ALGEMEEN

Wat is angs?

Positiewe of negatiewe angs
Angs is 'n toestand wat almal van ons in sekere stadiums van ons lewens ervaar, al is dit net vir 'n paar minute. In sekere situasies is angs alledaags en gesond, want die liggaam word dan "in gereedheid gedwing" om fisieke gevaar, realistiese bekommernisse of situasies waarin 'n mens normaalweg gespanne sou voel, te hanteer. Dit word positiewe spanning (eustress) genoem. 'n Mens ervaar bv. 'n mate van angs wanneer jy iets nuuts probeer of deelneem aan 'n wedloop. Die liggaam reageer op positiewe angs deur meer adrenalien in die spiere te spuit, die hart vinniger te laat klop en visie te vernou.

As die liggaam egter hierdie angs "oordryf" (as daar nie regtig 'n logiese rede vir die angsgevoel is nie) of indien dit meer gereeld voorkom as wat nodig is, of in ‘n mate wat oordrewe is in vergelyking met die bedreiging (bv. 'n paniekaanval wanneer iemand 'n prentjie van 'n slang sien) praat ons van 'n angsversteuring (distress).

* Die meeste mense ervaar een of ander tyd 'n mate van angs. Wanneer iemand die simptome van die verskillende versteurings lees, mag baie tekens dalk bekend lyk. Dit is egter belangrik om te onthou dat 'n mens se vlak van ongemak op 'n skaal gesien moet word, bv.:

Geen ongemak nie
Onhoudbare ongemak

Hoe nader iemand se angs-/ongemaksvlak aan -10 (minus 10) beweeg, hoe meer sal hul funksionering beïnvloed word. Dit word dan al dringender om professionele hulp te kry.

Elke angsversteuring beskryf 'n sekere groepering van simptome wat gewoonlik saam voorkom, maar simptome kan ook oorvleuel en van tyd tot tyd verander.

Angs is dikwels slegs die spreekwoordelike puntjie van die ysberg wat bo die water uitsteek. Onder die oppervlakte kan daar talle ander probleme skuil wat aandag benodig, bv. 'n lae selfbeeld, middelmisbruik, medeafhanklikheid, ens. Gee jouself genoeg tyd om die volle omvang van die probleem te ontgin en daardeur te groei.

VRAELYS

Het jy of 'n geliefde 'n probleem met angs?

Volg die skakel na die Hospital Anxiety and Depression Scale (HADS) hieronder, wat ‘n aanduiding kan gee. Onthou asseblief dat slegs ‘n geregistreerde sielkundige ‘n diagnose kan maak.

Download Document

BEHANDELING

Algemene inligting oor die behandeling van angsversteurings

Hoekom is behandeling nodig vir angsversteurings?
Sonder die regte behandeling, kan die simptome van angsversteurings geleidelik vererger. Angsversteuring kan op dié manier met ander siektes, bv. diabetes, vergelyk word. Beide vereis deurlopende farmakologiese behandeling (medikasie) en monitering deur 'n professionele persoon. Die resultate hiervan is oor die algemeen heelwat beter as die persoon gereeld psigoterapie by 'n sielkundige ontvang. Professionele behandeling is uiters belangrik vir enigiemand wat gediagnoseer is met 'n angsversteuring omdat daar 'n beduidende chemiese onderbou van simptome is en dit moeilik is om die simptome onder beheer te hou (dit kan m.a.w. eskaleer) sonder medikasie en/of psigoterapie.

Die gevolge van onbehandelde angsversteuring kan vêrreikend wees en tot die ontwikkeling van die volgende probleme bydra:

  1. depressie of uitbranding
  2. alkohol- of middelafhanklikheid
  3. medeafhanklikheid
  4. eetversteurings
  5. spastiese kolon
  6. prikkelbaredermsindroom (irritable bowel syndrome)
  7. hartkwale
  8. tipe 2-diabetes
  9. sosiale isolasie
  10. probleme in die werksituasie
  11. probleme in intieme verhoudings

Wie kan my of 'n geliefde diagnoseer?
'n Akkurate diagnose is baie belangrik. Begin daarom eers deur 'n volledige mediese ondersoek by jou algemene praktisyn aan te vra om seker te maak daar is nie ‘n mediese verklaring vir jou simptome is nie; indien nie, is die volgende stap om 'n afspraak by 'n sielkundige of psigiater, wat jou volledig kan assesseer en diagnoseer, te maak.

Alle sielkundige diagnoses is kompleks; daarom raai ons jou aan om slegs deur 'n geregistreerde sielkundige of psigiater getoets en gediagnoseer te word. Hulle is opgelei om tussen verskillende sielkundige versteurings met soortgelyke simptome te onderskei.

Watter rol speel 'n sielkundige in my behandeling?

'n Sielkundige kan sielkundige toestande diagnoseer en psigoterapeuties behandel. Dit beteken dat die persoon jou kan help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om 'n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. 'n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik in spanverband saam met 'n psigiater.

Wat is die verskil tussen 'n huisdokter, ‘n kliniese sielkundige en ‘n psigiater?

  1. Huisdokter: 'n Huisdokter voltooi sewe jaar studie in die medisyne. Omdat hulle nie in psigiatrie gespesialiseer het (soos 'n psigiater) nie, het hulle slegs 'n beperkte blootstelling aan die opleiding wat noodsaaklik is om mense met sielkundige/psigiatriese toestande te diagnoseer en te behandel. Jou huisdokter mag wel medikasie voorskryf, maar is ook eties verplig om 'n pasiënt na die toepaslike professionele persoon te verwys, indien nodig.
  2. 'n Geregistreerde sielkundige: 'n Geregistreerde sielkundige bestudeer (breedweg) menslike gedrag en psigoterapie. In Suid-Afrika moet alle geregistreerde sielkundiges 'n meestersgraad (studietyd van ten minste ses jaar) hê om te kan registreer by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) en te mag praktiseer. 'n Sielkundige werk saam met jou in terapie om jouself en jou diagnose te kan verstaan en hanteer. Daar is verskillende kategorieë van sielkundiges, wat op verskillende areas fokus (sien hier onder).
  3. Psigiater: 'n Psigiater voltooi ook sewe jaar studie in die medisyne, maar spesialiseer verder in psigiatrie, naamlik die chemiese behandeling van afwykings wat met menslike gedrag te doen het. 'n Psigiater is dus die dokter wat jou kan diagnoseer en, indien nodig, die regte medikasie kan voorskryf vir jou sielkundige toestand.

Verwysings na “sielkundige toestande” of “psigiatriese toestande” beteken presies dieselfde.

Is daar 'n spesifieke kategorie van geregistreerde sielkundiges wat ek moet raadpleeg?
In Suid-Afrika bestaan daar tans vyf verskillende kategorieë waarbinne alle sielkundiges moet registreer. Daar heers 'n interessante debat oor die fokusareas (scope of practice) van die verskillende sielkundiges. Opleidingsinstansies, die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) en diegene wat in die praktyk staan, verskil oor hoe die areas gedefinieer moet word.

Hier volg ʼn eenvoudige beskrywing van elke professionele kategorie:

  1. Kliniese sielkundige
    'n Kliniese sielkundige bestudeer menslike gedrag en psigoterapie en moet, om te kan registreer, in Suid-Afrika minstens 'n meestersgraad (ses jaar + studie) voltooi, wat akademiese werk, navorsing en ‘n internskap insluit. ‘n Kliniese sielkundige is die persoon wat jou kan help om jou sielkundige diagnose (bv. posttraumatiese stresversteuring) te verstaan en daarmee saam te leef.
  2. Voorligtingsielkundige
    'n Voorligtingsielkundige bestudeer, net soos 'n kliniese sielkundige, menslike gedrag en psigoterapie. Soos alle geregistreerde sielkundiges, moet 'n voorligtingsielkundige 'n meestersgraad in sielkunde – wat 'n akademiese, navorsings- en praktiese komponent insluit – voltooi. Daarná volg 'n internskap wat, anders as by 'n kliniese sielkundige, gewoonlik nie in 'n psigiatriese hospitaal gedoen word nie, maar eerder in “gewone” hospitale of beradingseenhede. 'n Voorligtingsielkundige werk saam met jou in terapie om jou te help om jouself te leer ken, jou kwesbaarhede (en diagnose) te verstaan en te leer omdie lewe op 'n gesonde manier te hanteer.
  3. Opvoedkundige sielkundige
    'n Opvoedkundige sielkundige het voorgraadse opleiding in die onderwys. Om gekeur te word vir die meestersgraad in opvoedkundige sielkunde, word vereis dat 'n persoon ten minste twee jaar onderwyservaring moet hê. Die meestersgraad bestaan uit teorie, praktiese modules en navorsing. Daarná word 'n internskap van 12 maande onder supervisie voltooi. 'n Opvoedkundige sielkundige is 'n persoon wat dikwels met kinders, tieners en studente werk rakende kwessies wat hul (vermoë om te) leer en ontwikkeling affekteer. So ‘n persoon kan ook diagnoses wat verband hou met hierdie kwessies maak, bv. angs, depressie, trauma, leerhindernisse en ontwikkelingsagterstande. Daar word ook dikwels met ouers gewerk om hulle toe te rus om hul kind/tiener/student te ondersteun.
  4. Bedryfsielkundige
    'n Bedryfsielkundige fokus op organisasies en die werkomgewing en kan 'n waardevolle bydrae lewer in die mensehulpbronafdeling van 'n maatskappy.
  5. Navorsingsielkundige
    Navorsingsielkundiges spits hul toe op akademiese vooruitgang binne die sielkundeveld en doen navorsing rakende sielkundige temas en verskynsels.

Dié verskillende kategorieë bepaal die fokusareas waarbinne sielkundiges volgens regulasies moet hou en die etiese en wetlike vereistes waaraan hulle moet voldoen. Slegs 'n kliniese sielkundige kan volgens die HPCSA 'n kliniese diagnose maak.

Hoe berei ek voor vir my eerste afspraak by 'n dokter of sielkundige?

Indien jou angsvlakke te hoog is, vra 'n familielid of vriend(in) om saam met jou na die eerste afspraak te gaan.

Jy kan die volgende saamneem:

  1. 'n lys van die tekens en simptome wat jy ervaar en hoe lank jy dit al ervaar;
  2. 'n lys van dinge wat jy vermy, of opgehou het om te doen, as gevolg van jou angs/stres;
  3. mediese inligting oor enige fisieke toestande wat jy mag hê;
  4. 'n lys van die medikasie (natuurlike aanvullings ingesluit) en die dosisse wat jy tans neem of onlangs geneem het; en
  5. 'n lys van vrae wat jy die sielkundige wil vra.

SELFBESTUUR

Wat kan jy self doen om jou angsvlakke te verlig?

Algemene aanbevelings vir goeie leefstylkeuses wat angs verminder:

  1. leer streshanteringsvaardighede
  2. gereelde fisieke oefening of aktiwiteite
  3. 'n gebalanseerde dieet
  4. beperkte alkoholinname
  5. beperkte kaffeïen-inname
  6. genoeg slaap

HULP

Watter voordele hou ondersteuningsgroepe in?

'n Ondersteuningsgroep kan van onskatbare waarde wees vir iemand wat aan 'n gemoedsversteuring ly. Binne die groep deel mense hul “stories” en uitdagings en leer uit mekaar se vaardighede en ervarings. Dit is nogtans nie altyd maklik is om 'n ondersteuningsgroep in 'n mens se omgewing te vind nie. Aanlyn soektogte kan soms goeie resultate oplewer. Meer inligting kan op die SADAG-webtuiste gevind word.

ADVIES

Advies vir geliefdes en familielede wat saam met iemand woon of werk wat gediagnoseer is met angs

As 'n geliefde of vriend(in) gediagnoseer word met angs, kan jou ondersteuning en motivering 'n baie belangrike rol speel in die aanvaarding en hantering van hul diagnose. Hier volg riglyne hoe jy iemand kan bystaan:

  1. Wees geduldig. Mense wat met die diagnose van 'n gemoedsversteuring gekonfronteer word, het nie altyd die vermoë om te sê hoe hulle voel of wat hulle ervaar nie. Gee hulle 'n kans om eers gewoond te raak aan die diagnose en om geleidelik 'n daadwerklike plan te kan uitwerk hoe om hulle lewens vorentoe te bestuur.
  2. Wees ingelig oor angsversteuring. Hoe meer jy en jou geliefde, familielid of kollega van die siekte weet en verstaan, hoe beter kan julle saamwerk aan 'n plan om die persoon te
  3. Vra wat jou geliefde van jou verwag. 'n Mens kan maklik dink jy weet wat die beste vir 'n ander persoon is, maar die maklikste is om te vra hoe hy/sy wil hê jy moet optree.
  4. Luister na die persoon en moenie konstant raad gee of logies probeer redeneer nie. Dit is belangrik dat ‘n individu sélf verantwoordelikheid neem vir die siektetoestand en die effek wat dit op sy/haar lewe gaan hê. Wanneer jy keuses namens iemand anders maak, kan dit dalk veroorsaak dat persone afhanklik raak van jou en dan nie sélf die siekte wil beveg nie. Dit is nie jóú siektetoestand nie, maar jou geliefde s’n. Om te luister is wel 'n wonderlike manier om jou geliefde te ondersteun.
  5. Moenie veroordeel nie. Elkeen van ons het ons eie uitdagings waarmee ons deurentyd gekonfronteer word. Iemand met angs kies nie om angstig te wees nie. Dit is dalk moeilik om te verstaan as 'n mens nie reeds self met angs gesukkel het nie, maar dit is belangrik om eerder te luister, te ondersteun en aan te moedig as om te veroordeel en te kritiseer.
  6. Leer ken die tekens en die simptome sodat jy vroegtydig kan optree. Almal se simptome van angs manifesteer nie op dieselfde manier nie, dus is dit baie belangrik om te verstaan hoe die persoon in jou lewe se simptome voorkom. Wanneer jou geliefde bv. skielik aansienlik meer angs ervaar as ander tye, kan jy solank proaktief begin optree deur die persoon bv. bewus te maak van wat jy sien gebeur.
  7. Neem deel aan fisieke aktiwiteite saam met die individu. Dit is nie 'n cliché dat gereelde oefening mense met die hantering van sielkundige diagnoses help nie. Oefening verlig spanning en angstigheid en help met die produksie van oordragstowwe wat 'n lae gemoed beveg. Gereelde oefening is dus eintlik 'n suksesvolle antidepressant.
  8. Moedig 'n gesonde eet- en slaappatroon aan. 'n Gevestigde roetine help nie net die persoon om hul siekte te bestuur nie, maar help ook om die tekens/simptome daarvan vroegtydig raak te sien.
  9. Kyk mooi na jouself! Onthou, ʼn persoon met ʼn gediagnoseerde gemoedsversteuring kan jou ook negatief beïnvloed deur jou by hul versteuring te betrek. Om saam met ʼn persoon te leef wat gediagnoseer is met 'n gemoedsversteuring kan frustrerend, uitputtend en soms chaoties voel. Maak tyd vir jouself ook.

NOTAS

VIDEOS

Angs vs. Stres - wat (en hoekom) moet jy weet.
Angs vs. Stres - wat (en hoekom) moet jy weet.
Angs: Is jou angs onder beheer?
Angs: Is jou angs onder beheer?
Louis Awerbuck gesels oor angs
Louis Awerbuck gesels oor angs
Traumatiese stres (PTSD) - hoe 'n inperking simptome kan vererger.
Traumatiese stres (PTSD) - hoe 'n inperking simptome kan vererger.
Grense - wanneer om NEE te sê, en wanneer om JA te sê.
Grense - wanneer om NEE te sê, en wanneer om JA te sê.
previous arrow
next arrow
Angs vs. Stres - wat (en hoekom) moet jy weet.
PlayPlay
Angs: Is jou angs onder beheer?
PlayPlay
Louis Awerbuck gesels oor angs
PlayPlay
Traumatiese stres (PTSD) - hoe 'n inperking simptome kan vererger.
PlayPlay
Grense - wanneer om NEE te sê, en wanneer om JA te sê.
PlayPlay
previous arrow
next arrow
Belangrik
'n Psigiatriese toestand of diagnose is nooit 'n verskoning vir ongeskikte of onvanpaste gedrag nie. Die diagnose is bedoel om iemand te help om hulself beter te verstaan en die gepaste behandeling daarvoor te kry sodat hulle kan leer om hul geestestoestand op 'n gesonde manier te bestuur.
Onthou!
Indien 'n persoon vermoed dat hy-/syself of 'n geliefde aan 'n angsversteuring ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou moontlik by 'n professionele persoon om hulp aanklop.

Relevante artikels

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?