Sosiale angsversteuring
|
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan sosiale angsversteuring ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.
|
SIMPTOME
Wat is die simptome van 'n sosiale angsversteuring?
Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die gesaghebbendste bron:
- ‘n Noemenswaardige vrees of angs vir een of meer sosiale situasie waar iemand blootgestel is aan moontlike beoordeling deur ander mense, byvoorbeeld:
- sosiale interaksie (om nuwe mense te ontmoet of gesprekke met vreemdelinge te hê);
- om waargeneem te word (bv. terwyl hy/sy eet of drink); of
- om voor ander op te tree (bv. om 'n toespraak te lewer).
- Die persoon vrees dat hulle angssimptome sal toon of sekere gedrag sal openbaar wat negatief beoordeel kan word (m.a.w. hulle sal verneder of in die verleentheid gestel word, wat sal lei tot verwerping of aanstoot sal gee).
- Sosiale situasies sal byna altyd vrees of angs tot gevolg hê (by kinders sal dié vrees of angs meestal uitgedruk word deur te huil, 'n woedeaanval [vloermoer] te “gooi”, te vries, aan iemand vas te klou, terug te deins of botstil te wees).
- Sosiale situasies word vermy of met intense vrees/angs verduur.
- Die vrees/angs is buite verhouding tot die werklike bedreiging wat die sosiale situasie inhou.
- Die vrees, angs of vermyding is langduring en is vir ses maande of langer teenwoordig.
- Die vrees, angs of vermyding veroorsaak aansienlike ongemak of perk die persoon se funksionering in verskillende situasies in, bv. by die werk, sosiaal en in ander belangrike areas.
- Die vrees, angs of vermyding is nie as gevolg van die effek van 'n middel (dwelm of medikasie) of 'n ander mediese toestand nie.
- Die vrees, angs of vermyding word nie beter verklaar deur 'n ander sielkundige toestand, bv. paniekversteuring, outismespektrum-versteuring (OSV) of iets anders nie.
- Indien 'n ander mediese toestand teenwoordig is (bv. Parkinson se siekte, obesiteit, ens.) is die vrees, angs of vermyding oormatig, maar nie verwant aan mekaar nie.
(By kinders moet dié angs in portuursituasies gebeur en nie net in situasies met volwassenes nie.)
Het jy geweet?
Ons spesifiseer iemand se sosiale angs as “slegs optrede verwant” wanneer dit beperk is tot
situasies waar die persoon in die openbaar moet praat of optree.
Dit is oorwegend beperk tot mense wat in die openbaar moet optree as deel van hul
beroep, bv:
Hierdie simptome kan ook in akademiese situasies voorkom. Persone met angs wat “slegs
optrede verwante” is, vrees NIE ander sosiale situasies NIE.
|
Interessant
Tweederdes van mense met sosiale angsversteuring ervaar terselfdertyd 'n ander
psigiatriese toestand (ons praat van komorbiditeit, m.a.w. versteurings wat saam voorkom).
Versteurings wat gereeld saam met sosiale fobie voorkom is:
|
SITUASIES WAT VERSNELLERS IS
Situasies wat simptome kan sneller
Hier onder volg 'n paar snellers. Daar kan nog talle meer wees, maar hierdie is dié wat algemeen voorkom:
- om aan nuwe/vreemde mense bekendgestel te word
- oogkontak
- om gespot of gekritiseer te word
- om die middelpunt van belangstelling te wees
- om dopgehou te word terwyl 'n mens iets doen, bv. oproepe maak, skryf, eet, ens.
- om iets in die openbaar te moet sê
- om mense in gesagsposisies te ontmoet
- om ongemaklik of onseker te voel in sosiale situasies
Het jy geweet?
MITE: Mense met sosiale angsversteuring / sosiale fobie is altyd skaam.
FEIT: Mense met sosiale angsversteuring is NIE altyd skaam mense nie. Hulle kan dikwels baie gemaklik wees tussen mense, maar hul angs word gesneller in spesifieke situasies. |
Onthou!
Sosiale angsversteuring of sosiale fobie is die derde grootste geestesgesondheidsprobleem ter wêreld.
|
BEHANDELING
Behandeling van sosiale angsversteuring
Hoekom is behandeling nodig vir sosiale angsversteuring?
Net soos met 'n spesifieke fobie, is sosiale angsversteuring / sosiale fobie 'n ernstiger graad van angs. In sommige gevalle is daar selfs 'n onvermoë by die persoon om sonder vrees by sy/haar voordeur uit te loop of kontak met ander mense te hê. Behalwe vir die negatiewe impak wat 'n sosiale angsversteuring op iemand se funksionering het, kan dit ook lei tot, of verwant wees aan, ander versteurings soos eetversteurings of verslawing aan alkohol, medikasie of dwelms.
Familieprobleme, ‘n gebrek aan persoonlike verhoudings en probleme om werk te kry en te behou, is probleme wat ook geassosieer word met sosiale angsversteuring.
Hulp en ondersteuning deur 'n geregistreerde sielkundige is uiters belangrik om hierdie versteuring te behandel. Psigoterapie word ook dikwels in kombinasie met medikasie aangewend om 'n fobie te behandel.
Hoe word sosiale angsversteuring behandel?
Soos met die meeste sielkundige probleme, is dit gewoonlik nodig om by 'n professionele persoon om hulp aan te klop. Die volgende is die algemeenste:
- Mediese ondersoek
'n Deeglike evaluasie deur 'n mediese dokter kan 'n waardevolle eerste stap wees om seker te maak dat daar geen mediese snellers vir die angs is nie. Indien daar nie is nie, is die volgende stap om die sielkundige aard van die angs te ondersoek. - Psigoterapie
'n Geregistreerde sielkundige met ervaring in die behandeling van versteurings in dié veld, kan saam met jou 'n behandelingsplan opstel waarin julle gesels oor die sielkundige benadering wat gevolg kan word, sowel as oor die ander professionele persone wat betrek moet word. - Ondersteuningsgroepe
'n Ondersteuningsgroep kan van onskatbare waarde wees vir iemand wat aan sosiale angsversteuring ly. Binne die groep deel mense hul “stories” en uitdagings en leer uit mekaar se vaardighede en ervarings. Dit is nogtans nie altyd maklik is om 'n ondersteuningsgroep in 'n mens se omgewing te vind nie. Aanlyn soektogte lewer soms goeie resultate. Meer inligting kan op die SADAG-webtuiste gevind word. - Medikasie
Medikasie is dikwels nodig en daarvoor kan die sielkundige jou verwys na 'n psigiater wat 'n volledige assessering sal doen en toepaslike medikasie sal oorweeg en, indien nodig, voorskryf. Indien iemand enigsins verslawingsgevoelig is (m.a.w. maklik aan iets verslaaf kan raak), is dit van KARDINALE belang om die psigiater, mediese praktisyn, sielkundige en alle ander betrokkenes hieroor in te lig. - Leefstyl
As onderbou vir die werk aan die sosiale angsversteuring, is dit altyd nodig om gesonde leefstylkeuses wat geestesgesondheid bevorder te maak, bv. gereelde oefening, gesonde slaapgewoontes, gebalanseerde eetgewoontes en tyd om te dink en te ontspan. Rus en roetine bevorder geestesgesondheid.
ONDERSTEUNING
Hoe ondersteun ek iemand met 'n sosiale angsversteuring?
Dit is belangrik om te onthou dat die persoon nie aktief kies om angstig te wees nie. Hy/sy weet gewoonlik dat die angs/vrees nie rasionele sin maak nie. Dit help nie om hulle daaroor te spot of met hulle daaroor te redeneer nie. Die beste wat 'n mens kan doen, is om die persoon aan te moedig om professionele hulp te kry, veral as dit hul funksionering inperk. Die terapeutiese proses mag dalk vir hulle moeilik en uitputtend wees. Dit is juis dán wanneer aanmoediging en ondersteuning baie waardevol sal wees.
MOED HOU!
Moed hou!
Moenie opgee as jy nie vinnig 'n verbetering in jou simptome ervaar nie. Verandering verg tyd, veral as 'n mens op 'n dieper vlak werk. Dit kan ook 'n tydjie neem om die regte medikasie en dosis vir jou uit te werk. Bly in kontak met jou behandelingspan en kom jou afsprake konsekwent na. Dit kan ook help om doelwitte vir jouself te stel om sekere sosiale situasies, waar jy uitgedaag of blootgestel kan voel, by te woon.
Relevante artikels
-
Angsversteurings
As die liggaam egter hierdie angs "oordryf" (as daar nie regtig 'n logiese rede vir die angsgevoel is nie) of indien dit meer gereeld voorkom as wat...
NOODMAATREËLS
- skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
- gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
- skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
- kontak Wie is ek?