Algemene angsversteuring
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan algemene angsversteuring ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.

ALGEMEEN

Algemeen

Gesonde angs ontwikkel in 'n angsversteuring wanneer dit 'n mens se lewe negatief begin beïnvloed, soos:

  1. om jou produktiwiteit te verminder;
  2. om te veroorsaak dat jy nie soos vroeër kan funksioneer in jou alledaagse lewe nie; en/of
  3. om pyne en probleme in jou liggaam te veroorsaak.

Persone wat aan algemene angsversteuring ly, het dikwels ook 'n lae selfbeeld en is sensitief vir kritiek, verwerping of om geïgnoreer te word. Hulle beskik gewoonlik oor swak hanteringsvaardighede en is geneig om tot uiterstes te gaan om situasies wat hulle angstig maak, te vermy. Swak hanteringsmeganismes kan hul kwesbaar maak vir ander geestesgesondheidsprobleme, bv. verslawing.

Het jy geweet?
Ongeveer drie tot agt persent (3-8%) van volwassenes in Suid-Afrika sal een of ander tyd gedurende hul leeftyd algemene angsversteuring ervaar.
Die meeste mense met algemene angs sê dat hulle lewenslank al sukkel met oormatige bekommernis. Simptome kan reeds vroeg in 'n mens se lewe begin en vererger gedurende stresvolle tye.

WAT IS DIE SIMPTOME?

Wat is die simptome van 'n algemene angsversteuring?

Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die gesaghebbendste bron.

Die simptome verskil van persoon tot persoon. Sommige mense sal meer kognitiewe simptome (konsentrasie, denke, geheue) ervaar, terwyl ander meer liggaamlike simptome (spiere, maag, spysvertering, pyn) of 'n kombinasie ervaar.

Die simptome behels grootliks om:

  1. angstig te voel en konstant bekommerd te wees; en
  2. heeltyd te verwag dat “iets slegs gaan gebeur”.

Om diagnoseerbaar te wees, moet die angs of bekommernis ten minste ses maande lank aanwesig wees en in verskillende kontekste voorkom (bv. by die huis, werk, skool, ens.)

Belangrik
Let daarop dat ʼn amptelike diagnose slegs deur ʼn gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.
Onthou!
Die simptome moet nie die gevolg van ander fisieke kondisies, soos siekte of die gebruik van dwelmmiddels, wees nie.
  1. Dit is moeilik om die bekommernis te beheer. Dit voel asof die angs en bekommernis oorneem en nie beheer kán word nie. Selfs al dink mens aan iets anders, is die “spanning” steeds teenwoordig.
  2. Die angs en bekommernis is verwant aan ten minste drie van die volgende simptome wat minstens ses maande lank gereeld aanwesig is:
    1. rusteloosheid, 'n “on the edge”-gevoel (Dit voel asof jy opgewen is en nie kan ontspan nie. Jy is feitlik chronies ingestel op iets slegs wat gaan gebeur.);
    2. raak maklik uitgeput en sukkel met moegheid (Jy word maklik moeg, moeër as wat 'n mens normaalweg van die situasie of aktiwiteit sou verwag en dit voel asof jy nie genoeg energie het nie.);
    3. sukkel om te konsentreer (Sommige mense sê hulle kop voel dof of “mistig” (foggy); hul gedagtes dwaal maklik en hulle sukkel om op iets te fokus en/of feite te onthou.);
    4. geïrriteerdheid (Omdat 'n mens so “on the edge” voel, raak jy maklik ontsteld as iets onverwags gebeur of nie soos jy dit wil hê nie. Jy kan dan geïrriteerd of krapperig raak.);
    5. spanning in die spiere (Baie mense dra hul spanning in hul liggaam en sal tipies sukkel met spierspasmas in hul skouers of rug.); en/of
    6. 'n versteuring in die slaappatroon (Iemand sukkel om aan die slaap te raak, word gereeld wakker, sukkel om deur te slaap, slaap rusteloos en/of staan moeg op.).
  3. Die simptome het 'n negatiewe effek op ‘n persoon se funksionering en veroorsaak ongemak.
  4. Die simptome word nie beter verklaar deur 'n ander versteuring, bv. posttraumatiese stres, 'n fobie, depressie, ‘n eetversteuring of skisofrenie nie.

Hoewel dit nié deel van die diagnose vorm nie, sien ons wel in ons praktyk dat kliënte wat sukkel met algemene angs ook soms probleme ervaar met hul maag en/of spysvertering. Angs kan soms ook 'n invloed op uitskeiding hê, bv. hardlywigheid of simptome soortgelyk aan diarree. Daar is ook gereeld kliënte wat noem dat hul naar word of vomeer van angs. Liggaamlike pyne kan ook opduik of vererger.

BEHANDELING

Behandeling van algemene angsversteuring

Hoekom is behandeling nodig vir algemene angsversteuring?
Algemene angsversteuring kan suksesvol behandel word, maar dan word professionele behandeling vereis. Die toestand klaar selde vanself op. Sonder behandeling kan simptome vererger en lei tot mediese/liggaamlike probleme. Onbehandelde angs kan 'n mens ook kwesbaar maak vir ander geestestoestande bv. verslawing en eetversteurings.

Hoe sal 'n behandelingsplan vir algemene angs lyk?

Vanuit 'n geïntegreerde benadering, stel ons meestal 'n kombinasie van die vogende strategieë voor:

Belangrik
'n Psigiatriese toestand of diagnose is nooit 'n verskoning vir ongeskikte of onvanpaste gedrag nie. Die diagnose is bedoel om iemand te help om hulself beter te verstaan en die gepaste behandeling daarvoor te kry sodat hulle kan leer om hulself op 'n gesonde manier te bestuur.
Het jy geweet?
Algemene angs kom meer onder vroue as mans voor.
  1. Diagnose
    'n Akkurate diagnose is baie belangrik. Begin daarom eers deur 'n volledige mediese ondersoek by jou algemene praktisyn aan te vra om seker te maak daar is nie enige mediese verklaring vir jou simptome nie; indien nie, is die volgende stap om 'n afspraak by 'n sielkundige of psigiater te maak, wat jou volledig kan assesseer en diagnoseer.
  2. Medikasie
    Die eerste stap is gewoonlik medikasie, wat deur 'n huisdokter of psigiater voorgeskryf word of, as jy dit nie kan bekostig nie, deur 'n mediese praktisyn by enige algemene hospitaal se ongevalle-afdeling of kliniek.
  3. Terapie
    Saam met medikasie is die hulp en ondersteuning van 'n geregistreerde (kliniese, voorligting- en soms opvoedkundige) sielkundige, geregistreerde berader of selfs 'n geestelike leier of betroubare, opgeleide, berader in jou gemeenskap uiters belangrik. Medikasie is hoogs suksesvol in die behandeling van angsversteuring en werk die vinnigste, maar op die lang termyn is dit die moeite werd om binne 'n terapeutiese verhouding te leer om jou angs te verstaan en te bestuur.
  4. Ondersteuningsgroepe
    'n Ondersteuningsgroep kan van onskatbare waarde wees vir iemand wat aan 'n angsversteuring ly. Binne die groep deel mense hul “stories” en uitdagings en leer hulle uit mekaar se vaardighede en ervarings. Dit is nogtans nie altyd maklik om 'n ondersteuningsgroep in 'n mens se area te vind nie. Aanlyn soektogte lewer soms goeie resultate op. Meer inligting kan op die SADAG-webtuiste gevind word.
  5. Leefstyl
    Om angs effektief te bestuur, verg gewoonlik 'n gesonde, gebalanseerde leefstyl. Dit beteken dat daar tyd afgestaan word aan selfversorging. Gereelde oefening of fisieke aktiwiteite soos stap of draf, tyd om te ontspan en 'n gebalanseerde dieet word gewoonlik voorgestel. Sekere kossoorte (bv. kaffeïen), medikasie (bv. stimulante) en middels (bv. alkohol) kan angs vererger en moet daarom beperk word.

Beteken dit dat mense wat nie toegang tot medikasie het nie, of dit nie kan bekostig nie, niks aan 'n angstoestand kan doen nie?
Nie noodwendig nie. 'n Mens kan angs bestry deur 'n gesonde leefstyl, meditasie en fisieke oefening, wat eintlik ideaal is. Só 'n leefstyl neem net langer as medikasie om die simptome te beheer. Basiese medikasie vir algemene angstoestande is ook relatief goedkoop.

Let wel: Hoewel daar talle veilige opsies vir angsmedikasie bestaan, is sekere medikasie, bv. benzodiazepine, uiters verslawend en moet daarom in ALLE gevalle slegs deur 'n dokter voorgeskryf word. Dit is ook UITERS belangrik dat dit presies geneem word soos wat dit voorgeskryf is, en nooit meer as die voorgeskrewe dosis nie.

Indien iemand verslawingsgevoelig is, is dit van kardinale belang dat die dokter of mediese praktisyn daaroor ingelig word.

VRAELYS

Het jy of 'n geliefde 'n probleem met angs?

Volg die skakel na die Hospital Anxiety and Depression Scale (HADS) hieronder, wat ‘n aanduiding kan gee. Onthou asseblief dat slegs ‘n geregistreerde sielkundige ‘n diagnose kan maak.

Download Document

LEES MEER OOR ALGEMENE ANGS

Lees meer oor algemene angs:

  1. Chronic Anxiety: Generalized Anxiety Disorder and Mixed-Depression. Ronald M. Rapee and David H. Barlow (Eds). Guilford Press, 1991.
  2. Generalized Anxiety Disorder: Diagnosis, Treatment and Its Relationship to Other Anxiety Disorders. David Nutt, Spilios Argyropoulos and Sam Forshall. Bladwell Science Inc., 1999.
  3. Overcoming Generalized Anxiety Disorder: Client Manual. John White. New Harbinger Publications, 1999.
Belangrik
'n Psigiatriese toestand of diagnose is nooit 'n verskoning vir ongeskikte of onvanpaste gedrag nie. Die diagnose is bedoel om iemand te help om hulself beter te verstaan en die gepaste behandeling daarvoor te kry sodat hulle kan leer om hul geestestoestand op 'n gesonde manier te bestuur.
Onthou!
Indien 'n persoon vermoed dat hy-/syself of 'n geliefde aan 'n angsversteuring ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou moontlik by 'n professionele persoon om hulp aanklop.

Relevante artikels

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?