JOHANNES SCHICKERLING

Johannes bio

Johannes Schickerling is Wie is ek? se spesialis op die gebied van verslawing.

In 2007 gradueer Johannes met ‘n meestersgraad in kliniese sielkunde aan die Noord-Wes Universiteit (Potchefstroom).

Sy internskap neem hom na Tygerberg- en Stikland-hospitale in die Wes-Kaap, waar hy ondervinding opdoen in die volledige spektrum van geestesversteurings. In hierdie stadium dien die militêre basis in Port Elizabeth as sy gemeenskapsdiensplasing.

In 2010 word Johannes deel van ’n hoë-profiel-verslawingkliniek wat internasionale en plaaslike kliënte behandel. Sedertdien verdiep hy homself in die verstaan en ontleding van verslawing: die oorsake, die behandeling en volhoubaarheid. Die holistiese benadering van verslawing lê Johannes na aan die hart.

Johannes is ook ’n gekwalifiseerde BWRT (Brain Working Recursive Therapy) traumaterapeut wat in persoonlikheidsversteurings en gedrags- en gemoedversteurings van kinders en tieners spesialiseer.

Johannes gebruik veral spelterapie om die leefwêreld van die kind te verstaan en veranderinge te bewerkstellig. Kinders se buigbaarheid en hulle nuuskierigheid om te leer, bly vir hom ’n inspirasie.

In 2017 het Johannes besluit om deel te word van die Wie is ek?-span.

Dit is wat Louis Awerbuck oor hom te sê het:

"Johannes is ‘n veelsydige terapeut, maar ook ‘n spesialis op sy gebied. Sy ervaring van en betrokkenheid by die veld van verslawing is deurgrondig, en hy is ewe tuis op internasionele as op plaaslike vlak."

"In die verlede het ek die voorreg gehad om ‘n paar maande lank saam met Johannes te werk en het in daardie tyd geweldig baie by hom geleer. Hy is sonder enige twyfel my eerste keuse as verwysing vir klïente met verslawingsprobleme, asook vir dié met ‘n verskeidenheid ander probleme. Ons is bevoorreg om Johannes as deel van die span te hê."

JOHANNES SCHICKERLING IN GESPREK

(Let wel: Ter wille van leesbaarheid word slegs “hy” “hom”, ens. gebruik wanneer daar na persone verwys word. Die implikasie is nie dat enige persoon op hierdie webtuiste tussen die geslagte diskrimineer nie.)

1. Hoekom het die behandeling van verslawing jou aangegryp?

Dit is ontstellend om te sien hoe verslaafdes verstrengel is in ‘n net van substanse en verslawingsgedrag, maar hoe terapeute daarvan wegskram omdat die werk volgens hulle te intens en gespesialiseerd is. Om iemand te help om vry te word van die verslawingsgevangenis is vir my ‘n uitdagende maar wonderlike en vervullende proses. Ons help mense om nie alleen hulle vryheid terug te wen nie, maar ook hulle nugter denke, sodat hulle die werklikheid weer onbelemmerd in die oë kan kyk en met selfvertroue aan ‘n vol lewe kan begin bou.

2. Wat behels ‘n holistiese benadering tot verslawing?

Die holistiese benadering betrek ‘n pasiënt in sy totaliteit: sy siening van homself, sy geloof, sy liggaam, sy persoonlikheid, sy drome. Al hierdie dinge word tydens behandeling aangeraak. Verslawing is indringend, en die kloue wat hulle so verbete in die pasiënt se verstand, lyf, emosies en psige ingeslaan het, moet losgemaak word. Dit kan alleen geskied wanneer alle areas van die pasiënt gestimuleer en aangespreek word.

3. Hoe het dit gebeur dat jy ook in die terapeutiese behandeling van trauma belangstel?

Omdat die holistiese benadering behels dat ons met pasiënte se angs, depressie en trauma werk, is daar ‘n behoefte aan in diepte kennis van trauma. Daar het heelwat ontwikkeling plaasgevind in die area van traumaterapie. Hierdie terapie komplimenteer ons verslawingsbehandeling. As trauma nie aangespreek word nie, kan pasiënte vinnig in hul “ou” patrone terugval. Dit is dus noodsaaklik dat ‘n pasiënt se persoonlike pyn óók raakgesien en met begrip en empatie aangespreek word.

4. Wat het jou laat besluit dat jy wil spesialiseer in persoonlikheidsversteurings?

Vreemd soos dit mag klink, geniet ek die uitdaging om met iemand se persoonlikheid te werk. Mense kan nie hul persoonlikhede verander nie; dus lê die uitdaging juis daarin om aanvaarding en insig by die pasiënt te kweek. Die gevolg is dikwels ‘n groter toleransie vir die self, en daarmee saam ‘n bereidwilligheid om op die aanleer van meer gewenste gedrag te konsentreer.

5. Wat behels gedrags- en gemoedsversteurings by kinders en tieners?

Gedrags- en gemoedsversteurnings kom by kinders en tieners voor wanneer hulle iets ervaar waarvoor hulle nog nie die nodige hanteringsvaardighede ontwikkel het nie, of wanneer hulle iets probeer kommunikeer wat nie die gewenste resultate oplewer nie. Terapie help hulle om die nodige vaardighede aan te leer, om traumatiese ervarings te verwerk en om insig te verkry in hulle eie of hul gesinne se gedrag.

6. Jy sê jy is opgewonde om deel te wees van die Wie is ek?-span. Hoekom?

Dit is ‘n wonderlike geleentheid om kragte saam te snoer met ander deskundiges. ‘n Mens benader so ‘n ervaring met die oortuiging dat dit vir jou ‘n onvergeetlike leerproses gaan wees. Die spanbenadering gee ‘n ryk en veelkantige visie op die hantering van geestesprobleme, en ek is daarvan verseker dat so ‘n benadering iets is waarby terapeut én pasiënt gaan baat. Dit is opwindend om deel te vorm van die kundigheid en om dit met die Wie is ek?-gehoor te deel.

KONTAK JOHANNES SCHICKERLING