ALGEMEEN

Wat beteken vrouegeestesgesondheid?

In hierdie afdeling fokus ons op die ervarings van vroue op hul lewenspad en die onderlinge verhouding tussen haar geestesgesondheid, liggaam en hierdie ervarings.

Geestesgesondheid bestaan uit 'n paar kernelemente: hoe ons dink, voel en optree binne die verhouding met onsself, ander mense en ons wêreld. Ons geestesgesondheid beïnvloed die keuses wat ons maak, asook die verhoudings wat ons in stand hou en dié wat verbrokkel.

Die lewenspad van die vrou sluit gewoonlik bv. ervarings in aangaande die keuse van lewenstyl, 'n verhoudingsmaat, pogings om kinders te verwek, al dan nie, en keuses rakende 'n beroep. Elk van hierdie aspekte kan 'n spesifieke realiteit skep, maar dit kan ook gepaard gaan met sekere verliese en eise wat daagliks aan die vrou gestel word.

Ons wil glad nie vroue (of mans) in “boksies plaas”, etiketteer en beperk nie. Ons beskou vroulikheid en manlikheid as algemene eienskappe op 'n onafgebroke spektrum (kontinuum) en glo elke individu het sy of haar eie kombinasie van “vroulike” en “manlike” eienskappe. Ons fokus hier op die ervarings wat meer gereeld onder vroue voorkom, sodat ons dit kan verstaan.

Het jy geweet?
  1. Depressie kom twee keer meer by vroue as by mans voor.
  2. Depressie is die algemeenste geestesgesondheidsprobleem onder vroue.
  3. In ontwikkelde lande sal een uit elke twaalf vroue alkoholafhanklikheid ontwikkel.
  4. As gevolg van die hoё voorkoms van seksuele geweld teen vroue, kom posttraumatiese stres ook die meeste voor onder vroue.
  5. Mental health

Hierdie afdeling is beslis nie 'n feministiese poging om vroue as superieur of dominant uit te lig, of te veg vir vroueregte nie, maar eerder 'n platform om die ervarings van vroue te verwoord.

HOEKOM BELANGRIK

Hoekom is vrouegeestesgesondheid belangrik?

Ons leef in 'n wêreld waar daar soveel druk op individue geplaas word om te presteer, dat mense soms die vermoë om hul ervarings te waardeer, verloor. Ons is soms so toekomsgedrewe, dat die oomblik by ons verbygaan. In die proses skep ons 'n teelaarde vir geestesgesondheidsprobleme.

Die fokus op vrouegeestesgesondheid is spesifiek daarop gemik om die uitdagings wat aan vroue gestel word (prakties en emosioneel), in die werkplek, tuis en sosiaal te ondersoek, te verstaan en te ondersteun. Ons wil hierdie ervarings verwoord, sodat ander vroue ook kan sien dat hulle nie alleen is in hul stryd nie en wenke gee hoe om moeilike situasies te hanteer.

VERSKIL

Hoe verskil vrouegeestesgesondheid van mansgeestesgesondheid?

Vrouegeestesgesondheid en mansgeestesgesondheid verskil nie in terme van die simptome, die graad van die simptome of die tipes diagnoses nie. (Daar is wel sekere tendense wat 'n mens wêreldwyd waarneem, bv. dat eetversteurings meer gereeld by vroue voorkom en dat mans meer gereeld met antisosiale persoonlikheidsversteuring gediagnoseer word. Dit verwys slegs na die algemene tendense, maar beteken nie dat mans nie bv. 'n eetversteuring kan ervaar of 'n vrou nie 'n antisosiale persoonlikheidversteuring kan hê nie.)

Die aard van die snellers verskil ook nie veel nie (bv. om 'n werk of 'n verhoudingsmaat te verloor of verwerping deur 'n portuurgroep te ervaar). Die uitdrukking van die simptome en die hantering kan ook soms verskil (as gevolg van die manier wat ons gesosialiseer is).

Die aard van geestesgesondheid bly dus dieselfde, maar as gevolg van hoe ons samelewing mans en vroue sien, behandel en grootmaak, is daar sekere verskille in die uitdrukking en hantering van die simptome.

Die fokus is eerder op 'n sekere tipe sneller bv. 'n miskraam (hoewel dit mans ook beïnvloed, ervaar hulle dit anders), of die eise gestel aan 'n enkelma (hoewel enkelpa’s ook swaarkry), en hoe vrouwees hierby aansluit.

Gendergebaseerde faktore wat vroue meer beïnvloed en die risiko van geestesgesondheidsprobleme by vroue verhoog is:

  1. geslaggebaseerde geweld
  2. sosio-ekonomiese benadeling (disadvantage)
  3. lae inkomste en ongelykheid van inkomste
  4. lae inkomste en ongelykheid van inkomste
  5. aanhoudende verantwoordelikheid vir die versorging van ander
  6. Mental health

BELANGRIKHEID VAN ROLLE

Die belangrikheid van die rol van die man/verhoudingsmaat/eggenoot

Die geestesgesondheid van die man en dié van die vrou in 'n verhouding beïnvloed mekaar. Met ander woorde, as die een swaar kry, kry die ander een ook swaar. As die vrou sukkel met postnatale depressie, sal dit die man ook negatief affekteer. As die vrou cope, sal dit die man se geestestoestand positief beïnvloed en andersom. Daarom is dit uiters belangrik om nie vrouegeestesgesondheid in isolasie te sien nie, maar binne die konteks van haar intieme, sowel as ander verhoudings.

Happy wife, happy life?
Ons sê maklik “happy wife, happy life”, maar in der waarheid is die teendeel ook waar – as die man of verhoudingsmaat gelukkig of ongelukkig is, beïnvloed dit ook die vrou in die verhouding.

UITBRANDING

Uitbranding

Ons hoor gereeld van mense wat “uitbrand” en sukkel om soos voorheen te funksioneer. “Uitbranding” beteken 'n toestand van fisieke en emosionele uitputting, wat selfs as depressiesimptome kan manifesteer. Lees meer hieroor in ons afdeling oor Depressie en gesonde hanteringsmeganismes.

{ Hoe kan ons jou help? }

SADAG

Hierdie organisasie het'n kragtige span psigiaters, sielkundiges
en algemene praktisyns. Kontak hul
tolvrye 24-uur-hulplyn
by 0800 12 13 14
Kontak SADAG

Good Hope

Die Good Hope Psychological Service (GHPS) word vir staatspasiënte vanaf die Stellenbosch Hospitaal, asook die TC Newman-hospitaal in die Paarl, bedryf. Kontak hulle by 021 887 7913
Kontak Good Hope

Het jy 'n vraag

Het jy ‘n vraag vir ‘n professionele persoon? Stuur jou vraag hier en iemand sal jou so gou moontlik kontak. Hierdie is 'n gratis diens wat ons aanbied aan die Suid-Afrikaanse publiek. Alle briewe word vertroulik hanteer.

Facebook

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 12 13 14 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak die Wie is ek?-sentrum.