Afrikaans English
Opposisionele-uitdagingversteuring
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan opposisionele-uitdagingversteuring ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.

ALGEMEEN

WAT IS OPPOSISIONELE-UITDAGINGVERSTEURING?

As jou kind of tiener 'n volgehoue patroon van woedebuite (“tantrums”) het, konstant met iemand stry, en kwaai of ontwrigtende gedrag teenoor jou en ander gesagsfigure toon, kan hy of sy moontlik aan 'n diagnoseerbare opposisionele-uitdagingversteuring ly.

Opposisionele gedrag is normaal in sekere stadiums van 'n kind se ontwikkeling; dus moet ‘n mens eerder na ‘n patroon van gedrag kyk. Oor die algemeen kan tekens van hierdie probleem voor die ouderdom van 8 waargeneem word. Simptome kan in sommige gevalle ‘n bietjie later ontwikkel, maar dit gebeur byna altyd vóór die vroeë tienerjare. In die begin ontwikkel die simptome geleidelik en vererger dan oor die volgende paar maande of jare. Professionele persone vind dit soms moeilik om ander toestande uit te sluit, bv. aandagsgebrekhiperaktiwiteitsteuring. Dit gebeur dikwels dat hierdie twee toestande saam gediagnoseer word.

Behandeling behels individuele terapie, gesinsterapie om te help met die opbou van positiewe familie-interaksie, en moontlik medikasie.

OORSAKE

OORSAKE VAN OPPOSISIONELE-UITDAGINGVERSTEURING

Aanleidende oorsake van hierdie versteuring kan 'n kombinasie van oorerwings- en omgewingsfaktore insluit, bv. 'n kind se natuurlike ingesteldheid, beperkende of ontwikkelingsagterstande in 'n kind se vermoë om gedagtes en gevoelens te prosesseer, gebrek aan toesig, wisselvallige of oormatige dissipline, mishandeling of verwaarlosing, of 'n wanbalans in sekere brein-chemikalieë. Dit is soms moeilik om die verskil tussen 'n “stout” of emosioneel ontstelde kind, en een met 'n opposisionele-uitdagingversteuring te herken.

SIMPTOME

WAT IS DIE SIMPTOME VAN OPPOSISIONELE-UITDAGINGVERSTEURING?

Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat 'n amptelike diagnose slegs deur 'n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

'n Patroon van gedrag wat ten minste ses maande duur en ten minste vier van die volgende insluit:

  1. Herhaalde humeuruitbarstings.
  2. Argumenteer dikwels met volwassenes.
  3. Uittarting of weiering om te voldoen aan volwassenes se versoeke of reels.
  4. Frustreer mense dikwels met opset.
  5. Blameer ander vir sy of haar foute of wangedrag.
  6. Is liggeraak of raak maklik geïrriteer deur ander.
  7. Is dikwels kwaad en wrokkig.
  8. Is dikwels moedswillig of wraaksugtig.

Om verder gediagnoseer te word met opposisionele-uitdagingversteuring moet die kind se gedrag:

  1. beduidende probleme by die skool, werk of huis veroorsaak
  2. onafhanklik plaasvind, eerder as deel van die verloop van 'n ander geestesgesondheidsprobleem, bv. depressie

BEHANDELING

BEHANDELING VAN OPPOSISIONELE-UITDAGINGVERSTEURING

  1. Kan behandeling my kind of tiener se gedrag verander?
    Ja, daar is goeie resultate met sekere vorms van psigoterapie en gesinsterapie.
  2. Wie moet ek gaan spreek om die nodige behandeling te kry?
    ‘n Sielkundige wat gespesialiseerd en opgelei is om terapeuties met kinders te kan werk.
  3. Sal my kind medikasie moet neem?
    Nie noodwendig nie. Sommige medikasie help wel met aanverwante simptome, soos dié van depressie.
  4. Watter rol kan ‘n ouer speel in die behandeling van hierdie versteuring?
    Ouers word gewoonlik deel van die behandeling en bestuur, veral deur die proses van gesinsterapie.

NOTAS

Slider

  • RSG Potgooi

    RSG Potgooi

    Wat is ‘n ouer se opsies met terapie vir kinders? Wat gebeur in terapie, en hoe kan dit die kind en ouers baat? Met die toenemende aantal kinders wat angs en depressie beleef, is hierdie episode ‘n MOET.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 12 13 14 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak die Wie is ek?-sentrum.