Antisosiale persoonlikheidsversteuring
|
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan Antisosiale persoonlikheidsversteuring ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.
|
ALGEMEEN
Wat is Antisosiale persoonlikheidsversteuring (APV)?
'n Persoon met 'n antisosiale persoonlikheidsversteuring word in die volksmond meer dikwels beskryf as 'n “psigopaat” of “sosiopaat”.
Dié versteuring word oor die algemeen gekenmerk deur 'n gebrek aan gesonde morele waardes of skuldgevoel. Gewoonlik gaan dit gepaard met 'n geskiedenis van misdaad, botsings met die gereg, impulsiwiteit en aggressiewe gedrag. 'n APV is 'n moeilike toestand om te behandel en behandeling het baie selde 'n suksesvolle uitkoms.
SIMPTOME
Wat is die simptome van 'n antisosiale persoonlikheidsversteuring?
Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron:
Let asb. daarop dat 'n amptelike diagnose slegs deur 'n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.
- 'n Volgehoue patroon van “gebrek aan omgee vir ander” en “miskenning van ander se regte”. Dié patroon word aangedui deur drie of meer van die volgende:
- 'n onvermoë om aan sosiale gedragsnorme te voldoen; om bv. herhaaldelik dade te pleeg wat teen die wet is;
- 'n verdoeseling van die waarheid deur leuens te vertel, aliasse te gebruik of ander om die bos te lei vir persoonlike gewin of plesier;
- impulsiwiteit of 'n gebrek aan vooruitbeplanning;
- irritasie en aggressie, soos aangedui deur insidente van fisieke geweld;
- roekelose ignorering van gebeure wat hul eie of ander mense se veiligheid bedreig;
- aanhoudende onverantwoordelike optrede, soos aangedui deur herhaalde onvermoë om 'n werk te behou of finansiële verpligtinge na te kom; en/of
- 'n gebrek aan spyt of skuldgevoelens, of rasionalisering wanneer ander seergemaak of benadeel word.
- Die individu moet minstens 18 jaar oud wees.
- Aanduidings van die kenmerkende gedrag moes reeds voor die ouderdom van 15 jaar voorgekom het.
- Die kenmerkende gedrag is nie as gevolg van skisofrenie of 'n maniese episode nie.
BEHANDELING
Behandeling van 'n antisosiale persoonlikheidsversteuring
- Watter behandeling werk suksesvol in die hantering van 'n antisosiale persoonlikheidsversteuring?
Psigoterapie, veral gefokus op die identifisering en monitering van eie gedrag, kan in sommige gevalle help dat individue met 'n APV meer suksesvol in interpersoonlike verhoudings kan funksioneer. Die sukses met behandeling is egter beperk, veral omdat mense met 'n APV nie voel dat hulle behandeling nodig het nie. - Kan medikasie help?
Daar is tans geen medikasie wat voorgeskryf word vir mense wat diagnoseerbaar is met 'n APV nie. Medikasie is slegs van toepassing as daar 'n ander tipe toestand ook teenwoordig is bv. depressie. - Wie kan my of 'n geliefde diagnoseer?
Omdat 'n APV so kompleks is, kan dit slegs deur 'n kliniese sielkundige of psigiater gediagnoseer word. Hulle is opgelei om tussen verskillende versteurings te onderskei.
ADVIES
Advies vir geliefdes en familielede wat saam met iemand woon of werk wat gediagnoseer is met 'n antisosiale persoonlikheidsversteuring:
- Dit is uiters moeilik om 'n persoon wat met 'n antisosiale persoonlikheidsversteuring gediagnoseer is by te staan of te ondersteun. Die rede hiervoor is dat hierdie persone ander mense gewoonlik meer as objekte sien, en min tot geen empatie toon. Net omdat hulle nie empatie ervaar nie, beteken nie dat hulle dit nie kan verstaan nie.
Mense met ’n diagnose van 'n APV kan empaties optree, maar ongelukkig is dit meestal wanneer dit hulle help om ander te manipuleer. Die slegte nuus is dat 'n mens dus nie eintlik veel kan doen om die persoon te help nie.
Hoe sleg dit ook al klink, moet 'n mens jouself maar beskerm teen ’n persoon met ’n APV-diagnose, of ferm grense vir die persoon stel. Die ideaal sal wees om jou maar eerder uit die situasie of verhouding te verwyder.
- Maar wat as jy jouself nie kan verwyder nie? Ouers met volwasse kinders met hierdie diagnose MOET partykeer daarmee saamleef. In hierdie geval is dit gewoonlik die beste om nie te reageer op manipulasie nie en baie ferm grense te stel. Ons stel voor dat sekere voorwaardes vir gedrag gestel word, en dat daarby gehou MOET word. Byvoorbeeld: “Jy is enige tyd welkom om by ons te kuier en oor te slaap, maar nie meer as drie aande nie, en as jy dit misbruik, mag jy nie weer hier oorbly nie."
Probeer dus eerder GEDRAG reguleer as om die persoon te probeer verander.
Het jy geweet?
|
NOODMAATREËLS
- skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
- gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
- skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
- kontak Wie is ek?