Postnatale depressie
Hoe kan dit wees?
“My droom was nog altyd om 'n baba te hê, maar noudat hy daar is, voel dit vir my asof ek wil weghardloop. Hoe kan ek so voel?” Of: “Ons het so lank gesukkel om swanger te raak, maar noudat my baba gebore is, voel ek konstant oorweldig.”

ALGEMEEN

Wat is Postnatale depressie?

Ons hoor hierdie vrae dikwels wanneer 'n ma met postnatale depressie in ons praktyk met ons kom gesels. Dit maak nie saak hoe groot die afwagting is of hoe graag mens 'n baba wil hê nie, die koms van 'n kind – veral die eerste een – is 'n baie groot aanpassing. Soos met enige ander aanpassing, neem dit tyd om aan jou nuwe rol, en die vereistes daarvan, gewoond te raak. Die meeste nuwe ma’s voel een of ander tyd oorweldig en onbevoeg. Wat dit moeiliker maak, is dat vroue om die een of ander rede voel dat hulle dit nie mag sê nie. Die isolasie hiervan, en die verwagting dat alles “reg” moet wees, maak die risiko vir postnatale depressie net groter.

Wat maak postnatale depressie anders as “gewone” depressie?

Die simptome van postnatale depressie en “gewone” depressie mag dalk baie ooreenstem, maar waar 'n ander depressiewe episode verskillende snellers mag hê, is die snellers van postnatale depressie rondom die geboorte van 'n baba. In sommige gevalle raak 'n vrou reeds gedurende die swangerskap depressief. Ons sal dit dan steeds as postnatale depressie behandel, selfs al gebeur dit nie ná die geboorte nie.

Het jy geweet?
  1. Die helfte van die mense wat postnatale depressie ontwikkel, se simptome begin reeds voor die geboorte van die baba.
  2. Indien 'n vrou vroeër in haar lewe 'n depressiewe episode ervaar het, is haar kans groter om postnatale depressie te ontwikkel.
  3. Ongeveer 85% van vroue wat geboorte skenk, ervaar 'n tipe versteuring van die gemoed, maar slegs 10‑15% sal merkbare simptome van depressie of angs ontwikkel.
  4. Mans kan ook postnatale depressie ervaar!

WIE IS KWESBAAR?

Wie is kwesbaar?

Daar is talle faktore wat 'n mens kwesbaar kan maak vir depressie. Die volgende kan spesifiek 'n rol speel in post-/perinatale depressie:

  1. 'n major depressiewe episode voor swangerskap;
  2. simptome van angs en depressie gedurende swangerskap;
  3. onlangse stresvolle lewensgebeure;
  4. gebrekkige sosiale ondersteuning;
  5. probleme in die huwelik of verhouding.

Wat is die verskil tussen “baby blues” en postnatale depressie?

Baby blues
Die meeste ma’s voel aanvanklik bietjie emosioneel, tranerig of huilerig (kyk deur 'n blou bril). Die derde tot vyfde dag ná die geboorte is mens veral baie kwesbaar as gevolg van die geboorte- en voedingsproses, asook hormoonveranderinge. Dit is dan normaal om tranerig, moeg, buierig, angstig, geïrriteerd en oorweldig te voel, maar soos wat dinge vorder en mamma en baba gewoond raak aan mekaar en hul nuwe realiteit, raak dinge gewoonlik beter. Wanneer die “baby blues” na ongeveer twee weke weggaan, het die ma weer moed vir die situasie.
Postnatale depressie (geld ook vir perinatale depressie)
Postnatale depressie is ernstiger as “baby blues”. Dit kan op enige stadium ná die geboorte ontwikkel, gewoonlik binne die eerste twee tot drie maande. Die graad van die “swaar gemoed” en die duur van die simptome verskil. Wanneer 'n nuwe ma rondom twee weke na die geboorte swaarmoedig, depressief, hartseer en tranerig voel (en die simptome vir 'n periode van twee weke of langer voortduur), word dit gesien as ernstig en moet sy so gou moontlik professionele hulp kry.

POSTNATALE PSIGOSE

Algemeen

Algemeen

Dit gebeur baie min, maar daar is ook sommige gevalle waar mammas postnatale psigose ontwikkel. Slegs een of twee uit elke 1 000 vroue ontwikkel hierdie toestand, m.a.w. die simptome vererger in so 'n mate dat die ma 'n breuk met die realiteit ervaar. Dit ontwikkel gewoonlik binne die eerste twee weke ná die geboorte, maar kan selfs binne die eerste 48 uur al sigbaar wees. Hierdie toestand vereis onmiddellike psigiatriese hulp (m.a.w. medikasie en moontlike opname in 'n mediese fasiliteit).

Tekens van postnatale psigose

Tekens van postnatale psigose

  1. vroeë tekens sluit in: rusteloosheid, geïrriteerdheid en slaaploosheid;
  2. 'n gemoed wat vinnig wissel tussen 'n depressiewe gevoel en uitgelatenheid (dit manifesteer as 'n vinnig afwisselende maniese of gemengde episode, soos gesien by bipolêre gemoedsversteuring)
  3. disoriëntasie of verwarring;
  4. wisselvallige of chaotiese gedrag;
  5. delusies rondom die baba (glo dinge wat nie waar is nie, soos dat die baba op 'n vreemde manier na iemand staar, of besig is om iets te dink of te doen wat nie moontlik is nie.);
  6. ouditiewe hallusinasies (bv. hoor stemme wat instruksies gee om die persoon self of die baba skade aan te doen).

Hierdie is 'n hoёrisikoversteuring wat 'n veiligheidsrisiko inhou vir die ma en die baba. Professionele hulp is dringend nodig.

Indien jy of 'n geliefde hierdie tekens toon, en jy is bekommerd oor die veiligheid van die ma en die baba, gaan onmiddellik na die noodeenheid van jou naaste hospitaal.

Wie is kwesbaar postnatale psigose?

Wie is kwesbaar vir postnatale psigose?

Die risiko vir postnatale psigose (of 'n depressiewe episode met psigotiese eienskappe) is hoër vir vroue wat:

  1. vantevore postnatale depressie (of gemoedsversteuring) ervaar het;
  2. wat self 'n geskiedenis van depressie of bipolêre gemoedsversteuring (veral bipolêr 1) het;
  3. wat 'n familiegeskiedenis van bipolêre gemoedsversteuring het.
Belangrik
Indien iemand vantevore 'n episode van postnatale psigose beleef het, is hulle kans 30-50% om dit opnuut te ervaar nadat hulle weer geboorte geskenk het.

Hulp vir postnatale psigose?

Hulp vir postnatale psigose?

Vroue met depressiesimptome in die postnatale periode is soms ook geneig om simptome van algemene angs en paniekaanvalle te toon. Raadpleeg jou klinieksuster, huisdokter, ginekoloog of 'n sielkundige indien jy enige van hierdie simptome ervaar.

Jy kan ook aanlyn op die volgende webtuistes soek vir 'n sielkundige in jou omgewing:

  1. Findhelp
  2. SA Medical Specialists
  3. Medpages
  4. kontak die Wie is ek?-sentrum.

SIMPTOME

Simptome van post-/perinatale depressie

Net soos by ander depressiediagnoses, is post-/perinatale depressie 'n diagnoseerbare mediese toestand van die gemoed, met 'n lys van simptome wat teenwoordig moet wees voordat 'n dokter of sielkundige dit kan diagnoseer.

Postnatale depressie is moeilik om te diagnoseer omdat simptome soos slaapversteuring, moegheid en verandering in aptyt ook verband kan hou met die versorging van 'n nuwe baba. Dit is egter belangrik om in ag te neem of die gemoedsimptome die ma se funksionering negatief beïnvloed.

Die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM), (wat wêreldwyd aanvaar word as die gesaghebbendste bron) beskryf nie postnatale depressie (PND) as 'n afsonderlike diagnose nie, en ag dit dus net so ernstig as 'n “gewone” diagnose van depressie. Dit is wel belangrik om te identifiseer wanneer die toestand ontstaan het bv. gedurende 'n swangerskap of ná 'n geboorte.

Klik hier om meer te lees oor depressiesimptome.

Belangrike tekens om op bedag te wees:

  1. 'n depressiewe/neerslagtige of hartseer gemoed
  2. tranerigheid
  3. nie meer geïnteresseerd in dinge wat voorheen genot verskaf het nie
  4. skuldgevoelens
  5. gevoelens van waardeloosheid en onbevoegdheid
  6. moegheid
  7. slaapversteuring
  8. verandering in aptyt
  9. sukkel om te konsentreer en te onthou
  10. selfmoordgedagtes
Belangrik!

Postnatale depressie is meer bekend as die simptome wat ná die geboorte ontwikkel, maar 'n mens kan ook gedurende die swangerskap depressiesimptome, wat verband hou met die swangerskap, ontwikkel. Dit word perinatale depressie genoem.

Die simptome en gevolge van postnatale depressie is ernstig, maar dit is belangrik om te onthou dat hierdie toestand behandelbaar is en dat die persoon so gou moontlik professionele hulp moet kry.

VRAELYS

Simptome-vraelys

Voltooi gerus die Edinburgh-skaal vir postnatale depressie indien jy vermoed dat jy simptome van die toestand ervaar.

(Hierdie skaal behoort slegs as 'n siftingstoets gebruik te word en net 'n professionele persoon kan 'n diagnose maak.)

Edinburgh-skaal

Indien jou telling 10 of meer is, beveel ons aan dat jy so gou moontlik professionele hulp kry. Jy kan die volgende oorweeg:

  1. vra jou huisdokter of naaste hospitaal vir 'n verwysing;
  2. besoek een van die volgende webtuistes vir die besonderhede van 'n sielkundige in jou omgewing:
    1. Findhelp
    2. SA Medical Specialists
    3. Medpages
    4. kontak die Wie is ek?-sentrum
  3. jy kan ook die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) se 24-uur-hulplyn skakel by 0800 12 13 14.

SELFBESTUUR

Wat kan ek sélf doen om my situasie te verbeter?

Natuurlik is daar GEEN kitsoplossings nie. Daar is ook nie twee mense wat presies dieselfde ervaring sal hê nie. Hierdie is dus nie 'n “vyf-stappe-om-postnatale-depressie-te-oorkom”-afdeling nie. Ons gee bloot 'n paar praktiese wenke wat jou moontlik kan help om jou situasie beter te verstaan en te weet waar om hulp te kry, indien nodig.

Slaap
Die aanpassing wat gepaard gaan met nagtelike voedings en om in die behoeftes van 'n klein babatjie te voorsien, is fisiek baie uitputtend. Sommige babas is rustig en slaap baie, ander nie. Sommige ma’s pas maklik aan, ander vind dit baie moeilik. Dit is egter belangrik om te probeer om soveel as moontlik rus en slaap te kry, veral aan die begin. Die take in die huis (bv. skottelgoed) kan maar eers bietjie wag. Probeer om te slaap wanneer die baba slaap. Vra ook jou eggenoot/verhoudingsmaat, of iemand wat jy vertrou, om jou af te los sodat jy 'n paar ure ononderbroke kan slaap. Dit is soms moeilik om jouself die rus te gun – bespreek dus praktiese oplossings met jou geliefde(s) en beplan saam om die verantwoordelikhede te deel.

Tyd om uit te kom
Veral in die wintermaande, is dit moeilik om uit te gaan met 'n klein babatjie. Lang dae aaneen in die huis kan 'n negatiewe impak op 'n mens se gemoed hê. Vra jou geliefde, of iemand wat jy vertrou, om gereeld na die baba te kyk, sodat jy vir ten minste 20-30 minute uit die huis kan kom. 'n Flink stappie in jou woonbuurt (soos wat jou fisieke toestand dit toelaat), of in 'n winkelsentrum (as dit jou beter pas), kan wondere verrig. Probeer om dan nie heeltyd aan baba te dink of jou te bekommer nie, fokus eerder op die wêreld daarbuite.

Onthou!
Dit is belangrik om in ag te neem dat die vrou nie net 'n masjien is wat kan aangaan soos normaalweg nadat sy geboorte geskenk het nie. Hoewel elkeen hierdie proses anders ervaar, is dit 'n groot verandering en sal sekere aanpassings nodig wees.

Om buitenshuis te werk of nie te werk nie
Om 'n beroep te beoefen, is 'n sensitiewe saak in hierdie fase van 'n mens se lewe. Sommige vroue gee glad nie om om geheel en al op te hou werk wanneer hul kinders kry nie. Ander wil kraamverlof neem, maar kan dit nie bekostig nie. Sommige vroue neem wel kraamverlof en keer weer na 'n paar maande terug werk toe. 'n Mens kan maklik skuldig voel of onder die indruk wees dat die samelewing jou veroordeel oor die keuses wat jy rondom hierdie aangeleentheid maak. Daar is nie noodwendig net een ideale situasie nie. Die belangrikste is dat jy en jou verhoudingsmaat/geliefde 'n keuse maak waarmee julle albei kan saamleef – en wat julle voel, binne jul unieke omstandighede – die beste opsie is vir julle gesin. Indien julle sukkel om hieroor te gesels of tot 'n vergelyk te kom, klop aan vir professionele hulp.

Enkelma’s se situasie is anders en daar sal unieke uitdagings wees. Gewoonlik sal dié ma lang ure moet werk om die pot aan die kook te hou. Indien moontlik, sal dit baie help as familie en boesemvriende betrek kan word om ondersteuning te bied.

Praat!
Hoewel postnatale depressie baie algemeen is, voel talle vroue dat hul nie mag erken dat hulle emosioneel sukkel nie. Miskien is dit omdat ons binne ons samelewing voel ons moet net sterk wees en cope, of dat ons “swak” is as ons voel asof dinge vir ons te veel raak.

Dit is egter uiters belangrik om met iemand te praat as jy voel dat jy nie cope met 'n nuwe baba nie. Wees eerlik met jou verhoudingsmaat, geliefde, vriendin of ma. Mense kan jou nie ondersteun as hulle nie weet hoe jy voel nie. Nie almal kan luister nie, maar daar is gewoonlik darem 'n persoon met wie 'n mens openlik kan praat.

Indien jy voel dat jy niemand het nie, of dat niemand verstaan nie, kan jy met 'n sielkundige gesels. Daar is nie noodwendig maklike oplossings vir jou dilemma nie, maar om jou emosies en ervarings in 'n veilige ruimte te deel, kan klaar 'n bietjie verligting bring.

Vra vir hulp
Daar word nie verniet gesê “it takes a village to raise a child” nie. Dit is maklik om jou te isoleer en nie gebruik te maak van die hulp wat beskikbaar is nie. Dikwels is daar familie en vriende wat graag wil help. 'n Mens moet net die moed bymekaarskraap om te vra – bv: “Sal jy asseblief vir my melk koop?”; “Kan jy asseblief vir my by die apteek stilhou?”; of “Kan jy asseblief vir 'n halfuur na die baba kyk sodat ek kan stort?”

Sosiale ondersteuning is nogtans nie vir almal ewe toeganklik nie, wat beteken dat 'n mens dalk meer kreatief moet wees. Moontlik was daar iemand in jou voorgeboorteklas met wie jy kan bande smee, dalk iemand by die dagmoeder of speelskooltjie, of vra jou klinieksuster of daar 'n groepie vir mamma’s in jou area is. Jy kan dalk self so 'n ondersteuningsgroep begin. 'n Ondersteuningsnetwerk kan baie daartoe bydra dat jy jou situasie beter kan hanteer.

Professionele hulp – wanneer is dit nodig?
Jy hoef nie te wag tot die neerslagtigheid ondraaglik raak, voordat jy aanklop vir professionele hulp nie. Jy kan reeds tydens swangerskap as individu, of as 'n verhoudingsmaats, begin met terapie. Die waarde hiervan is dat iemand wat nie betrokke is by jou situasie nie, na jou kan luister en binne 'n veilige ruimte ondersteuning kan bied.

Dit is egter belangrik om vir hulp te vra wanneer jy vir twee weke simptome van postnatale depressie ervaar, soos bo genoem. Jy kan die volgende oorweeg:

  1. vra jou huisdokter of naaste hospitaal vir 'n verwysing;
  2. besoek een van die volgende webtuistes vir die besonderhede van 'n sielkundige in jou area:
    1. Findhelp
    2. SA Medical Specialists
    3. Medpages
    4. Women’s Mental Health
    5. kontak die Wie is ek?-sentrum
  3. jy kan ook die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) se 24-uur-hulplyn skakel by 0800 12 13 14.

ADVIES

Raad aan geliefdes van iemand wat sukkel met postnatale depressie

Wees ingelig
Sodra 'n mens die simptome van postnatale depressie leer ken en besef wat dit is, is dit makliker om ondersteuning te bied. 'n Ma (of 'n pa) met postnatale depressie is nie hopeloos of lui nie, maar het 'n stryd met 'n sielkundige kondisie wat hul gemoed, energie en gedrag beïnvloed.

Moedig kommunikasie aan
Indien jy vermoed jou geliefde ervaar simptome van postnatale depressie, kan jy probeer om 'n openlike gesprek met haar/hom te hê waarin jy met empatie kan luister hoe die persoon hulself en hul situasie ervaar. Wees baie versigtig om nie veroordelend te wees, of die boodskap te kommunikeer dat sy/hy nie goed genoeg as ouer vaar of nie goed genoeg is nie. Dit kan dalk juis iets wees waarmee die persoon worstel, wat kan veroorsaak dat hulle baie sensitief vir so 'n boodskap sal wees.

Bied praktiese hulp aan
Vir sommige ma’s is die fisieke eise van die versorging van 'n baba taamlik oorweldigend. Praktiese hulp is dalk baie welkom. Weer eens moet 'n mens altyd eers vra en respek hê vir die persoon se wense. 'n Mens kan nie net aanneem hulle wil hulp hê nie.

Dus, vra byvoorbeeld of jy:

  1. 'n maaltyd kan bring;
  2. die huishulp kan gaan haal of wegneem;
  3. 'n paar bondels wasgoed kan was;
  4. die skottelgoed kan was;
  5. 'n paar oproepe kan maak om reëlings te tref;
  6. kruideniersware kan gaan koop of iets by die apteek kan gaan haal;
  7. die ander kinders (indien enige) kan oplaai vir 'n speelafspraak, of help met hul vervoerreëlings;
  8. kan aanbied – mits jy vertroud is, en/of gemaklik voel met babas – om vir 'n uur of twee na die baba te kyk sodat die mamma kan slaap of gaan stap.

Iewers om te wees
Vir baie ma’s, veral dié wat gewoond was om te werk, kan dit moeilik wees om vir lang tye by die huis te wees. Sy kan dit dalk waardeer as sy vir 'n ruk in jou huis kan kom sit met die baba. Jy kan aangaan met jou aktiwiteite, maar sy kan uitkom en mense sien. Wees net baie eerlik met jouself, en met haar, oor wat jy kan aanbied en moenie meer as wat jy fisiek en emosioneel kan hanteer, aanpak nie.

Moedig die persoon aan om 'n professionele persoon te raadpleeg, indien nodig.
Indien jy opmerk dat 'n geliefde tekens toon van postnatale depressie is dit belangrik om uit te reik na die persoon en hul aan te moedig om professionele hulp te kry.

'n Mens kan nie die persoon dwing om hulp te soek nie. Dit is ook belangrik om sensitief te wees vir sy/haar emosies, maar soms het die persoon nodig om te hoor dat iemand anders, wat vir hulle lief is, die moontlikheid van sielkundige hulp ondersteun.

Ongelukkig is daar, ten spyte van meer kennis en blootstelling, steeds talle mense wat dink daar is 'n stigma daaraan gekoppel om 'n sielkundige te raadpleeg. Om iemand aan te moedig om met 'n sielkundige oor hul emosies en situasie te praat, kan bydra om hierdie stigma af te breek en hulle help om die regte hulp te kry.

ROL VAN VERHOUDINGSMAAT

Die rol van die man of verhoudingsmaat

Mans kan ook post-/perinatale depressie ervaar

Gedurende swangerskap en geboorte word daar soveel aandag aan die vrou en die baba gegee dat die ervaring van die man soms agterweë gelaat word. Vir baie mans is daar opgewondenheid oor die koms van 'n baba, maar ook heelwat onsekerheid en verliese wat hiermee gepaard gaan. Hy mag dalk voel dat hy sy companion verloor het omdat sy vrou se aandag meer op die baba gefokus is; onseker wees oor wat sy rol is, of behoort te wees; en dat hy glad nie belangrik is in die hele proses nie. Indien hy sukkel om hierdie emosies te hanteer, kan dit tot depressiesimptome lei (sien sien depressiesimptome). In sommige gevalle kan daar ook angssimptome ontwikkel.

Die man of verhoudingsmaat se rol gedurende swangerskap, geboorte en daarná is belangrik. Ouerskap is 'n groot aanpassing (sien aanpassings) wat elke persoon verskillend ervaar. Dit is belangrik dat elke persoon bewus sal wees van sy/haar eie proses, want dan kan die persoon hom-/haarself beter by die situasie aanpas.

Navorsing oor postnatale depressie by pa’s

In JH Goodman se studie het postnatale depressie by pa’s by 1,2% tot 25,5% van pa’s in die gemeenskapsgroep voorgekom. Verder het tussen 24% en 50% van pa’s waarvan die vroue postnatale depressie ervaar het, ook 'n depressiewe episode beleef.

In 'n studie gedoen deur Ramchandani, Stein, Evans, O’Connor en die ALSAC-studiespan

Sciencedirect is daar bevind dat depressie by 'n pa ook 'n negatiewe impak op die emosionele en gedragsontwikkeling van die kind kan hê.

Definiëring van rolle
Die tradisioneel manlike en vroulike rolle is deesdae nie meer so rigied afgebaken soos tevore nie. Of die man die versorger tuis, die broodwinner, of 'n kombinasie van die twee is, is iets waaroor verhoudingsmaats self moet besluit. Die belangrikste is dat daar kommunikasie hieroor moet wees. Elkeen moet kans kry om sy of haar behoeftes te verwoord en daar moet saam besluit word oor die verdeling van verantwoordelikhede.

Selfs al is die man die broodwinner, het die gesin steeds sy insette tuis baie nodig. Aanvanklik kan dit wees om baba te bad, te sus of aandete te kook (of te koop). Met verloop van tyd sal elkeen se bydrae waarskynlik verander, namate hulle gewoond geraak aan die nuwe rol van ouerskap. Elke gesin is uniek, met sy eie dinamika. Wat ook al die gesinsdinamika mag wees, 'n betrokke pa speel 'n belangrike rol.

Navorsing
Die navorsers Harris, Furstenberg en Marmer het in 'n studie bevind dat die betrokkenheid van die pa’s by hul kinders voordele inhou vir die kinders ten opsigte van wat hulle bereik het op opvoedkundige en ekonomiese terreine. Kinders en tieners met betrokke pa’s se sielkundige welstand was beter en hulle het ook minder misdade gepleeg.
Vir meer besonderhede

HULP

Hoe gemaak as ek sukkel?

Die algemene opvatting is dat vroue makliker praat as mans. Sommige sê selfs, sonder erns, dat mans “minder woorde” gekry het as vroue! Gelukkig begin dit al meer aanvaarbaar raak vir mans om hul emosionele kant te wys en met iemand oor hul probleme te praat.

Vriende mag dalk welkome afleiding bied, so ook tyd in die natuur of in die gimnasium.

Indien iemand voel dat hulle sukkel om die situasie voor of ná die geboorte van 'n kind te hanteer, beveel ons aan dat 'n professionele persoon, soos 'n dokter of sielkundige, geraadpleeg word.

Die Wie is ek?-kenners beveel aan dat jy die HADS-vraelys, wat 'n aanduiding kan gee van moontlike angs- en depressiesimptome wat jy mag hê, voltooi.

Indien jy besluit om 'n sielkundige te raadpleeg, kan jy die volgende opsies oorweeg:

  1. vra jou huisdokter of naaste hospitaal vir 'n verwysing; of
  2. besoek een van die volgende webtuistes vir die besonderhede van 'n sielkundige in jou omgewing:
    1. Findhelp
    2. SA Medical Specialists
    3. Medpages
    4. kontak Wie is ek?
  3. jy kan die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) se 24-uur-hulplyn skakel by 0800 12 13 14.
Belangrik
Navorsing het bewys dat 'n kombinasie van psigoterapie en medikasie effektiewe behandeling vir postnatale depressie is. Dit is belangrik om saam met 'n mediese dokter te besluit oor die gepaste medikasie vir jou spesifieke toestand. Sielkundiges kan dan verder help met psigoterapie.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?