Daar is min dinge so erg as om voortdurend alleen of eensaam te voel. Ken jy die gevoel?
Of ken jy iemand wat so voel? Word deel van die Wie is Geel?-inisiatief en wys dat jy verstaan en omgee.

previous arrow
next arrow
Slider
previous arrow
next arrow
Slider

Foto van die dag

Wie is geel - stories

Ek ag myself as 'n totale introvert. Ek het nie vriende nie, ek gaan nie uit nie. Ek werk van 8 tot half 5. Ek praat net met kollegas wanneer ek moet. Ek sosialiseer glad nie na werk met enige van hulle nie. Ek bly alleen. Nou en dan praat ek met my familie. Nee, ek het nooit eensaam of alleen gevoel nie. Ek het my vrye tyd gebruik om te swot. Ek het myself maar altyd net besig gehou met lees, blokraaie, flieks ens. Ek gaan net winkels toe as ek regtig moet. Te veel mense maak my geirreteerd 'n Paar maande gelede skraap ek al my moed by mekaar (letterlik skraap - dit was bitter baie moeilik) om 'n kerk diens by te woon. Dit was angswekkend, al die vreemde mense, ek weet ek staan uit soos 'n seer vinger. Ek wou in my spore terug draai en weg hardloop toe ek besef iemand praat met my, en ek sal nie kan terug praat nie. Nou kan ek nie glo dat ek my lewe deur gegaan het sonder menslike kontak nie. Ek het vir so lank geleef sonder "human touch". Ek besef nou hoe eensaam ek eintlik was. Ek is nie spyt ek het nie die trou en kinders ding gedoen nie maar ek dink ek sal daarvan hou as ek met iemand elke dag kan praat sommer oor alles en nog wat.

Dit is maklik om betrokke te raak! Stuur net vir ons 'n foto (of meer as een!) van iets wat GEEL is. Enige iets, solank dit net geel is!

Deur die versameling foto’s wat ons ontvang, gaan ons jou wys dat jy nie alleen is nie!

Hoekom moet ek deel word van Wie is geel?
Alle mense het 'n behoefte aan “konneksie”, om te behoort, en om aanvaar te word. As hierdie behoefte nie vervul word nie, voel mense eensaam en alleen.

Jy kan eensaam en alleen voel al is jy tussen mense. Dit beteken dat jy voel dat niemand jou raaksien nie, dat jy nie saak maak nie, dat jy nie gehoor of verstaan word nie, of dat jy net nie inpas nie. Hierdie isolasie veroorsaak dat individue verwerp voel, sonder hoop raak en stelselmatig meer en meer oorweldig word deur die donkerte.

Indien dit is hoe jy voel, is dit moontlik dat jy dalk aan eensaamheid lei – een van die grootste oorsake wêreldwyd van depressie, angs en ander geestesversteurings, asook van fisieke en emosionele probleme in ons samelewing.

Navorsers het bevind dat, om eensaam te wees, dieselfde afbrekende fisieke gevolge kan hê as om 15 sigarette per dag te rook! Volgens navorsing kan eensaamheid selfs 'n mens se kans om voortydig te sterf met tot 50% verhoog. Ten spyte van die opbloei van sogenoemde “sosiale media” wat veronderstel is om konneksie met andere maklik te maak, het eensaamheid en alleenheid juis nou epidemiese proporsies wêreldwyd bereik.

Tussen 1 Augustus en 1 Oktober 2019 wil Wie is ek? deur die Wie is geel?-inisiatief vir jou sê - JY is nié alleen nie!

Hoekom Geel?
GEEL is die kleur wat die beste beskryf hoe ons almal wíl voel – helder, sigbaar en vol vreugde.

Maar draai die woord om en dit beskryf hoe 'n persoon voel wat eensaam of alleen is. LEEG!

Dit is hoekom jy 'n foto van iets wat geel is, moet stuur, want dit wys dat jy weet hoe dit voel om alleen te wees, of dat jy genoeg omgee vir ander dat jy nie wil hê dat hulle so moet voel nie.

Kom ons gebruik sosiale media om werklik sinvolle sosiale kontak te bevorder. Niemand gaan 'n prys wen vir die beste foto nie, maar jy gaan iemand daarvan bewus maak dat daar hoop is.

Doen dit sommer nou!
Stuur sommer nou jou foto met iets daarin wat GEEL is. Dit kan enige iets wees – van 'n klein geel ietsie, tot 'n groot geel iets! Daardeur raak jy (of die persoon vir wie jy omgee) deel van 'n groter stukrag wat saam met ander eensaamheid aanpak en beveg. En die getuienis daarvan sal jou foto wees wat saam met al die ander in een groot fotoversameling gepubliseer word.

Met jou foto verteenwoordig jy jou eie of iemand anders se behoefte om erken te word en met die fotoversameling bied ons vir jou en daardie persoon 'n eie plekkie in 'n groter geheel.

Jy is nie alleen in hierdie ervaring nie. Ander voel saam met jou. Só beveg ons saam die koue vingers van eensaamheid.

Stuur julle foto’s só … en stuur dit sommer nou!

  1. WhatsApp: 071 352 0522
  2. E-pos: geel@wieisek.co.za