Agorafobie
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan agorafobie ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.

ALGEMEEN

Algemeen

“Agora”/(æɡərə) [GRK]) is die Griekse woord wat gebruik is vir die markplein of plek van openbare samekoms.

Agorafobie is dus die irrasionele vrees vir openbare of oop spasies. Die persoon vrees situasies waar hulle beheer kan verloor, vasgevang kan raak en/of nie hulp kan kry nie.

SIMPTOME

Wat is die simptome van agorafobie?

Die volgende simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5, wat wêreldwyd aanvaar word as die gesaghebbendste bron:

  1. 'n Merkbare vrees of angs vir twee of meer van die volgende:
    1. die gebruik van openbare vervoer (bv. motors, busse, treine, skepe, vliegtuie);
    2. om in oop spasies te wees (bv. parkeerareas, markpleine, brûe);
    3. om in omringde spasies te wees (bv. in winkels, teaters, rolprentteaters);
    4. om in 'n ry te staan of deel van 'n skare te wees; en/of
    5. om alleen buite die huis te wees.
  2. Die vrees vir of vermyding van bogenoemde situasies omdat:
    1. die persoon dink dat ontvlugting moeilik mag wees;
    2. hulp dalk nie beskikbaar sal wees nie;
    3. hy/sy paniekerig kan raak; en/of
    4. hy/sy ander simptome kan ervaar wat vir hom/haar ‘n verleentheid kan wees, (bv. om te val of blaasbeheer te verloor).
  3. Bogenoemde situasies ontlok byna altyd vrees of angs.
  4. Die gevreesde situasies word aktief vermy; die persoon verlang 'n metgesel óf die situasies word met intense vrees of angs verduur.
  5. Die vrees of angs is buite verhouding tot die werklike gevaar in die situasie en die kulturele konteks.
  6. Die vrees, angs of vermyding is deurlopend en hou vir ses maande of langer aan.
  7. Die vrees, angs of vermyding veroorsaak merkbare ongemak en inperking in sosiale, werk- en ander belangrike areas van funksionering.
  8. Selfs indien daar enige ander mediese toestand teenwoordig is, is die angs steeds buitengewoon intens.
  9. Die vrees, angs of vermyding word nie beter verklaar deur 'n ander sielkundige toestand nie.
Belangrik
Let daarop dat 'n amptelike diagnose slegs deur 'n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.
Onthou!
Die persoon is oortuig dat iets vreesliks gaan gebeur as sy/hy blootgestel word aan die gevreesde situasie.
Het jy geweet?
Agorafobie kan met of sonder paniekaanvalle voorkom.
Interessant!

“Agora”/(æɡərə) [GRK]) is die Griekse woord wat gebruik is vir die markplein of plek van openbare samekoms.

Agorafobie is dus die irrasionele vrees vir openbare of oop spasies. Die persoon vrees situasies waar hulle beheer kan verloor, vasgevang kan raak en/of nie hulp kan kry nie.

BEHANDELING

Behandeling van agorafobie

Hoekom is dit nodig om agorafobie te behandel?
Agorafobie kan 'n mens se lewe geweldig inperk. Dit verhoed dat jy nuwe dinge leer en ervaar, nuwe mense ontmoet of selfs alledaagse take uitvoer omdat daar te veel vrees en ongemak met die uitvoer daarvan gepaard gaan. 'n Mens met agorafobie kan toenemend geïsoleer raak, wat weer tot ander fisieke en geestesgesondheidsprobleme kan lei. In ekstreme vorme kan dit verhoed dat iemand hul werk kan doen, wat ernstige finansiële implikasies kan hê. Dit is dus noodsaaklik om die nodige professionele hulp hiervoor te kry.

Hoe word agorafobie behandel?

  1. Diagnose
    'n Akkurate diagnose is baie belangrik. Begin daarom eers deur 'n volledige mediese ondersoek by jou algemene praktisyn aan te vra om seker te maak dat daar nie enige ander mediese verklaring vir jou simptome is nie. Indien daar nie is nie, is die volgende stap om 'n afspraak by 'n sielkundige of psigiater, wat jou volledig kan assesseer en diagnoseer, te maak.
  2. Psigoterapie / sielkundige terapie / praatterapie
    Psigoterapie is 'n effektiewe manier om agorafobie te behandel. In terapie sal 'n persoon die vaardighede aanleer om hul angssimptome te hanteer, hul vrese uit te daag en stelselmatig sekere situasies te leer hanteer. Indien dit vir 'n persoon moeilik is om die huis te verlaat en 'n afspraak na te kom, is daar terapeute wat konsultasies telefonies of d.m.v. die elektroniese media sal doen. Indien die kondisie só ernstig is dat die persoon nie baat kan vind by bogenoemde dienste nie, is opname in 'n psigiatriese hospitaal 'n alternatiewe opsie.
  3. Medikasie
    In baie gevalle word medikasie in kombinasie met terapie effektief gebruik om agorafobie te behandel. Hiervoor sal jou sielkundige jou kan verwys na 'n psigiater wat jou sal assesseer en oorweeg vir die voorskryf van medikasie, indien nodig. Dit mag dalk “probeer-en-tref” verg om die regte medikasie en dosis te kry wat vir jou werk. Bly in kontak met jou dokter en kommunikeer enige veranderinge of newe-effekte wat jy mag ervaar.
  4. Lewenstyl
    As onderbou vir die werk aan agorafobie, is dit altyd nodig om gesonde leefstylkeuses te maak wat geestesgesondheid bevorder, bv. gereelde oefening, gesonde slaapgewoontes, gebalanseerde eetgewoontes en tyd om te dink en te ontspan. Rus en roetine bevorder geestesgesondheid. Dit help gewoonlik om die gebruik van alkohol en kaffeïen te beperk.

ONDERSTEUNING

Hoe ondersteun ek iemand met agorafobie?

Dit is belangrik om te onthou dat die persoon nie aktief kies om angstig/bang te wees nie. Die persoon weet gewoonlik dat die angs/vrees nie rasionele sin maak nie. Dit help nie om hulle daaroor te spot of met hulle daaroor te redeneer nie. Die beste wat 'n mens kan doen, is om die persoon aan te moedig om professionele hulp te kry, veral as die toestand hul funksionering inperk. Jy kan ook aanbied om die persoon na sy/haar eerste afspraak te vergesel of vervoer na afsprake te verskaf.

Belangrik
Dit baat nie om iemand met agorafobie te spot of met hulle te redeneer oor hul vrese nie.

Die terapeutiese proses mag dalk vir hulle moeilik en uitputtend wees. Dit is juis dán wanneer aanmoediging en ondersteuning baie waardevol sal wees.

MOED HOU!

Moed hou!

Moenie moed opgee as jy nie vinnig 'n verbetering in jou simptome ervaar nie. Verandering verg tyd, veral as 'n mens op 'n dieper vlak werk. Dit kan ook 'n tydjie neem om die regte medikasie en dosis vir jou uit te werk. Bly in kontak met jou behandelingspan en kom jou afsprake konsekwent na. Dit kan ook help om vir jouself doelwitte te stel om sekere sosiale geleenthede waar jy uitgedaag of blootgestel kan voel, by te woon.

Relevante artikels

  • Angsversteurings

    Angsversteurings

    As die liggaam egter hierdie angs "oordryf" (as daar nie regtig 'n logiese rede vir die angsgevoel is nie) of indien dit meer gereeld voorkom as wat...

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?