Fobies
|
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan fobie ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.
|
ALGEMEEN
Wat is ‘n fobie?
'n Fobie is 'n angsversteuring en kom gewoonlik voor as 'n volgehoue, onlogiese vrees vir 'n spesifieke objek of situasie. Die persoon wat daaraan ly, sal tot die uiterste gaan om hierdie voorwerpe of situasies te vermy. Dié vrees is gewoonlik ook onrealisties en word so deur die persoon wat die vrees ervaar, gesien.
As die persoon nie daarin slaag om die situasie of objek (bv. 'n spinnekop of 'n vergadering) te vermy nie, veroorsaak dit intense ongemak of angs en sukkel die persoon om sy/haar huidige aktiwiteit te voltooi. Fobies word oor die algemeen in drie kategorieë verdeel:
- Spesifieke fobie: Vrees vir iets spesifiek, bv. spinnekoppe, hoogtes, slange, noutes, ens. Die meeste mense ervaar 'n mate van vrees vir hierdie dinge, maar iemand met 'n volledige fobie sal enigiets doen om hierdie voorwerpe of situasies te vermy.
- Sosiale fobie / Sosiale angsversteuring: Vrees vir ander mense of sosiale situasies, bv. verleentheid of selfbewustheid in ander mense se teenwoordigheid, vermyding van openbare situasies of gesprekke met ander.
- Agorafobie: 'n Algemene vrees om 'n mens se huis of 'n spesifieke “veilige” area te verlaat, met moontlike paniekaanvalle wat daarop kan volg. Hierdie angs kan ook aangevuur word deur spesifieke fobies, soos 'n vrees vir kieme, openbare plekke, winkelsentra, ens.
SPESIFIEKE FOBIE
Wat is die simptome van 'n spesifieke fobie?
Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die gesaghebbendste bron:
- Om diagnoseerbaar te wees, moet daar 'n herhalende patroon van duidelike en aanhoudende irrasionele vrees wees, wat geaktiveer word deur 'n spesifieke objek of situasie (bv. vlieg, diere, 'n inspuiting).
(By kinders kan dié vrees uitgedruk word deur te huil, 'n woedeaanval [tantrum] te “gooi”, te vries of aan iemand vas te klou.)
- Blootstelling aan hierdie situasies of objekte veroorsaak onmiddellike angs, wat fisiek waarneembaar is (bv. huil, paniekaanvalle).
- Die situasie of objek word aktief vermy of met intense vrees of angs verduur.
- Die angs- of vreesreaksie is buite verhouding tot die ware gevaar wat deur die objek of situasie veroorsaak word (kultuurnorme in ag genome).
- Die vrees/angs/vermyding is langdurig en kom reeds vir ten minste ses maande voor.
- Die vrees/angs/vermyding veroorsaak aansienlike ongemak en/of het 'n negatiewe invloed op die persoon se funksionering (by die huis, skool, werk, sosiaal, ens.).
- Die versteuring word nie beter verduidelik deur 'n ander diagnose, bv. onder meer dié van agorafobie, posttraumatiese stres of skeidingsangs nie.
Fobie-snellers (triggers)
'n Persoon kan 'n fobie vir een of meer van die volgende toon:
- diere (bv. spinnekoppe, slange, insekte, honde, ens.)
- natuurlike omgewing(s) (bv. hoogtes, storms, water, donderweer)
- inspuitings, beserings (bv. naalde, sekere mediese ingrepe, bloed)
- 'n bepaalde situasie (bv. in vliegtuie, hysbakke, toe [enclosed] plekke)
- ander (bv. situasies wat kan lei tot verstikking of vomering, harde geluide, kostuumkarakters – meestal by kinders)
Behandeling van 'n spesifieke fobie
Hoekom is behandeling nodig vir 'n fobie?
'n Fobie is 'n ernstiger graad van angs. In sommige gevalle is daar selfs 'n onvermoë by die persoon om sonder vrees by sy/haar voordeur uit te loop. Hulp en ondersteuning deur 'n
kliniese sielkundige, of 'n ander kategorie sielkundige met ervaring in die behandeling van dié toestand, is uiters belangrik om hierdie versteuring te behandel. Toepaslike psigoterapie word ook dikwels in kombinasie met medikasie aangewend om 'n fobie te behandel.
Hoe word 'n fobie behandel?
Soos met die meeste sielkundige probleme, is dit nodig om vir professionele hulp aan te klop. 'n Geregistreerde sielkundige, met ervaring in die behandeling van fobies, kan saam met jou 'n behandelingsplan opstel waarin julle gesels oor die sielkundige benadering wat gevolg kan word, asook oor die ander professionele persone wat betrek moet word. Dikwels is medikasie nodig en daarvoor kan die sielkundige jou na 'n psigiater verwys, wat dan 'n volledige assessering en oorweging vir die toepaslike medikasie sal doen. Sommige sielkundiges sal ook, afhangende van die proses en stadium, praktiese voorstelle maak/aanbeveel wat 'n kliënt tuis kan probeer.
As onderbou vir die werk aan die spesifieke fobie, is dit altyd nodig om gesonde leefstylkeuses te maak wat geestesgesondheid bevorder, bv. gereelde oefening, gesonde slaapgewoontes en gebalanseerde eetgewoontes.
Hoe ondersteun ek iemand met 'n fobie?
Dit is belangrik om te onthou dat die persoon nie aktief kies om 'n fobie te hê, of vir 'n spesifieke voorwerp of situasie bang te wees nie. Hy/sy weet gewoonlik dat die vrees nie rasioneel sin maak nie. Dit help nie om hulle daaroor te spot of met hulle daaroor te redeneer nie. Die beste wat 'n mens kan doen, is om die persoon aan te moedig om professionele hulp vir die fobie te kry, veral as dit hul funksionering inperk. Die terapeutiese proses mag dalk vir hulle moeilik en uitputtend wees en dit is juis dán dat aanmoediging en ondersteuning waardevol kan wees.
Hoe ondersteun ek iemand met 'n spesifieke fobie?
Dit is belangrik om te onthou dat die persoon nie aktief kies om 'n fobie te hê, of vir 'n spesifieke voorwerp of situasie bang te wees nie. Hy/sy weet gewoonlik dat die vrees nie rasioneel sin maak nie. Dit help nie om hulle daaroor te spot of met hulle daaroor te redeneer nie. Die beste wat 'n mens kan doen, is om die persoon aan te moedig om professionele hulp vir die fobie te kry, veral as dit hul funksionering inperk. Die terapeutiese proses mag dalk vir hulle moeilik en uitputtend wees en dit is juis dán dat aanmoediging en ondersteuning waardevol kan wees.
Relevante artikels
-
Angsversteurings
As die liggaam egter hierdie angs "oordryf" (as daar nie regtig 'n logiese rede vir die angsgevoel is nie) of indien dit meer gereeld voorkom as wat...
NOODMAATREËLS
- skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
- gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
- skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
- kontak Wie is ek?