Bipolêre versteuring
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan bipolêre versteuring ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.

ALGEMEEN

Wat is bipolêre versteuring?

Bipolêre versteuring (wat vroeër as bipolêre depressie of manies-depressiewe versteuring bekend gestaan het), is 'n toestand wat dikwels misverstaan word.

'n Mens kan aflei dat bipolêre versteuring 'n aanval op jou GEMOED loods en jou soms so neerslagtig kan laat dat jy nie normaal kan funksioneer nie. 'n Mens moet daarteen waak om dit nie met major depressie te verwar nie, al sukkel selfs professionele terapeute soms aanvanklik om bipolêre versteuring te diagnoseer weens die ingewikkelde aard van die simptome.

Bipolêre versteuring is dus 'n diagnoseerbare sielkundige toestand wat gekenmerk word deur groot skommelinge in 'n persoon se gemoedstoestand, vanaf uiterste depressie (lae gemoed) tot uiterste manie (uitermatige, ontoepaslike opgeruimdheid).

Bipolêre versteuring het vroeër bekend gestaan as manies-depressiewe versteuring weens die gemoedskommelinge en periodes van normaliteit tussendeur. Persone wat aan dié versteuring ly, is gewoonlik deeglik bewus daarvan dat hulle sukkel met hulle gemoed as gevolg van die abnormaal hoë gevoelskommelinge. Dit is ook algemeen dat hierdie persone soms probleme het om in die samelewing te funksioneer, veral gedurende ʼn maniese fase, en dikwels skuldig voel oor hul gedrag tydens dié fase.

Navorsing oor dié toestand duur steeds voort, maar 'n kombinasie van medikasie en psigoterapeutiese behandeling (om 'n sielkundige te gaan spreek), kan die simptome grootliks verlig en lewenskwaliteit verbeter.

Vir iemand om met bipolêre versteuring gediagnoseer te word, kan die simptome nie die gevolg wees van die misbruik van alkohol of ander middels nie en dit moet ook nie aan 'n ander siektetoestand te wyte wees nie.

DIAGNOSE

Hoekom is dit so moeilik om bipolêre versteuring te diagnoseer?

Die eerste voorkoms van bipolêre versteuring kan kenmerke van albei fases (uitermatige terneergedruktheid, afgewissel met buitensporige opgewondenheid) toon. Hierna kan jare verloop waartydens die persoon geen simptome ervaar nie. Wat 'n diagnose verder bemoeilik, is dat sommige van die simptome, veral tydens 'n maniese fase, dikwels ooreenstem met dié van ander toestande. As 'n mens dan in isolasie na die simptome van bipolêre versteuring kyk, sonder om al die faktore in ag te neem, kan jy maklik die verkeerde afleiding maak en van mening wees dat die simptome op die volgende dui:

Verwarring kan ontstaan as gevolg van ooreenkomstige simptome en kan lei tot onakkurate diagnoses, soos bv. die versteurings hieronder:

  1. persoonlikheidsversteurings
  2. antisosiale gedrag
  3. verslawingsversteurings
  4. depressie
  5. algemene angs
  6. psigotiese simptome
  7. skisofrenie
  8. grootheidswaan (Wanneer iemand glo dat hulle belangriker is as wat hulle in werklikheid is.)
  9. vervolgingswaan (Wanneer iemand glo dat verskillende mense of groepe besig is met 'n “komplot” om hom of haar te na te kom.)
  10. paranoia (Wanneer iemand buitengewoon agterdogtig is oor ander se bedoelings; hulle glo byvoorbeeld dat daar 'n bedekte betekenis agter iemand anders se woorde en optrede lê.)

'n Mens kan dus verstaan dat dit vir 'n professionele persoon moeiliker gaan wees om bipolêre versteuring te diagnoseer as sommige ander sielkundige toestande.

SIMPTOME

Wat is die simptome van bipolêre versteuring?

Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die gesaghebbendste bron. Let asb. daarop dat 'n amptelike diagnose slegs deur 'n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

Bipolêr 1-versteuring

Vir iemand om met bipolêr 1-versteuring gediagnoseer te word, moet 'n maniese fase voorkom. Dit kan voorafgegaan of opgevolg word deur 'n hipomaniese of depressiewe fase. Al het 'n maniese fase slegs een keer voorgekom, selfs jare gelede, is dit genoeg vir die diagnose.

Die maniese fase / episode word gekenmerk deur:

  1. 'n Periode van uitermatige opgeruimdheid of 'n geïrriteerde gemoedstemming en 'n toename in doelgerigte aktiwiteit of energie wat ten minste een week lank aanhou en teenwoordig is vir die grootste deel van die dag, byna elke dag.
  2. Gedurende die fase van gemoedsteurnis en toename in energie of aktiwiteit, kom ten minste drie van die volgende simptome (vier, indien die gemoed slegs geïrriteerd is), voor:
    1. oordrewe selfvertroue of grootheidswaan;
    2. behoefte aan slaap wat merkbaar afneem;
    3. die persoon is spraaksamer as gewoonlik en verkeer duidelik onder druk om aan te hou praat.
    4. ideëvlugte – die persoon spring van die een “wonderlike” idee na die volgende, en dink dat sy of haar idees kreatief en vindingryk is;
    5. aandag is maklik afleibaar, sonder dat die persoon oor die algemeen 'n probleem het met aandagafleibaarheid; en/of
    6. oordrewe betrokkenheid by genotvolle aktiwiteite, maar aktiwiteite wat groot persoonlike risiko’s inhou. Voorbeelde kan die volgende insluit: onoordeelkundige seksuele eskapades, onbesonne beleggings, skielike dobbel, skielike deelname aan gevaarlike sportsoorte sonder dat die persoon voorheen daarin belanggestel het, ens.
  3. Die simptome is ernstig genoeg om die persoon se funksionering te benadeel, of hospitalisasie te noodsaak om skade aan die persoon self of ander mense te voorkom. Daar kan selfs psigotiese simptome teenwoordig wees.
Nota
Bipolêre versteuring kom soms ook in 'n ander vorm, wat bipolêr 2 genoem word, voor. Dit is heelwat minder algemeen. Hier word die maniese fase nie as oormatig opgewonde en uitgelate ervaar nie, maar tog meer intens as gewoonlik, en van 'n meer “geïrriteerde” aard. Hierdie vorm van bipolêre versteuring is nóg moeiliker om van die staanspoor af raak te sien, aangesien die persoon se normale sosiale- of werksaktiwiteite nie noodwendig negatief beïnvloed word nie. Vir 'n diagnose van bipolêr 2 moet daar aan die kriteria vir 'n hipomaniese episode (tans of in die verlede) voldoen word, sowel as die kriteria vir 'n depressiewe episode (tans of in die verlede).

'n Hipomaniese fase / episode word gekenmerk deur die volgende:

  1. 'n Periode van uitermatige opgeruimdheid of 'n geïrriteerde gemoedstemming en 'n toename in doelgerigte aktiwiteit of energie wat ten minste vier opeenvolgende dae teenwoordig is en aanhou vir die grootste deel van die dag, byna elke dag.
  2. Gedurende die fase van gemoedsversteuring en toename in energie of aktiwiteit, kom ten minste drie van die volgende simptome (vier, indien die gemoed slegs geïrriteerd is), voor. Die simptome dui op 'n duidelike verandering in die persoon se normale gedrag en is teenwoordig in 'n merkbare graad:
    1. oordrewe selfvertroue of grootheidswaan;
    2. behoefte aan slaap wat merkbaar afneem;
    3. die persoon is spraaksamer as gewoonlik en verkeer duidelik onder druk om aan te hou praat;
    4. ideëvlugte – die persoon spring van die een “wonderlike” idee na die volgende en dink dat sy of haar idees kreatief en vindingryk is;
    5. aandag is maklik afleibaar, sonder dat die persoon oor die algemeen 'n probleem het met aandagafleibaarheid;
    6. oormatige toename in aktiwiteite, wat skielik nuwe doel en betekenis aan die persoon se lewe gee, byvoorbeeld om uit die bloute sewe nuwe projekte vir gemeenskapsdiens gelyktydig te begin, of fisieke geïrriteerdheid en gejaagdheid, en oormatig “besige” optrede in vergelyking met hoe die persoon oor die algemeen optree; en/of
    7. oordrewe betrokkenheid by genotvolle aktiwiteite, maar aktiwiteite wat groot persoonlike risiko’s inhou. Voorbeelde kan die volgende insluit: onoordeelkundige seksuele eskapades, onbesonne beleggings, skielike dobbel, skielike deelname aan gevaarlike sportsoorte sonder dat die persoon voorheen daarin belanggestel het, ens.
  3. Die verandering in gedrag is beduidend anders as wat die persoon normaalweg sou optree.
  4. Die verandering in gemoed en gedrag is waarneembaar deur ander mense.
  5. Die episode is nie ernstig genoeg om 'n persoon se funksionering te benadeel nie, hospitalisasie is nie nodig nie en psigose is nie teenwoordig nie.
  6. Die simptome is nie aanwesig as gevolg van die gebruik van 'n middel nie.

'n Depressiewe fase of episode word gekenmerk deur die volgende:

Om diagnoseerbaar te wees, moet ten minste vyf van die volgende simptome voorkom, vir 'n tydperk van ten minste twee weke. Een of albei van die eerste twee simptome moet voorkom:

  1. neerslagtigheid ('n oorheersende gevoel van hartseer of die onvermoë om emosie te ervaar, soos self ervaar of waargeneem deur ander mense – by kinders en tieners kan dit voorkom as geïrriteerdheid); en/of
  2. 'n afname in belangstelling of genot in die meeste daaglikse aktiwiteite.

Asook:

  1. verandering in eetlus, gewigstoename of -verlies
  2. slaapprobleme, soos slaaploosheid of te veel slaap
  3. daaglikse fisieke geïrriteerdheid of fisieke lamheid
  4. konstante fisieke en/of emosionele moegheid en verlies aan energie (bv. om “pap” te voel)
  5. gevoelens van skuld of waardeloosheid wat intens en gereeld is
  6. probleme met konsentrasie en die neem van besluite
  7. gereelde gedagtes aan die dood en/of selfdood (meer as gewoonlik)

Verder:

  1. Die simptome veroorsaak merkbare ongemak en het 'n negatiewe impak op die persoon se funksionering en lewenskwaliteit.
  2. Die simptome kom nie voor as gevolg van 'n ander mediese toestand of die gebruik van 'n middel/dwelm nie.
  3. Die simptome word nie beter verklaar deur 'n ander sielkundige toestand nie.
  4. Daar was nog nooit 'n maniese of hipomaniese episode nie.
Het jy geweet?
Geslag speel wel 'n rol, aangesien maniese fases meer dikwels by mans voorkom as depressiewe episodes, terwyl dit oor die algemeen andersom is by vroue.
'n Familiegeskiedenis van geestesversteurings en genetiese samestelling blyk 'n belangrike rol te speel in die oorsaak van bipolêre versteuring. Persone met 'n familiegeskiedenis hiervan is dus in 'n groter risikogroep om wel die siektetoestand te ontwikkel. Dit is egter nie bekend in hoe 'n mate oorerwing (genetika) gekombineer met omgewingsfaktore tot die siektetoestand bydra nie.
Wenk
Sekere mense is van nature meer geneig daartoe om terneergedruk of spraaksaam en vol selfvertroue te wees as ander. Dit beteken nie hulle is diagnoseerbaar met bipolêre versteuring nie. Simptome wat uit hierdie toestand voortkom, is baie meer intens as by mense wat bloot “stil” of uiters ekstrovert van geaardheid is. Wees altyd op die uitkyk vir patroonverandering, soos wanneer jy of 'n geliefde vir meer as twee weke nie dieselfde voel, dink of optree as normaalweg nie.

VRAELYS

Het jy of 'n geliefde bipolêre gemoedsversteuring?

Voltooi gerus die aanlyn vraelys wat dien as 'n siftingstoets vir bipolêre gemoedsteurnis. Die MDQ-vraelys is deur Wie is ek? in Afrikaans vertaal. Let wel: Die vraelys is slegs 'n siftingstoets. 'n Diagnose kan slegs deur 'n professionele persoon gemaak word ná 'n volledige ondersoek/assessering.

Download Document

BEHANDELING

Behandeling van bipolêre versteuring?

Hoekom is behandeling nodig vir bipolêre versteuring?
Sonder die regte behandeling kan die simptome van bipolêre versteuring geleidelik vererger. Bipolêre versteuring kan in dié opsig met ander siektes, byvoorbeeld diabetes, vergelyk word. Beide toestande vereis deurlopende farmakologiese behandeling (medikasie) en monitering deur 'n professionele persoon. Die resultate is oor die algemeen heelwat beter as die persoon gereeld psigoterapie by 'n sielkundige ontvang.

Onbehandelde bipolêre versteuring kan 'n persoon ook kwesbaar maak vir ander psigiese toestande bv. verslawing.

Belangrik
Die vyfde uitgawe van die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM-5) stel dit dat die selfdoodrisiko van iemand met bipolêre versteuring tot 15 keer hoër is as vir die algemene bevolking. Dit is dus uiters belangrik om hulp te kry vir hierdie versteuring.

Watter rol speel medikasie?
Bipolêre versteuring word grootliks veroorsaak deur 'n ingewikkelde kombinasie van 'n chemiese wanbalans, genetiese faktore en vele meer. Medikasie is noodsaaklik om die chemiese prosesse, wat die depressiewe en maniese fases veroorsaak, te stabiliseer. Gepaste medikasie is ontwikkel om die gemoedskommelinge of groot spronge in “op” en “af” tye minder intens te maak.

'n Kombinasie van die volgende aspekte kan 'n kernrol speel in die lewens van gediagnoseerde persone en kan daartoe bydra om hulle 'n vervulde lewe te laat lei:

  1. inligting
  2. medikasie
  3. psigoterapie (om 'n sielkundige te gaan spreek); asook
  4. ondersteuning deur naasbestaandes.
Kontak eers jou psigiater!
Jy word sterk AFGERAAI om jou medikasie sommer op eie inisiatief te los. Dit is algemeen vir psigiaters om 'n paar keer met spesifieke medikasie te eksperimenteer voor die regte behandeling vir jou as individu vasgestel kan word.

Hoe lank moet ek medikasie gebruik?
Dit hang grootliks af van die graad van jou diagnose, maar oor die algemeen word langtermynbehandeling voorgestel. Dit is 'n belangrike vraag om met die dokter wat die medikasie voorskryf te bespreek.

My medikasie werk nie vir my nie; wat nou?
Daar is nie 'n pasklaar, resepmatige behandeling vir individue met bipolêre versteuring nie. Wat vir een persoon werk, mag dalk nie vir iemand anders werk nie.

Jou dokter sal aanvanklik verskillende soorte medikasie beproef totdat julle die regte medikasie vir jóú gevind het. Dit is uiters belangrik om altyd 'n professionele persoon ('n psigiater in dié geval) te raadpleeg oor medikasie en hom of haar op die hoogte te hou van jou ervaring daarvan.

Wenke vir behandeling
  1. Ons almal se chemiese samestelling verskil; daarom mag die medikasie wat voorgeskryf word, dalk nie vir jou werk nie.
  2. Dit is belangrik om nie moed op te gee nie en dit wat jou pla met jou dokter te bespreek.
  3. Skryf alles neer wat jy voel, sodat jy vir jou dokter kan verduidelik hoe die medikasie jou laat voel, dink en optree.
  4. Hou aan om saam met jou dokter te werk tot jy die medikasie kry wat die beste vir jou werk.
Interessant!
'n Vyf-tot tien jaar gaping kom dikwels voor tussen die ouderdom waarop die siekte begin het en die ouderdom waarop dit vir die eerste keer vir behandeling aangemeld word.

Hoe berei ek voor vir my eerste afspraak by ʼn dokter of sielkundige?
Indien jou angsvlakke te hoog is, vra ʼn familielid of vriend(in) om saam met jou na die eerste afspraak te gaan. Jy kan die volgende saamneem:

  1. ʼn lys van tekens en simptome wat jy ervaar en hoe lank jy dit al ervaar
  2. ʼn lys van dinge wat jy vermy of opgehou het om te doen as gevolg van jou depressie of bipolêre versteuring
  3. mediese inligting oor enige fisieke toestande wat jy mag hê
  4. ʼn lys van die medikasie (natuurlike aanvullings ingesluit) en dosisse wat jy tans neem of onlangs geneem het
  5. ʼn lysie van vrae wat jy die sielkundige wil vra

BEHANDELINGSPLAN

Hoe sal 'n behandelingsplan vir bipolêre versteuring lyk?

Vanuit 'n geïntegreerde benadering, stel ons meestal 'n kombinasie van die volgende strategieë voor:

Diagnose
'n Akkurate diagnose is baie belangrik. Begin daarom eers deur 'n volledige mediese ondersoek by jou algemene praktisyn aan te vra om seker te maak daar is nie enige mediese verklaring (bv. skildklierprobleme) vir jou simptome nie. Indien nie, is die volgende stap om 'n afspraak by 'n sielkundige te maak, wat jou verder kan assesseer en diagnoseer.

Terapie
Hulp en ondersteuning deur 'n geregistreerde (kliniese, voorligting- en soms opvoedkundige) sielkundige, geregistreerde berader of selfs 'n geestelike leier of betroubare, opgeleide berader in jou gemeenskap kan uiters waardevol wees. Dit is gewoonlik op die lang termyn die moeite werd om binne 'n terapeutiese verhouding te leer om jou diagnose te verstaan en te bestuur. Daar is moontlik gebeurtenisse wat verwerk moet word en terapie bied 'n veilige ruimte hiervoor.

Medikasie
Medikasie kan deur 'n psigiater voorgeskryf word. Indien iemand nie private dienste of medikasie kan bekostig nie, kan hul navraag doen by hul naaste staatskliniek of -hospitaal .

Ondersteuningsgroepe
'n Ondersteuningsgroep kan van onskatbare waarde wees vir iemand wat aan depressie of bipolêre versteuring ly. Binne die groep deel mense hul “stories” en uitdagings en leer uit mekaar se vaardighede en ervarings. Dit is wel nie altyd maklik is om 'n ondersteuningsgroep in mens se area te vind nie. Aanlyn soektogte lewer soms goeie resultate. Vind meer inligting op die SADAG-webtuiste

Leefstyl
Om 'n gemoedsversteuring effektief te hanteer, verg gewoonlik 'n gesonde, gebalanseerde leefstyl. Dit beteken dat daar tyd afgestaan word aan selfversorging. Gereelde oefeninge of fisieke aktiwiteit soos stap of draf, tyd om te ontspan en 'n gebalanseerde dieet word gewoonlik voorgestel. Sekere kossoorte (bv. kaffeïen, geprosesseerde kosse, verfynde suikers) en middels (bv. alkohol), kan simptome vererger en moet daarom beperk word.

SELFBESTUUR

Wat kan EK doen om my siekte te bestuur?

  1. bou kennis op oor bipolêre versteuring (vra jou dokter, lees oor die siekte en vra vrae totdat jy verstaan)
  2. gereelde fisieke oefening is, soos deur navorsing bewys, 'n suksesvolle antidepressant
  3. eet gebalanseerd
  4. slaap genoeg
  5. verminder stresfaktore, sover dit binne jou beheer is
  6. leer gepaste streshanteringsvaardighede aan
  7. psigoterapie by 'n opgeleide sielkundige kan jou belangrike vaardighede leer om bipolêre versteuring te beheer
  8. hou by jou behandelingsplan
Belangrik
Wees op die uitkyk vir snellers!
‘n Bipolêre versteuring kan soms gesneller word deur intense spanning, veral as die persoon oor die algemeen sukkel om stres te hanteer. Dit is daarom altyd belangrik dat ‘n persoon wat gediagnoseer is met hierdie siekte, hom-/haarself moet dophou wanneer die lewenstressors begin druk – druk by die werk, finansiële druk en verhoudingsprobleme is maar ʼn paar voorbeelde van faktore wat spanning by individue veroorsaak.

HULP

Indien jy of 'n geliefde gediagnoseer is met 'n gemoedsversteuring, beveel ons aan dat julle so gou moontlik 'n professionele persoon geraadpleeg. Die volgende opsies kan oorweeg word:

  1. vra jou huisdokter vir 'n verwysing na 'n sielkundige of 'n psigiater;
  2. nader jou naaste hospitaal vir 'n verwysing;en/of
  3. Probeer gerus ook een van die volgende skakels vir 'n aanlyn soektog na 'n sielkundige in jou area:
    1. Findhelp
    2. SA Medical Specialists
    3. Medpages
    4. kontak Wie is ek?

VIDEOS

Bipolêre-versteuring - Wat jy moet weet.
Bipolêre-versteuring - Wat jy moet weet.
previous arrow
next arrow
Bipolêre-versteuring - Wat jy moet weet.
PlayPlay

Relevante artikels

  • Depressie

    Depressie

    Depressie is 'n term wat gebruik word vir 'n gemoed (gevoel) wat só aangetas is dat persone wat daarmee saamleef,...
  • Gemoeds versteurings

    Gemoeds versteurings

    ʼn Gemoedsversteuring is ʼn versteuringspatroon wat ontstaan as gevolg van ʼn abnormale gemoed. Die meeste persone met...
Belangrik
Alle mense ervaar skommelinge of veranderinge in hul gemoedstoestand. Dit is normaal en deel van menswees. Soms is 'n mens byvoorbeeld ekstaties gelukkig en dan is daar ook tye in die meeste mense se lewe wat hulle baie donker en “af” kan voel. Die verskil is egter dat die persoon wat aan bipolêre versteuring ly, uitgelewer is aan chemiese skommelinge wat baie meer intensief as die gemiddelde persoon s’n is. Die simptome kan soms so intensief raak dat die persoon met bipolêre versteuring selfs kontak met die werklikheid kan verloor. Die gemoedswisselinge kan dramaties en skielik plaasvind, maar in die meeste gevalle vind 'n geleidelike oorgang plaas.
Het jy geweet?
  1. Bipolêre versteuring affekteer ongeveer 3-4% van die volwasse bevolking
  2. Die gemiddelde ouderdom waarop simptome begin wys, is 21 jaar.
  3. Tienermeisies en -seuns is ewe geneig om bipolêre versteuring te ontwikkel en die risiko vir bipolêre versteuring word ook groter namate ‘n tiener ouer word.
  4. 'n Vyf tot tien jaar gaping kom dikwels voor tussen die ouderdom waarop die siekte begin het en die ouderdom waarop dit vir die eerste keer vir behandeling aangemeld word.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?