Psigose
Belangrik!
Indien 'n persoon vermoed dat hy/syself of geliefde aan psigose ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou as moontlik die hulp van 'n professionele persoon inroep.

ALGEMEEN

WAT IS PSIGOSE?

Die voorkoms van psigose is meestal nié moeilik om te identifiseer nie. Delusies (vreemde gedagtes), hallusinasies (sien, hoor of ervaar dinge wat ander nie ervaar nie) en verwarrende spraak (praat deurmekaar en raak onsinnige dinge kwyt) wyk duidelik van die normale af. Daar is ook 'n dramatiese verandering in die persoon se gedrag, want hy of sy ervaar 'n ander realiteit.

SIMPTOME

WAT IS DIE SIMPTOME VAN PSIGOSE?

Die volgende 5 simptome is 'n aanduiding, gegrond op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5), wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron. Let asb. daarop dat 'n amptelike diagnose slegs deur 'n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word.

Delusies Delusies is gedagtes wat nie deur buitestanders verklaar of ontsyfer kan word nie; die persoon kan ook nie oortuig word dat sy of haar denke “vreemd” en onlogies is nie.
Hallusinasies Die persoon sien, hoor of ervaar dinge op 'n sintuiglike vlak wat ander nie ervaar nie.
Gedisorganiseerde spraak Die persoon praat deurmekaar en onsinnig.
Vreemde, gedisorganiseerde gedrag Gedrag wat geen doel het nie.
Emosionele afgestomptheid Verminderde omvang of uitdrukking van emosies.

BEHANDELING

BEHANDELING VAN PSIGOSE

  1. Hoekom is behandeling nodig vir psigose?
    Behandeling is baie belangrik vir psigose omdat die persoon 'n ander realiteit ervaar en dus nie tydens psigose doeltreffend kan funksioneer nie. Soos met enige ander toestand, kom psigose in verskillende grade voor, maar psigiatriese opneming en medikasie is noodsaaklik in die behandeling van psigose.
  2. Wie kan my of 'n geliefde diagnoseer?
    Omdat psigose so kompleks is sou ons jou aanraai om slegs deur 'n kliniese sielkundige of psigiater getoets en gediagnoseer te word. Hulle is opgelei om tussen verskillende versteurings te onderskei.
  3. Watter rol speel 'n sielkundige in my behandeling?
    'n Kliniese sielkundige kan psigose diagnoseer en in samewerking met 'n psigiater psigoterapeuties bahandel. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om 'n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. 'n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met 'n psigiater in spanverband.

ADVIES

ADVIES VIR GELIEFDES EN FAMILIELEDE WAT SAAM MET IEMAND WOON OF SAAM MET IEMAND WERK WAT GEDIAGNOSEER IS MET PSIGOSE/SKISOFRENIE

As 'n geliefde of vriend(in) gediagnoseer word met psigose of skisofrenie, kan jou ondersteuning en motivering 'n baie belangrike rol speel in die aanvaarding en hantering van die diagnose. Die volgende is riglyne vir die ondersteuning van 'n individu:

  • Wees geduldig. Mense wat sukkel met 'n konsep van realiteit het nie altyd die vermoë om te sê hoe hulle voel of wat hulle ervaar nie. Gee hulle 'n kans om eers gewoond te raak aan die diagnose, en begin dan geleidelik met konkrete stappe wat die persoon kan neem om sy of haar daaglikse lewe te bestuur.
  • Wees ingelig deur kennis op te bou van psigose en skisofrenie. Hoe meer jy en jou geliefde, familielid of kollega van die siekte weet en verstaan, hoe meer kan julle saamwerk aan maniere om die persoon te ondersteun in sy of haar hantering van die siekte.
  • Vra wat jou geliefde van jou nodig het. 'n Mens kan maklik aanvaar dat jy weet wat die beste is vir 'n ander persoon, maar die maklikste is om te vra hoe hy of sy wil hê jy moet optree.
  • Luister na die persoon. Moenie aanmekaar raad gee of logies met hom of haar probeer redeneer nie. Dit is belangrik dat die persoon self verantwoordelikheid neem vir die siektetoestand en die uitwerking wat dit op sy of haar lewe gaan hê. Wanneer iemand keuses namens iemand anders maak, kan dit dalk veroorsaak dat die persoon afhanklik raak van die helper en dan nie self die siekte wil beveg nie. Dit is nie jóú siektestoestand nie, maar jou geliefde s’n. Luister is wel 'n wonderlike manier om iemand met hierdie toestand te ondersteun.
  • Leer ken die tekens en simptome sodat jy vroegtydig kan optree. Almal se simptome manifesteer nie op dieselfde manier nie; daarom is dit belangrik om vooraf te weet en te verstaan hoe hierdie spesifieke persoon se simptome gaan manifesteer. Wanneer jou geliefde byvoorbeeld 'n skielike breuk met die werklikheid ervaar, kan jy betyds voorsorg tref vir die hantering daarvan.
  • Doen fisieke aktiwiteite saam met die individu. Dit is nie 'n cliché dat gereelde oefening mense met sielkundige diagnoses help nie. Dit verlig spanning en angstigheid, en help met die produksie van oodragstowwe wat lae gemoed beveg. Gereelde oefening is dus eintlik 'n suksesvolle anti-depressant.
  • Moedig 'n gesonde eet- en slaappatroon aan. 'n Gevestigde roetine help nie net die persoon om hul siekte te bestuur nie, maar help ook om tekens/simptome vroegtydig raak te sien.
  • Kyk mooi na jouself! Onthou, 'n persoon met gediagnoseerde psigose of skisofrenie in jou lewe kan jóú ook negatief beïnvloed deur jou by hul versteuring te betrek. Om saam met 'n persoon te leef wat gediagnoseer is met psigose of skisofrenie kan frustrerend, uitputtend en soms chaoties voel. Maak tyd vir jouself ook.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?