Die kwessie van demensie
In “Vergeet om my te vergeet” sing Laurika Rauch van haar verlange na ‘n geliefde en die belang van onthou en nie te vergeet nie. Dit is die onthou wat liefde vashou, en in die vergeet wat ons mekaar verloor.
Geheue is die bousteen van verhoudings, vaardighede, kultuur en geloof, maar ook die platform van identiteit. Geheue verbind ons verlede met die hede en stel ons in staat om ‘n toekoms te projekteer. Vergeet neem my na onbekende plekke, waar my selfoon in die yskas wegkruip, my roetine by die deur uitwaai en my woorde verdwaal. Die brein beheer byna alles wat ons dink, doen, voel en sê. Die brein stoor ook herinneringe. Daar is egter siektes en neurologiese veranderinge wat die brein verhoed om na behore te funksioneer. Die woord demensie beskryf ‘n groep simptome waarin breinselle nie meer effektief kommunikeer nie.
Die vier mees algemene oorsake word geklassifiseer as alzheimersiekte, Lewy body dementia, vaskulêre en frontaal-temporale demensie. Alhoewel ‘n vorm van demensie op enige ouderdom kan voorkom, neem die waarskynlikheid met ourderdom toe. Die voorkoms begin met 1% teen ouderdom 60 en verdubbel elke 5 jaar; dus 4% teen ouderdom 70, 16% teen 80 en 32% teen ouderdom 85.
Geheueverlies is ‘n beduidende simptoom. Die patroon van simptome verskil egter, aangesien verskillende breinareas in verskillende siektes atrofeer. In alzheimersiekte sukkel die brein se “geheue-dirigent”, die hippokampus, om inigting te stoor en te herroep. Mettertyd verskyn probleme soos swak konsentrasie en oriëntasie, die vind van woorde, die korrekte uitvoer van planne, afname in abstrakte denke, gebrek aan insig en persoonlikheidsveranderinge.
Om ‘n korrekte diagnose te kry is baie belangrik omdat simptome van demensie met dié van ander toestande soos depressie, angstigheid en selfs ‘n blaasinfeksie kan ooreenstem. Die diagnoseproses begin gewoonlik by ‘n huisdokter wat bloedtoetse doen, mediese geskiedenis evalueer en ‘n kort geheuetoets doen. Verdere insette van ‘n neuroloog of psigiater is waardevol. Hulle evaluering van breinskanderings wys hoe gesond die brein lyk en identifiseer ook areas van verandering of skade. Tog word ‘n diagnose nie gebaseer op ‘n skandering nie, maar op hoe goed die brein funksioneer. Die voordeel van ‘n gespesialiseerde neurosielkundige evaluasie lê in die ondersoek van vermoëns wat met verskillende breinareas verband hou. Net soos ‘n fiets sonder remme op moeilikheid afstuur, benadeel agteruitgang in geheue, taal of beplanning ons daaglikse manier van dinge doen. Deur ‘n kombinasie van toetse binne die konteks van ‘n persoon se ouderdom en agtergrond kan ‘n diagnose van demensie gemaak of uitgeskakel word.
Tans bestaan daar geen genesing vir demensie nie. Behandeling fokus daarop om die progressie van simptome aansienlik te vertraag en om ‘n individu se lewenskwaliteit te verbeter.
Relevante artikels
-
Demensie
Demensie is nie 'n spesifieke toestand nie, maar eerder 'n sindroom wat die geheue, aandag, taal en probleemoplossingsvermoë aantas. Dit kom meestal voor ná die ouderdom van 65, maar kan in uitsonderlike gevalle ook vóór 65 voorkom. -
Delirium
Delirium is die snel ontwikkelende, veranderende stand van verminderde bewustheid. -
Kognitiewe Versteurings
Kognitiewe versteurings (delirium, demensie en alzheimer) is abnormaliteite in denke wat geassosieer word met tydelike of permanente breindisfunksie.