Sukkel om kinders te kry
|
Het jy geweet?
Een uit elke vier verhoudingspare in ontwikkelde lande word geaffekteer deur infertiliteit.
Reproductive health Ongeveer 15% van Suid-Afrikaanse verhoudingspare sukkel met infertiliteit. Infertility (Health 24) |
ALGEMEEN
Sukkel om kinders te kry
Sommige paartjies wil eers wag en hul lewe saam geniet voordat hulle kinders kry, ander wil so gou moontlik begin met 'n gesin. Vir sommige gebeur swangerskap onverwags en onbepland. Maar, hoe hanteer ons dit as ons sukkel om kinders te kry?
'n Emosionele stryd
Dit is 'n groot emosionele uitdaging vir verhoudingsmaats indien hulle sukkel om swanger te raak. Dit kan met baie onsekerheid en vrae gepaard gaan, bv.: “Sal ons ooit kan kinders kry?”; “Wanneer sal dit gebeur?”; en “Wat is fout met my/ons?”
Hierdie emosionele wipplank affekteer elke persoon verskillend.
Regulering in die slaapkamer
Een ervaring waarvan ons gereeld in die praktyk hoor, is dat die spontaniteit en plesier van intimiteit in verhoudings verlore raak. Elke maand word daar noukeurig dopgehou wanneer ovulasie plaasvind en dus wanneer die optimale tyd is vir bevrugting. Daar is dan baie druk om juis in hiérdie periode intiem te verkeer, om sodoende die beste kans te hê om swanger te raak. Afsprake word daarvolgens geskeduleer, planne word gemaak, wekkers gestel, ens. Seks voel dan dikwels soos 'n “werk” of 'n “verpligting”, en nie soos 'n plesier nie. Soms is een van die verhoudingsmaats meer gemotiveerd as die ander. Dit kan lei tot heelwat konflik en ongelukkigheid.
'n Maandelikse verlies
Elke maand wanneer menstruasie – ten spyte van die pogings om swanger te raak – plaasvind, voel dit opnuut soos 'n verlies en ontketen dit weer hartseer en vrae. Hierdie proses gaan ook telkens gepaard met een of meer miskrame, wat die rouproses vererger.
Moeilike en beter dae
Soos enige moeilike proses, is daar dae wanneer 'n mens voel jy kan dinge hanteer en ander dae wat jy nie eens uit die bed wil opstaan nie. Hierdie stryd kan sy tol eis op 'n mens se geestesgesondheid. Verhoudingsmaats sukkel dikwels met simptome van angs en depressie terwyl hulle probeer om swanger te raak.
Party dae kan 'n mens heel goed begin, maar 'n herinnering aan jou probleem, bv. om 'n swanger vrou te sien, of uit te vind 'n familielid verwag 'n baba, kan 'n warboel van emosies ontketen.
Sonder hoop
Verhoudingspare wat sukkel om kinders te kry, gaan deur 'n emosionele op-en-af stryd. Die aanhoudende druk en bekommernis, sowel as die hartseer wat daarmee gepaard gaan, kan daartoe lei dat hulle voel dat hulle geen hoop het nie. Dit kan ook voel asof dinge nooit gaan verbeter nie. Stelselmatig kan dit lei tot uitbranding en depressie. Wees bedag op en lees meer oor hierdie tekens op die volgende skakels: Depressiesimptome en Voltooi die HADS
Stremming op die verhouding
Soos genoem, kan die regulering en beheer van intimiteit druk op 'n verhouding plaas. Die talle vrae, skuldgevoelens, asook die rouproses, kan soortgelyke uitdagings bied. Dit is juis dán baie belangrik om voortdurend die kommunikasiekanale oop te hou en tyd en aandag aan die verhouding te gee.
ADVIES
Raad aan die geliefdes van 'n vrou wat sukkel om kinders te kry
Vir die verhoudingsmaats
- Maak en breek
Elke huwelik/verhouding het sy goeie en slegte tye, asook uitdagings. Die hantering van “sukkel om kinders te kry”, is vir seker 'n groot uitdaging. Dit kan 'n verhouding maak en breek. Indien die individue binne die verhouding mekaar die rug keer en toelaat dat daar 'n emosionele skeiding tussen hulle ontstaan, kan dit die verhouding ernstig benadeel. Indien hulle eerder begrip toon vir mekaar, en saam daardeur werk, kan dit hul verbintenis versterk. - Kommunikasie
Dit is van kardinale belang dat verhoudingsmaats met mekaar kan praat oor wat hulle voel en ervaar. 'n Verhouding kan baie verdiep deur so 'n krisis saam te hanteer. Oop kommunikasie en respek vir mekaar se behoeftes is belangrik. - Elkeen sy spasie
Elke verhoudingsmaat behoort sy/haar eie “spasie” te hê om die situasie op hul eie unieke manier te hanteer. Hulle hoef nie alles te deel of permanent in mekaar se geselskap te wees om kontak met mekaar te behou nie. Laat elkeen toe om ook tyd te spandeer met haar-/homself en haar/sy emosies.
Raad vir iemand wat buite die verhouding staan
- Wat moet ek doen?
Jy kan nie die probleem wegneem of oplos nie. Jy kan egter “teenwoordig” en beskikbaar wees om 'n “veilige spasie” vir jou vriend(in) of familielid te skep. - Emosies is belangrik, luister net
Gee haar/hom genoeg tyd om hartseer, woede (of enige ander emosie) te voel en te verwoord. Moenie probeer om iets te sê wat dit “gaan beter maak” nie. Wees beskikbaar, maar wees ook eerlik oor wat jy kan bied. - Reël 'n “uitstappie vir die siel”
Soms het die persoon dalk nodig dat iemand hom/haar 'n wyle uit hul situasie neem om net weer iets moois te waardeer, bv. om langs die see te gaan stap, of in 'n rustige tuin of park tee te drink. Vra gerus of sy/hy sal saamgaan as jy so iets reёl. Jy kan dit aanbied, maar aanvaar ook as die antwoord “nee” is. - Bied 'n veilige plek
Soms het iemand net nodig om te weet hulle is iewers welkom. Die persoon kan byvoorbeeld tyd saam met jou/in jou huis spandeer, maar hulle hoef nie te praat nie. Hulle kan maar net “wees”. - Vra as jy nie weet nie
As jy nie weet hoe om ondersteuning te bied nie, vra die persoon wat hul behoefte is en hoe jy kan help. Selfs al kan die persoon nie die vraag beantwoord nie, beteken dit baie dat jy belang stel en wil help.
NOODMAATREËLS
- skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
- gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
- skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
- kontak Wie is ek?