ALGEMEEN

Wat is 'n persoonlikheidsversteuring?

'n Persoonlikheidsversteuring verskil van ander diagnoseerbare versteurings in dié opsig dat dit “deel” is van 'n persoon, en nie iets wat die persoon “onder lede het” nie (bv. depressie).

As 'n mens 'n persoonlikheidsversteuring sou vergelyk met 'n fisieke toestand, sal dit dus eerder met 'n rare oorerflike siekte as met 'n tydelike toestand soos griep vergelyk word. Dit is dus belangrik om eers te verstaan wat 'n persoonlikheidsversteuring is, vóór daar na spesifieke versteurings gekyk word.

Die meeste mense het al vir 'n paar sekondes, 'n paar minute, of selfs vir 'n dag of twee, opgetree soos iemand met 'n antisosiale persoonlikheidsversteuring (die korrekte term vir “psigopaat”) deur byvoorbeeld selfsugtig en “gewetenloos” op iets te reageer en vir daardie kort periode oënskynlik “niks om te gee” nie.

As iemand egter aanhoudend só optree, maand na maand, praat ons van 'n volgehoue sielkundige en gedragspatroon. Hierdie gedragspatroon moet beduidend anders wees as wat die samelewing van 'n persoon verwag, m.a.w. die grootste deel van die samelewing moet die gedragspatroon onaanvaarbaar vind.

Belangrik
Indien 'n persoon vermoed dat hy, sy of 'n geliefde aan depressie ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en dat hulle so gou moontlik 'n professionele persoon ('n mediese dokter, kliniese sielkundige, geestelike leier of maatskaplike werker) behoort te raadpleeg.
Let asb. daarop dat 'n amptelike diagnose slegs deur 'n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

KRITERIA

Algemene kriteria vir 'n persoonlikheidsversteuring

Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM-5), wat wêreldwyd aanvaar word as die gesaghebbendste bron.

Die volgende areas van 'n persoon met 'n persoonlikheidsversteuring se funksionering moet erg beïnvloed word vir die versteuring om diagnoseerbaar te wees:

  1. Denke: Hoe die persoon oor hom-/haarself en ander mense of gebeure dink, verskil in 'n groot mate van die denke van die “gemiddelde” persoon. Hy/sy kan byvoorbeeld oortuig wees daarvan dat ander mense hulle móét bewonder (narsisme) of dat ander mense met gemak misbruik kan word (antisosiale persoonlikheidsversteuring).
  2. Gevoel: Die intensiteit, toepaslikheid, duur of afwesigheid van emosie is heelwat anders en meer konstant as by die gemiddelde persoon. Iemand met 'n antisosiale persoonlikheidsversteuring sal ander mense bv. deur die bank misbruik en selde, indien ooit, skuldig voel oor sy of haar optrede.
  3. Interpersoonlike funksionering: Op lang termyn vind mense oor die algemeen iemand met 'n persoonlikheidsversteuring afstootlik; daarom het iemand met so 'n versteuring min standhoudende verhoudings.
  4. Impulskontrole: Die mate van beheer oor emosies of gedrag wat die persoon kan toepas, is gewoonlik heelwat laer as by die gemiddelde persoon. As iemand met 'n narsistiese persoonlikheidsversteuring byvoorbeeld ervaar dat hy/sy in die openbaar verkleineer word, sal dit feitlik altyd 'n ernstige woede-uitbarsting tot gevolg hê.

Die patroon moet:

  1. onbuigsaam en rigied wees, en in 'n verskeidenheid situasies en kontekste voorkom. Dit is dus “deel” van die persoon en kom aanhoudend, onder alle omstandighede voor;
  2. 'n beduidende impak op die persoon se werk, verhoudings en ander belangrike lewensareas hê;
  3. oor 'n lang tyd ononderbroke voorkom, en reeds tydens adolessensie of vroeë volwassenheid begin het;
  4. nie beter verklaarbaar wees deur 'n ander vorm van gemoedsversteuring, mediese kondisie (bv. 'n breinbesering) of as gevolg van substansmisbruik nie.
Het jy geweet?
Volledige, gediagnoseerde persoonlikheidsversteurings kom statisties baie selde voor.
Slegs sowat 10% van die bevolking ly aan persoonlikheidsversteurings.
  1. Antisosiale persoonlikheidsversteuring kom bv. slegs onder ongeveer 4% van die bevolking voor.
  2. Narsistiese persoonlikheidsversteuring kom onder ongeveer 5% van die bevolking voor.
Onthou!
Die meeste mense het een of meer ongesonde (of disfunksionele) persoonlikheidseienskap(pe). Dit beteken nie noodwendig dat hulle 'n diagnoseerbare persoonlikheidsversteuring het nie. Sielkundiges kyk na die aard van die ongesonde eienskappe, en die effek daarvan op iemand se lewe oor 'n tydperk, voordat 'n diagnose gemaak word. Persoonlikheidsversteurings veroorsaak gewoonlik reeds vanaf jong volwassenheid skade aan 'n persoon se verhoudings, werk en ander areas van funksionering.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?