Skeidingsangsversteuring
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan skeidingsangsversteuring ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.

ALGEMEEN

Wat is skeidingsangsversteuring?

Skeidingsangsversteuring is 'n diepgewortelde vrees om geskei te word van belangrike bindingsfigure/geliefdes, bv. kinders, ‘n eggenoot of verhoudingsmaat, ouers, ‘n broer/suster of ‘n vriend(in). Die vrees perk 'n persoon se funksionering en lewenskwaliteit merkbaar in.

Belangrik
Let asseblief daarop dat 'n amptelike diagnose slegs deur 'n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

SIMPTOME

Wat is die simptome van skeidingsangs?

Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die gesaghebbendste bron:

  1. Vrees of angs wat nie gepas is vir die individu se ontwikkelingsvlak nie en gefokus is op die skeiding van die persoon/persone aan wie die persoon geheg is. Hierdie vrees of angs presenteer deur ten minste drie van die volgende simptome:
    1. herhalende en oormatige ontsteltenis wanneer die persoon skeiding van die huis of 'n belangrike geliefde ervaar of verwag;
    2. aanhoudende en oormatige bekommernis dat die persoon dié belangrike geliefde gaan verloor óf dat moontlike “skade” aan die geliefde aangerig gaan word, bv. deur siekte, besering, tragedie of die dood;
    3. aanhoudende en oormatige bekommernis dat iets slegs gaan gebeur wat skeiding van die belangrike geliefde sal veroorsaak (bv. om te verdwaal, ontvoer te word, in 'n ongeluk te wees of 'n ongeneeslike siekte op te doen);
    4. die vrees vir skeiding veroorsaak aanhoudende onwilligheid of weiering om uit te gaan, om weg van die huis te wees, skool toe, werk toe of elders te gaan;
    5. aanhoudende en oormatige vrees of onwilligheid om alleen of sonder 'n belangrike geliefde te wees, by die huis of onder ander omstandighede;
    6. aanhoudende onwilligheid of weiering om weg van die huis te slaap OF om te slaap sonder dat die belangrike geliefde naby is;
    7. herhaalde nagmerries rakende skeiding; en/of
    8. herhaalde klagtes van fisieke simptome, bv. hoofpyne, maagpyn, naarheid, braking wanneer skeiding van 'n belangrike geliefde ervaar of verwag word.
  2. Hoe lank moet die simptome teenwoordig wees?
    1. By kinders en tieners ten minste vier weke; en
    2. By volwassenes ten minste ses maande.
  3. Dié versteuring veroorsaak merkbare ongemak en ontsteltenis of perk die persoon se funksionering by die skool, werk, in hul sosiale lewe en/of op ander terreine in.
  4. Dié versteuring word nie beter verduidelik deur 'n ander sielkundige toestand, bv. algemene angsversteuring, nie.

Volwassenes met skeidingsangs kan baie ongemak ervaar wanneer hulle onafhanklik moet reis en/of oorbly.

In sommige gevalle kom paniekaanvalle ook saam met die vrees vir skeiding voor.

BEHANDELING

Behandeling van skeidingsangsversteuring

Het jy geweet?
Hoewel skeidingsangs 'n ernstige versteuring is wat 'n negatiewe impak op 'n persoon se lewenskwaliteit het, is dit belangrik om te onthou dat behandeling hiervoor beskikbaar is.
Onthou!
Indien daar nie 'n ondersteuningsgroep in jou omgewing is nie, bied dit dalk vir jou 'n geleentheid om jou eie groep te begin!
  1. Hoekom is dit nodig om skeidingsangsversteuring te behandel?
    Skeidingsangsversteuring perk 'n persoon se funksionering en lewenskwaliteit in en kan lei tot ernstige probleme in verhoudings, gesinne en families. Skeidingsangsversteuring verdwyn nie gewoonlik sonder behandeling nie. Dit is belangrik om so gou moontlik behandeling hiervoor te kry.
  2. Hoe word skeidingsangsversteuring behandel?
    Dit kan dalk 'n bietjie eksperimentering verg voordat die persoon die behandeling vind wat vir hom/haar effektief is. Al die opsies is nie altyd in Suid-Afrika vir almal beskikbaar nie, maar hier volg 'n paar aanbevelings:
    1. Diagnose
      Effektiewe behandeling verg 'n korrekte diagnose. 'n Psigiater of geregistreerde sielkundige kan help om die simptome te identifiseer en 'n akkurate diagnose te maak.
    2. Psigoterapie
      Vir die meeste mense met 'n gemiddelde tot ernstige graad van skeidingsangsversteuring is psigoterapie 'n nuttige en effektiewe hulpmiddel. Onderskeie sielkundiges gebruik verskillende benaderings hiervoor. Kognitiewe gedragsterapie (cognitive behavioural therapy) en dialektiese gedragsterapie (dialectical behaviour therapy) is o.m. benaderings wat effektief gebruik word in die behandeling van skeidingsangsversteuring. Psigoterapie kan in 'n een-tot-een-sessie aangebied word, maar daar is ook sielkundiges wat terapie met paartjies/verhoudingsmaats, gesinne of groepe aanbied.
    3. Ondersteuningsgroepe
      Ondersteuningsgroepe is telkens baie waardevol, aangesien dit 'n mens die geleentheid bied om van ander te leer wat soortgelyke ervarings en uitdagings deel. Groeplede bied ook ondersteuning aan mekaar en gee aan die persoon die gevoel dat daar ander mense is wat verstaan waardeur hy/sy gaan. Ongelukkig is daar nie altyd 'n aktiewe groep in 'n mens se omgewing nie. Aanlyn soektogte lewer soms goeie resultate. Meer inligting kan op die SADAG-webtuiste
    4. Medikasie
      Dikwels is medikasie nodig, en daarvoor kan die sielkundige die persoon verwys na 'n psigiater, wat dan 'n volledige assessering kan doen en toepaslike medikasie kan aanbeveel en voorskryf (indien nodig).

SELFBESTUUR

Wat kan jy self doen om jou simptome te bestuur?

  1. Inligting inwin
    Om meer te weet van 'n mens se simptome en hoe skeidingsangsversteuring werk, kan baie help om 'n mens te bemagtig en simptome te beheer.
  2. Vra vir hulp
    Om te erken dat 'n mens 'n probleem het, is 'n belangrike eerste stap, wat ook taamlike verligting kan bring. Die volgende stap is om met 'n geliefde te deel waardeur 'n mens gaan, maar met skeidingsangsversteuring is professionele hulp meestal nodig om 'n merkbare verskil te maak.
  3. Hou by die behandelingsplan
    Dit is baie algemeen dat 'n mens nie meteens 'n verandering in simptome beleef sodra behandeling begin nie. 'n Persoon moet gemaklik voel by sy/haar terapeut en 'n vertrouensverhouding opbou. Dit neem gewoonlik tyd om die fondasie hiervoor te lê. Indien medikasie voorgeskryf is, kan dit ook tyd neem om die regte soort medikasie en dosis te vind, aangesien mense verskillend op medikasie reageer. Dit is egter baie belangrik om ope en eerlike kommunikasie met 'n mens se sielkundige en dokter te behou. Wees ook geduldig met jouself en hou sover moontlik by die behandelingsplan.

ONDERSTEUNING

Hoe kan ek iemand met skeidingsangsversteuring ondersteun?

Dit kan baie veeleisend wees om in 'n verhouding te wees met iemand wat skeidingsangsversteuring het. Daar is 'n konstante aanspraak op jou aandag en tyd, wat 'n mens vasgevang kan laat voel. Hier volg 'n paar riglyne:

Onthou!
Volwassenes met skeidingsangsversteuring kan as veeleisend, afhanklik en oorbeskermend ervaar word. Hulle gedrag en eise kan lei tot frustrasie en struwelinge binne die gesin/familie.
  1. Leer ken en verstaan die simptome
    Kennis is mag. Hoe meer 'n mens leer hoe die versteuring lyk en hoe dit werk, hoe meer begrip kan 'n mens toon vir iemand se stryd.
  2. Moedig professionele hulp aan
    Soos reeds genoem, vereis skeidingsangsversteuring gewoonlik professionele hulp. Daarom kan dit baie help om iemand aan te moedig om ‘n professionele persoon te raadpleeg, selfs al moet 'n mens die persoon na die eerste sessie toe vergesel.
  3. Sosiale ondersteuning
    Dit is belangrik dat elkeen in die verhouding sy/haar eie ondersteuningsnetwerk het van mense wat hulle ken en vertrou. Dit bevorder 'n gesonde onafhanklikheid en maak die las ligter op die persoon wat saam met die gediagnoseerde persoon leef.
Onthou!
Sekere fisieke simptome is meer algemeen by kinders, terwyl ander (fisieke simptome) meer gereeld by volwassenes en tieners voorkom.
Kinders met skeidingsangsversteuring sal meer gereeld kla van naarheid, maagpyn, hoofpyn en braking.
Volwassenes en tieners sal eerder hartkloppings, duiseligheid en floute/moegheid ervaar.
Het jy geweet?
Hoewel skeidingsangsversteuring meestal by kinders voorkom, kan dit ook by tieners en volwassenes gediagnoseer word.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?