Afrikaans English
Grenslynpersoonlikheidsversteuring (GPV)
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan grenslynpersoonlikheidsversteuringly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.

ALGEMEEN

Wat is Grenslynpersoonlikheidsversteuring (GPV)?

'n Grenslynpersoonlikheidsversteuring word gekenmerk deur ongewone variasies en dieptes in gemoed. Hierdie gevoelskommelinge kan ernstige negatiewe gevolge in denke en interpersoonlike verhoudings veroorsaak.

Die hoofkenmerke van 'n GPV is gevoelens van verwerping, impulsiewe gedrag en onstabiliteit in emosies, interpersoonlike verhoudings en selfbeeld.

Dié versteuring is algemener onder vroue, en behandeling kan soms verbetering fasiliteer.

Mense wat onder 'n GPV gebuk gaan, is gereeld besig om hulself en ander óf te idealiseer óf in hul gedagtes af te kraak. Dit veroorsaak gevolglik wisseling tussen baie hoë agting vir hom-/haarself, en ander en intense teleurstelling in en minagting van hom-/haarself en ander.

Selfbeserings en selfdoodpogings kom ook algemeen voor.

SIMPTOME

Wat is die simptome van 'n grenslynpersoonlikheidsversteuring?

Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat 'n amptelike diagnose slegs deur 'n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

'n GPV word gekenmerk deur 'n volgehoue patroon van onstabiliteit in interpersoonlike verhoudings, selfbeeld en gemoed, asook impulsiwiteit. Dit begin tydens vroeë volwassenheid en kom in verskeie situasies voor, soos aangedui deur vyf (5) of meer van die volgende:

  1. paniekerige pogings om werklike of verbeelde verlating (abandonement) te vermy;
  2. 'n patroon van onstabiele en intense verhoudings, gekenmerk deur 'n wisseling tussen ekstreme “aanbidding” en ekstreme “walging”;
  3. 'n duidelike en volgehoue patroon van 'n onstabiele selfbeeld of gevoel oor hom-/haarself;
  4. impulsiwiteit in ten minste twee situasies wat nadelige gevolge kan inhou (bv. oorbesteding, substansmisbruik, roekelose bestuur, seks, ooreet);
  5. konstante gedagtes aan selfdood, aanduidings daarvan, of selfbeseringsgedrag;
  6. episodes van emosionele onstabiliteit weens 'n reaktiewe (“in reaksie op” iets of iemand) gemoedstoestand duur gewoonlik 'n paar uur, maar selde langer as 'n paar dae.
  7. 'n chroniese gevoel van “leegheid”;
  8. ontoepaslike, intense woede of woedebuie wat moeilik is om te beheer; asook
  9. angsverwante paranoïese gedagtes rakende hom-/haarself, of simptome van verlies aan kontak met die werklikheid.

BEHANDELING

Behandeling van 'n grenslynpersoonlikheidsversteuring

  1. Watter behandeling is suksesvol vir 'n grenslynpersoonlikheidsversteuring?
    Sekere vorme van psigoterapie is meer suksesvol as ander, maar daar is geen enkele behandeling wat 100% suksesvol is nie. Behandeling is eintlik meer toegespits op die handhawing van lewenskwaliteit, want dit is nie 'n spesifieke toestand wat “opgelos” kan word nie. 'n Uiters belangrike fokusarea is om die persoon te help om eienaarskap (of verantwoordelikheid) vir hulself en hul gedrag te aanvaar.
  2. Kan medikasie help?
    Daar is tans geen medikasie wat voorgeskryf word vir mense wat diagnoseerbaar is met 'n GPV nie, maar medikasie kan wel deur 'n psigiater vir sekere van die simptome voorgeskryf word.
  3. Hoekom is dit so moeilik om 'n grenslynpersoonlikheidsversteuring te diagnoseer?
    Mense met 'n GPV sukkel geweldig met hul eie stabiliteit, verhoudings en grense. Daarom is dit moeilik om 'n langtermynverhouding met hulle te bou, en 'n suksesvolle patroon op die lange duur te handhaaf. Hulle soek gewoonlik hulp van krisis tot krisis en fokus dikwels ekstern, op iemand anders, om die probleem op te los. Sodra die krisis opgelos is, of die persoon enige teken van ware of verbeelde verwerping ervaar, word die verhouding dikwels beëindig. Op hierdie wyse gee die persoon nooit aandag aan die kern van die probleem nie en is dit baie moeilik om 'n volledige diagnostiese prentjie te kry, veral as die persoon taamlik onbewus is van hul eie gedragspatrone.

    Die manipulasie wat ook telkens deel is van 'n persoon met 'n GPV se gedragswyse, maak dit baie moeilik om 'n duidelike prentjie van die persoon se lewe en gedrag te kry.

    'n Grenslynpersoonlikheidsversteuring bevat ook gereeld 'n komponent van die ander persoonlikheidsversteurings, wat verwarrend kan wees.

  4. Wie kan my of 'n geliefde diagnoseer?
    Omdat 'n GPV so kompleks is, kan dit slegs deur 'n kliniese sielkundige of psigiater gediagnoseer word. Hulle is opgelei om tussen verskillende versteurings te onderskei.

ADVIES

Advies vir geliefdes en familielede wat saam met iemand woon of werk wat gediagnoseer is met 'n grenslynpersoonlikheidsversteuring:

  1. Wees konsekwent en voorspelbaar. Hou jou by jou woord/besluite. As jy ingee tydens uitdagende gedrag, word die grenslyngedrag versterk. Dit is 'n bose kringloop waarbinne die gedrag net al hoe erger raak.
  2. Moedig verantwoordelikheid aan. Geliefdes kan maklik gemanipuleer word om verantwoordelikheid te aanvaar vir die persoon se onverantwoordelike aksies. Die persoon gaan geen motivering om te verander hê as iemand deurentyd tot sy of haar redding kom nie.

    Moenie 'n persoon met 'n GPV se “redder” word nie.

  3. Wees eerlik. Persone met 'n GPV dink dikwels dat hulle deur almal onregverdig behandel word. Eerlike terugvoer in so situasie kan perspektief gee.
  4. Moenie toelaat dat argumente eskaleer nie. Persone met 'n GPV kan dit wat jy probeer oordra, verkeerd interpreteer. Wees bedag op die volgende: As jy kritiek lewer, gaan jy heel waarskynlik hoor hoe “veragtelik” jy is. Gee jy 'n kompliment, sal jy dalk hoor hoe “skynheilig” jy is. Verduidelik jy jou bedoelinge, vererger jy waarskynlik die emosies. Sorg dus dat jy nie vasgevang raak in 'n onnodige argumente nie. Doen jou bes om kalm te bly, al voel jy gefrustreerd, magteloos en verlam deur jou geliefde se reaksie.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 12 13 14 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak die Wie is ek?-sentrum.