Aftrede
Belangrik!
Dié lewensfase is 'n aanpassing wat elke persoon op hul eie manier ervaar en hanteer.

ALGEMEEN

Aftrede

Baie mense vertel hoe hul uitsien na hul aftrede – 'n tyd wat hulle nie meer gejaagd hoef te lewe nie – en tyd kan spandeer aan die dinge wat hulle werklik geniet. Vir sommige is dit egter 'n vreesaanjaende gedagte om nie meer hul beroep te beoefen, of so aktief soos vantevore betrokke te wees buite die huis nie.

Dié lewensfase is 'n aanpassing wat elke persoon op hul eie manier ervaar en hanteer. Sien gerus ons afdeling oor aanpassings om meer te lees oor hoe mense aanpas en die vaardighede wat dit vereis.

GEVALLESTUDIE

Persoonlike opmerkings uit 'n gevallestudie:
Ek en my lewensmaat beplan al jare aan ons aftrede. Ons het talle finansiële terugslae beleef en moes telkens ons planne uitstel. Hy het nou egter siek geword en is genoodsaak om op te hou werk. Ná 'n paar aanpassings in ons begroting, het ons besluit dat ek ook op dieselfde tyd sou aftree. Aanvanklik was ek baie opgewonde oor die vooruitsig, maar noudat ons elke dag in mekaar se geselskap is, kan ek dit nie uitstaan nie. Ek wil graag rondry en plekke sien, terwyl hy eerder rustig by die huis wil bly. Ek wil mense oornooi, terwyl hy eerder wil hê ons moet alleen kuier. Hy is ook nou baie meer puntenerig oor dinge in die huis en het gereeld iets waaroor hy kommentaar lewer, of iets wat hy wil verskuif of verander. Ewe skielik het ons baie meer konflik as gewoonlik. Ek kan nie so aangaan nie. Elke dag sit ons vas oor iets. Vantevore kon ons dit uitsorteer en aangaan, maar nou is dit baie moeiliker. Help asseblief!

Christine en Lise gesels

LISE VRA:
Is dit algemeen dat verhoudingsmaats sukkel om af te tree, veral om saam af te tree?

CHRISTINE ANTWOORD:
Dit is algemener as wat ons dink dat aftrede, en om saam af te tree, gepaard gaan met talle uitdagings. Ouer generasies het nie so maklik oor hul ervarings gepraat nie en daarom kon mens maklik dink dat dit nie vir hulle moeilik was nie. Deesdae weet ons dat aftrede 'n groot stap met verreikende gevolge is en daarom, soos met elke ander verandering van lewensfase, gepaard gaan met aanpassings. Elke persoon sal dit anders ervaar as gevolg van hul temperament, geskiedenis, ondersteuningsnetwerk, ens. Dit is dus nie onnatuurlik dat dit ook stremming op die intieme verhouding sal plaas nie.

LISE VRA:
Watter rol speel persoonlikheidsverskille in die skrywer se ervaring en hoekom pla dit nou meer as vantevore?

CHRISTINE ANTWOORD:
'n Mens kan uit die brief aflei dat die skrywer en haar verhoudingsmaat uiteenlopende behoeftes het, waarskynlik as gevolg van verskille in temperament en persoonlikheid (sien ook temperament en persoonlikheid). Die skrywer het meer stimulasie en interaksie met ander mense nodig as haar verhoudingsmaat. Nie een van die twee is verkeerd nie. Dit is bloot verskille in hul samestellings. Vantevore was die verskille dalk nie so opvallend nie, aangesien daar by die werk aan die skrywer se behoeftes voldoen is. Dit het dit dalk makliker gemaak om met mekaar saam te leef. Nou spandeer hul meer tyd saam en is meer gekonfronteer met hul verskille.

LISE VRA:
Wat kan die skrywer en haar verhoudingsmaat doen om dit vir hulself makliker te maak om met mekaar saam te leef?

CHRISTINE ANTWOORD:
Soos ons herhaaldelik op hierdie webtuiste sê – goeie kommunikasie is uiters belangrik. 'n Mens moet eerlik kan wees oor jou emosies en behoeftes. Die verwagting dat hulle alles saam moet doen, is waarskynlik nie vir hierdie verhoudingsmaats die beste ding nie. Elkeen moet ruimte hê om ook hul eie gang te gaan. 'n Afsonderlike week- en naweekroetine kan hulle help om struktuur te skep. Binne hierdie raamwerk kan hulle dan beplan vir tye om saam én apart dinge te doen wat aan elkeen se behoeftes voldoen. Daar is nie een perfekte manier nie. Die idee is bloot om 'n kompromie te vind waarmee beide partye kan saamleef.

LISE VRA:
Is professionele hulp noodwendig nodig?

CHRISTINE ANTWOORD:
Nee, nie noodwendig nie. Indien verhoudingsmaats goeie kommunikasievaardighede het, kan hulle hierdie probleem saam aanpak en oplos. Dit hang baie af van die geskiedenis van die verhouding en hul vermoë om dinge op 'n opbouende manier te kan uitpraat en hanteer. Indien hulle sukkel om self die uitdaging suksesvol aan te pak, kan hulle 'n sielkundige vra om te help om 'n gesprek te fasiliteer.

LISE VRA:
Depressie en angs met aftrede is tog baie algemeen en kan ook 'n mens se gedrag beïnvloed. Op watter geestesgesondheidtekens moet 'n mens bedag wees?

CHRISTINE ANTWOORD:
Enige verandering in patroon, wat nie verwant is aan die veranderinge met aftrede nie, is belangrik – iemand wat bv. uitermatig meer slaap as gewoonlik, nie net omdat hulle nie meer vroeg hoef op te staan nie.

HULP

Indien hulle besluit om 'n sielkundige te raadpleeg, kan hulle die volgende opsies oorweeg:

  1. om hul huisdokter of naaste hospitaal te vra vir 'n verwysing; of
  2. hulle kan een van die volgende webtuistes besoek vir die besonderhede van 'n sielkundige in hul omgewing:
    1. Findhelp
    2. SA Medical Specialists
    3. Medpages
    4. kontak Wie is ek?
  3. hulle kan ook die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) se 24-uur-hulplyn skakel by 0800 12 13 14.

SIMPTOME

Hier volg 'n paar tekens en simptome van mense wat sukkel met die aanpassing en wat dalk verdere sielkundige probleme kan ontwikkel:

  1. sukkel om te slaap
  2. verlies of toename in aptyt
  3. sukkel om te ontspan
  4. vergeetagtigheid
  5. probleme met fokus en konsentrasie
  6. gebrek aan energie en motivering
  7. begin meer gereeld reëls en grense verontagsaam
  8. voel angstig
  9. swaarmoedigheid
  10. toename in irritasie
  11. plofbaarheid (meer as gewoonlik)
  12. tranerigheid
  13. toename in die gebruik van alkohol
  14. onwilligheid om deel te neem aan aktiwiteite wat hy/sy tevore geniet het
  15. onttrek van gewone sosiale verhoudings
  16. sukkel om alleen te wees

Indien iemand twee of meer van die bogenoemde simptome ervaar, beveel ons 'n verdere ondersoek deur 'n professionele persoon aan.

Vrywaring: Bogenoemde is nie 'n aanduiding van 'n diagnose nie. Diagnoses moet slegs deur 'n professionele persoon gemaak word.

U kan ook verdere inligting kry deur meer te lees oor kognitiewe gesondheid en demensie.

VRAELYS

Die “Hospital Anxiety and Depression Scale (HADS)” is oorspronklik ontwikkel deur Zigmond en Snaith (1983) en word algemeen deur dokters gebruik om die vlakke van angs en depressie wat 'n persoon ervaar, te bepaal. Voltooi gerus ons aanlyn HADS-vraelys (Hospital Anxiety and Depression Scale-vraelys) om 'n aanduiding te kry of jy of 'n geliefde dalk aan angs- en depressiesimptome ly.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?