ALGEMEEN

Wat is 'n aanpassing?

Verandering is so deel van die lewe soos groei en asemhaal. Elke lewensfase en seisoen bied sy eie uitdagings en veranderinge om by aan te pas. Dink byvoorbeeld aan die oorgang van 'n leerder tot 'n student, 'n kind tot 'n tiener, 'n enkellopende persoon tot 'n verhoudingsmaat,'n vrou wat nie kinders het nie tot 'n ma (sien ook postnatale depressie), en 'n verhoudingsmaat tot 'n enkellopende persoon. Elkeen van hierdie lewensfases bied sy eie uitdagings en sommige veranderinge is makliker om by aan te pas as ander.

Hoewel verandering gewoonlik vir die meeste mense gepaard gaan met uitdagings, lyk dit asof sekere mense dit sonder probleme hanteer, terwyl ander voel asof alles vir hulle te veel raak. Hoekom is dit so? Soos met enige ander sielkundige verskynsel, speel talle faktore 'n rol, bv.:

  1. temperament en persoonlikheid;
  2. risikofaktore;
  3. stressore; en
  4. hanteringsvaardighede (coping skills).

Temperament en persoonlikheid persoonlikheid is gewoonlik belangrike faktore wat 'n mens se funksionering beïnvloed. Is ek mens- of taakgeoriënteerd; gelykmatig of gedrewe? Sien ek die “groot prentjie” of is ek 'n detailmens?; Verkies ek 'n groep mense of eerder een-tot-een kontak? Temperament word saamgevleg uit 'n paar van hierdie kerneienskappe en vorm die basis van iemand se persoonlikheid, wat die gedrag bepaal waardeur ons ons temperament uitdruk. Ons gedrag is dikwels aangeleer en 'n manier om by die eise van ons omgewing aan te pas.

Namate ek myself leer ken en verstaan, kan ek probeer sin maak uit my ervarings en my eienskappe leer bestuur. 'n Taakgeoriënteerde introvert kan bv. leer om tydens periodes van aanpassing tyd opsy te sit om alleen te wees en tot verhaal te kom, terwyl 'n mensgeoriënteerde ekstrovert, bv. soveel as moontlik mense en pret by hul ervaring(s) sal insluit. Terselfdertyd sal 'n taakgeoriënteerde ekstrovert moet leer om hul wense op 'n meer diplomatiese manier te kommunikeer as hulle nie hul verhoudings in die proses wil skaad nie.

Wat kan my help om my temperament en persoonlikheidstyl te leer ken?

  1. selfhelpboeke en -kursusse kan inligting verskaf;
  2. psigometriese toetse (nagevorste toetse wat inligting oor 'n wye reeks aspekte van my funksionering kan verskaf en my kan help om insig te verkry in wie ek is.)
  3. terapie (dit bly 'n waardevolle manier om myself te ontdek en beter te verstaan, terwyl ek saam met my terapeut my eie “storie”, gedagtes, emosies en gedrag verken).

RISIKOFAKTORE

Wat is risikofaktore?

Risikofaktore is aspekte in my lewe en samestelling wat my kwesbaar kan maak vir emosionele probleme), bv.:

  1. my geskiedenis van geestesgesondheid/geestesgesondheidsprobleme
  2. geestesgesondheid van my familie
  3. gebrek aan ondersteuning

Geskiedenis van geestesgesondheid
Indien ek vantevore bv. 'n depressiewe episode ervaar het of gesukkel het met paniekaanvalle, maak dit my meer kwesbaar om onder druk (bv. tydens 'n verandering) weer sielkundige simptome te ontwikkel.

Geestesgesondheid van my familie
Indien ek vantevore bv. 'n depressiewe episode ervaar het of gesukkel het met paniekaanvalle, maak dit my meer kwesbaar om onder druk (bv. tydens 'n verandering) weer sielkundige simptome te ontwikkel.

Gebrek aan ondersteuning
Sosiale ondersteuning word algemeen erken as 'n beskermingsfaktor vir sielkundige probleme. Dit beteken nie dat almal noodwendig talle mense moet hê wat help nie, maar wel dat daar aan my persoonlike voorkeur (volgens my temperament en persoonlikheid) en behoefte vir aandag/hulp/ondersteuning en geborgenheid voldoen moet word.

Stressore
Soos reeds genoem, bestaan daar verskeie veranderlikes in 'n mens se lewensiklus. Sommige mag as traumaties of stresvol ervaar word, terwyl ander meer aangenaam is. Situasies wat tipies stres veroorsaak, sluit in: om te verhuis, die verlies van 'n geliefde/verhouding, aanpassing by ouerskap (sien ook postnatale depressie), verandering by / verlies van werk, om met 'n terminale siekte gediagnoseer te word. Die stressor kan kortstondig of chronies wees.

HANTERINGSVAARDIGHEDE

Hanteringsvaardighede

Hoewel ek nie veel kan doen om my temperament of persoonlikheid te verander nie, kan ek wel vaardighede aanleer om my gedrag te bestuur. Hierdie vaardighede, wat my kan help om makliker aan te pas, sluit in:

  1. Ek is eerlik oor my ervaring en erken die uitdagings
    Dikwels ontken ons die uitdagings wat 'n situasie aan ons stel en probeer ons “sterk” wees. Om egter my ware ervarings en emosies te onderdruk, kan my meer kwesbaar maak vir sielkundige simptome bv. 'n depressiewe episode
  2. Ek leer om vir my gevoelens 'n plek te gee en myself op 'n gesonde manier te reguleer
    Dit is van kardinale belang vir my geestesgesondheid dat ek myself toelaat om my emosies te erken, dit te voel en te leer om dit te hanteer. Verandering gaan dikwels gepaard met gemengde gevoelens. Selfs “goeie” veranderinge kan 'n ervaring van verlies ontlok. Ek neem 'n oomblik om met my “hart” kontak te maak en ek aanvaar die gevoelens wat ek ervaar, as mý gevoelens.
  3. Selfversorging is vir my 'n prioriteit
    Dit is belangrik dat ek omsien na my algemene welstand terwyl ek deur 'n tydperk van aanpassing gaan. 'n Gesonde dieet, gereelde oefening, genoeg slaap en om tyd te maak om tot verhaal te kom, is deel hiervan.
  4. Ek vra vir hulp en ondersteuning
    Dit is soms moeilik om te erken dat ek sukkel. Tog lê daar soveel waarde daarin opgesluit om my stryd met iemand te deel en hulp te aanvaar.
  5. Ek kry professionele hulp
    Soms is dit nie genoeg dat mense rondom my weet wat ek ervaar nie en het ek die hulp van 'n professionele persoon wat terapeutiese ondersteuning kan bied, nodig.

HULP NODIG

Wanneer is dit tyd om professionele hulp in te roep?

Hier volg 'n paar tekens en simptome wat kan voorkom by mense wat sukkel met aanpassing en wat dalk, as gevolg hiervan, verdere sielkundige probleme kan ontwikkel:

  1. sukkel om te slaap
  2. verlies aan of toename in aptyt
  3. sukkel om te ontspan
  4. vergeetagtigheid
  5. probleme met fokus en konsentrasie
  6. gebrek aan energie en motivering
  7. begin meer gereeld reëls en grense verontagsaam
  8. voel angstig
  9. swaarmoedigheid
  10. toename in irritasie
  11. plofbaarheid (meer as gewoonlik)
  12. tranerigheid

Indien iemand twee of meer van die bogenoemde gereeld ervaar, beveel ons professionele hulp aan.

Vrywaring: Bogenoemde is nie 'n aanduiding van 'n diagnose nie. Diagnoses behoort slegs deur 'n professionele persoon gemaak te word.

Wat is die verskil tussen probleme met aanpassing en sielkundige kondisies soos depressie en algemene angs?

Die verskil tussen 'n aanpassingsversteuring en bv. 'n depressiewe episode, lê in die duur van die sielkundige simptome, asook die intensiteit daarvan en die mate waarin dit iemand se funksionering beïnvloed. Dit is altyd beter om 'n professionele diagnose te kry.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?