieselfde.

5. Is daar ‘n spesifieke soort sielkundige wat ek moet sien?
In Suid-Afrika bestaan daar tans vyf verskillende kategorieë of spesialis-areas waarbinne alle sielkundiges moet registreer:

  • Kliniese sielkundige
  • Voorligtingsielkunde
  • Opvoedkundige sielkunde
  • Bedryfsielkunde
  • Navorsingsielkunde

Die verskillende kategorieë dui die spesialis-areas aan waarbinne sielkundiges volgense regulasies moet hou en aan etiese en wetlike vereistes moet voldoen. Slegs ‘n kliniese sielkundige kan volgens die HPCSA ‘n kliniese diagnose maak.

{ Hoe kan ons jou help? }

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Facebook