Egskeiding
Belangrik!
'n Mens moet jouself die tyd en ruimte gun om deur die rouproses te werk en dit nie probeer ontken of onderdruk nie.

ALGEMEEN

Die einde van ’n verhouding het 'n groot impak

Wanneer 'n huwelik of 'n ernstige intieme verhouding tot 'n einde kom, is daar soveel aspekte van 'n mens se lewe wat geraak word. Sommige mense ervaar dalk 'n gevoel van verligting, ander voel asof hul wêreld in duie stort (en ervaar 'n gevoel van verlatenheid – asof hulle hul gevoel van sekuriteit verloor het), ander beleef 'n kombinasie van ervarings.

Daar is waarskynlik ook aanpassings wat gemaak moet word, bv. verandering van woonplek, roetine, hantering van die kinders, finansiële reëlings wat getref moet word, ens. (Sien ook Aanpassings) Gewoonlik gaan dit ook gepaard met die ervaring van 'n aantal ander verliese.

Verliese
Die ooglopende verlies is seker die van 'n maat of companion, dié iemand wat altyd daar was, dalk 'n beste vriend of vriendin. Hierdie verlies kan 'n groot gaping in 'n mens se lewe laat.

Daar is ook ander verliese ter sprake, soos die verlies van 'n lewenstyl, sekere vriende / groepe vriende, sekere gewoontes of roetines. Die verwerkingsproses kan dalk baat daarby om 'n lys te maak van die dinge wat mens voel jy verloor het, amper asof jy jouself daaraan herinner dat jy oor die verliese mag hartseer wees en rou.

Identiteitskrisis
Baie vroue (en mans) voel dat hulle 'n deel van hul identiteit verloor wanneer 'n verhouding eindig, want 'n groot deel van hoe hulle hulself gedefinieer het, was vervleg met hul verhouding en hul rol binne die verhouding. Skielik is daar soveel onsekerhede, waarvan vertwyfeling oor “wie” hulle (as enkellopende) is, 'n groot deel kan wees.

Die proses waardeur 'n mens jouself ná die trauma leer ken, is soms lank en moeilik. Ons hoor ook dikwels dat mense sê dat hulle weer hulle “ou self” wil vind. Daar is dalk eienskappe wat onderdruk was in die verhouding, of belangstellings wat nie uitgeleef kon word nie. 'n Mens moet ook in ag neem dat daar dele van jouself sal wees wat verander het. Daarom is dit dalk ook 'n ontdekkingsproses waartydens 'n mens die nuwe jy moet leer ken en waardeer. Dit is belangrik om vir jouself tyd te gun om hierdie proses te deurleef.

Trauma
Afhangende van die verloop van die verhouding en hoe dit geëindig het, kan daar ook traumatiese ervarings wees wat verwerk moet word. Waar daar byvoorbeeld mishandeling of ontrouheid was, is daar gewoonlik baie pyn (en soms woede) wat hanteer moet word.

Dit is belangrik om eerlik met jouself te wees oor die effek wat die ervarings op jou gehad het. Om die pyn te ontken (die pyn bestaan nie), te minimaliseer (die pyn is nie so erg nie) of te onderdruk (watter pyn?), gee gewoonlik op die lange duur aanleiding tot ander probleme. Dit kan 'n mens kwesbaar maak vir simptome van angs, depressie en selfs alkohol- of middelmisbruik. Juis dáárom is dit meestal nodig om professionele hulp hiervoor te kry, sodat 'n mens die trauma kan verwerk.

HANTERING VAN VERLIES

Hantering van die verlies

  1. Erken die verlies
    Of die gebeurtenis die einde van 'n verhouding (jou keuse of nie), die verlies van 'n droom, of 'n baba, was – daar is altyd 'n mate van “afstand doen van iets” betrokke. Vir sommige is die ervaring van die verlies dalk meer intens as vir ander, maar dit is belangrik dat jy eerlik is met jouself oor die omvang van die emosie wat jy ervaar.
    Dit is gewoonlik nie net klein aanpassings wat gemaak moet word nie en jy is nie oorsensitief as jy rousmart as gevolg hiervan ervaar nie. Gee jouself genoeg tyd om oor jou verlies te rou.
  2. Gee aandag aan jou gevoelens
    Soos genoem onder verliese, ervaar 'n mens verskillende emosies op verskillende tye. Gee jouself toestemming om kwaad, hartseer, teleurgesteld, angstig, mismoedig, ens. te voel en dit op 'n manier te verwoord wat nie jouself, of iemand anders, skade berokken nie, bv. deur te huil of 'n brief (wat jy nooit stuur nie) te skryf. Indien jy jou emosies onderdruk, kan dit op die lang termyn baie nadelig wees vir jou geestesgesondheid. Dit is dus belangrik om te praat oor jou gevoelens en dit wat jy ervaar.
  3. Moenie ander mense uitsluit nie
    Dit is nodig om soms alleen te wees, maar daar is gewoonlik mense rondom jou wat jou graag wil ondersteun. Hulle kan nie die verlies wegneem nie, maar kommunikeer jou behoeftes aan hulle en laat hulle toe om jou op 'n gepaste manier te ondersteun. Jy kan ook verwag dat ander mense nie altyd weet wat om te sê nie – en soms die verkeerde dinge sal sê. Dit is te verwagte, aangesien niemand regtig iets kan sê wat die seer gaan wegvat nie.
  4. Neem tyd
    Jou omstandighede laat dalk nie toe dat 'n mens 'n blaaskans kan neem om jou verlies te hanteer nie. Die lewe gaan aan en 'n mens het gewoonlik talle verantwoordelikhede om na te kom. Dit is egter belangrik om te onthou dat die verwerking van 'n verlies nie 'n vinnige proses is nie. Jy moet jouself dus die grasie gee om te rou en nie probeer om te vinnig aan te beweeg of groot besluite te neem nie.
  5. Wees kreatief of skeppend
    Vir sommige mense help dit om iets kreatief of simbolies te doen as deel van hul rouproses. Daar is voorbeelde van vroue wat scrapbooking-klasse of -groepe bywoon, of kunsklasse neem (of kunsterapie doen) waartydens hulle iets van hul rouproses kan uitbeeld, wat kan help met die verwerkingsproses.
  6. Ondersteuningsgroepe
    Party mense vind ook dat ondersteuningsgroepe baie vir hulle beteken. 'n Mens kan aanlyn soektogte onderneem om spesifieke groepe in jou omgewing te vind. Hou gerus die kennisgewingbord in jou plaaslike biblioteek, jou kerk se nuusblad of die plaaslike koerant dop. Daar is gewoonlik meer ondersteuning beskikbaar as waarvan 'n mens bewus is.
  7. Vra professionele hulp
    'n Mens kan op enige stadium van hierdie proses aanklop vir professionele hulp, want dit help dikwels om met iemand wat nie emosioneel by jou situasie betrokke is nie, te praat. MAAR, die meeste mense soek professionele hulp wanneer hulle voel hulle het 'n doodloopstraat bereik en 'n al donker wordende gemoed ervaar. In hierdie stadium weet die mense rondom hulle dikwels nie meer wat om te sê nie. Indien jy hierdie stadium in jou rouproses bereik het, is dit baie belangrik om so gou moontlik jou huisdokter of 'n sielkundige te kontak. Jy is nie 'n swakkeling as jy uitreik na 'n professionele persoon vir hulp nie.

HULP

  1. vra jou huisdokter of naaste hospitaal vir 'n verwysing; of
  2. besoek een van die volgende webtuistes vir die besonderhede van 'n sielkundige in jou omgewing:
    1. Findhelp
    2. SA Medical Specialists
    3. Medpages
    4. kontak die Wie is ek?-sentrum.
  3. jy kan ook die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) se 24-uur-hulplyn skakel by 0800 12 13 14.

ADVIES

Raad aan die geliefdes van 'n persoon wat 'n verlies ervaar (iemand wat buite die verlies staan)

  1. Wat moet ek doen?
    Eerstens is dit die persoon se rouproses. Dit is niemand anders se verantwoordelikheid om dit te probeer beter maak nie. 'n Verlies is 'n verlies en al manier wat mens daardeur kan kom, is om deur die rouproses te gaan.
  2. Emosies is belangrik, luister net
    Gee haar/hom genoeg tyd om hartseer, woede (of enige ander emosie) te voel en te verwoord. Moenie probeer om iets te sê wat dit “gaan beter maak” nie. Wees beskikbaar, maar wees ook eerlik oor wat jy kan bied.
  3. Reël 'n “uitstappie vir die siel”
    Soms het die persoon dalk nodig dat iemand hom/haar 'n wyle uit hul situasie neem om net weer iets moois te waardeer, bv. om langs die see te gaan stap, of in 'n rustige tuin of park tee te drink.
  4. Bied 'n veilige plek
    Soms het iemand net nodig om te weet hulle is iewers welkom. Die persoon kan byvoorbeeld tyd saam met jou/in jou huis spandeer, maar hulle hoef nie te praat nie. Hulle kan maar net “wees”.
  5. Vra as jy nie weet nie
    As jy nie weet hoe om ondersteuning te bied nie, vra die persoon wat hul behoefte is en hoe jy kan help. Selfs al kan die persoon nie die vraag beantwoord nie, beteken dit baie dat jy belang stel en wil help.
  6. Bied praktiese hulp aan
    'n Mens wat deur verlies geraak word, het veral in die beginfase nie die energie om te dink aan eenvoudige takies nie, selfs al het hulle die tyd daarvoor. Dit kan baie beteken as iemand na 'n basiese behoefte kan omsien. Weer eens moet 'n mens altyd eers vra en respek hê vir die persoon se wense. 'n Mens kan nie net aanneem hulle wil hulp hê nie.
    Dus, vra byvoorbeeld of jy:
    1. 'n maaltyd kan bring;
    2. die kinders (indien enige) kan skool toe vat;
    3. die huishulp kan gaan haal of na openbare vervoer kan neem;
    4. 'n paar bondels wasgoed kan was;
    5. die skottelgoed kan was;
    6. 'n paar oproepe kan maak om reëlings te tref;
    7. kruideniersware kan koop of iets by die apteek kan afhaal; en/of
    8. indien daar kinders is, kan dit dalk welkom wees indien jy hulle kan gaan haal vir 'n speelafspraak.

{ Hoe kan ons jou help? }

SADAG

Hierdie organisasie het'n kragtige span psigiaters, sielkundiges
en algemene praktisyns. Kontak hul
tolvrye 24-uur-hulplyn
by 0800 12 13 14
Kontak SADAG

Good Hope

Die Good Hope Psychological Service (GHPS) word vir staatspasiënte vanaf die Stellenbosch Hospitaal, asook die TC Newman-hospitaal in die Paarl, bedryf. Kontak hulle by 021 887 7913
Kontak Good Hope

Het jy 'n vraag

Het jy ‘n vraag vir ‘n professionele persoon? Stuur jou vraag hier en iemand sal jou so gou moontlik kontak. Hierdie is 'n gratis diens wat ons aanbied aan die Suid-Afrikaanse publiek. Alle briewe word vertroulik hanteer.

Facebook

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 12 13 14 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak die Wie is ek?-sentrum.