ALGEMEEN

Wat is 'n gemoedsversteuring?

ʼn Gemoedsversteuring is ʼn versteuringspatroon wat ontstaan as gevolg van ʼn abnormale gemoed. Die meeste persone met ʼn gemoedsversteuring ervaar in ʼn sekere stadium depressie, maar sommige persone ervaar ook skommelinge in gemoed (“op-en-af”-gevoel).

Het jy geweet?
Die term GEMOED verwys na ‘n persoon se emosionele toestand, m.a.w. hoe hy of sy VOEL.

BEHANDELING

Algemene inligting oor die behandeling van gemoedsversteurings

  1. Hoekom is behandeling nodig vir gemoedsversteurings?
    Professionele behandeling is uiters belangrik vir enigiemand wat gediagnoseer is met ʼn gemoedsversteuring omdat daar ʼn sterk chemiese onderbou van simptome is en dit moeilik is om die simptome onder beheer te hou (dit kan m.a.w. eskaleer) sonder medikasie en/of psigoterapie.
  2. Wie kan jou of ʼn geliefde diagnoseer en behandel?
    Soos met die meeste sielkundige probleme, is dit gewoonlik nodig om professionele hulp te soek vir gemoedsversteurings. Die volgende professionele persone kan help:
    1. Huisdokter
      ʼn Deeglike evaluasie deur ʼn mediese dokter kan ʼn waardevolle eerste stap wees om seker te maak dat daar geen mediese snellers vir die gemoedsversteuring is nie. Indien daar nie is nie, is die volgende stap om die sielkundige aard van die gemoedsprobleem te ondersoek.
    2. Sielkundige
      ʼn Geregistreerde sielkundige met ervaring in die veld, kan saam met jou ʼn behandelingsplan opstel waarin julle gesels oor die sielkundige benadering wat gevolg kan word, sowel as om die ander professionele persone wat betrek kan word, aan te beveel. Psigoterapie is gewoonlik baie waardevol in die verstaan en behandeling van ʼn gemoedsversteuring.
    3. Psigiater
      Dikwels is medikasie nodig en daarvoor kan die sielkundige die persoon verwys na ʼn psigiater, wat dan ʼn volledige assessering kan doen en toepaslike medikasie kan aanbeveel en voorskryf (indien nodig). Indien iemand enigsins verslawingsgevoelig is (m.a.w. maklik aan iets verslaaf kan raak), is dit van KARDINALE belang om die psigiater, mediese praktisyn, sielkundige en almal betrokke by die persoon, hieroor in te lig.
  3. Watter rol speel ʼn sielkundige in my behandeling?
    ʼn Geregistreerde sielkundige kan sielkundige toestande diagnoseer en psigoterapeuties behandel. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om ʼn strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. ʼn Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik in spanverband saam met ʼn psigiater.
  4. Wat is die verskil tussen 'n huisdokter, geregistreerde sielkundige en psigiater?
    1. Huisdokter:ʼn Huisdokter voltooi sewe jaar studie in die medisyne. Omdat hulle nie in psigiatrie gespesialiseer het (soos ʼn psigiater) nie, het hulle slegs ʼn beperkte blootstelling aan die opleiding wat noodsaaklik is om mense met sielkundige/psigiatriese toestande te diagnoseer en te behandel. Jou huisdokter mag wel medikasie voorskryf, maar is ook eties verplig om ʼn pasiënt te verwys na die toepaslike professionele persoon, indien dit nodig is.
    2. ʼn Geregistreerde sielkundige: ʼn Geregistreerde sielkundige bestudeer (breedweg) menslike gedrag en psigoterapie. In Suid-Afrika moet alle geregistreerde sielkundiges ʼn meestersgraad (studietyd van ten minste ses jaar) hê om te kan registreer by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) en te mag praktiseer. ʼn Sielkundige werk saam met jou in terapie om jouself en jou diagnose te kan verstaan en hanteer. Daar is verskillende kategorieë van sielkundiges, wat op verskillende areas fokus (sien hieronder).
    3. Psigiater:ʼn Psigiater voltooi ook sewe jaar studie in die medisyne, maar spesialiseer verder in psigiatrie, naamlik die chemiese behandeling van afwykings wat met menslike gedrag te doen het. ʼn Psigiater is dus die dokter wat jou kan diagnoseer en, indien nodig, die regte medikasie kan voorskryf vir jou sielkundige toestand.

    Verwysings na “sielkundige toestande” of “psigiatriese toestande” beteken presies dieselfde.

  5. Is daar ʼn spesifieke kategorie van geregistreerde sielkundiges wat ek moet raadpleeg?
    In Suid-Afrika bestaan daar tans vyf verskillende kategorieë of fokusareas waarbinne alle sielkundiges moet registreer. Daar heers 'n interessante debat aangaande die fokusareas (scope of practice) van die verskillende sielkundiges. Opleidingsinstansies, die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) en diegene wat in praktyk staan, verskil oor hoe die areas gedefinieer moet word.

  6. Hier volg ʼn eenvoudige beskrywing van elke professionele kategorie:
    1. Kliniese sielkundige
      'n Kliniese sielkundige bestudeer menslike gedrag en psigoterapie. In Suid-Afrika moet hulle minstens ‘n meestersgraad (ses jaar + se studies) voltooi, wat akademiese werk, navorsing en ‘n internskap insluit, om te kan registreer. ‘n Kliniese sielkundige is die persoon wat jou kan help om jou sielkundige diagnose (soos posttraumatiese stresversteuring) te verstaan en daarmee saam te leef.
    2. Voorligtingsielkundige
      ʼn Voorligtingsielkundige bestudeer, net soos ʼn kliniese sielkundige, menslike gedrag en psigoterapie. Soos alle geregistreerde sielkundiges, moet ʼn voorligtingsielkundige ʼn meestersgraad in sielkunde hê, wat ʼn akademiese, navorsings- en praktiese komponent insluit. Daarna volg ʼn internskap wat, anders as by ʼn kliniese sielkundige, gewoonlik nie in ʼn psigiatriese hospitaal gedoen word nie, maar eerder in “gewone” hospitale of beradingseenhede. ʼn Voorligtingsielkundige werk saam met jou in terapie om jouself te leer ken, jou kwesbaarhede (en diagnose) te verstaan en te leer om die lewe op ʼn gesonde manier te hanteer.
    3. Opvoedkundige sielkundige
      ʼn Opvoedkundige sielkundige het voorgraadse opleiding in die onderwys. Om gekeur te word vir die meestersgraad in opvoedkundige sielkunde, word vereis dat ʼn persoon ten minste twee jaar onderwyservaring moet hê. Die meestersgraad bestaan uit teorie, praktiese modules, asook navorsing. Daarna word ʼn internskap van 12 maande onder supervisie voltooi. 'n Opvoedkundige sielkundige is 'n persoon wat dikwels met kinders, tieners en studente werk rakende kwessies wat hul (vermoë om te) leer en ontwikkeling affekteer. So 'n persoon kan ook diagnoses maak van toestande soos angs, depressie, trauma, leerhindernisse en ontwikkelingsagterstande. Daar word ook dikwels met ouers gewerk om hulle toe te rus om hul kind/tiener/student te ondersteun.
    4. Bedryfsielkundige
      ʼn Bedryfsielkundige fokus op organisasies en die werksomgewing en kan ʼn waardevolle bydrae lewer in die menslike hulpbronafdeling van ʼn maatskappy.
    5. Navorsingsielkundige
      Navorsingsielkundiges spits hul toe op akademiese vooruitgang binne die sielkundeveld en doen navorsing rakende sielkundige temas en verskynsels.

Die verskillende kategorieë bepaal die fokusareas waarbinne sielkundiges volgens regulasies moet hou en die etiese en wetlike vereistes waaraan hulle moet voldoen. Slegs ʼn kliniese sielkundige kan volgens die HPCSA ʼn kliniese diagnose maak.

SELFBESTUUR

Wat kan ek sélf doen om my gemoedsteurnis te bestuur?

  1. Beperk/vermy kaffeïen, alkohol en dwelmmiddels wat ʼn negatiewe invloed op 'n mens se gemoed kan hê.
  2. Handhaaf ʼn gesonde lewenstyl
    Terwyl depressie behandel word, is dit altyd nodig om gesonde leefstylkeuses wat geestesgesondheid bevorder, te maak, bv. gereelde oefening, gesonde slaapgewoontes, gebalanseerde eetgewoontes en tyd om te dink en te ontspan. Rus en roetine bevorder geestesgesondheid.
  3. Sluit aan by ʼn ondersteuningsgroep
    ʼn Ondersteuningsgroep kan van onskatbare waarde wees vir iemand wat aan ʼn gemoedsversteuring ly. Binne die groep deel mense hul “stories” en uitdagings en leer uit mekaar se vaardighede en ervarings. Dit is nogtans nie altyd maklik om ʼn ondersteuningsgroep in ʼn mens se area te vind nie. Aanlyn soektogte lewer soms goeie resultate. Meer inligting kan op die SADAG-webtuiste gevind word.

ADVIES

Advies vir geliefdes en familielede wat saam met iemand woon of werk wat gediagnoseer is met 'n gemoedsversteuring

As ʼn geliefde of vriend(in) gediagnoseer word met 'n gemoedsversteuring, kan jou ondersteuning en motivering ʼn baie belangrike rol speel in die aanvaarding en hantering van hul diagnose. Hier is riglyne hoe jy ʼn individu kan bystaan:

  1. Wees geduldig. Mense wat met die diagnose van ʼn gemoedsversteuring gekonfronteer word, het nie altyd die vermoë om te sê hoe hulle voel of wat hulle ervaar nie. Gee hulle ʼn kans om eers gewoond te raak aan die diagnose en om geleidelik ʼn daadwerklike plan te kan uitwerk hoe om hul lewe vorentoe te bestuur.
  2. Wees ingelig oor die versteuring. Hoe meer jy en jou geliefde, familielid of kollega van die siekte weet en verstaan, hoe beter kan julle saamwerk aan ʼn plan om die persoon te ondersteun en die siekte te bestuur.
  3. Vra wat jou geliefde van jou verwag. ʼn Mens kan maklik dink jy weet wat die beste vir ʼn ander persoon is, maar die maklikste is om te vra hoe hy of sy wil hê jy moet optree.
  4. Luister na hom of haar en moenie konstant raad gee of logies probeer redeneer nie. Dit is belangrik dat die persoon sélf verantwoordelikheid neem vir die siektetoestand en die effek wat dit op sy/haar lewe gaan hê. Wanneer jy keuses namens iemand anders maak, kan dit dalk veroorsaak dat persone afhanklik raak van jou en dan nie sélf die siekte wil beveg nie. Dit is nie jóú siektetoestand nie, maar jou geliefde s’n. Om te luister is wel ʼn wonderlike manier om jou geliefde te ondersteun.
  5. Leer ken die tekens en die simptome sodat jy vroegtydig kan optree. Almal se simptome van gemoedsversteurings manifesteer nie op dieselfde manier nie, dus is dit baie belangrik om te verstaan hoe die persoon in jou lewe se simptome manifesteer. Wanneer jou geliefde byvoorbeeld skielik aansienlik meer angs ervaar as ander tye, kan jy solank proaktief begin optree deur byvoorbeeld die persoon bewus te maak van wat jy sien gebeur.
  6. Neem deel aan fisieke aktiwiteite saam met die individu. Dit is nie ʼn cliché dat gereelde oefening mense met sielkundige diagnoses help nie. Oefening verlig spanning en angstigheid en help met die produksie van oordragstowwe wat ʼn lae gemoed beveg. Gereelde oefening is dus in werklikheid ʼn suksesvolle antidepressant.
  7. Moedig ‘n gesonde eet- en slaappatroon aan. ʼn Gevestigde roetine help nie net die persoon om hul siektetoestand te bestuur nie, maar help ook om die tekens/simptome vroegtydig raak te sien.
  8. Kyk mooi na jouself! Onthou, ʼn persoon met ʼn gediagnoseerde gemoedsversteuring kan jou ook negatief beïnvloed deur jou by hul versteuring te betrek. Om saam met ʼn persoon te leef wat gediagnoseer is met 'n gemoedsversteuring kan frustrerend, uitputtend en soms chaoties voel. Maak tyd vir jouself ook.

VRAELYS

Die “Hospital Anxiety and Depression Scale (HADS)” is oorspronklik ontwikkel deur Zigmond en Snaith (1983) en word algemeen deur dokters gebruik om die vlakke van angs en depressie wat 'n persoon ervaar, te bepaal. Voltooi die vraelys deur op die onderstaande skakel te klik. Die resultate sal aan die einde van die 14-item-vraelys beskikbaar wees.

Interessant!
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie word meer as 300 miljoen mense wêreldwyd geaffekteer deur depressie; en nagenoeg 60 miljoen mense wêreldwyd deur bipolêre gemoedsversteuring.
Sien: Fact sheets: Mental Disorders
Onthou!
Indien 'n persoon vermoed dat hy-/syself of ʼn geliefde aan 'n gemoedsversteuring ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en om so gou moontlik die hulp van ʼn professionele persoon in te roep.

{ Hoe kan ons jou help? }

SADAG

Hierdie organisasie het'n kragtige span psigiaters, sielkundiges
en algemene praktisyns. Kontak hul
tolvrye 24-uur-hulplyn
by 0800 12 13 14
Kontak SADAG

Good Hope

Die Good Hope Psychological Service (GHPS) word vir staatspasiënte vanaf die Stellenbosch Hospitaal, asook die TC Newman-hospitaal in die Paarl, bedryf. Kontak hulle by 021 887 7913
Kontak Good Hope

Het jy 'n vraag

Het jy ‘n vraag vir ‘n professionele persoon? Stuur jou vraag hier en iemand sal jou so gou moontlik kontak. Hierdie is 'n gratis diens wat ons aanbied aan die Suid-Afrikaanse publiek. Alle briewe word vertroulik hanteer.

Facebook

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 12 13 14 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak die Wie is ek?-sentrum.