Anorexia Nervosa / Anoreksie
|
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan Anoreksie ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.
|
ALGEMEEN
Wat is anoreksie?
Anoreksie is 'n gedragspatroon waar die persoon sy/haar energie-(kilojoule-/kalorie-) en kos-inname beperk sodat dit laer is as die minimum wat verwag word vir mense in 'n soortgelyke situasie (bv. in verhouding tot geslag, ouderdom, gesondheid en ontwikkelingsvlak). Die persoon het ook 'n groot vrees om “vet” te wees en maak seker dat hy/sy verhoed dat hulle gewig optel. Die persoon se ervaring van sy/haar liggaamsbou is meestal oordrewe negatief, en dit het 'n groot impak op sy/haar evaluasie van hom-/haarself. Die persoon se vrees om “vet” te wees, en die meegaande angs oor gewigstoename, word nie verlig deur sy/haar gewigsverlies nie, maar daar is wel 'n gevoel van plesier vanweë die verslawende elemente van die gedrag, soos hierbo genoem.
Interessant!
In sommige geval is die vrees om “vet” te wees nie teenwoordig nie, of nie
opsigtelik nie.
|
WAT MAAK MY KWESBAAR?
Wat kan MY kwesbaar maak?
- Temperamente wat meer geneig is tot angstigheid en perfeksionisme is meer vatbaar vir anoreksie.
- Omgewingsfaktore en gene speel ook 'n rol.
- Kulture wat baie waarde heg aan maer wees, is meer kwesbaar vir eetversteurings, asook beroepe waar dit verkies word dat mense maer moet wees, bv. 'n atletiekloopbaan en modelwerk.
- Mense wat naaste familielede met simptome van anorexia nervosa en/of ander verslawings het, is ook meer kwesbaar om self die simptome te ontwikkel.
Het jy geweet?
|
RISIKO'S/GEVOLGE
Risiko’s/gevolge
Anoreksie is 'n baie ernstige toestand wat professionele hulp benodig. Die simptome lei gewoonlik tot:
- isolasie en eensaamheid;
- probleme om aan die vereistes wat by die skool of werk aan hulle gestel word, te voldoen;
- gesondheidsprobleme (in 'n gevorderde stadium kan dit lei tot orgaanprobleme, breinbesering en hartversaking);
- die risiko om weens anoreksie te sterf, is groter as met ander eetversteurings; en
- die risiko van selfdood kan ook hoog wees vir mense met anoreksie.
SIMPTOME
Wat is die simptome van anoreksie?
Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die gesaghebbendste bron. Let asb. daarop dat 'n amptelike diagnose slegs deur 'n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.
Om diagnoseerbaar te wees, moet die volgende simptome voorkom:
- onvermoë om liggaamsgewig bo die minimum verwagte gewig vir lengte en ouderdom te handhaaf; minder as 85% van verwagte iggaamsgewig;
- intense vrees om gewig op te tel en “vet” te wees, selfs as die persoon ondergewig is;
- persepsieversteuring van liggaamsbeeld; oormatige klem op die invloed van liggaamsbou en -grootte op die selfbeeld; ontken die erns van ondervoeding; en
- geassosieerde fisieke siekte(s) sekondêr tot verhongering (bv. amenoree vir langer as drie maande, of menstruasie slegs ná estrogeentoediening).
Anoreksie kan verder onderskei word deur:
- Beperkende tipe
Die persoon beheer nie sy/haar inname van ledigingsprosedures nie, bv. selfgeïnduseerde braking of gebruik van lakseermiddels, enemas en diuretika. - Ooreet-/ledigingstipe
Die persoon het in die huidige anoreksie-siklus gereelde episodes van ooreet-en-ledigingsessies (binge/purge).
Het jy geweet?
Anoreksie kom nie net onder tienermeisies voor nie; enigiemand vanaf die
ouderdom van 12 jaar kan eetsversteurings ervaar. Dus moet ouers van
kinders en tieners; selfs die kinders van bejaardes, ook bewus wees van die
simptome (aangesien anoreksie ook onder bejaardes voorkom).
|
BEHANDELING
Behandeling van anoreksie
Hoekom is behandeling nodig vir anoreksie?
Dit is belangrik vir iemand met 'n ernstige eetversteuring, soos anoreksie, om
hulp te kry. Om jouself – sonder hulp – van die toestand te bevry, is uiters moeilik. Mediese, sowel as sielkundige en psigiatriese hulp is noodsaaklik in die behandeling van 'n eetversteuring.
Wie kan my of 'n geliefde diagnoseer?
Omdat anoreksie so kompleks is, sou ons jou aanraai om jou slegs deur 'n
kliniese sielkundige of psigiater te laat toets en diagnoseer. Hulle is opgelei om tussen die verskillende toestande te onderskei.
Watter rol speel 'n sielkundige in my behandeling?
'n Sielkundige kan anoreksie diagnoseer en psigoterapeuties behandel. Dit
beteken dat hy/sy jou kan help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om 'n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan
lei. 'n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met 'n psigiater in spanverband.
SELFBESTUUR
Wat kan EK doen om my siekte te bestuur?
- bou kennis op oor anoreksie (vra jou dokter, lees oor die siekte, vra vrae tot jy verstaan);
- slaap genoeg;
- verminder stresfaktore sover dit binne jou beheer is; en
- kry psigoterapie by 'n opgeleide sielkundige wat jou kan help om belangrike vaardighede aan te leer ten einde anoreksie te beheer.
ADVIES
Advies vir geliefdes en familielede wat saam met iemand woon of werk wat gediagnoseer is met anoreksie
As 'n geliefde of vriend(in) gediagnoseer word met anoreksie, kan jou ondersteuning en motivering 'n belangrike rol speel in die aanvaarding en hantering van hul diagnose. Hier is riglyne hoe jy so 'n persoon kan bystaan:
- Wees geduldig. Mense wat onder 'n eetversteuring gebuk gaan, het nie altyd die vermoë om te sê hoe hulle voel of wat hulle ervaar nie. Gee hulle 'n kans om eers gewoond te raak aan die diagnose en om geleidelik 'n konkrete plan uit te werk vir hoe hulle hul lewens vorentoe gaan bestuur.
- Wees ingelig. Bou kennis op oor anoreksie. Hoe meer jy en jou geliefde, familielid of kollega van die siekte weet en verstaan, hoe beter kan julle saamwerk aan hoe jy hom/haar kan ondersteun en hoe julle die siekte kan bestuur.
- Vra wat jou geliefde van jou nodig het. 'n Mens kan maklik dink jy weet wat die beste vir 'n ander persoon is, maar die maklikste is om te vra hoe hy/sy wil hê jy moet optree.
- Luister, eerder as om konstant advies te gee of logies te probeer redeneer. Dit is belangrik dat die persoon self verantwoordelikheid aanvaar vir die siektetoestand en die effek wat dit op sy/haar lewe gaan hê. Wanneer iemand keuses namens iemand anders maak, kan dit dalk veroorsaak dat die persoon afhanklik raak van die helper en dan nie self die siekte wil beveg nie. Dit is nie jóú siektetoestand nie, maar jou geliefde s’n. Luister is wel 'n wonderlike manier om jou geliefde te ondersteun.
- Leer ken die simptome sodat jy vroegtydig kan optree. Almal se simptome van anoreksie manifesteer nie op dieselfde manier nie, so dit is baie belangrik om te verstaan hoe die persoon in jou lewe se simptome na vore kom. Wanneer jou geliefde byvoorbeeld aansienlik minder begin eet as op ander tye, kan jy solank sekere maatreëls begin toepas.
- Doen fisieke aktiwiteite saam met die individu. Dit is miskien 'n cliché, maar gereelde oefening hou groot voordeel in vir die geestesgesondheid van mense met sielkundige diagnoses. Dit verlig spanning en angstigheid en help met die produksie van oordragstowwe wat 'n lae gemoed beveg. Gereelde gebalanseerde oefening is dus eintlik 'n suksesvolle antidepressant. Balans is egter die wagwoord. Onthou dat oefening beperk of gestaak moet word in gevorderde stadiums van anoreksie om verdere gewigsverlies te voorkom.
- Moedig 'n gebalanseerde eet- en slaappatroon aan. 'n Gevestigde roetine help nie net die persoon om hul siekte te bestuur nie, maar ook om die tekens/simptome vroegtydig raak te sien.
- Kyk mooi na jouself! Onthou, 'n persoon in jou lewe met gediagnoseerde anoreksie kan jou ook negatief beïnvloed deur jou te betrek by hul versteuring. Om saam met 'n persoon te leef wat gediagnoseer is met anoreksie kan frustrerend, uitputtend en soms chaoties voel. Maak tyd vir jouself ook.
Onthou!
Ons almal fokus soms op ons gewig en gesondheid, maar dit beteken nie dat
ons almal die toestand van anoreksie ervaar nie. Dit is egter belangrik om
jouself of jou geliefdes dop te hou as minder opvallende tekens meer gereeld
voorkom.
|
Wenk!
Sekere mense is van nature meer daartoe geneig om slank te wees. Dit
beteken nie hulle is diagnoseerbaar met anoreksie nie. Wees altyd op die
uitkyk vir patroonveranderings; m.a.w. wanneer jy of 'n geliefde vir langer as
drie maande nie dieselfde voel, dink of optree as normaalweg nie.
|
NOODMAATREËLS
- skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
- gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
- skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
- kontak Wie is ek?