Kinderloosheid
Het jy geweet?
Een uit elke vier verhoudingspare in ontwikkelde lande word geaffekteer deur infertiliteit.
Reproductive health
Ongeveer 15% van Suid-Afrikaanse verhoudingspare sukkel met infertiliteit.
Infertility (Health 24)

ALGEMEEN

Anoniem skryf

“Wat moet ek doen as my lewenslange droom nie bewaarheid kan word nie?”

Ek is getroud met my beste vriend. Ons albei se grootste droom is om kinders te hê, maar na vele probeerslae, en baie geld, het die dokter vir ons gesê dit sal nooit moontlik vir ons, meer spesifiek vir MY, wees nie.

My man is ondersteunend en hou aan verduidelik hoe ons twee genoeg is vir mekaar, maar ek voel daar is geen doel in die lewe as ek nie 'n kind van my eie kan baar nie. Almal se advies vir my is om 'n kind aan te neem, maar dit is nie dieselfde nie. Ek droom al van ek 'n klein dogtertjie was van die dag wanneer ek 'n ma gaan wees.

Ek weet nie hoe om hiermee saam te leef nie. Ek voel daagliks asof ek niks werd is nie, asof ek 'n mislukking is. Elke keer wanneer ek my man sien, voel ek sy drome is hom ook ontneem. Is dit nie beter om liewers te skei nie? Dit gee hom nog die kans om saam met iemand anders 'n gesin te begin. Help my asseblief – ek sien nie vir myself 'n toekoms nie.”

Talle vroue in 'n soortgelyke situasie, sal kan identifiseer met die skrywer van hierdie brief. Soos ons vroeër genoem het (sien verliese) ervaar so 'n persoon ook in 'n rouproses. Hier onder volg 'n paar vrae wat gereeld in ons praktyk gevra word:

Vraag 1
Wie se skuld is die kinderloosheid? Of 'n persoon kan kinders kry of nie, is nie iets wat enige mens kan beheer nie. Hoekom voel ek dan so skuldig omdat ek nie kinders kan kry nie?

Antwoord
Hierdie is 'n normale reaksie tydens die rouproses van 'n vrou wat nie kan kinders kry nie, of wat 'n miskraam gehad het. 'n Mens wil graag IEMAND blameer en omdat swangerskap slegs binne 'n vrou se liggaam gebeur, blameer sy haarself gewoonlik. Dit is 'n emosionele reaksie, want dit is hoe sy voel, maar die rasionele respons is dat dit nie haar skuld kan wees nie.

Dit is nogtans nodig dat sy haar gevoelens (rasioneel of irrasioneel) verwoord, eerder as opkrop, want dit is deel van die manier hoe sy haar hartseer kan verwerk.

Vraag 2
Wat kan ek as man/verhoudingsmaat doen of sê om haar te help om minder skuldig te voel?

Antwoord
Soms dink 'n mens nie dit is nodig om die voor die hand liggende dinge te sê nie, maar die meeste van die tyd is dit tóg nodig dat iemand dit hoor. Ek sou hom dus aanmoedig om te sê dat hy haar nie blameer nie (indien dit is hoe hy voel, natuurlik) en dat hy sy liefde en verbintenis aan haar bevestig.

Indien hy haar wel om die een of ander rede blameer, sou ek hulle aanraai om eerder saam 'n sielkundige te raadpleeg en met behulp van terapie deur die situasie te werk.

Vraag 3
Wat as ek nie 'n kind wil aanneem nie?

Antwoord
Soos die briefskrywer noem, voel aanneming nie vir haar dieselfde nie, want haar droom sluit waarskynlik in die hele swangerskapproses en die idee dat 'n deeltjie van haar en haar man voortleef in iemand anders. Om 'n kindjie aan te neem, is 'n totaal verskillende proses. Ja, dit vul dalk die leemte van “om 'n kind te hê”, maar kan nie 'n plaasvervanger wees vir die proses van kinders baar nie.

Aanneming is 'n belangrike en gewigtige proses. Indien die paar dit wel oorweeg, is dit belangrik om seker te wees dat hulle dit om die regte redes doen, en dat hulle in staat is om in die beste belang van die kind op te tree.

Vraag 4
Van kleins af was om kinders te hê my doel in die lewe, maar daardie doel is my nou ontneem. Ons almal weet om 'n doelwit in 'n mens se lewe te hê, gee vir ons betekenis, dus, hoe kan ek my fokuspunt skuif om 'n nuwe doel te vind?

Antwoord
Dit is belangrik dat sy eers rou en vrede maak met haar huidige situasie, voordat sy probeer om haar drome te herdefinieer. Terapie kan baie help om dinge te verwerk en ander moontlikhede raak te sien, maar dit is elkeen se persoonlike reis om daarby uit te kom. Dit is nogtans belangrik om afskeid te neem van die oorspronklike droom en oop te wees om 'n nuwe droom te koester.

Enige mens, met of sonder biologiese kinders, het baie om aan die samelewing te bied. Daar is altyd geleenthede waar iemand se behoefte om liefde te gee en te koester 'n verskil kan maak in iemand anders se lewe. So 'n betrokkenheid kan sin aan die lewe gee. Daar is altyd geleenthede in die normale gang van die lewe, dikwels by die werk, in die familie- of gesinskring, deur betrokkenheid by uitreikaksies /vrywilligerorganisasies of kinder-/bejaardesorg.

ADVIES

Raad om 'n gesamentlike verlies binne 'n verhouding te hanteer

Maak en breek
Elke huwelik/verhouding het sy goeie en slegte tye, asook uitdagings. Die hantering van 'n verlies is vir seker 'n groot uitdaging. Dit kan 'n verhouding maak en breek. Indien die individue binne die verhouding mekaar die rug keer en toelaat dat daar 'n emosionele skeiding tussen hulle ontstaan, kan dit die verhouding ernstig benadeel. Indien hulle eerder begrip toon vir mekaar, en saam daardeur werk, kan dit hul verhouding versterk.

Kommunikasie
Dit is van kardinale belang dat verhoudingsmaats met mekaar kan praat oor wat hulle voel en ervaar. 'n Verhouding kan baie verdiep deur so 'n krisis saam te hanteer. Oop kommunikasie en respek vir mekaar se behoeftes is belangrik.

Elkeen sy spasie
Elke verhoudingsmaat behoort sy/haar eie “spasie” te hê om die situasie op hul eie unieke manier te hanteer. Hulle hoef nie alles te deel of permanent in mekaar se geselskap te wees om kontak met mekaar te behou nie. Laat elkeen toe om ook tyd te spandeer met haar-/homself en haar/sy emosies. Lees ook meer onder hantering van die verlies.

NOODMAATREËLS

Indien jy of ‘n geliefde sukkel met geestesgesondheidsprobleme, stel ons die volgende opsies voor:
  1. skakel jou huisdokter (indien beskikbaar);
  2. gaan na jou naaste hospitaal se noodeenheid;
  3. skakel een van die volgende noodnommers: SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep) se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of selfdoodkrisislyn: 0800 567 567; of
  4. kontak Wie is ek?