Louis Awerbuck
Louis Awerbuck
Kliniese sielkundige
Stellenbosch
Vir meer inligting oor die skrywer

Die siekte van ons tyd

Ondanks volop beskikbare inligting oor, en die toenemende begrip vir depressie, is dit duidelik dat mense nog nie die volle impak van hierdie siekte besef nie.

Wêreldwyd word gepraat van ‘n “depressie-epidemie”, en alhoewel hierdie gemoedstryd so algemeen in ‘n modern wêreld geword het, lyk dit asof mense nog nie besef hoe gevaarlik die toestand is nie. Om maar enkele voorbeelde te noem: In Suid-Afrika is depressie die tweede grootste oorsaak van sterftes by mense tussen die ouderdomme van 15 en 25, en een uit elke vier tieners wat aan depressie ly het al selfdoodpogings aangewend. Ongeveer twee-derdes van alle selfdood in Suid-Afrika gebeur met mense tussen die ouderdomme van 20 en 39. Hierdie mense het byna almal onder depressie gebuk gegaan.

Afgesien van die direkte verband tussen selfdood en depressie, veroorsaak die “swart hond” ook ander lewensgevaarlike fisieke toestande. Mense met depressie ervaar oor die algemeen kenmerkende gewigstoename- of verlies. Die toename van gewig word gekoppel and etlike gesondheidsrisiko’s, soos diabetes en hartverwante toestande. Dit blyk dat omtrent een uit elke vyf mense wat siektes van die koronêre stelsel ontwikkel, ook aan depressie ly. Kroniese pyn en inflammasie wat deur die stres van depressie in die liggaam veroorsaak word, impakteer negatief op ons immuunstelsels, wat weer verder kan lei tot tipe-2 diabetes, artritis en geïrriteerde dermsindroom (IBS). ‘n Verdere algemene simptoom van depressie is slaapversteurings of insomnia, waaroor daar vele navorsing gedoen is. Te veel skommelinge in die slaappatroon hou weer verband met bloeddruk- en spysverteringsprobleme, asook sommige tipes kanker.

Depressie affekteer mense se denke, emosies en optrede. Soms word die ervaring beskryf as ‘n konstante gevoel van hartseer of ‘n verlies aan belangstelling wat mense se funksionering in hulle werk, alledaagse aktiwiteite en verhoudings negatief beïnvloed.

Mans is oor die algemeen minder geneig as vroue om die gevoelens van lae selfbeeld en min selfvertroue wat saam met depressie gaan, te erken. Hulle kla gewoonlik meer oor moegheid, geïrriteerdheid, slaapprobleme of ‘n verlies aan belangstelling in hulle werk of stokperdjies. Mans wat aan depressie ly is ook meer geneig om aggressie, roekelose gedrag en dwelm- of alkoholmisbruik te ontwikkel. Vroue, daarenteen, ervaar oor die algemeen meer intense skuldgevoelens, ooreet-gedrag, menstruele pyn en gewigstoename of -verlies.

Hulp in die vorm van medikasie en sielkundige behandeling is beskikbaar, so as jy iemand is wat depressiesimptome ervaar en sukkel om die mas op te kom, is dit tyd om by ‘n professionele persoon om hulp te gaan aanklop.

Relevante artikels

Artikels van die skrywer

Soek professionele hulp in jou area / Find professional services in your area
Wie is ek? het hul eie kontaklys (directory), waar mense die geleentheid gebied word om kliniese sielkundiges, opvoedkundige sielkundiges, bedryfsielkundiges, beradingsielkundiges, maatskaplike werkers, kliniese maatskaplike werkers, geregistreerde beraders, psigometriste, arbeidsterapeute, psigiaters in hulle area op te soek.

Indien jy nie kry waarna jy soek nie kan jy ons nogsteeds kontak en ons sal jou help met advies of kontakbesonderhede van ‘n professionele persoon naby aan jou.

Indien jy belangstel om gelys te word op ons kontaklys (directory), volg die skakel.