Miskraam
|
Belangrik!
Die stories van vroue wat die ervaring van 'n miskraam moes deurmaak, of 'n baba verloor het, word te min gehoor. Dit gebeur so baie dat 'n vrou wat die rouproses ná so 'n ervaring beleef, verbaas is om te hoor dat daar soveel ander vroue is wat dieselfde pad as sy gestap, en soortgelyke vrae en emosies beleef het.
|
BELEWENIS
Belewenis van 'n miskraam
Elke vrou en wat sy ervaar is uniek, maar daar is tog ooreenkomste tussen verskillende mense se belewenisse. Dit is belangrik dat sy weet sy is nie alleen nie.
Skok
Ongeag die omstandighede van die swangerskap, is om te hoor dat daar nie meer 'n hartkloppie is nie, 'n groot skok vir 'n swanger vrou en die pa van die baba. Daar kon dalk baie dinge, aangenaam en onaangenaam, voor of tydens die swangerskap gebeur het – die swangerskap was dalk onbeplan, of het moontlik met baie uitdagings gepaard gegaan. Tog kom dié tyding gewoonlik onverwags. As so iets gebeur, is daar gewoonlik baie wat deur 'n ma (en 'n pa) se gemoed gaan. Magteloosheid, 'n gevoel van onwerklikheid en moontlik verwyte is gewoonlik deel van die aanvanklike ervaring. Enorme skuldgevoelens omdat sy die baba “laat doodgaan” het, kan ook voorkom.
Emosies
Daar is fisieke (liggaamlike) gevolge wat op 'n miskraam volg, maar gewoonlik is die emosionele proses die moeilikste. Iemand wat dit al ervaar het, sal vertel dat die pyn nooit regtig weggaan nie, maar dat dit wel “sagter” word. Party dae sal 'n mens makliker met die realiteit kan saamleef as ander dae.
Soms is dit ook net nodig om vir 'n dag of wat “afstand te kry” van die realiteit en bv. te fokus op werk of iets anders, sodat 'n mens weer kan krag kry om voort te gaan. Dit is belangrik dat die mense naby aan jou ook begrip het vir die situasie en dat hulle verstaan dat jy nie altyd oor jou verlies wil praat nie.
Skuldgevoelens
Soos genoem, is deel van die rouproses om tye van intense woede te beleef, waartydens 'n mens jouself of iemand anders blameer vir wat gebeur het. Die vrou kan ook skuldig voel omdat haar liggaam nie die baba veilig kon hou nie; sy haar man van die kind ontneem het; sy iets gedoen het wat die miskraam of stilgeboorte veroorsaak het, ens. Die man kan skuldig voel omdat hy nie die vrou kon beskerm nie, dat hy iets gedoen het om die miskraam te veroorsaak, of aangesien hy nie iets kan doen om dit vir haar beter te maak nie.
Konfrontasie met die buitewêreld
Min dinge kan 'n mens so weerloos laat voel as die verlies van 'n baba/swangerskap. Vroue wat dit ervaar het, vertel dat hulle soms nie eens die hospitaal wou verlaat nie, want dan moes hulle die wêreld daar buite in die gesig staar.
Daar is mense wat onmiddellik ingelig moet word van wat gebeur het, en mense wat eers later hoef te weet. Dit kan baie moeilik wees vir die verhoudingspaar of -maats om hierdie mense in die maande wat op die miskraam volg, te sien. Die wat weet wat gebeur het, gaan soms self deur hul eie rouproses en kan sukkel om ondersteuning aan die ma en pa te bied. Om die nuus herhaaldelik oor te dra, kan veeleisend en emosioneel wees. Dit kan ook 'n sneller wees wat verhoudingsmaats weer aan die pynlike gebeure laat dink en 'n goeie dag kan verander in 'n moeilike een.
Vrees
Miskrame gebeur meestal, dog nie altyd nie, onverwags of skielik. Dit kan veroorsaak dat 'n mens 'n tipe trauma-reaksie ontwikkel, waar 'n mens oorbewus is van bedreiging en amper konstant wonder waar die volgende ramp of krisis vandaan gaan kom (hypervigilance). Die wêreld word 'n vreesaanjaende plek waar 'n aaklige ding enige tyd – onverwags – kan gebeur. Hierdie vrees en angs kan dit moeilik maak om deur die rouproses te werk, veral as daar meer as een verlies ter sprake is.
Moeilike en beter dae
Soos enige moeilike proses, is daar dae wanneer 'n mens voel jy kan dinge hanteer en moontlik ander dae wat jy nie eens uit die bed wil opstaan nie. Hierdie stryd kan sy tol eis op 'n mens se geestesgesondheid. Verhoudingsmaats sukkel dikwels met simptome van angs en depressie terwyl hulle hierdie ervaring beleef. Wees bedag op enige tekens hiervan. Lees meer deur die volgende skakels te volg: Depressiesimptome en Voltooi die HADS
'n Stremming op die verhouding
Niemand hanteer die rouproses dieselfde nie. 'n Mens se unieke styl waarmee jy hierdie tipe proses hanteer, het baie te doen met jou persoonlikheid, hanteringsmeganismes en sosiale verhoudings. Die een persoon mag dalk verkies om sy/haar proses so privaat as moontlik te hou, terwyl 'n ander een soveel moontlik van hul ervaring wil deel en selfs op sosiale media wil bekend maak. Die een mag dalk 'n behoefte hê om nie daagliks oor die verlies te praat nie, terwyl die ander gefrustreerd raak indien hy/sy nie soveel as moontlik oor die ervaring kan praat nie.
Elkeen mag dalk ook sy/haar goeie en slegte dae hê, wanneer hulle gekoester of alleen gelaat wil word, en het sy/haar eie snellers wat dalk die hartseer weer kan laat herleef. Dit is juis dan belangrik om die kommunikasiekanale oop te hou, sodat mens bewus kan wees van die ander persoon se behoeftes en in voeling kan bly met mekaar. Hoewel daar genoeg spasie vir elkeen se individuele proses moet wees, is dit ook nodig dat die verhoudingsmaats 'n manier vind om hierdie moeilike ervaring saam te hanteer.
Vermyding
Die verlies van 'n baba en/of die einde van 'n swangerskap is 'n hartseer ervaring. Dit gaan dikwels gepaard met trauma, bv. 'n noodoperasie, 'n kraamproses (wetende dat die baba nie meer lewe nie) en/of om 'n babatjie wat reeds dood is, vas te hou. Soos reeds genoem, kan dit mens laat met 'n bewustheid dat aaklige dinge onverwags kan gebeur. Sekere assosiasies kan ook emosionele reaksie ontlok. Dit kan byvoorbeeld moeilik wees vir 'n verhoudingspaar om te hoor of te sien dat 'n vriendin/familielid swanger is. Dit kan ook spanning veroorsaak om iemand 'n baba of kindjie, wat jou aan jou verlies herinner, te sien vashou. Selfs om die mense wat saam in die voorgeboorteklas was te sien, kan moeilik wees.
ADVIES
Raad aan die geliefdes van 'n verhoudingspaar wat 'n baba verloor het
Raad aan verhoudingsmaats
- Maak en breek
Elke huwelik/verhouding het sy goeie tye, slegte tye en uitdagings. Die hantering van die verlies van 'n baba, is vir seker 'n groot uitdaging. Dit kan 'n verhouding maak en breek. Indien die individue binne die verhouding mekaar die rug keer en toelaat dat die verlies 'n emosionele skeiding tussen hulle veroorsaak, kan dit die verhouding ernstig benadeel. Indien hulle eerder begrip toon vir mekaar en saam daardeur werk, kan dit hulle verhouding versterk. - Kommunikasie
Dit is van kardinale belang dat verhoudingsmaats met mekaar kan praat oor wat hulle voel en ervaar. 'n Verhouding kan baie verdiep deur so 'n krisis saam te hanteer. Oop kommunikasie en respek vir mekaar se behoeftes is belangrik. - Elkeen sy spasie
Elke verhoudingsmaat behoort sy/haar eie “spasie” te hê om die situasie op hul eie unieke manier te hanteer. Hulle hoef nie alles te deel of permanent in mekaar se geselskap te wees om kontak met mekaar te behou nie. Laat elkeen toe om ook tyd te spandeer met haar-/homself en haar/sy emosies. Vind meer praktiese raad deur op die volgende skakel te klik: Hantering van die verlies
Raad aan iemand wat buite die verhouding staan
- Wat moet ek doen?
Jy kan nie die probleem wegneem of oplos nie. Jy kan egter “teenwoordig” en beskikbaar wees om 'n “veilige spasie” vir jou vriend(in) of familielid te skep. - Emosies is belangrik, luister net
Gee haar/hom genoeg tyd om hartseer, woede (of enige ander emosie) te voel en te verwoord. Moenie probeer om iets te sê wat dit “gaan beter maak” nie. Wees beskikbaar, maar wees ook eerlik oor wat jy kan bied. - Reël 'n “uitstappie vir die siel”
Soms het die persoon dalk nodig dat iemand hom/haar 'n wyle uit hul situasie neem om net weer iets moois te waardeer, bv. om langs die see te gaan stap, of in 'n rustige tuin of park tee te drink. Vra gerus of sy/hy sal saamgaan as jy so iets reёl. Jy kan dit aanbied, maar aanvaar ook as die antwoord “nee” is. - Bied 'n veilige plek
Soms het iemand net nodig om te weet hulle is iewers welkom. Die persoon kan byvoorbeeld tyd saam met jou/in jou huis spandeer, maar hulle hoef nie te praat nie. Hulle kan maar net “wees”. - Vra as jy nie weet nie
As jy nie weet hoe om ondersteuning te bied nie, vra die persoon wat hul behoefte is en hoe jy kan help. Selfs al kan die persoon nie die vraag beantwoord nie, beteken dit baie dat jy belang stel en wil help. - Bied praktiese hulp aan
Mens wat deur verlies geraak word, het veral in die beginfase nie die energie om te dink aan eenvoudige takies nie, selfs al het hulle die tyd daarvoor. Dit kan baie beteken as iemand na 'n basiese behoefte kan omsien. Weer eens moet 'n mens altyd eers vra en respek hê vir die persoon se wense. 'n Mens kan nie net aanneem hulle wil hulp hê nie.
Dus, vra byvoorbeeld of jy: - 'n maaltyd kan bring;
- die ander kinders (indien enige) kan skool toe vat;
- die huishulp kan gaan haal of na openbare vervoer kan neem;
- 'n paar bondels wasgoed kan was;
- die skottelgoed kan was;
- 'n paar oproepe kan maak om reëlings te tref;
- kruideniersware kan koop of iets by die apteek kan afhaal;
- indien daar ander kinders is, kan dit dalk welkom wees indien jy hulle kan gaan haal vir 'n speelafspraak.
NOODMAATREËLS
- skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
- gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
- skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
- kontak Wie is ek?