Dwelmverslawing
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde dwelmverslawing het, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hul van professionele persoon inroep.

ALGEMEEN

Wat is Dwelmverslawing?

Dwelmafhanklikheid (soms ook dwelmverslawing genoem) word gediagnoseer wanneer die gebruiker voel hy of sy moet dwelmmiddels gebruik om normaal te kan funksioneer, ten spyte van die persoonlike, fisieke en interpersoonlike probleme wat daardeur veroorsaak word. Wanneer hierdie dwelm/s nie beskikbaar is nie, ervaar die persoon onttrekkingsimptome. Aanhoudende gebruik lei gewoonlik tot fisieke toleransie, wat veroorsaak dat al hoe meer gebruik moet word om dieselfde effek te kry.

Dwelmafhanklikheid kan gediagnoseer word met of sonder fisieke afhanklikheid. Navorsing toon dat diegene wat vroeg met dwelmgebruik begin het (14 jaar en jonger) waarskynlik vroeg reeds ernstige probleme met dwelmgebruik sal ontwikkel. Dit geld vir alle vorms van dwelmmisbruik, maar spesifiek wat alkohol betref.

SIMPTOME

WAT IS DIE SIMPTOME VAN DWELMVERSLAWING?

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word:

Om diagnoseerbaar te wees, moet die volgende simptome voorkom:

  1. Afhanklikheid: Drie of meer van die volgende simptome binne ‘n 12 maande periode:
    1. Toleransie – toename in gebruik van die middel, met geleidelike vermindering van die effek.
    2. Fisieke onttrekkingsimptome, en kortstondige verdwyning van die simptome sodra die dwelm gebruik word.
    3. Die middel word in ‘n groter mate en vir langer tydperke gebruik as wat aanvanklik beplan is.
    4. Konstante behoefte of onsuksesvolle pogings om die gebruik van dwelm te staak.
    5. Baie tyd en energie word daaraan bestee om die dwelm in die hande te kry, te gebruik en van onttrekkingsimptome te herstel.
    6. Belangrike sosiale en werkverpligtinge en vryetydaktiwiteite word verminder of opgegee.
    7. Gereelde gebruik, ten spyte van die bewustheid van die gevare daarvan.
  2. Misbruik: Een of meer van die volgende simptome binne ‘n 12 maande periode:
    1. Aanhoudende gebruik, wat lei tot die onvermoë om belangrik take by die werk, skool of huis uit te voer.
    2. Aanhoudende gebruik in potensieel gevaarlike situasies (bv. motorbestuur).
    3. Herhaalde botsings met die gereg as gevolg van dwelmgebruik.
    4. Voortdurende gebruik ten spyte van sosiale of interpersoonlike probleme wat deur die gebruik veroorsaak word.

BEHANDELING

BEHANDELING VAN DWELMVERSLAWING

  1. Hoekom is behandeling nodig vir dwelmverslawing?
    Dwelmverslawing verwoes fisieke en breinstrukture en kan tot ernstige fisieke toestande of selfs die dood lei. Dit is dus uiters belangrik om behandeling te ondergaan. Rehabilitasie werk die beste in ‘n kliniek, wat privaat bedryf of deur die staat ondersteun word (bv. Claro Kliniek).
  2. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
    Omdat dwelmverslawing so kompleks is, sou ons jou aanraai om jou slegs deur ‘n algemene praktisyn, kliniese sielkundige of psigiater te laat toets en diagnoseer. Hulle is opgelei om verskillende verslawings te behandel.
  3. Watter rol speel ‘n sielkundige in my behandeling?
    ‘n Sielkundige kan dwelmverslawing diagnoseer, en in samehang met ander mediese spesialiste psigoterapeuties behandel. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om ‘n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. ‘n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met ‘n psigiater in spanverband.

ADVIES

ADVIES VIR GELIEFDES EN FAMILIELEDE WAT SAAM MET IEMAND WOON OF WERK WAT GEDIAGNOSEER IS MET DWELMVERSLAWING

As ‘n geliefde of vriend(in) gediagnoseer word met verslawing, kan jou ondersteuning en motivering ‘n baie belangrike rol speel in die aanvaarding en hantering van hulle diagnose. Hier is riglyne hoe jy ‘n individu kan bystaan:

  1. Wees geduldig. Mense wat onder die aanslag van ‘n verslawing verkeer, het nie altyd die vermoë om te sê hoe hulle voel of wat hulle ervaar nie. Gee hulle ‘n kans om eers gewoond te raak aan die diagnose, en om geleidelik ‘n daadwerklike plan uit te werk om hulle lewe voortaan te bestuur.
  2. Wees ingelig oor verslawing. Hoe meer jy en jou geliefde, familielid of kollega van die siekte weet en verstaan, hoe meer kan julle saamwerk aan ‘n plan om die persoon te ondersteun en die siekte te bestuur.
  3. Vra wat jou geliefde van jou verwag. ‘n Mens kan maklik dink jy weet wat die beste vir ‘n ander persoon is, maar die maklikste is om te vra hoe hy of sy wil hê jy moet optree
  4. Luister na hom of haar en moenie konstant raad gee of met logika probeer redeneer nie. Dit is belangrik dat die persoon self verantwoordelikheid neem vir die verslawing en die effek wat dit op sy of haar lewe gaan hê. Wanneer iemand keuses namens iemand anders maak, kan dit dalk veroorsaak dat die persoon afhanklik raak van jou en dan nie self die verslawing wil beveg nie. Dit is nie jóú verslawing nie, maar jou geliefde s’n. Luister is wel ‘n wonderlike manier om jou geliefde te ondersteun.
  5. Leer ken die tekens en die simptome sodat jy vroegtydig kan optree. Almal se simptome van verslawing manifesteer nie op dieselfde manier nie, so dit is baie belangrik om te verstaan hoe die persoon in jou lewe se simptome manifesteer. Wanneer jou geliefde se gemoed byvoorbeeld skielik verander, kan jy solank maatreëls begin tref.
  6. Neem deel aan fisieke aktiwiteite saam met die individu. Dit is nie ‘n cliché dat gereelde oefening mense met sielkundige diagnoses help nie. Oefening verlig spanning en angstigheid, en help met die produksie van oordragstowwe wat lae gemoed beveg. Gereelde oefening is dus eintlik ‘n suksesvolle antidepressant.
  7. Moedig ‘n gesonde eet- en slaappatroon aan. ‘n Gevestigde roetine help nie net die persoon om hul verslawing te bestuur nie, maar help ook om tekens/simptome vroegtydig raak te sien.
  8. Kyk mooi na jouself! Onthou, ‘n persoon met ‘n verslawing kan jou ook negatief beïnvloed deur jou by hul verslawing te betrek. Om saam met ‘n persoon te leef wat vir verslawing behandel word kan frustrerend, uitputtend en soms chaoties voel. Maak tyd vir jouself ook.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?