Narsistiese persoonlikheidsversteuring
|
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan narsistiese persoonlikheidsversteuring ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.
|
ALGEMEEN
Wat is narsistiese persoonlikheidsversteuring (NPV)?
Die algemene kenmerke van 'n narsistiese persoonlikheidsversteuring is 'n oormatige beheptheid met selfbeeld, mag en vertoon en om die regte beeld voor te hou.
Die persoon met 'n NPV het oënskynlik baie selfvertroue, maar die verskil tussen dié versteuring en “normaliteit” tree in wanneer die persoon se lewenskwaliteit en verhoudings daaronder lei.
Mense wat aan 'n NPV ly, se idee van hul selfwaarde is oënskynlik so hoog dat hulle hulself as beter en belangriker as ander beskou. Hulle het egter 'n kenmerkende lae selfbeeld en sukkel om kritiek te hanteer, wat veroorsaak dat hulle gereeld probeer kompenseer deur ander te verkleineer. Dit is hierdie “sadistiese” kenmerk wat 'n NPV onderskei van ander toestande wat met selfwaarde verband hou.
Het jy geweet?
SIMPTOME
Wat is die simptome van 'n narsistiese persoonlikheidsversteuring?
Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat 'n amptelike diagnose slegs deur 'n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.
'n Volgehoue patroon van “oormatige belangrikheid” in gedrag of fantasieë. Die patroon behels 'n behoefte aan bewondering van en 'n gebrek aan empatie met ander mense, wat in vroeë volwassenheid begin en in verskillende situasies voorkom. Vyf (5) of meer van die volgende simptome moet by die persoon voorkom:
- 'n oormatige gevoel van selfbelang; oordrewe klem op talente en prestasies; 'n verwagting om as superieur/belangriker beskou te word;
- 'n beheptheid met gedagtes aan onbeperkte sukses, mag, briljantheid, skoonheid of die ideale liefde;
- die oortuiging dat hy/sy “spesiaal” en “uniek” is en slegs met mense van “hoë status” kan assosieer;
- vereis oormatige bewondering;
- 'n sin vir eiegeregtigheid (entitlement), bv. die verwagting om gehoorsaam te word of as spesiaal behandel te word;
- interpersoonlike uitbuiting, bv. om misbruik te maak van ander tot sy/haar eie voordeel;
- 'n gebrek aan empatie; is onwillig en/of nie in staat om met ander se gevoelens te identifiseer nie;
- is afgunstig op ander, en/of glo dat ander afgunstig is op hom/haar; en/of
- kom arrogant en hooghartig voor in gedrag of houding.
BEHANDELING
Behandeling van 'n narsistiese persoonlikheidsversteuring
- Kan 'n persoon met hierdie diagnose genees word?
Die algemene konsensus in hierdie stadium is dat persoonlikheidsversteurings nie “genees” kan word nie, maar 'n persoon kan leer om hulself en hul verhoudings beter te hanteer. - Is daar medikasie vir hierdie persoonlikheidsversteuring?
Daar is tans geen medikasie wat voorgeskryf word vir mense wat diagnoseerbaar is met 'n NPV nie. Medikasie sal slegs oorweeg word indien die persoon ander simptome ook toon, bv. depressie of algemene angs. - Kan 'n kliniese sielkundige help om 'n persoon met narsisme te help verander, veral in 'n verhoudingskonteks?
Sekere resultate kan wel bereik word, maar oor die algemeen sal mense wat sukkel met narsisme nie vrywillig sielkundige hulp oorweeg nie, bloot omdat hulle nie sal erken dat daar “fout” met hulle is nie.Niemand kan iemand anders “verander” nie, maar indien 'n persoon met 'n NPV of aanduidings daarvan wel verantwoordelikheid vir hul gedrag sál aanvaar, kan hulle deur (gewoonlik langdurige/intensiewe) terapie aanleer om hulself beter te bestuur.
- Wie kan iemand met hierdie persoonlikheidsversteuring diagnoseer?
Omdat 'n NPV so kompleks is, kan dit slegs deur 'n kliniese sielkundige of psigiater gediagnoseer word. Hulle is opgelei om tussen verskillende versteurings te onderskei.
ADVIES
Advies vir geliefdes en familielede wat saam met iemand woon of werk wat gediagnoseer is met 'n narsistiese persoonlikheidsversteuring?
- Erken jou irritasie. Persone met 'n NPV kan geweldig antagonisties wees. Dit kan voel of die persoon met 'n NPV “onder jou vel inkom”. As jy 'n taak probeer uitrig en die narsis onderbreek jou vordering konstant, erken waar jou frustrasie vandaan kom. Dit kan jou bemagtig om die gedrag te identifiseer en grense te stel.
- Verstaan waar die gedrag vandaan kom. Persone met 'n NPV het dikwels 'n probleem met gesag. Verstaan dat dit meestal uit onsekerheid spruit. Deur dus begrip hiervoor te ontwikkel, kan jy die persoon genoeg gerusstelling bied om hom/haar te kalmeer en hul fokus te verskuif.
- Evalueer die konteks. Iemand met 'n NPV het nie 'n “alles-of-niks-persoonlikheid” nie. Sommige situasies kan die persoon aanmoedig om verdedigend, wraaksugtig en/of nydig op te tree. Alle gedrag is nie altyd aan so 'n persoon se toestand te wyte nie.
- Bly positief. Dit is belangrik om te weet dat persone met 'n NPV wat genot ervaar deur ander emosioneel seer te maak, aangemoedig word om die gedrag te herhaal as hulle sien dat hulle pyn veroorsaak. Moenie aandag daaraan gee nie, selfs al ervaar jy frustrasie. Hoe minder aandag die uitdagende gedrag kry, hoe minder sal dit plaasvind.
- Moenie jou eie lewe en gevoelens “ontspoor” nie. Dit is ongelukkig maklik om jou eie sin vir waarde te verloor as jy jou lewe met 'n narsis deel. Jy hoef nie aandag te skenk aan alles wat die persoon van jou verwag nie. Vind 'n balans tussen die rigting waarin jý wil beweeg en die verligting van 'n persoon met 'n NPV se onsekerhede en angs. Jy kan die narsistiese persoon se gevoelens erken, maar steeds met jou dag aangaan.
- Behou jou sin vir humor. Jy kan 'n persoon met 'n NPV se bravade (bluff) uitdaag. Dit kan beteken dat jy die gedrag ignoreer of soms selfs 'n grappie daaroor maak. Moet dit nie op 'n neerhalende, kwetsende of vernederende manier doen nie, maar jy mag die onvanpastheid van sy of haar gedrag uitwys.
- Moedig psigoterapie aan. 'n Persoon met 'n NPV het dikwels 'n lae selfbeeld en gevoelens van ontoereikendheid. Om 'n NPV te hanteer, is nie iets wat jy op jou eie kan aanpak nie – slegs 'n gekwalifiseerde persoon kan die persoon hiermee help.
NOODMAATREËLS
- skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
- gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
- skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
- kontak Wie is ek?