Mansgeestesgesondheid
Onthou
Dit is ook belangrik om die nodige stappe te doen om fisieke gesondheid te handhaaf, bv. gereelde deeglike mediese ondersoeke te laat doen en medikasie, soos voorgeskryf deur 'n dokter, te neem.

ALGEMEEN

Wat is mansgeestesgesondheid?

Mansgeestesgesondheid verwys na die sielkundige welstand van mans en sluit in hoe verskillende lewensfases en -fasette soos o.m. werk, verhoudings, liggaamlike gesondheid en veroudering hulle affekteer.

WAAROM IS DIT BELANGRIK?

Waarom is dit belangrik?

Tradisioneel word daar baie klem op die emosionele welsyn en geestesgesondheid van vroue geplaas, en in praktyk was daar nog altyd meer vroue wat sielkundiges besoek het as mans. Hierdie tendens is gelukkig besig om te verander, maar dit is steeds nodig om mans bewus te maak dat dit aanvaarbaar en nodig is om aandag aan hul eie geestesgesondheid te gee en hulle aan te moedig om, wanneer nodig, hulp te vra.

GEVAARTEKENS

Hoe weet ek ek het 'n probleem?

Indien jy of 'n geliefde sommige van hierdie gevaartekens toon, is dit belangrik om te onthou dat hulp beskikbaar is, en dat die meeste sielkundige toestande behandelbaar is.

Daar is talle tekens wat kan dui op 'n geestesgesondheidsprobleem. Hier volg 'n paar wat as waarskuwings geag behoort te word:

  1. toenemende irritasievlakke
  2. woedebuie
  3. plofbaarheid
  4. lusteloosheid
  5. gebrek aan energie
  6. toename in die gebruik van alkohol/dwelms/verdowende medikasie
  7. herhalende hoofpyne
  8. slaapversteurings
  9. te veel slaap
  10. onttrek jouself meer as gewoonlik aan mense
  11. geniet nie meer die dinge wat voorheen geniet is nie
  12. is meer emosioneel as normaalweg
  13. kry aanhoudend nagmerries
  14. voel verward
  15. toename in impulsiewe gedrag
  16. begin onverantwoordelik risiko’s neem
  17. eetlus neem noemenswaardig toe of af
  18. gewigsverlies of -toename
  19. sukkel om te konsentreer en of te onthou
  20. libido neem drasties af, of is hoër as gewoonlik

ADVIES

Hoe help ek my manlike eggenoot of 'n geliefde? – advies aan familielede en geliefdes

Kommunikasie
Dit is dikwels vir mense moeilik om te erken dat daar iets verkeerd is en dat hulle nie emosioneel goed voel nie. Dit is belangrik dat 'n persoon besef dat dit in orde is om nie “in beheer” te voel nie – en dat hulle nie daarvoor veroordeel sal word nie. Die begrip en ondersteuning van geliefdes kan baie help om iemand wat geestesgesondheidprobleme ervaar, te help om oor hul probleme te praat.

Moedig hom aan om hulp te vra
Dit is belangrik dat hy weet dat professionele hulp beskikbaar is en dat die behoefte aan, en uitreik na, hulp nie gesien word as 'n swakheid nie, maar 'n wyse besluit is. 'n Goeie beginpunt is 'n volledige mediese ondersoek om seker te maak daar is nie fisieke redes vir die ongemak of probleme nie. Indien geen fisieke probleme geïdentifiseer is nie, kan die huisdokter die persoon na 'n sielkundige verwys vir verdere evaluering.

Volg gerus een van die volgende skakels vir die kontakbesonderhede van ʼn sielkundige in jou omgewing:

  1. http://www.findhelp.co.za/
  2. http://www.samedicalspecialists.co.za/
  3. http://www.medpages.co.za/sf/index.php?page=homepage
  4. kontak Wie is ek?

Die sielkundige kan die persoon assesseer en bepaal of 'n verwysing na 'n huisdokter of psigiater (vir medikasie) nodig is.

Wees geduldig
Dit neem lank om van 'n geestestoestand te herstel. Maak seker jy verstaan sélf die diagnose, sodat jy ingelig kan wees oor wat om te verwag. Om te luister en te probeer verstaan, is 'n goeie manier om jou geliefde op sy pad na genesing te ondersteun.

Kyk mooi na jouself!
Dit is nie altyd maklik om saam met iemand te leef wat met 'n geestesgesondheidsprobleem gediagnoseer is nie. Dit is daarom belangrik dat jy jou emosionele “tenk” probeer vul deur tyd te maak om die dinge te doen wat jy as opbouend ervaar. Stel ook die nodige grense binne die verhouding om jouself emosioneel te beskerm.

SELFBESTUUR

Wat kan ek doen om myself as man te help?

Wees eerlik
Die eerste stap is altyd erkenning – erken dat jy 'n probleem het en hulp nodig het. Dit is nie maklik nie, want 'n mens maak jouself kwesbaar indien jy so 'n erkenning maak. Daar is egter nie 'n ander manier om die pad na herstel aan te durf nie.

Praat met jou geliefde of 'n vriend
Indien jy so bevoorreg is om 'n geliefde of 'n goeie vriend te hê, is dit nodig dat jy dit wat jy beleef en wat jy nodig het, met haar/hom deel. Daar is waarskynlik nie baie wat hulle kan doen of sê om jou te laat beter voel nie, maar op die lange duur gaan jy die ondersteuning nodig hê. Boonop kan jy die verhouding benadeel deur te onttrek en nie jou ware gevoelens te deel nie. Jy hoef natuurlik nie met almal hieroor te praat nie, slegs met diegene die naaste aan jou.

Vra om hulp
Moenie huiwer om vir professionele hulp aan te klop nie. Soos hier bo bespreek, is dit tot jou eie en jou geliefdes se voordeel om jou geestestoestand te identifiseer en in samewerking met professionele mediese praktisyns te hanteer.

Wees geduldig en hou aan
Geestesgesondheidprobleme duik nie sommer skielik op nie – dit ontwikkel oor 'n tydperk. Daarom klaar dit gewoonlik ook nie oornag op nie. Daar bestaan ook geen wonderkuur wat onmiddellike én volhoubare resultate sal oplewer nie. Die herstelproses neem tyd en verg geduld en deursettingsvermoë. Dit is egter belangrik om deurentyd jou verwagtinge, ervarings (frustrasies en teleurstellings) met jou behandelingspan (bv. dokter, sielkundige, psigiater) te deel sodat hulle jou kan help om die pad na herstel aan te durf. Soms moet 'n mens deur probeer-en-tref (trial and error) vorder tot 'n benadering wat vir jou werk.

'n Gesonde leefstyl is belangrik
Om geestesgesondheidsprobleme effektief te hanteer, verg gewoonlik ʼn gesonde, gebalanseerde leefstyl. Dit beteken dat daar tyd afgestaan moet word aan selfversorging. Gereelde oefening of fisieke aktiwiteite soos stap of draf, tyd om te ontspan en ʼn gebalanseerde dieet word gewoonlik voorgestel. Sekere kossoorte (bv. kaffeïen, geprosesseerde kosse, verfynde suikers) en middels (soos alkohol en dwelms), kan simptome vererger en moet daarom beperk word.

NOTAS

VIDEOS

Egskeiding en kinders - hoe moet jy as ouer optree?
Egskeiding en kinders - hoe moet jy as ouer optree?
Manipulasie - wat moet jy weet.
Manipulasie - wat moet jy weet.
Angs vs. Stres - wat (en hoekom) moet jy weet.
Angs vs. Stres - wat (en hoekom) moet jy weet.
'n Beter verhouding? - wat kan mens doen?
'n Beter verhouding? - wat kan mens doen?
Wat as mense nie van jou hou nie?
Wat as mense nie van jou hou nie?
Die mag van beheer - wanneer om beheer te neem of te laat gaan.
Die mag van beheer - wanneer om beheer te neem of te laat gaan.
previous arrow
next arrow
Egskeiding en kinders - hoe moet jy as ouer optree?
PlayPlay
Manipulasie - wat moet jy weet.
PlayPlay
Angs vs. Stres - wat (en hoekom) moet jy weet.
PlayPlay
'n Beter verhouding? - wat kan mens doen?
PlayPlay
Wat as mense nie van jou hou nie?
PlayPlay
Die mag van beheer - wanneer om beheer te neem of te laat gaan.
PlayPlay
previous arrow
next arrow
Het jy geweet?
75% van selfdoodgevalle in die VSA kom onder mans voor. Volgens navorsing is verstedeliking, werkloosheid en armoede bydraende faktore tot hierdie ysingwekkende statistiek. In 2016 was daar 5668 gevalle van selfdood in Groot Brittanje, waarvan 76% mans en 24% vroue was.
Interessant!
In 'n onlangse studie is bevind dat mans en vroue deesdae ewe veel werk-huis-konflik ervaar, m.a.w. voel dat die eise van hul gesinslewe, sowel as dié van hul werkomgewing, druk op hulle plaas en tot innerlike en uiterlike konflik en stres aanleiding gee.
Lees meer hieroor op: ScienceDaily

Relevante artikels

Histrioniese persoonlikheidsversteuring
Verhoudings

Ontkenning kan die beste van ons fnuik, so hoe kan mense hulle verhoudings “toets” om te sien of dit goed of sleg is vir hulle?

previous arrow
next arrow

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?