Verslawing
|
ALGEMEEN
WAT IS 'n VERSLAWING?
Wanneer 'n persoon 'n middel inneem (bv. alkohol of dwelms) of deelneem aan 'n genotvolle aktiwiteit (bv. eet, dobbel, seks) waar herhaalde betrokkenheid by die middel of aktiwiteit kompulsief raak en die normale funksionering van die persoon beïnvloed, praat ons van verslawing. Mense met verslawing weet soms nie dat hulle gedrag buite beheer is nie. Hulle kom dikwels nie agter dat dit probleme in hul lewens veroorsaak nie.
Danksy die wetenskap het die uitkyk op verslawing dramaties verander. Ons weet nou dat verslawing 'n versteuring is wat beide die brein en gedrag affekteer.
OORSAAK
WAT VEROORSAAK 'N VERSLAWING?
Verslawing oefen 'n lang en kragtige invloed op die brein uit, op drie verskillende maniere:
- Drang (craving) na die objek van verslawing.
- Verlies aan beheer oor gebruik van die objek.
- Aanhoudende betrokkenheid ten spyte van negatiewe gevolge.
Vir baie jare het kenners geglo dat slegs alkohol en dwelms tot verslawing kan lei. Tegnologie wys nou dat aktiwiteite wat genot bring ook tot verslawing kan lei, byvoorbeeld eet, dobbel en seks.
Navorsing oor die toestand duur steeds voort, maar 'n kombinasie van medikasie en pisgoterapeutiese behandeling (om 'n sielkundige te gaan spreek) kan die simptome grootliks verlig en die persoon se lewenskwaliteit verbeter.
BEHANDELING
ALGEMENE INLIGTING OOR BEHANDELING VAN VERSLAWING
- Hoekom is behandeling nodig vir verslawing?
Sonder die regte behandeling kan die simptome van verslawing geleidelik vererger. Verslawing kan in dié opsig met ander siektes, bv. diabetes, vergelyk word. Albei vereis deurlopende farmakologiese behandeling (medikasie) en monitering deur 'n professionele persoon, en die resultate is oor die algemeen heelwat beter as die persoon gereeld psigoterapie by 'n sielkundige ontvang. Professionele behandeling is uiters belangrik vir enigiemand wat gediagnoseer is met 'n verslawing omdat daar 'n sterk chemiese onderbou van simptome is en dit moeilik is om die simptome onder beheer te hou (dit kan m.a.w. eskaleer) sonder medikasie en/of psigoterapie. - Wie kan my of 'n geliefde diagnoseer?
Alle sielkundige diagnoses is kompleks; daarom raai ons jou aan om slegs deur 'n kliniese sielkundige of psigiater getoets en gediagnoseer te word. Hulle is opgelei om verskillende verslawings te behandel. - Watter rol speel sielkundige in my behandeling?
'n Kliniese sielkundige kan enige sielkundige toestand diagnoseer en psigoterapeuties behandel. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om 'n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. 'n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met 'n psigiater in spanverband. - Wat is die verskil tussen 'n huisdokter, kliniese sielkundige en psigiater?
- Huisdokter: 'n Huisdokter studeer medies vir sewe jaar. Omdat hulle nie in die rigting van psigiatrie gespesialiseer het (soos 'n psigiater) nie, het hulle slegs 'n beperkte blootstelling aan die opleiding wat noodsaaklik is om mense met sielkundige/psigiatriese toestande te diagnoseer en te behandel. Jou huisdokter mag wel medikasie voorskryf, maar is ook eties verplig om 'n pasïent te verwys na 'n spesialis as dit nodig is.
- Kliniese Sielkundige: 'n Kliniese sielkundige studeer menslike gedrag en psigoterapie, en moet in Suid-Afrika minstens 'n meestersgraad hê (ses jaar +), met 'n internskap en navorsing wat voltooi moet wees om te kan registreer. Dit is die persoon wat jou gaan help om jou sielkundige diagnose (soos posttraumatiese stresversteuring) te verstaan en daarmee saam te leef.
- Psigiater: 'n Psigiater studeer ook medies vir sewe jaar, maar spesialiseer verder in psigiatrie, naamlik die chemiese behandeling van afwykings wat met menslike gedrag te doen het. 'n Psigiater is dus die dokter wat jou kan diagnoseer en die regte medikasie kan voorskryf vir jou sielkundige toestand. Die verwysing na “sielkundige toestande” of “psigiatriese toestande” is presies dieselfde.
- Is daar 'n spesifieke soort sielkundige wat ek moet sien?
In Suid-Afrika bestaan daar tans vyf verskillende kategorieë of spesialis-areas waarbinne alle sielkundiges moet registreer: - Kliniese sielkundige
- Voorligtingsielkunde
- Opvoedkundige sielkunde
- Bedryfsielkunde
- Navorsingsielkunde
Die verskillende kategorieë dui die spesialis-areas aan waarbinne sielkundiges volgense regulasies moet hou en aan etiese en wetlike vereistes moet voldoen. Slegs 'n kliniese sielkundige kan volgens die HPCSA 'n kliniese diagnose maak.
ADVIES
ADVIES VIR GELIEFDES EN FAMILIELEDE WAT SAAM MET IEMAND WOON OF WERK WAT GEDIAGNOSEER IS MET VERSLAWING
As 'n geliefde of vriend(in) gediagnoseer word met verslawing, kan jou ondersteuning en motivering 'n baie belangrike rol speel in die aanvaarding en hantering van hulle diagnose. Hier is riglyne hoe jy 'n individu kan bystaan:
- Wees geduldig. Mense wat onder die aanslag van 'n verslawing verkeer, het nie altyd die vermoë om te sê hoe hulle voel of wat hulle ervaar nie. Gee hulle 'n kans om eers gewoond te raak aan die diagnose, en om geleidelik 'n daadwerklike plan uit te werk om hulle lewe voortaan te bestuur.
- Wees ingelig oor verslawing. Hoe meer jy en jou geliefde, familielid of kollega van die siekte weet en verstaan, hoe meer kan julle saamwerk aan 'n plan om die persoon te ondersteun en die siekte te bestuur.
- Vra wat jou geliefde van jou verwag. 'n Mens kan maklik dink jy weet wat die beste vir 'n ander persoon is, maar die maklikste is om te vra hoe hy of sy wil hê jy moet optree.
- Luister na hom of haar en moenie konstant raad gee of met logika probeer redeneer nie. Dit is belangrik dat die persoon self verantwoordelikheid neem vir die verslawing en die effek wat dit op sy of haar lewe gaan hê. Wanneer iemand keuses namens iemand anders maak, kan dit dalk veroorsaak dat die persoon afhanklik raak van jou en dan nie self die verslawing wil beveg nie. Dit is nie jóú verslawing nie, maar jou geliefde s’n. Luister is wel 'n wonderlike manier om jou geliefde te ondersteun.
- Leer ken die tekens en die simptome sodat jy vroegtydig kan optree. Almal se simptome van verslawing manifesteer nie op dieselfde manier nie, so dit is baie belangrik om te verstaan hoe die persoon in jou lewe se simptome manifesteer. Wanneer jou geliefde se gemoed byvoorbeeld skielik verander, kan jy solank maatreëls begin tref.
- Neem deel aan fisieke aktiwiteite saam met die individu. Dit is nie 'n cliché dat gereelde oefening mense met sielkundige diagnoses help nie. Oefening verlig spanning en angstigheid, en help met die produksie van oordragstowwe wat lae gemoed beveg. Gereelde oefening is dus eintlik 'n suksesvolle antidepressant.
- Moedig 'n gesonde eet- en slaappatroon aan. 'n Gevestigde roetine help nie net die persoon om hul verslawing te bestuur nie, maar help ook om tekens/simptome vroegtydig raak te sien.
- Kyk mooi na jouself! Onthou, 'n persoon met 'n verslawing kan jou ook negatief beïnvloed deur jou by hul verslawing te betrek. Om saam met 'n persoon te leef wat vir verslawing behandel word kan frustrerend, uitputtend en soms chaoties voel. Maak tyd vir jouself ook.
NOODMAATREËLS
- skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
- gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
- skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
- kontak Wie is ek?