Depressie
|
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan depressie ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.
|
ALGEMEEN
Wat is depressie?
Depressie is 'n term wat gebruik word vir 'n gemoed (gevoel) wat só aangetas is dat persone wat daarmee saamleef, sukkel om normaal te funksioneer. Depressie kom in verskillende vorms voor, maar die algemeenste en bekendste vorm staan bekend as major depressie.
Major depressiewe versteuring is 'n toestand wat aan baie mense bekend is. Dit is 'n gemoed wat gekenmerk word deur:
- 'n volgehoue donker gevoel wat saamval met;
- 'n lae dunk van die self; en
- 'n verlies aan genieting van en belangstelling in alledaagse gebeure.
Depressie affekteer die persoon se gesin, werkslewe, slaap- en eetpatrone en algemene gesondheid.
SIMPTOME
Wat is die simptome van depressie?
Depressie is 'n diagnoseerbare mediese toestand van die gemoed, met 'n lys van simptome waaraan voldoen moet word. Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die gesaghebbendste bron.
Om diagnoseerbaar te wees, moet ten minste vyf van die volgende simptome voorkom, vir 'n tydperk van ten minste twee weke. Een of albei van die eerste twee simptome moet voorkom:
- neerslagtigheid ('n oorheersende gevoel van hartseer of die onvermoë om emosie te ervaar, soos self ervaar of waargeneem deur ander mense – by kinders en tieners kan dit voorkom as geïrriteerdheid); en/of
- 'n afname in belangstelling of genot in die meeste daaglikse aktiwiteite.
Asook:
- verandering in eetlus, gewigstoename of -verlies
- slaapprobleme, soos slaaploosheid of te veel slaap
- daaglikse fisieke geïrriteerdheid of fisieke lamheid
- konstante fisieke en/of emosionele moegheid en verlies aan energie (bv. om “pap” te voel)
- gevoelens van skuld of waardeloosheid wat intens en gereeld is
- probleme met konsentrasie en die neem van besluite
- gereelde gedagtes aan die dood en/of selfdood (meer as gewoonlik)
Verder:
- Die simptome veroorsaak merkbare ongemak en het 'n negatiewe impak op die persoon se funksionering en lewenskwaliteit.
- Die simptome kom nie voor as gevolg van 'n ander mediese toestand of die gebruik van 'n middel/dwelm nie.
- Die simptome word nie beter verklaar deur 'n ander sielkundige toestand nie.
- Daar was nog nooit 'n maniese of hipomaniese episode nie.
Onthou!
Daar word algemeen aanvaar dat beide fisiologiese en sielkundige redes ʼn rol by die oorsaak van depressie speel.
|
SELFDOOD
Depressie en selfdood
“Selfmoord” is seker een van die hardste, koudste woorde wat daar is. Deesdae verkies talle mense om eerder van “selfdood” te praat, omdat “moord” te ongevoelig klink.
Baie vrae en opinies bestaan oor hierdie gedrag en dit wil voorkom asof mense oor die algemeen baie sterk hieroor voel. Die onlangse televisiereeks, Thirteen reasons why, het hernieude belangstelling in die onderwerp geprikkel. (Dit is ʼn reeks oor tienerselfdood, met ʼn ouderdomsperk van 16. Sommige episodes bevat heelwat grafiese inhoud en ons beveel ouertoesig – en betrokkenheid – baie sterk aan.)
“Lafhartig”, “dapper”, “sondig” en “tragies” is terme wat gereeld en uit alle oorde opklink wanneer daar oor selfdood gepraat word. Die feite oor selfdood in Suid-Afrika is ontstellend. Elf persent (11%) van alle onnatuurlike sterftes in die land is weens selfdood. Dit is geweldig hoog (veel hoër as die gemiddelde syfer wêreldwyd) en beteken letterlik dat daar elke uur of uur en ’n half een selfdood in Suid-Afrika voorkom. Meer mans as vroue pas selfdood toe in ons land en vir elke vier mans wat selfdood toepas, neem een vrou haar eie lewe. Dis egter interessant dat meer vroue as mans probéér om selfdood toe te pas, maar dat mans meer suksesvol in hul pogings is omdat hulle meer gewelddadige metodes gebruik, byvoorbeeld om hulself te skiet of op te hang.
Dit is nie maklik om die vraag waarom mense selfdood toepas te beantwoord nie, maar ons weet dat depressie ʼn groot bydraende faktor kan wees as dit nie betyds raakgesien en hanteer word nie. Baie selfdoodgevalle in Suid-Afrika sou dus voorkom kon word.
Die volgende is sommige van die waarskuwingstekens waarvoor ʼn mens kan oplet, óf by jouself óf by jou geliefdes:
- oormatige hartseer of gemoedskommelinge;
- skielike, “eienaardige” kalmte;
- onttrekking van werk en familie/vriende;
- gevaarlike of selfbeserende gedrag;
- ongewone dreigemente van selfdood; en/of
- skielike toekomsvoorbereiding, asook afskeid neem van vriende en familie.
Mense wat oor die algemeen die grootste risiko loop om selfdood toe te pas, sluit in diegene:
- wat ’n eggenoot deur die dood of egskeiding verloor het (ouer mense);
- wat voorheen probeer het om selfdood toe te pas;
- met ’n familiegeskiedenis van selfdood;
- wie se vriend of medewerker selfdood toegepas het;
- met ’n geskiedenis van seksuele, psigiese of emosionele mishandeling;
- wat ongetroud, ongeletterd of werkloos is;
- wat weens hul werk aan geweld en trauma blootgestel word;
- met ’n afhanklikheidsprobleem; en
- wat baie impulsief is.
Onthou!
Dit is glad nie waar dat mense wat aan ʼn vorm van depressie ly noodwendig ʼn risiko vir selfdood is nie. Dit is egter omgekeerd meestal die geval, deurdat die meeste mense wat selfdood toepas aan ʼn vorm van depressie ly.
|
Dit beteken natuurlik nie dat iemand noodwendig selfdood sal toepas as hy of sy in bogenoemde kategorieë val nie, maar dit kan dien as aanwysings om tekens van selfdoodgedagtes en -voornemens by ons geliefdes en kennisse raak te sien.
KINDERS MET DEPRESSIE
Kinders met depressie
“Depressie onder kinders” is ʼn uitdrukking wat mense nie graag wil hoor nie. Ongelukkig is dit so dat depressie deesdae meer kinders en adolessente affekteer as wat vroeër die geval was.
NAGEBOORTEDEPRESSIE
Nageboortedepressie
Nageboortedepressie, ook genoem post-partum depressie, is ʼn vorm van kliniese depressie wat veral vroue beïnvloed, tipies ná ʼn geboorte.
Lees meer oor nageboortedepressie of post-partum depressie onder vrouegeestesgesondheid.
Het jy geweet?
Die beste behandeling vir nageboortedepressie is voorsorg en om vroegtydig op te tree.
|
Onthou!
Die goeie nuus is dat hierdie simptome behandelbaar is en opgeklaar kan word. Dit moet egter hanteer word, want dit gaan nie noodwendig vanself weg nie.
|
BEHANDELING
Behandeling van depressie
- Hoekom is dit nodig om depressie te behandel?
Depressie kan jou laat voel asof jy nooit onder 'n donker wolk uitkom nie. Dit kan, sonder behandeling, sneeubal en erger en erger raak. Selfs die ernstiger gevalle van depressie is behandelbaar. As depressie jou dus ontneem van die lewe wat jy graag wil lei, moenie huiwer om hulp te soek nie. Dit is belangrik om jou toestand en die behandelingsopsies wat daar is, te leer ken. Van terapie en medikasie tot by gesonde leefstylveranderinge, is daar doeltreffende behandeling wat jou kan help om jou depressie te oorkom en die sinvolle lewe wat jy wíl lei, terug te eis. - bly in kontak met geliefdes
- oefen gereeld – dit is 'n suksesvolle antidepressant
- eet gesond
- slaap genoeg (6-8 uur per nag)
- verminder stresfaktore waar moontlik
- Wat doen medikasie?
Die sielkundige ervaring van depressie is gewoonlik vervleg met spesifiek fisiologiese prosesse. Die populêre term “chemiese wanbalans” word dikwels gebruik om hierdie fisieke prosesse te beskryf, maar in werklikheid is dit heelwat meer ingewikkeld. Foutiewe gemoedsregulering, genetiese weerloosheid en fisiologiese faktore in die omgewing is maar net die begin van hoe kompleks die liggaam depressie ervaar. Medikasie in hierdie geval is daarop gefokus om die gemoed te probeer reguleer. - Hoe lank moet ek medikasie gebruik?
Dit verskil van persoon tot persoon. Daar is kort- en langtermynopsies. Medikasie kan byvoorbeeld vir twee tot drie maande, ses tot twaalf maande of lewenslank voorgeskryf word. Die dokter wat die medikasie voorskryf, sal 'n aanbeveling kan maak oor die tydperk wat dit gebruik moet word. - My medikasie werk nie vir my nie; wat nou?
Daar is nie 'n "one size fits all"–behandeling vir depressie nie. Wat vir een persoon werk, mag dalk glad nie vir iemand anders werk nie. Die beste manier om depressie te behandel, is om kennis op te bou van die behandelingsopsies en dan 'n behandelingsplan vir jou unieke behoeftes saam met 'n professionele persoon uit te werk. Dit is uiters belangrik om altyd 'n professionele persoon te raadpleeg. - Hoe berei ek voor vir my eerste afspraak by ʼn dokter of sielkundige?
Indien jou angsvlakke te hoog is, vra 'n familielid of vriend(in) om saam met jou na die eerste afspraak te gaan. Jy kan die volgende saamneem: - 'n lys van tekens en simptome wat jy ervaar en hoe lank jy dit al ervaar;
- 'n lys van dinge wat jy vermy of opgehou het om te doen as gevolg van jou depressie;
- mediese inligting oor enige fisieke toestande wat jy mag hê;
- 'n lys van die medikasie (natuurlike aanvullings ingesluit) en dosisse wat jy tans neem of onlangs geneem het; en
- 'n lysie van vrae wat jy die sielkundige wil vra.
Indien hierdie tipe veranderinge nie genoegsame verligting bring nie, is dit tyd om vir professionele hulp aan te klop. 'n Geregistreerde sielkundige kan jou assesseer en verwys na 'n psigiater vir medikasie, indien nodig.
Onthou!
Om vroegtydig aandag te gee aan depressiesimptome en iets daaraan te probeer doen, verminder die kans dat die simptome sal vererger.
|
Wenke vir behandeling:
- Ons almal se chemie verskil, daarom mag die medikasie wat vir jou voorgeskryf word, dalk nie vir jou werk nie.
- Dit is belangrik om nie moed op te gee nie maar, indien nodig, met jou dokter te praat oor die effek (of gebrek aan effek) van die medikasie.
- Skryf gedurende die tyd wat jy die medikasie neem alles neer wat jy voel, sodat jy vir jou dokter kan verduidelik hoe die medikasie jou laat voel, dink en optree.
- Hou aan om saam met jou dokter te werk tot jy die medikasie kry wat vir jou werk.
- Belangrik! Moenie afwyk van jou voorskrif sonder om met jou dokter te konsulteer nie.
BEHANDELINGSPLAN
Hoe sal 'n behandelingsplan vir depressie lyk?
Vanuit 'n geïntegreerde benadering, stel ons meestal 'n kombinasie van die volgende strategieë voor:
- Diagnose
'n Akkurate diagnose is baie belangrik. Begin daarom eers deur 'n volledige mediese ondersoek by jou algemene praktisyn aan te vra om seker te maak daar is nie enige mediese verklaring (bv. skildklierprobleme) vir jou simptome nie. Indien nie, is die volgende stap om 'n afspraak by 'n sielkundige te maak, wat jou verder kan assesseer en diagnoseer. - Terapie
Hulp en ondersteuning deur 'n geregistreerde kliniese, voorligting- en soms opvoedkundige sielkundige, geregistreerde berader of selfs 'n geestelike leier of betroubare, opgeleide berader in jou gemeenskap, kan uiters waardevol wees. Dit is gewoonlik op die lang termyn die moeite werd om binne 'n terapeutiese verhouding te leer om jou depressie te verstaan en te bestuur. Daar is moontlik gebeurtenisse wat verwerk moet word en terapie bied 'n veilige ruimte hiervoor. - Medikasie
Medikasie kan deur 'n huisdokter of psigiater voorgeskryf word. Indien iemand nie private mediese dienste of medikasie kan bekostig nie, kan hulle navraag doen by hul naaste staatskliniek of -hospitaal. - Ondersteuningsgroepe
ʼn Ondersteuningsgroep kan van onskatbare waarde wees vir iemand wat aan ʼn gemoedsversteuring ly. Binne die groep deel mense hul “stories” en uitdagings en leer uit mekaar se vaardighede en ervarings. Dit is nogtans nie altyd maklik is om ʼn ondersteuningsgroep in ʼn mens se area te vind nie. Aanlyn soektogte lewer soms goeie resultate. Meer inligting kan op die SADAG-webtuiste gevind word: SADAG - Leefstyl
Om depressie effektief te hanteer, verg gewoonlik ʼn gesonde, gebalanseerde leefstyl. Dit beteken dat daar tyd afgestaan word aan selfversorging. Gereelde oefening of fisieke aktiwiteite soos stap of draf, tyd om te ontspan en ʼn gebalanseerde dieet word gewoonlik voorgestel. Sekere kossoorte (bv. kaffeïen, geprosesseerde kosse, verfynde suikers) en middels (bv. alkohol), kan simptome vererger en moet daarom beperk word.
HULP
Probeer gerus ook een van die volgende skakels vir 'n aanlyn soektog na 'n sielkundige in jou area:
- Findhelp
- SA Medical Specialists
- Medpages
- kontak Wie is ek?
- besoek Wie is ek? - directory webtuiste volg die skakel
VRAELYS
Die “Hospital Anxiety and Depression Scale (HADS)” is oorspronklik ontwikkel deur Zigmond en Snaith (1983) en word algemeen deur dokters gebruik om die vlakke van angs en depressie wat 'n persoon ervaar, te bepaal. Voltooi gerus ons aanlyn HADS-vraelys (Hospital Anxiety and Depression Scale-vraelys) om 'n aanduiding te kry of jy of 'n geliefde dalk aan depressie ly.
Het jy geweet?
|
Wenk
Sekere mense is geneig om stiller en meer teruggetrokke te wees as ander. Dit beteken nie hulle is diagnoseerbaar met depressie nie. Wees egter op die uitkyk vir patroonverandering; met ander woorde, wanneer jyself of ‘n geliefde vir meer as twee weke nie dieselfde voel, dink of optree as normaalweg nie.
|
Relevante artikels
-
Die siekte van ons tyd
Wêreldwyd word gepraat van ‘n “depressie-epidemie”, en alhoewel hierdie gemoedstryd so algemeen in ‘n modern wêreld... -
Frustrasie tolleransie
Wanneer jou emosies, 'n situasie, iemand anders of jyself te veel raak, hoe reageer jy? Val jy uitmekaar? Ontplof jy... -
Gemoeds versteurings
ʼn Gemoedsversteuring is ʼn versteuringspatroon wat ontstaan as gevolg van ʼn abnormale gemoed. Die meeste persone met...
-
RSG Potgooi
Lise Swart en kliniese sielkundige Anton Böhmer kyk na depressie, en hoe dit teen 2030 die gevaarlikste siekte sal wees. Wat is oorsake van depressie?
NOODMAATREËLS
- skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
- gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
- skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
- besoek Wie is ek? - directory webtuiste vir professionele hulp in jou area volg die skakel