Die rol van die man in ‘n krisis?

Wat beteken dit in ons huidige samelewing om ‘n man te wees? Wat mág ‘n man deesdae doen en wat nie? Wat ís die rol van ‘n man? Is dit oukei om manlik te wees? Mag ons nog onderskei tussen mans en vroue?

Is dit nie van die vrae waarmee ons tans gekonfronteer word nie? Dit is deesdae baie moeilik om ‘n man se rol te definieer. Feitlik al die definitiewe beskouings wat daar vantevore hieroor was, word nou bevraagteken of verwerp. Dit veroorsaak dat baie mans onseker voel, depressief raak en al meer geïsoleerd raak.

In vervloë dae – toe ‘n meer patriargale stelsel aan die orde van die dag was – was dinge op die oog af eenvoudiger. Die man was in beheer. Sy rol as leier, beskermer en voorsiener was duidelik gedefinieer en vroue en kinders het dit aanvaar. Ongelukkig is dié posisie en mag soms misbruik en het dit gelei tot onderdrukking (en die misbruik) van vroue en kinders.

Met die opkoms van feminisme en vroueregte is die heersende stelsel en status van die man uitgedaag. Skielik was daar ‘n ander stem wat saak gemaak het, en geleidelik het die invloed van hierdie stem al hoe groter geraak.

Deesdae is ons meer bewus van huishoudings met vroue aan die hoof daarvan, mans wat tuisteskeppers is, asook vroue wat leiersposisies in die werkplek en politiek beklee. Terwyl daar diegene is wat aanvoer dat dit meer geleenthede vir vroue skep, is die vraag: Waar laat dit mans?

Die duidelik gedefinieerde rol van “beskermer, voorsiener en leier”, is tans meer oop vir interpretasie. Sommige mans voel dalk gemaklik daarmee om in ‘n groter mate die versorgersrol tuis te vervul en ruimte te laat vir sy vroulike verhoudingsmaat se beroep, terwyl ander – wat van nature dalk meer tuis sou voel in ‘n dominante of leiersposisie – moontlik onseker voel oor waar hulle inpas in die postmoderne wêreld.

Die samelewing is ook nie noodwendig konsekwent of genadig met die vereistes wat aan die geslagsrolle gestel word nie – ‘n vrou moet sag en warm wees, maar ook skerpsinnig, innoverend en vol dryfkrag. Sy moet maer en sportief wees, dit geniet om wonderlike maaltye en snoephappies vir haar gesin voor te berei, spesiale tyd met elke kind en haar verhoudingsmaat spandeer, na haarself kyk, en haar plek in die werkplek volstaan.

Terselfdertyd moet ‘n man suksesvol wees in sy werk, ‘n goeie inkomste verdien, vroue by die werk akkommodeer as hul swanger is of hul kinders siek is, sy eie vrou of verhoudingsmaat toelaat om haar beroep te beoefen, help met kinders rondry en sleurtake by die huis, by die gimnasium uitkom, nie te veel stoom afblaas saam met vriende nie, ‘n betekenisvolle rol in die buurt speel en nog mooi na homself kyk sodat hy nie ‘n boepens ontwikkel nie.

Daar is deurlopend druk op mans om te presteer, om “op te daag”, te perform en te man up, maar dit is nie duidelik op watter terreine hulle moet presteer nie. Dis tog onmoontlik om alles ewe goed te kan doen. Hiérdie druk kan lei tot angs, en selfs depressie.

Uiteindelik is die belangrikste seker om jou eie unieke balans te vind op ‘n manier waarmee jy en jou verhoudingsmaat gemaklik is. Enersyds kan die gebrek aan “duidelikheid” angswekkend wees, maar dalk is dit terselfdertyd ook bevrydend. Moontlik laat dit ook meer ruimte vir die uniekheid van die individu en die verhouding. Op dié manier beweeg ons na meer innerlike motivering en betekenis, eerder as die rigiede eksterne voorskrifte van die verlede. Een ding is seker, die hedendaagse “onsekerheid” oor rolle noop ‘n mens om meer oor hierdie dinge te dink, en nie noodwendig outomaties in ‘n rol in te skuif met die aanvang van volwassenheid nie. Dit skep op sigself dalk meer ruimte vir groei.