Bulimie
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan Bulimie ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.

ALGEMEEN

Wat is bulimie?

Bulimie behels herhaalde episodes van ooreet, waarin die persoon vir 'n kort/spesifieke periode meer eet as wat die meeste ander mense in dieselfde periode – en onder dieselfde omstandighede – sou eet. Dit gaan gewoonlik gepaard met 'n gevoel van verlies aan beheer gedurende die episode. Met ander woorde, hy/sy kan nie ophou eet of die hoeveelheid wat hulle inneem, beperk nie.

Het jy geweet?
Bulimie kan deur verskeie snellers veroorsaak word. Die gedrag begin dikwels net ná 'n dieet of 'n poging om gewig te verloor.

Verder toon die persoon herhalende ontoepaslike gedrag om te kompenseer vir die volume kos wat hy/sy inneem om te verhoed dat hy/sy gewig optel (induseer bv. vomering, misbruik lakseer-/ontwateringsmiddels of ander medikasie, vas of oefen oormatig).

Die ooreet-episode en kompenserende gedrag vind ten minste een maal per week oor 'n periode van ten minste drie maande plaas.

ONTHOU! Hul siening van hul liggaamsbou en -gewig word een van die belangrikste maatstawwe vir 'n bulimielyer.

Verder ...

Die persoon se evaluasie van hom-/haarself word oordrewe beïnvloed deur liggaamsbou en -gewig. Hy/sy voel ook selfbewus en probeer die gedrag wegsteek en in isolasie beoefen. Die proses veroorsaak gewoonlik ongemak en/of pyn en word gevolg deur donker emosies en negatiewe gedagtes oor hom-/haarself.

Belangrik
Om oormatig te oefen kan ook deur 'n bulimielyer gebruik word as kompenserende gedrag. Dit beteken egter nie dat almal wat gereeld oefen aan bulimie ly nie.

Vomering is die mees algemene kompenserende gedrag omdat dit fisieke verligting verskaf en die vrees vir gewigstoename ietwat verlig. 'n Persoon wat aan bulimie ly, het gewoonlik 'n “normale” gewig of is oorgewig. Bulimie hou ernstige gesondheidsrisiko’s in en mediese sorg is van kardinale belang vanweë die ernstige effek wat die gedrag op die liggaam het.

Bulimie kan deur verskeie snellers veroorsaak word. Die gedrag begin gewoonlik net ná 'n dieet of 'n poging om gewig te verloor.

WAT MAAK MY KWESBAAR

Wat kan 'n persoon meer kwesbaar maak?

  1. temperament speel, soos by ander verslawings, 'n groot rol;
  2. indien hy/sy van hul kinderdae af besorg is oor gewig en/of 'n lae selfbeeld het;
  3. indien die persoon geneig is tot depressie en angstigheid;
  4. 'n persoon se omgewing, as daar 'n hoë waarde aan maer wees geheg word;
  5. molestering in die persoon se kinderjare;
  6. indien 'n persoon as kind met oorgewig gesukkel het en/of puberteit vroeg betree het;
  7. indien die persoon naaste familielede of geliefdes het / gehad het wat bulimie-simptome toon / getoon het of 'n ander verslawing het / gehad het.

RISIKO'S/GEVARE

Risiko’s/gevare

Bulimie is 'n baie ernstige kondisie, wat professionele hulp benodig. Die simptome lei gewoonlik tot:

  1. skuldgevoelens;
  2. swakker / minder effektiewe sosiale funksionering; probleme om aan die vereistes van hul dagtaak te voldoen;
  3. ernstige gesondheidsprobleme wat mediese sorg vereis; en
  4. 'n hoë selfdoodrisiko.
Onthou!
Bulimie kan baie gevaarlik vir 'n persoon se gesondheid wees omdat dit dikwels tot dehidrasie, maag- en hartprobleme lei.

SIMPTOME

Wat is die simptome van bulimie?

Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die gesaghebbendste bron. Let asb. daarop dat 'n amptelike diagnose slegs deur 'n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

Om diagnoseerbaar te wees, moet die volgende simptome voorkom:

  1. Herhalende ooreetsessies met die volgende kenmerke:
    1. 'n eetsessie binne `n kort/spesifieke periode, bv. twee uur lank, waarin die persoon ooglopend 'n groter volume voedsel inneem as wat die meeste ander mense binne 'n soortgelyke tydsduur (en onder soortgelyke omstandighede) sou inneem; en
    2. 'n gevoel van verlies aan beheer gedurende die episode (dat hy/sy nie kán ophou eet of beheer het oor die hoeveelheid wat geëet word nie).
  2. Herhalende ontoepaslike kompenserende gedrag om gewigstoename te voorkom, bv. braking, misbruik van lakseermiddels, enemas, diuretika en ander medikasie, asook oormatige oefening of weerhouding van enige voedselinname.
  3. Die ooreetsessies en kompenserende gedrag vind ten minste twee maal per week plaas, oor 'n tydperk van ten minste drie maande.
  4. Self-evaluasie word buitensporig beïnvloed deur liggaamsbou en -grootte.
  5. Die eetversteuring kom nie net gedurende `n episode van bulimie voor nie.

BEHANDELING

Behandeling van bulimie

Hoekom is behandeling nodig vir bulimie?
Dit is belangrik vir iemand met 'n ernstige eetversteuring, soos bulimie, om hulp te kry. Om jouself sonder hulp van die toestand te bevry, is uiters moeilik. Mediese, asook sielkundige en psigiatriese hulp is noodsaaklik in die behandeling van 'n eetversteuring.

Wie kan my of 'n geliefde diagnoseer?
Omdat bulimie so kompleks is, sou ons jou aanraai om jou slegs deur 'n psigiater of kliniese sielkundige wat ervaring het in die behandeling vaneetversteurings te laat toets en diagnoseer. Hulle is opgelei om tussen verskillende eetversteurings te onderskei.

Watter rol speel 'n sielkundige in my behandeling?
'n Sielkundige kan bulimie diagnoseer en psigoterapeuties behandel. Dit beteken hy/sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om 'n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. 'n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met 'n psigiater in spanverband.

SELFBESTUUR

Wat kan EK doen om my siekte te bestuur?

  1. bou kennis op oor bulimie (vra jou dokter, lees oor die siekte, vra vrae tot jy verstaan);
  2. doen gereelde, matige fisieke oefening – dit is 'n suksesvolle antidepressant, soos deur navorsing bewys;
  3. eet gebalanseerd;
  4. slaap genoeg;
  5. verminder stresfaktore sover dit binne jou beheer is; en
  6. oorweeg psigoterapie by 'n opgeleide sielkundige wat jou belangrike vaardighede kan leer om bulimie te beheer.
Wenk!
Navorsing oor die toestand duur steeds voort, maar 'n kombinasie van medikasie en psigoterapeutiese behandeling (om 'n sielkundige te gaan spreek) kan die simptome grootliks verlig en lewenskwaliteit verbeter.

ADVIES

Advies vir geliefdes en familielede wat saam met iemand woon of werk wat gediagnoseer is met bulimie

As 'n geliefde of vriend(in) gediagnoseer word met bulimie, kan jou ondersteuning en motivering 'n belangrike rol speel in die aanvaarding en hantering van hul diagnose. Hier is riglyne hoe jy so 'n persoon kan bystaan:

  1. Wees geduldig. Mense wat onder 'n eetversteuring gebuk gaan, het nie altyd die vermoë om te sê hoe hulle voel of wat hulle ervaar nie. Gee hulle 'n kans om eers gewoond te raak aan die diagnose en om geleidelik 'n konkrete plan uit te werk vir hoe hulle hul lewens vorentoe gaan bestuur.
  2. Wees ingelig. Bou kennis op oor bulimie. Hoe meer jy en jou geliefde, familielid of kollega van die siekte weet en verstaan, hoe beter kan julle saamwerk aan hoe jy hom/haar kan ondersteun en hoe julle die siekte kan bestuur.
  3. Vra wat jou geliefde van jou nodig het. 'n Mens kan maklik dink jy weet wat die beste vir 'n ander persoon is, maar die maklikste is om te vra hoe hy/sy wil hê jy moet optree.
  4. Luister, eerder as om konstant advies te gee of logies te probeer redeneer. Dit is belangrik dat die persoon self verantwoordelikheid aanvaar vir die siektetoestand en die effek wat dit op sy/haar lewe gaan hê. Wanneer iemand keuses namens iemand anders maak, kan dit dalk veroorsaak dat die persoon afhanklik raak van die helper en dan nie self die siekte wil beveg nie. Dit is nie jóú siektetoestand nie, maar jou geliefde s’n. Luister is wel 'n wonderlike manier om jou geliefde te ondersteun.
  5. Leer ken die simptome sodat jy vroegtydig kan optree. Almal se simptome van bulimie manifesteer nie op dieselfde manier nie, so dit is baie belangrik om te verstaan hoe die persoon in jou lewe se simptome na vore kom. Wanneer jou geliefde byvoorbeeld aansienlik minder begin eet as ander tye, dikwels braak of oormatig oefen, kan jy solank sekere maatreëls begin toepas.
  6. Doen fisieke aktiwiteite saam met die individu. Dit is miskien 'n cliché, maar gereelde oefening hou groot voordeel in vir die geestesgesondheid van mense met sielkundige diagnoses. Dit verlig spanning en angstigheid en help met die produksie van oordragstowwe wat 'n lae gemoed beveg. Gereelde en gebalanseerde oefening is dus eintlik 'n suksesvolle antidepressant. Onthou egter dat oefening in gevorderde stadiums van bulimie beperk of gestaak moet word om verdere gewigsverlies te
  7. Moedig 'n gebalanseerde eet- en slaappatroon aan. 'n Gevestigde roetine help nie net die persoon om hul siekte te bestuur nie, maar ook om tekens/simptome vroegtydig raak te sien.
  8. Kyk mooi na jouself! Onthou, 'n persoon met gediagnoseerde bulimie kan jou ook negatief beïnvloed deur jou te betrek by hul versteuring. Om saam met 'n persoon te leef wat gediagnoseer is met bulimie kan frustrerend, uitputtend en soms chaoties voel. Maak tyd vir jouself ook.
Onthou!
Bulimie kom nie net onder tienermeisies voor nie; enigiemand vanaf die ouderdom van 12 jaar kan bulimie ervaar. Dus moet ouers van kinders en tieners; selfs die kinders van bejaardes, ook bewus wees van die simptome (aangesien die simptome ook onder bejaardes voorkom).
Het jy geweet?
Bulimie was dekades lank 'n versteuring wat slegs onder vroue voorgekom het, maar die statistiek toon nou dat daar 'n toename is onder tieners. Onlangse navorsing in Suid-Afrika het aangedui dat byna 19% van skoolmeisies tussen 15 en 18 jaar oud deur 'n eetversteuring geaffekteer word.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?