Mansgeestesgesondheid:Temas

STRES

Stres

Stres of spanning is nie 'n nuwe verskynsel nie, maar dit blyk dat dit deesdae algemener voorkom as in die vorige eeu.

Wat is stres?
Stres is die gespanne liggaamlike reaksie wat iemand ervaar wanneer hulle onder druk is. Dit duur gewoonlik slegs vir 'n kort periode. Druk kan bv. afleggings by die werk of die haal van 'n sperdatum wees. Stres kan positief wees – en 'n mens aanspoor tot 'n sekere werketiek – maar kan ook negatief wees en lei tot slapeloosheid, verhoogde irritasievlakke en liggaamlike ongemak.

Wat is die verskil tussen stres en angs?
Almal ervaar stres in sekere lewensfases. Angs kom voor/ontstaan wanneer 'n mens vir 'n geruime tyd hoё stresvlakke ervaar – tot op 'n stadium waar dit vir die persoon byna onhanteerbaar raak en/of hul lewe negatief beïnvloed. Angs het 'n negatiewe uitwerking op iemand se lewenskwaliteit en funksionering. Stres kan ook 'n negatiewe invloed hê, maar die uitwerking is minder intens.

Wat veroorsaak stres?
Hoewel daar sekere temas of tendense in die voorkoms van stres onder mans geïdentifiseer kan word, is die oorsake nie vir almal dieselfde nie. 'n Mens se temperament, persoonlikheid en lewenservarings speel 'n groot rol in watter tipe dinge vir 'n individu stres veroorsaak en tot watter mate dit die betrokke persoon pla. Algemene oorsake van stres sluit in: herstrukturering by die werk, werkloosheid, verhoudingsprobleme, konflik, kritiek en probleme met kinders.

Fisieke gevolge van stres
Die volgende liggaamlike simptome mag stresverwant wees. Indien jy of 'n geliefde enige van hierdie simptome toon, is dit belangrik om 'n mediese praktisyn te raadpleeg:

  1. borspyne
  2. hartkloppings
  3. hoё bloeddruk
  4. kortasemheid
  5. moegheid
  6. verminderde seksdrang
  7. spierpyne, veral in die rug en nek
  8. hoofpyne
  9. duiseligheid
  10. gekners op die tande of die kakebene op mekaar klem
  11. benoude gevoel op die bors, 'n knop in die keel of 'n droë keel
  12. slegte spysvertering
  13. hardlywigheid of diarree
  14. meer sweet as gewoonlik
  15. maagkrampe
  16. gewigstoename of -verlies
  17. velprobleme

Hoe hanteer 'n mens stres?
Dit is algemeen bekend dat 'n aktiewe leefstyl 'n positiewe invloed het op 'n mens se gesondheid en vermoë om stres te hanteer. Dit is daarom belangrik om 'n roetine van fisieke oefening te hê. Verder speel ondersteunende vriendskappe 'n groot rol. Al wil 'n mens nie altyd praat oor wat pla nie, help dit om te weet jy is nie alleen nie.

Sien ook ons afdeling: Hoe weet ek dat ek 'n probleem het?

UITBRANDING

Uitbranding

Die volgende tien beroepe word beskou as professies waarin mense maklik uitbrand:

  1. mediese dokter
  2. verpleging
  3. maatskaplike werker
  4. onderwyser
  5. skoolhoof
  6. prokureur
  7. polisiebeampte
  8. openbare rekeningkundige
  9. werkers in die wegneemete-bedryf
  10. persone betrokke by kleinhandelaktiwiteite

Wat is uitbranding?
“Uitbranding” is nie 'n kliniese diagnose nie, maar wel 'n toestand wat kan voorkom as iemand se emosionele hulpbronne vernietig of “uitgebrand” is. Dit gebeur gewoonlik as mense hulself by die werk ooreis en voel dat hulle nie meer genoeg motivering het om hul werk te doen en voldoende te kan presteer nie. Sommige mense glo dat uitbranding 'n vorm van depressie is.

Wat is die verskil tussen uitbranding en depressie?
Daar is baie ooreenkomste tussen uitbranding en depressie, maar waar uitbranding nie voorkom omdat iemand ooreis of oorwerk is nie, is daar ander oorsake vir die depressie. Iemand wat “uitgebrand” is en nie aandag daaraan gee nie, kan depressie ontwikkel.

Die simptome van uitbranding sluit die volgende in:

  1. onverklaarbare hoofpyne, maagprobleme of ander fisieke klagtes
  2. verandering in slaappatrone
  3. ooreet, te veel drink of dwelms gebruik om te ontvlug
  4. gevoel van ontnugtering oor werk of loopbaan
  5. kan nie “goed voel” oor prestasie nie
  6. sukkel om te fokus of te konsentreer
  7. gebrek aan energie om werk te doen
  8. meer geïrriteerd as gewoonlik met kollegas en/of kliënte
  9. sukkel met motivering om te werk
  10. oorkritiese houding oor werk, werkomgewing, kollegas, ens.

Wat veroorsaak uitbranding?
Verskeie faktore kan bydra tot uitbranding. 'n Mens se perspektief op sy/haar werk en verwagtinge van die werkomgewing speel gewoonlik 'n rol. Die volgende is voorbeelde:

  1. onstabiele werkomgewing en/of onduidelike doelwitte
  2. gebrek aan ondersteunende verhoudings
  3. onrealistiese eise by die werk
  4. gevoel van magteloosheid rakende besluite in die werkplek
  5. herhaalde mislukkings
  6. gebrek aan ontspanning
  7. ongesonde werkomgewing bv. 'n intimiderende kollega of 'n baas wat mikrobestuur toepas
  8. sukkel om “nee” te sê
  9. jou werk is veeleisend of vervelig

Hoe hanteer ek uitbranding?
Dit is belangrik om aandag te gee aan uitbranding, want dit kan lei tot talle ander fisieke en emosionele gesondheidprobleme.

Jy kan die volgende stappe doen:

  1. Kommunikasie
    Dit is dalk nodig om met jou baas en/of kollegas te gesels om aandag te gee aan die werklading of -prosedures wat jou frustreer. Oorweeg daarná of dit genoegsame verandering vir jou te weeg kan bring.

  2. Ondersteuning
    In sommige werkomgewings is gesondheidsdienste beskikbaar om werknemers te ondersteun. Dit kan ook help om met 'n kollega, 'n vriend of 'n geliefde wat jy vertrou te gesels. Professionele hulp van bv. 'n sielkundige kan ook help om perspektief te kry.

  3. 'n Gesonde leefstyl
    Die normale “gesonde” keuses – soos genoeg slaap en rus, oefening en tyd om te ontspan – is noodsaaklik om 'n mens teen uitbranding te beskerm.

Lees meer oor hierdie onderwerp op: Which Professionals are Prone to Burnout

Sien ook ons afdeling: Hoe weet ek dat ek 'n probleem het?

DEPRESSIE EN ANGS

Depressie en angs

Hoe verskil die aanvanklike voorkoms van depressie by mans van dieselfde toestand by vroue?

By mans is dit gewoonlik ander mense wat eerste opmerk/herken dat daar 'n verandering in die persoon se gedrag is. Hy sal bv. minder lag of meer gereeld in 'n slegte bui wees, sosiale geleenthede begin vermy of selfs “plofbaarder” raak. Dikwels sal die mense rondom hom dit opmerk en iets daaroor sê.

Lees hier meer: Sadag: Men and Depression

'n Diagnose van depressie is die kliniese diagnose van 'n ernstige sielkundige toestand wat deur 'n professionele persoon gemaak word wanneer sekere simptome oor 'n tydperk by iemand waargeneem word.

Vir meer inligting lees gerus ons afdelings oor depressie en gemoedsversteurings.

Kyk ook na die onderhoud tussen Anton en Lise wat handel oor depressie op Wie is ek? se Facebookblad:@wieisekSA

Interessant
Volgens 'n Australiese webtuiste sal een uit agt mans, en een uit vyf vroue, gedurende hul leeftyd angs ondervind. Mans is na bewering ook minder geneig om angs en depressie te ervaar as vroue.

Lees meer oor die onderwerp: Anxiety and depression in men

Lees meer oor angstoestande in ons afdeling oor angsversteurings.

DRANK- EN MIDDELMISBRUIK

Drank- en middelmisbruik

Middelmisbruik (die misbruik van alkohol en dwelms) is 'n groter probleem onder mans as vroue. Vir elke drie mans wat middels misbruik, is daar een vrou wat dieselfde doen. Die volgende feite is interessant:

  1. Mans is meer geneig as vroue om risiko’s te loop wanneer hulle onder die invloed van 'n middel is.
  2. Mans is meer geneig om te veel te drink (binge drinking).
  3. Die meeste mense wat te veel drink, is nie afhanklik van of verslaaf aan alkohol nie.

Die risiko’s van oormatige alkoholgebruik/-misbruik sluit in dat:

  1. die risiko vir alkoholverwante dood en/of besering verhoog;
  2. die selfdoodrisiko toeneem;
  3. die risiko vir sekere kankers verhoog;
  4. die persoon meer probleme a.g.v riskante seksuele gedrag (bv. onbeskermde seks) ervaar; en
  5. seksuele probleme, soos testikulêre wanfunksionering, meer dikwels voorkom.

Lees hier meer: Fact Sheets - Excessive Alcohol Use and Risks to Men's Health

Meer inligting is ook beskikbaar in ons afdeling oor verslawing.

WOEDE

Woede

Om kwaad te word, is 'n normale menslike emosie, maar nie almal sukkel met woede en aggressie nie. Laasgenoemde twee emosies is die afbrekende of skadelike uitdrukking van die emosie wat gepaard gaan met “kwaadwees”. Dit gebeur as 'n mens nie geleer het om dié emosie suksesvol te herken, te erken en te hanteer nie.

'n Probleem met woede en aggressie kan verband hou met versteurings soos bipolêre gemoedsversteuring, posttraumatiese stresversteuring, aanpassingsversteuring en persoonlikheidsversteurings, om 'n paar te noem.

Die misbruik van middels, soos alkohol, vererger gewoonlik die probleem omdat 'n persoon se oordeel en inhibisies aangetas word terwyl hulle onder die invloed van die middel is. Hulle tree in sulke situasies dikwels minder beheers op.

Lees meer hieroor: Anger Disorder: What It Is and What We Can Do About It

VERHOUDINGSPROBLEME

Verhoudingsprobleme

Vyf algemene probleme wat mans in verhoudings ervaar, is:

  1. vrees vir verwerping;
  2. om geestesgesondheidsprobleme, soos depressie en angs, te probeer wegsteek;
  3. die druk daarvan om die finansiële voorsiener te wees;
  4. prestasie-angs rakende seks.

Bogenoemde word vererger deur die algemene tendens dat mans nie van kleins af geleer word om hul emosies effektief te erken, te hanteer en te kommunikeer nie.

Die basis van alle verhoudings is die verhouding wat jy met jouself het. Daarom het 'n mens 'n positiewe “beginpunt” vir suksesvolle verhoudings as jy bv. jouself kan aanvaar, vir jouself kan lag en kan erken wanneer jy 'n fout gemaak het. Dit gee aanleiding daartoe dat dit makliker is om ander mense te aanvaar en met hulle oor die weg te kom.

Verder word 'n mens se verhoudings baie beïnvloed deur die mate wat jy jou emosies kan hanteer en hoe effektief jy kan kommunikeer. Mense (mans en vroue) wat sukkel met 'n negatiewe gevoel van eiewaarde en/of 'n gebrek aan emosionele en kommunikasievaardighede, sal normaalweg ook sukkel om gesonde verhoudings te handhaaf. “Verhoudingsprobleme” verwys nie alleen na probleme binne die verhouding met verhoudingsmaats nie, want probleme in verhoudings met vriende, familielede en kollegas kan ook voorkom.

Daar is natuurlik ook talle ander faktore wat probleme in verhoudings kan veroorsaak, byvoorbeeld:

  1. geestesgesondheidprobleme soos posttraumatiese stresversteuring, depressie, angs en middelafhanklikheid of -misbruik;
  2. aandagafleibaarheid;
  3. probleme in en met die groter familie;
  4. finansiële probleme;
  5. mishandeling;
  6. verskillende verwagtings en prioriteite tussen partye;
  7. probleme met vertroue;
  8. die eise van die stadium van die verhouding bv. indien daar 'n baba of jong kinders is.

Lees ook meer hieroor op die volgende webtuiste: Top 10 Reasons Relationships Fail

Verder ondervind mans oor die algemeen minder sosiale ondersteuning as vroue en het hulle minder kontak met vriende, familie en die samelewing. Baie mans maak hoofsaaklik vriende in hul werkomgewing. Die hoeveelheid persoonlike ondersteuning wat hulle dan ontvang, bly beperk. Hierdie tendens veroorsaak verder dat, wanneer mans aftree, die meerderheid van hul sosiale kontak verbreek word. 'n Gebrek aan sosiale ondersteuning beteken dat iemand nie 'n plek het waar hy/sy kan praat oor wat pla of waarmee hulle sukkel nie. Dit is problematies en dra gewoonlik by tot geestesgesondheidprobleme.

Goeie vriende en om tyd saam met hulle deur te bring, speel 'n belangrike rol in 'n mens se lewe. Dit is nodig om tyd te maak vir gesonde sosialisering waartydens 'n mens kan praat oor hoe dit met jou gaan. Om dáár te wees vir iemand, van jou tyd vir hulle te gee – en om te luister – is net so waardevol vir die een wat gee, as vir die een wat ontvang.

Wat kan ek doen as ek verhoudingsprobleme ondervind?

  1. Luister na die ander party, sonder om te dink wat jy volgende gaan sê. Probeer verstaan wat die persoon bedoel.
  2. Kommunikeer hoe jy voel en hoe dinge jou affekteer.
  3. Probeer verskillende sienings oorbrug, en 'n oplossing vind wat beide partye akkommodeer.
  4. Maak gebruik van 'n klankbord – praat met 'n vriend wat jy vertrou en wat objektiewe terugvoer kan gee.
  5. Hanteer die persoonlike kwessies (issues) wat 'n negatiewe impak op die verhouding kan hê (bv. gesels met iemand, ontwikkel vaardighede deur selfhelpboeke te lees, of woon 'n verrykende kursus by).
  6. Kry professionele hulp as julle sukkel om vordering te maak met die oplossing van die probleem.

Die ideaal is natuurlik om in 'n verhouding te belê voordat die probleme opduik of te groot raak om te hanteer. Dit is veral belangrik ten opsigte van intieme verhoudings en huwelike. Daarom is dit nodig om tyd saam met jou geliefde deur te bring en aandag aan mekaar te gee. Vestig 'n gewoonte om met mekaar te praat oor die klein en groot dinge wat gebeur het, asook wat die emosionele impak daarvan op julle was. Op dié manier groei 'n mens na mekaar toe en word die verhouding versterk en voorberei om druk beter te hanteer. Alle verhoudings is soms onder druk namate lewensfase en omstandighede verander. Verhoudings waarin die verhoudingsmaats genoeg belê wanneer dit goed gaan, het 'n beter kans om druk suksesvol te hanteer.

Praktiese raad:

  1. Skakel alle selfone en rekenaars af wanneer jy en jou geliefde gesels.
  2. Bring ná 'n werkdag tyd saam deur om net te gesels oor hoe elkeen se dag was. Hoe meer keer per week julle dit regkry, hoe beter.
  3. Maak gereeld (ten minste een keer per week) meer tyd om oor belangrike dinge te gesels.
  4. Probeer gereeld 'n hele aand, oggend of dag saam deurbring om iets lekker saam te doen, bv. uiteet, saam stap, die dorp verken of 'n piekniek hou. Verkieslik moet daar nie enige skermtyd by betrokke wees nie.
  5. Kommunikeer julle liefde aan mekaar – praat met mekaar, raak aan mekaar, help mekaar, ens.
  6. Tree bedagsaam teenoor mekaar op (maak 'n koppie tee, help met sleurtake, ens.).

FISIEKE GESONDHEID

Fisieke gesondheid

Vyf algemene gesondheidsrisiko’s vir mans is:

  1. hartprobleme
  2. prostaatkanker
  3. depressie en selfdood
  4. diabetes
  5. probleme met ereksie (erektiele disfunksie)

Lees hier meer hieroor op: 6 Top Health Threats to Men

Waarom lees jy op hierdie webtuiste – wat hoofsaaklik oor aspekte van die sielkunde handel – oor fisieke gesondheidsprobleme en siektes? Daar is goeie redes hiervoor. Een hiervan is dat die liggaam en die siel nie in isolasie bestaan nie, maar in 'n verhouding tot mekaar funksioneer, m.a.w. sielkundige probleme beïnvloed die gesondheid van die liggaam en fisieke probleme die geestesgesondheid van die mens.

Die streshormoon, kortisol, speel byvoorbeeld 'n rol in fisieke siektes soos hartsiektes, tipe 2-diabetes, verlaagde immuniteit en kognitiewe probleme. Kortisol is belangrik vir oorlewing en om die liggaam te “aktiveer” gedurende stresvolle gebeure. Kortisol en adrenalien word in 'n stresvolle situasie vrygestel om 'n veg-of-vlug-reaksie te aktiveer. Wanneer kortisolvlakke verhoog, veroorsaak dit ook verhoogde cholesterolvlakke.

Dit is belangrik vir die balans in die liggaam dat kortisolvlakke weer daal en herstel nadat die stresvolle gebeure verby is. Ongelukkig veroorsaak die hoё stresvlakke in die samelewing – as gevolg van 'n gebrek aan rus en herstel in die meeste mense se lewens – dat mense se kortisolvlakke te hoog bly, of dat dit te veel daal aangesien die klier wat die kortisol afskei, uitgeput raak. 'n Styging in kortisolvlakke kan verhoogde (slegte) cholesterolvlakke veroorsaak. 'n Persoon is juis dan baie kwesbaar vir fisieke siektes en geestesgesondheidsprobleme. Verhoogde cholesterol kan bv. lei tot hartsiektes. Dié siekte en enige ander ernstige mediese diagnose kan op sigself ook vir 'n persoon wat daaraan ly, en sy geliefdes, stres en hartseer veroorsaak.

Verhoogde kortisolvlakke kan o.m. ook angs, depressie en skade aan breinfunksies veroorsaak.

Dit is dus noodsaaklik vir 'n mens se fisieke en geestesgesondheid dat jy jou stresvlakke doelgerig moet hanteer en beheer. Dit is nie altyd moontlik om stresvolle gebeure of omstandighede te vermy nie, maar 'n mens kan wel jou reaksie daarop beheer. Dit beteken dat 'n mens jouself genoeg tyd moet gun om te rus en te ontspan, gesonde leefstylkeuses te maak en, indien nodig, professionele hulp te kry om kognitiewe en emosionele vaardighede te ontwikkel wat kan help met streshantering.

Lees meer hieroor op: How Does Stress Contribute to Cholesterol? en Stress hormones in health and illness: The roles of work and gender

Interessant
Hartsiektes en beroertes is die grootste en naasgrootste oorsake van sterftes wêreldwyd.

Mans se sterfte-ouderdom a.g.v. hartkwale is jonger as 65 jaar. Dit is laer as dié van vroue. Kenners meen dit is omdat mans van nature laer vlakke van goeie cholesterol het as vroue. Mans moet daarom veel harder as vroue werk om die risiko van hartkwale te verlaag.

Erektiele disfunksie
Erektiele disfunksie (ook genoem impotensie) is teenwoordig wanneer iemand sukkel om 'n ereksie te kry, of genoegsaam te behou om seks te kan hê. Soms ervaar so 'n persoon ook 'n verminderde belangstelling in seks.

Dit is normaal om soms hiermee te sukkel, maar wanneer dit gereeld gebeur, is dit belangrik om hulp te kry. Erektiele disfunksie kan 'n aanduiding wees van 'n mediese of emosionele probleem, of van 'n probleem met intimiteit in die verhouding.

Ander seksuele probleme wat mans kan ervaar, sluit in: voortydige ejakulasie, uitgestelde of afwesige ejakulasie, asook min belangstelling in seks.

Daar is talle moontlike oorsake (fisiek en emosioneel) vir erektiele disfunksie. Dit sluit in:

  1. hartkwale
  2. diabetes
  3. hoё bloeddruk
  4. hoё cholesterol
  5. skade aangerig deur kanker of chirurgie
  6. beserings
  7. oorgewig
  8. hoё ouderdom
  9. stres
  10. angs
  11. depressie
  12. verhoudingsprobleme
  13. dwelmmisbruik
  14. alkoholmisbruik
  15. rook

Dié toestand kan deur een, of 'n kombinasie van, faktore veroorsaak word. Daarom is dit belangrik om deur 'n mediese praktisyn ondersoek te word sodat enige mediese probleme geïdentifiseer en behandel kan word.

Behandeling vir erektiele disfunksie
Die oorsaak van die probleem sal beïnvloed watter behandeling toepaslik is.

  1. 'n Volledige mediese ondersoek is die beginpunt om te bepaal of enige mediese behandeling, soos medikasie, nodig/effektief sal wees.
  2. Psigoterapie (psychotherapy / talk therapy) kan toepaslik wees indien mediese oorsake uitgeskakel/behandel is en daar vermoed word dat daar emosionele en verhoudingsfaktore is wat 'n rol speel. Vra jou huisdokter vir 'n verwysing na 'n sielkundige met ervaring in dié behandelingsveld.

Vertaal en aangepas uit: Everything You Need to Know About Erectile Dysfunction (ED)

Ernstige mediese diagnoses
Om gediagnoseer te word met 'n ernstige mediese toestand, is gewoonlik 'n groot skok. In sommige gevalle vermoed die persoon dalk al vir 'n geruime tyd dat daar iets fout is, maar die moontlikheid van negatiewe resultate veroorsaak soms dat mense die nodige mediese toetse vermy. Hoe langer 'n mens egter wag om 'n probleem te identifiseer en hulp te kry, hoe erger raak die toestand gewoonlik. Hoe dit ook al sy, 'n diagnose, veral wanneer dit chronies of terminaal is, het gewoonlik 'n groot effek op 'n mens se lewe.

'n Diagnose het dikwels ook praktiese implikasies – besluite moet geneem word oor behandeling, versorging en ander aspekte van die persoon se pad vorentoe. Vrae waarmee 'n mens gekonfronteer word, sluit in: Kan die toestand behandel word of nie? Wat is die koste van die behandeling? Wat is die effek daarvan op 'n mens se vermoë om te werk? Hoe sal iemand se inkomste geraak word? Het die persoon spesifieke versorging nodig? Hoe word die familie en geliefdes geraak?

In die meeste gevalle raak die diagnose nie alleen die persoon wat gediagnoseer is nie, maar ook 'n geliefde of familielede. Juis daarom is kommunikasie so belangrik. Om met mekaar te praat en na mekaar te luister, bied belangrike ondersteuning, maar is ook nodig vir die besluitnemingsproses.

Dit is ook normaal om verskillende emosionele reaksies te ervaar wanneer 'n mens (of 'n geliefde) gediagnoseer word met 'n ernstige of terminale siekte. Aanvanklik is die betrokkenes gewoonlik geskok, soms gevolg deur 'n fase van ontkenning omdat die realiteit té bedreigend is om te aanvaar. Die realiteit voel onwerklik, en 'n mens voel dit “kan nie waar wees nie”. Soms is daar ook 'n “onderhandelingsfase” waartydens 'n persoon redeneer “as ek net dít of dát doen, sal ek nie meer siek wees nie”. Hierdie onderhandelingsfase hou gewoonlik nie direk verband met die mediese behandeling wat 'n persoon kry nie.

Dit is nodig om die werklikheid van die diagnose tyd te gee om in te sink, maar dit is tog ook belangrik om die werklike situasie onder die oë te sien omdat daar gewoonlik besluite is wat geneem moet word.

Woede en hartseer is nog emosies wat baie sterk in hierdie tyd na vore kan kom. Woede kan direk uitgedruk word of geprojekteer word op iemand anders (bv. om iemand te blameer, of om oor kleinighede te verskil.). Hartseer, en om kwaad te wees, is normale reaksies omdat daar verskeie verliese ter sprake is.

Daar is nie 'n volgorde van of spesifieke stappe in hierdie proses nie, maar die doelwit is om al langer tye van aanvaarding te beleef – dié emosie kom en gaan egter dikwels. 'n Mens ervaar tye wat jy die diagnose en implikasies daarvan kan aanvaar, en tye wanneer dit moeiliker is. Hoe langer die persoon aan aanvaarding kan vashou, hoe rustiger sal hy/sy voel. Dit is egter noodsaaklik dat 'n mens die verskillende emosies/reaksies ervaar en verwerk voordat aanvaarding 'n werklikheid kan word.

Soms is dit nodig om 'n berader, 'n sielkundige of 'n pastorale werker te raadpleeg om jou en jou geliefde(s) deur hierdie proses te begelei. Dit is nie 'n teken van swakheid om hulp te soek nie, maar eerder 'n aanduiding dat 'n mens eienaarskap aanvaar van die probleem en dit op 'n verantwoordelike manier wil hanteer.

BEROEPSPROBLEME

Beroepsprobleme

'n Wêreldwye meningsopname het getoon dat mans minder tevrede is met hul lewens as vroue.

Lees meer hieroor: A global survey shows women are more satisfied with their lives than men are

Waarom is dit so dat mans minder lewensbevrediging ervaar as vroue?

Verskeie faktore kan 'n rol speel, bv. die verandering wat daar die afgelope dekades in die geslagsrolle plaasgevind het. Mans se rolle in vorige generasies was maklik definieerbaar as “die broodwinner” en “die hoof van die huis”. Deesdae is daar al hoe meer mans wat nie die broodwinner is nie en dalk “terugstaan” vir 'n beroepsgedrewe verhoudingsmaat. Dit kan by talle mans lei tot 'n verlies aan betekenis en trots. 'n Groot groep mans is moontlik onseker oor waar hul inpas, wat van hulle verwag word en hoe om sin en betekenis in hul bestaan te vind.

Uitbranding
Uitbranding is ook 'n faktor wat 'n belangrike rol kan speel in 'n man se lewe. Uitbranding kom voor wanneer 'n mens jou vir 'n geruime tyd ooreis en oormatig stres, sonder om genoeg tyd daaraan te wy om te rus en te herstel. Uitbranding sal beslis ook 'n negatiewe impak op 'n mens se lewensbevrediging hê.

Beroepstevredenheid
Saam met uitbranding, kan 'n mens ook beroepstevredenheid noem. In ons “hoёdruksamelewing”, stel 'n mens se beroep gewoonlik hoё eise. Ekonomiese druk veroorsaak dat dit moeilik is om “nee” te sê by die werk – wat dikwels tot uitbranding lei. Goeie bestuur en 'n stimulerende en gesonde werkomgewing sal help om negatiewe ervarings teen te werk, maar die “passing” tussen die werker en die werk is ook belangrik.

Sielkundiges hoor dikwels tydens terapie dat iemand 'n werk doen, of in 'n sekere rigting studeer, omdat dit is “wat van die persoon verwag word”, of “wat sy/haar ouers wou gehad het”. Vir party mense is dit aanvaarbaar, maar by ander lei dit tot baie hartseer en frustrasie.

Wanneer 'n persoon 'n beroep kies, moet daar oorweging geskenk word aan faktore soos temperament en persoonlikheid, asook belangstelling en vermoë of vaardigheidsvlak. Natuurlik is dit ook belangrik om die ekonomiese lewensvatbaarheid van 'n beroep te oorweeg, maar om 'n besluit slegs op grond van die finansiële voordele te neem, skep gewoonlik nie 'n volhoubare situasie nie. Sielkundiges kan met behulp van toetse en evaluering leiding gee sodat ingeligte loopbaanbesluite geneem kan word. In sekere maatskappye en by tersiêre instansies is daar ook beroepsvoorligters in die mensehulpbronafdelings wat hiermee kan help.

Soms is dit nodig om probleme op te los met die hulp van 'n bestuurder, die mensehulpbronafdeling of 'n sielkundige; ander kere is dit nodig om van werkomgewing te verander. Om ongelukkig te wees by die werk, stel 'n mens bloot aan uitbranding en ander geestes- en verhoudingsprobleme. Daarom is dit belangrik om te probeer om probleme by die werk op te los.

SELFDOOD

Selfdood

Volgens wêreldwye statistiek pas meer mans as vroue selfdood toe.

Hoewel om selfdood toe te pas soms 'n impulsiewe handeling is, is daar 'n sterk verband tussen selfdood en depressie. Gee aandag aan die gevaartekens wat mag voorkom en vra vroegtydig om hulp. Vir meer inligting, sien ons afdelings oor depressie en selfdood.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?