Eetversteurings/ Kosverslawing

ALGEMEEN

Wat is 'n eetversteuring?

Ons verhouding met kos
In hierdie afdeling gee ons aandag aan ons verhouding met kos. Kos is deel van ons lewens en iets waarvan ons afhanklik is om te oorleef. Tog het elkeen 'n spesifieke verhouding daarmee. Dit kan vir ons minder of meer belangrik wees.Ons kan sekere reëls of grense binne die verhouding hê, en daar is sekere patrone wat binne die verhouding vasgelê is. Wanneer hierdie verhouding ongesond raak, kan dit tot 'n eetversteuring of kosverslawing lei.

Onthou!
Eetversteurings is behandelbaar! Dit is uiters belangrik om so gou moontlik die hulp van 'n professionele persoon in te roep.

Wat is 'n kosverslawing?
Daar word deesdae baie navorsing gedoen oor verslawing aan bv. suiker of koolhidrate. Wanneer ons koesterkos (comfort food) eet, is dit gewoonlik hoog in suiker en/of koolhidrate. Hoewel hierdie kossoorte verslawend kan wees en ook 'n beloningsboodskap in die brein stimuleer, fokus ons hier meer op die prosesse rondom die inname van kos, bv. die tyd wat spandeer word om daaraan te dink, dit te verkry, in te neem, die gedrag wat daarop volg, asook die funksie wat dit vervul, bv. om te troos of te beloon. Ons fokus dus op die verhouding wat ons met kos het, eerder as op die kos self. Dit is waarom ons dit eerder onder prosesverslawing as middelverslawing groepeer.

Wat is 'n eetversteuring?
'n Eetversteuring is 'n patroon waardeur mense onbewustelik hul lewensprobleme (issues) probeer hanteer deur te fokus op hul verhouding met kos en met hul gewig. Die persoon vermy sodoende hul emosies oor die dinge wat regtig belangrik is. Kos en gewig raak so belangrik dat dit hulle gevoel oor hulself bepaal en 'n merkbare impak het op hul funksionering, wat lewensgevaarlik kan wees.

Op 'n dieper vlak
Onderliggend aan die simptome van 'n eetversteuring, sien ons dikwels probleme in die verhouding van die persoon wat aan die eetversteuring ly met die persoon se primêre versorger (meestal die ma). Daar heers gewoonlik 'n magstryd wat nie direk verwoord word nie in dié verhouding, asook verwarring oor die rolle van versorger en kind. Die grense tussen die kind en die primêre versorger is/was dus problematies en die proses van onafhanklik wees/word, word op 'n manier onderdruk. In plaas daarvan om die spanning/konflik direk te hanteer, moet beide partye vriendelik en respekvol wees en hul woede onderdruk. Beheer is dus ook 'n sentrale tema: Wie is in beheer en wat word beheer? Die “kind” in die verhouding voel telkens magteloos en in 'n poging om haar-/homself 'n gevoel van “in beheer wees” te gee, word die beheer van eetgewoontes onnatuurlik belangrik. In sommige gevalle word die beheer oor kosinname dan feitlik obsessief, terwyl dit in ander gevalle totaal verloor word.

Hoe sien ek myself?
Selfbeeld
Weer eens, soos in die geval van ander sielkundige kondisies, is die verhouding wat ek met myself het van kardinale belang. Hoe sien ek myself, en hoe praat ek met myself? Ons vind gereeld dat die persoon wat met 'n eetversteuring sukkel, 'n negatiewe kernoortuiging het oor hulself, bv. dat hulle nie goed genoeg is nie. Dit lei tot 'n lae selfbeeld. Prestasie word ongesond belangrik, byna as 'n manier om te kompenseer vir die negatiewe beeld wat hulle oor hulself het. Om maer te wees, is dan 'n baie belangrike prestasie, en om gewig op te tel 'n groot mislukking, wat hul negatiewe eiewaarde “bevestig”.

Ons sien gereeld dat dit vir sommige persone (veral vroue) problematies is om hul sterk of dominante eienskappe te aanvaar binne 'n samelewing waar hulle gesosialiseer is om “nice” te wees en dat die onderdrukking van hierdie “nie-aanvaarbare” eienskappe by hulle verband hou met die onderdrukking van eetlus of ander simptome van die eetversteuring.

Hoekom 'n verslawing?
Die liggaamlike reaksie op die gedrag wat verband hou met die eetversteuring het verslawende eienskappe. 'n Anoreksielyer raak bv. verslaaf aan die gevoel van uithongering, die na-effek van die gebruik van lakseermiddels en die gevoel van 'n ondervoede liggaam. Die neurologiese gevolge van hierdie gedrag kan net so verslawend soos dwelms en alkohol wees.

Iemand wat ooreet, raak weer verslaaf aan die gevoel van te veel eet. Die soeke na emosionele verligting word verplaas met 'n drang om te eet. Die eet-episode bring, soos in die geval van ander verslawings, net tydelike verligting en word gewoonlik gevolg deur gevoelens van skuld, selfbewustheid en negatiewe self-evaluering. Dieselfde geld vir die na-effek van vomering, wat ewe verslawend is.

'n Persoon met 'n eetversteuring raak vasgevang in 'n herhalende patroon van die verslawende gedrag verbonde aan eet en/of gewig.

Het jy geweet?
Daar word beraam dat ongeveer een miljoen mense in Suid-Afrika aan 'n eetversteuring ly, waarvan die grootste persentasie tieners, veral tienermeisies, is.

Lees gerus hoe 'n anoreksielyer oor die ervaring skryf:
https://www.healthyplace.com/blogs/survivinged/2011/07/addicted-to-starving-the-lure-of-anorexia-part-i/

TIPES

Ons onderskei drie hooftipes eetversteurings:

Ons onderskei drie hooftipes eetversteurings:

  1. anorexia nervosa
  2. bulimia nervosa
  3. ooreetversteuring (binge-eating disorder)

VERWANTE PROBLEME

Verwante probleme

Mense met eetversteurings kan moontlik ook sukkel met een of meer van die volgende:

  1. bipolêre gemoedversteuring
  2. depressie
  3. angs
  4. obsessief-kompulsiewe versteuring
  5. lae selfbeeld
  6. alkohol en/of middelmisbruik of -afhanklikheid
  7. persoonlikheidsprobleme

HET EK 'N PROBLEEM?

Het EK, of iemand vir wie ek omgee, 'n probleem?

Hieronder volg 'n lys van tekens wat kan aandui dat iemand sukkel met hul verhouding met kos en gewig. Indien jy, of iemand wat jy ken, met een of meer as een van die punte identifiseer, word dit aanbeveel dat 'n professionele persoon gekontak word.

Het jy geweet?
Eetversteurings is meer algemeen onder vroue, maar kom ook by mans voor.
  1. Ek evalueer my liggaam gereeld, bv. deur myself dikwels te weeg, liggaamsdele te meet en/of in die spieël te kyk of daar sigbare vet is.
  2. Ek sien gewigsverlies as 'n prestasie en gewigstoename as 'n onaanvaarbare mislukking.
  3. Wat die skaal sê ek weeg, kan my gemoed vir die hele dag bepaal.
  4. As ek ooreet of “verkeerd” geëet het, moet ek oefen of iets doen om op te maak vir my fout.
  5. Familie en/of vriende raak bekommerd oor my gewig.
  6. Om maer te wees, is vir my belangriker as om gesond te wees.
  7. Ek begin mense/geleenthede vermy as gevolg van my eetpatrone.
  8. Ek kan nie altyd my werk/skoolwerk doen nie omdat ek nie energie het nie, of sleg voel nadat ek ooreet het.
  9. My eetgewoontes volg 'n volgehoue, ekstreme patroon waar ek óf buitengewoon gesond, óf baie min, óf net wat ek wil eet.
  10. Ek volg die een dieet na die ander.
  11. My gewig en eetgewoontes neem soveel tyd en aandag in beslag dat die ander fasette van my lewe nie genoeg aandag kry nie. Dit beheer my lewe.
  12. Ek voel vasgevang in my eetgewoontes.
  13. Ek eet om emosioneel beter te voel.
  14. Ek ooreet gereeld.
  15. Ek sukkel om my eetgewoontes te beheer.
  16. Ek beheer my eetgewoontes baie streng.

HULP

Indien jy of 'n geliefde sukkel met een of meer van die bogenoemde simptome, kan dit jou baat om een van die volgende persone/instansies vir professionele hulp te kontak:

  1. jou huisdokter;
  2. jou naaste gesondheidskliniek, hospitaal of noodeenheid; of
  3. besoek een van die volgende webtuistes vir 'n sielkundige in jou area:
    1. Findhelp
    2. Psychotherapy
    3. Medpages
    4. kontak Wie is ek?
  4. Jy kan ook die webtuistes van die volgende ondersteuningsgroepe besoek om met hulle kontak te maak:
    1. Eating Disorders Anonymous
    2. Overeaters Anonymous
    3. Anorexics and Bulimics Anonymous

BEHANDELING

Behandeling van eetversteurings

Hoekom is behandeling nodig vir eetversteurings/kosverslawing?
Eetversteurings/kosverslawing kan ernstige fisieke en gesondheidsrisiko’s inhou en in sommige gevalle selfs tot die persoon se dood lei. Professionele ondersteuning deur sielkundiges, psigiaters en dieetkundiges wat vertroud is met die behandeling van eetversteurings, is meestal die mees effektiewe manier om kosverslawing te behandel. 'n Behandelingsplan bevat aanbevelings hoe om die onderliggende aspekte wat met vernietigende eetpatrone geassosieer word, te hanteer. Dit is belangrik om emosionele snellers in ag te neem. Gesonde hanteringsmeganismes kan deur behandeling geïmplementeer word.

Wie kan my of 'n geliefde diagnoseer?
Omdat eetversteurings so kompleks is, sal ons jou aanraai om jou slegs deur 'n kliniese sielkundige of psigiater te laat toets en diagnoseer. Hulle is opgelei om te kan onderskei tussen die verskillende versteurings. Jy kan ook behandel word deur 'n voorligtingsielkundige met ervaring in die behandeling van eetversteurings.

Watter rol speel 'n sielkundige in my behandeling?
'n Sielkundige kan 'n eetversteuring diagnoseer en in samewerking met ander professionele persone psigoterapeuties behandel. Dit beteken dat die persoon jou kan help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef, en hoe om 'n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. 'n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met 'n psigiater in spanverband.

Hoe werk ons sielkundiges daarmee?
Die visie van die Wie is ek?-sentrum is om diepgaande behandeling vir eetversteurings te verskaf, soos ook met ander verslawings, waarin daar sorgvuldig gefokus word op die dinamiek van die eetversteuring, maar waar die ander belangrike komponente van iemand se “storie”, persoonlikheid en konteks ook geïntegreer word in die terapieproses. Met ander woorde, daar word nie net in isolasie gefokus op die eetversteuring nie, maar ook hoe dit verband hou met die persoon se trauma, verdedigingsmeganismes, familie en stressore.

Ons fokus ook spesifiek op mense se teenstrydige (ambivalente) gevoelens teenoor hul verslawing. Dit beteken dat 'n deel van die persoon graag wil ontsnap uit die verslawingsiklus, maar daar is ook 'n deel wat wil vashou aan die “voordele” wat die verslawing inhou. Dit is belangrik om terapeuties met beide kante te werk en die deel van die persoon wat herstel wíl hê, te versterk.

Belangrik
'n Persoon met 'n eetversteuring raak vasgevang in 'n herhalende patroon van die verslawende gedrag verbonde aan eet en/of gewig.

'n Persoon wat hieraan ly, werk in individuele sessies met ervare en hoogs opgeleide terapeute en neem ook deel aan groepsessies, waarin hy/sy hul ervarings en uitdagings met 'n terapeut en ander persone wat in dieselfde bootjie is, kan deel.

NOTAS

Het jy geweet?
Dit is moeilik om die oorsake van eetversteurings te bepaal, maar die media (televisie en films) wat meestal 'n “ideale” beeld voorhou van hoe 'n mens “veronderstel” is om te lyk, bv. in die modelwệreld, kan 'n belangrike bydraende faktor wees.
Wenk!
Balans is 'n kernwoord binne die konteks van verslawings en spesifiek by die behandeling van 'n eetversteuring. Ons kan nie soos met alkohol- en dwelmverslawing (waar 'n mens ophou gebruik) ophou om te eet nie. 'n Gebalanseerde inname van verskillende kossoorte is die mikpunt.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?