VERLIESE

Verliese

Ons almal ervaar in 'n sekere stadium 'n verlies of verliese. Dit kan insluit: die verlies van 'n vriendskap, 'n persoon (bv.'n kind/baba/swangerskap), 'n droom, 'n beroep of 'n huwelik/verhouding.

Vir baie vroue is dit 'n lewensdroom om 'n lewensmaat en kinders te hê. Hul ideale “prentjie” vir hul lewe het ontstaan uit die idee van 'n vaste verhouding met 'n lewensmaat, moederskap en kinders grootmaak. Wanneer die lewe 'n ander wending neem, bv. dat dit nie vir hulle moontlik is om hul eie biologiese kinders te hê nie, of hulle verhouding werk nie uit nie, is dit 'n enorme verlies. Dit voel asof alles waaroor hulle gedroom en waarvoor hulle gewerk het, verniet was en asof die lewe sonder sin en betekenis is.

Om iets of iemand te verloor, gaan gepaard met 'n rouproses. Sommige mense is bewus hiervan en gee uitdrukking aan hul emosies, ander is onbewus van dié proses en gaan maar dag vir dag aan met hul lewe, ander probeer om dít wat hulle voel, te onderdruk of te ontken.

ROUPROSESSE

Die Rouproses

'n Rouproses word gekenmerk deur verskillende emosionele fases. 'n Mens beleef tye van ontkenning (dit is nie waar nie; het nie gebeur nie; voel onwerklik), tye van bedinging (bargaining) (as ek bv. 'n verandering maak, of iets spesifiek doen, sal alles weer regkom), tye van intense hartseer en smart (dit kan soos 'n fisieke pyn [van hartseer] voel), tye van angs en terneergedruktheid (ek is gespanne of voel swaarmoedig, die lewe maak nie meer sin nie), tye van woede (ek soek iemand om te blameer, bv. myself, die dokter of my verhoudingsmaat), en ook tye (aanvanklik dalk slegs oomblikke) van vrede of aanvaarding (ek kan saamleef met my nuwe realiteit).

Mite

Baie mense dink dat 'n mens stapsgewys deur 'n rouproses gaan, bv. eers ontken jy die verlies, dan onderhandel jy, daarna is jy kwaad, ens. Dit gebeur egter nie noodwendig presies só nie. Die verskillende fases kan op verskillende tye kom en gaan, soms 'n hele paar in een dag. Tog wil ons 'n punt bereik waar ons vir langer tye kan aanvaar wat gebeur het.

VIDEOS

Die rou proses
Die rou proses
previous arrow
next arrow
Die rou proses
PlayPlay

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?