Dobbelverslawing
|
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde dobbelverslawing het, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hul van professionele persoon inroep.
|
ALGEMEEN
Wat is Dobbelverslawing?
Dobbelverslawing, ook kompulsiewe dobbelversteuring genoem, is die onstuitbare drang om te dobbel, ten spyte van die negatiewe impak wat dobbel op die persoon se persoonlike, professionele of finansiële welstand kan hê. Dobbelverslawing is, soos alkoholisme en dwelmverslawing, 'n kroniese kondisie.
Dobbel is baie algemeen, maar kan tot verslawing lei as dit jou lewe ontwrig. Daar is treffende ooreenkomste tussen dobbelverslawing en ander verslawings soos dwelm- en alkoholverslawing. Gedurende 'n episode voel dobbelverslaafdes “onder die invloed” (high) of baie opgewek. Hierdie gedrag hou gewoonlik 'n paar jaar aan voordat dit 'n afwyking raak en probleme veroorsaak. Aanvanklik lei sukses tot 'n toename in dobbelgewoontes. Daar kan op 'n verskeidenheid aktiwiteite gedobbel word: sport, Casino-aktiwiteite, hondegevegte, perderesies, Bingo, Lotto, ens.
SIMPTOME
WAT IS DIE SIMPTOME VAN DOBBELVERSLAWING?
Dobbelverslawing is 'n diagnoseerbare mediese toestand, met 'n lys van simptome waaraan voldoen moet word voordat 'n spesialis dit kan diagnoseer.
Die volgende 10 simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat 'n amptelike diagnose slegs deur 'n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word:
Om diagnoseerbaar te wees, moet vyf of meer van die volgende simptome voorkom:
- 'n Beheptheid met dobbel.
- Die onvermoë om op te hou dobbel.
- Geïrriteerdheid wanneer die persoon minder probeer dobbel.
- Die behoefte om groter bedrae te wen.
- Dobbel om van stres ontslae te raak.
- Konstante pogings om geld terug te wen.
- Leuens oor die erns van die dobbelprobleem.
- Maak staat op ander vir geld om dobbelskuld te delg.
- Verwoes persoonlike of professionele verhoudings as gevolg van dobbel.
- Kriminele gedrag kom soms voor om dobbel moontlik te maak.
BEHANDELING
BEHANDELING VAN DOBBELVERSLAWING
- Hoekom is behandeling nodig vir dobbelverslawing?
Kompulsiewe dobbelaars weerstaan meestal behandeling omdat hulle nie dink dis 'n probleem nie. Die meeste dobbelaars kry eers behandeling ná druk van hul vriende of familie. Behandeling vir dobbelverslawing is net so belangrik soos dwelmverslawingbehandeling, en die proses is dieselfde. - Wie kan my of 'n geliefde diagnoseer?
Omdat dobbelverslawing so kompleks is, sou ons jou aanraai om jou deur 'n kliniese sielkundige of psigiater te laat behandel. Hulle is opgelei om met verskillende verslawings te werk. - Watter rol speel 'n sielkundige in my behandeling?
'n Sielkundige kan dobbelverslawing diagnoseer en in samehang met ander mediese spesialiste psigoterapeuties behandel. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om 'n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. 'n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met 'n psigiater in spanverband.
ADVIES
ADVIES VIR GELIEFDES EN FAMILIELEDE WAT SAAM MET IEMAND WOON OF WERK WAT GEDIAGNOSEER IS MET VERSLAWING.
As 'n geliefde of vriend(in) gediagnoseer word met verslawing, kan jou ondersteuning en motivering 'n baie belangrike rol speel in die aanvaarding en hantering van hulle diagnose. Hier is riglyne hoe jy 'n individu kan bystaan:
- Wees geduldig. Mense wat onder die aanslag van 'n verslawing verkeer, het nie altyd die vermoë om te sê hoe hulle voel of wat hulle ervaar nie. Gee hulle 'n kans om eers gewoond te raak aan die diagnose, en om geleidelik 'n daadwerklike plan uit te werk om hulle lewe voortaan te bestuur.
- Wees ingelig oor verslawing. Hoe meer jy en jou geliefde, familielid of kollega van die siekte weet en verstaan, hoe meer kan julle saamwerk aan 'n plan om die persoon te ondersteun en die siekte te bestuur.
- Vra wat jou geliefde van jou verwag. 'n Mens kan maklik dink jy weet wat die beste vir 'n ander persoon is, maar die maklikste is om te vra hoe hy of sy wil hê jy moet optree
- Luister na hom of haar en moenie konstant raad gee of met logika probeer redeneer nie. Dit is belangrik dat die persoon self verantwoordelikheid neem vir die verslawing en die effek wat dit op sy of haar lewe gaan hê. Wanneer iemand keuses namens iemand anders maak, kan dit dalk veroorsaak dat die persoon afhanklik raak van jou en dan nie self die verslawing wil beveg nie. Dit is nie jóú verslawing nie, maar jou geliefde s’n. Luister is wel 'n wonderlike manier om jou geliefde te ondersteun.
- Leer ken die tekens en die simptome sodat jy vroegtydig kan optree. Almal se simptome van verslawing manifesteer nie op dieselfde manier nie, so dit is baie belangrik om te verstaan hoe die persoon in jou lewe se simptome manifesteer. Wanneer jou geliefde se gemoed byvoorbeeld skielik verander, kan jy solank maatreëls begin tref.
- Neem deel aan fisieke aktiwiteite saam met die individu. Dit is nie 'n cliché dat gereelde oefening mense met sielkundige diagnoses help nie. Oefening verlig spanning en angstigheid, en help met die produksie van oordragstowwe wat lae gemoed beveg. Gereelde oefening is dus eintlik 'n suksesvolle antidepressant.
- Moedig 'n gesonde eet- en slaappatroon aan. 'n Gevestigde roetine help nie net die persoon om hul verslawing te bestuur nie, maar help ook om tekens/simptome vroegtydig raak te sien.
- Kyk mooi na jouself! Onthou, 'n persoon met 'n verslawing kan jou ook negatief beïnvloed deur jou by hul verslawing te betrek. Om saam met 'n persoon te leef wat vir verslawing behandel word kan frustrerend, uitputtend en soms chaoties voel. Maak tyd vir jouself ook.
NOODMAATREËLS
- skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
- gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
- skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
- kontak Wie is ek?