Paniekaanval
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan paniekaanval ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.

WAT IS 'n PANIEKAANVAL?

Wat is 'n paniekaanval?

'n Paniekaanval op sy eie is nie 'n versteuring nie, maar kom voor saam met angs- of ander sielkundige versteurings (bv. depressie, posttraumatiese stresversteuring of middelmisbruikversteuring) en/of mediese toestande (bv. 'n hartkondisie, asemhalingsprobleme, ens.).

'n Paniekaanval is 'n vinnige en intense toename in vrees of ongemak wat iemand laat voel asof hulle 'n hartaanval kry, besig is om beheer te verloor, of selfs besig is om dood te gaan. Daar is ook 'n sekere aantal fisieke en kognitiewe simptome wat in hierdie periode kan voorkom. Hierdie simptome word in meer besonderhede hieronder beskryf.

Belangrik
Let daarop dat ʼn amptelike diagnose slegs deur ʼn gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

SIMPTOME

Wat is die simptome van 'n paniekaanval?

Die volgende simptome is 'naanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die gesaghebbendste bron:

Het jy geweet?
Dié skielike reaksies kan vanaf 'n kalm óf angstige toestand voorkom.
  1. 'n Paniekaanval is 'n skielike en intense vrees of ongemak wat binne minute 'n hoogtepunt bereik en waartydens ten minste vier van die volgende voorkom:
    1. hartkloppings, gevoel van 'n bonsende hart of versnelde hartklop
    2. sweet
    3. bewing of rukkings
    4. kortasem wees of 'n gevoel van versmoring
    5. gevoel van verstikking
    6. borspyn of ongemak
    7. naarheid of abdominale ongemak
    8. voel duiselig, onvas op voete, lighoofdig of flou
    9. koue rillings of hittesensasie
    10. gevoelloosheid of prikkelende sensasie
    11. gevoel van onwerklikheid of “losstaande van jouself” wees
    12. vrees om beheer te verloor of “mal” te word
    13. vrees om dood te gaan

BEHANDELING

Behandeling van paniekaanvalle

  1. Hoekom is dit nodig om paniekaanvalle te behandel?
    Paniekaanvalle kan ʼn baie beperkende invloed op ʼn mens se lewenskwaliteit en/of funksionering hê. Dit is gewoonlik ‘n aanduiding dat daar ‘n ander versteuring of probleem by die persoon teenwoordig is. Dit is noodsaaklik om uit te vind waarom die paniekaanval gebeur het, sodat besluit kan word hoe om dit te behandel.
  2. Hoe word paniekaanvalle behandel?
    1. Mediese ondersoek
      ʼn Volledige mediese ondersoek (wat moontlik bloedtoetse kan insluit) deur ʼn algemene praktisyn is nodig om vas te stel of die paniekaanval verband hou met enige mediese toestande.
    2. Sielkundige ondersoek en terapie
      Indien daar nie ʼn mediese oorsaak vir die paniekaanval is nie, of indien die simptome in oormaat in verhouding tot die mediese toestand voorkom, sal die volgende stap wees om ʼn afspraak by ʼn geregistreerde sielkundige te maak. Gedurende die eerste sessie sal die simptome breedvoerig bespreek en verdere aanbevelings gemaak word. Psigoterapie is gewoonlik nodig om paniekaanvalle (en enige ander versteuring waarmee dit mag gepaard gaan) op die lang termyn te behandel.
    3. Medikasie
      Indien medikasie nodig is, sal die sielkundige ʼn verwysing kan doen na ʼn psigiater wat die nodige medikasie kan voorskryf.
    4. Ondersteuningsgroepe
      Ondersteuningsgroepe is telkens baie waardevol, aangesien dit ʼn mens die geleentheid bied om van ander, wat soortgelyke ervarings en uitdagings deel, te leer. Groeplede bied ook ondersteuning aan mekaar en die gevoel dat daar ander mense is wat verstaan waardeur ʼn mens gaan. Ongelukkig is daar nie altyd ʼn aktiewe groep in ʼn mens se onmiddellike omgewing nie. Aanlyn soektogte kan help om vas te stel wat beskikbaar is. Meer inligting kan op die SADAG-webtuiste gevind word.
Onthou!
Indien daar nie 'n ondersteuningsgroep in jou area is nie, bied dit dalk vir jou 'n geleentheid om jou eie groep te begin!

HULP VIR PANIEKAANVAL

Wat doen ek as ek ‘n paniekaanval kry?

  1. Probeer om op ‘n veilige plek te sit.
  2. Fokus jou aandag op iets op die grond bv. ‘n teël, blommetjie, baksteen, ens.
  3. Praat met jouself oor wat jy op die grond sien, fokus op die detail.
  4. Probeer jou asemhaling bring tot op die punt waar dit stadiger en dieper is. Om dit reg te kry, kan jy byvoorbeeld tel: duisend-en-een, duisend-en-twee, ens. en/of ‘n papier- of plastieksak gebruik, wat jou aandag kan fokus op die lug wat jy in- en uitasem.
  5. Vra so gou moontlik vir ondersteuning by iemand wat jy kan vertrou. Maak ‘n afspraak by jou mediese praktisyn om die ondersoek na die oorsaak te begin.

SELFBESTUUR

Wat kan ek self doen om my spanning te verlig?

Stres en angs kan ‘n rol speel om paniekaanvalle te sneller. Hier is ‘n paar praktiese wenke wat jou kan help om jou spanning te verlig.

  1. Vermy of verminder alkohol, kaffeïen, rook en dwelmmiddels. Hierdie middels kan paniekaanvalle sneller of simptome vererger.
  2. Oefen gereeld om spanning te verlaag.
  3. Kry genoeg slaap.
  4. Leer streshanteringstegnieke aan en pas dit toe.
  5. Hou by jou behandelingsplan.

ONDERSTEUNING

Hoe ondersteun ek iemand met paniekaanval?

  1. Moedig die persoon aan om professionele hulp te kry.
  2. Indien die persoon moedeloos raak, moedig hom/haar aan om hul ervaring met hul dokter en sielkundige te bespreek, en om by hul behandelingsplan te hou.
  3. Moedig gesonde leefstylkeuses aan, bv. gereelde fisieke oefening, genoeg slaap, ʼn gebalanseerde dieet en gesonde ontspanning.
  4. Kyk mooi na jouself, want dit kan uitputtend wees om die ondersteuningsrol te vervul. Dit is egter baie belangrik dat die gediagnoseerde persoon sélf verantwoordelikheid aanvaar vir hul eie simptome en behandeling.
Belangrik!
‘n Persoon kies nie om paniekaanvalle te kry nie. Dit is nie ʼn willekeurige reaksie nie. Ondersteuning en begrip sonder veroordeling, kan vir ʼn gediagnoseerde persoon baie beteken.

  • RSG Potgooi

    RSG Potgooi

    Neem jou vrese oor die toekoms tans jou lewe oor? Is jy meer gespanne as ooit te vore? Ons kyk na realistiese en onrealistiese vrese, hoe om tussen die twee te onderskei, en hoekom dit belangrik is.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?