Die emosiewiel – wat is dit en hoe word dit gebruik?

Die artikel The Emotion Wheel: What is It and How to Use it? is in Afrikaans vertaal en aangepas deur die Wieisek?-span.

NOTA: Alle verwysings verskyn soos wat dit in die oorspronklike artikel aangedui is. Vir 'n volledige lys verwysings, volg die bogenoemde skakel en kyk onder “References”.

Het jy geweet dat daar ongeveer 34000 menslike emosies bestaan? Dit is dus geen wonder dat die meeste mense sukkel om emosies te identifiseer en daarmee te werk nie. Juis daarom is die emosiewiel ontwikkel om hiermee te help.

'n Sielkundige in die VSA, dr. Robert Plutchik, het navorsing gedoen in dié veld en voer aan dat daar agt basiese emosies is wat die basis vorm vir al die ander emosies: vreugde, hartseer, aanvaarding, walging, vrees, kwaad wees, verrassing en afwagting. (Pollack, 2016)

Hoewel dit onmoontlik is om al 34000 emosies ten volle te verstaan, bemagtig dit 'n mens wanneer jy die basiese/primêre emosie kan identifiseer en kan herken hoe dit by jou voorkom. Dit help veral wanneer 'n mens intense emosies ervaar en oorweldig voel, wat dit moeilik maak om 'n situasie objektief te beskou. Hierdie oomblikke van intense emosie kom gewoonlik voor wanneer 'n mens se bewussyn/ervaring as gevolg van vorige ervarings nieobjektief is nie en 'n veg-of-vlug-reaksie geaktiveer word. (Watkins, 2014)

Wat word bedoel met die woord “emosie”? Navorsers in dié veld is van mening dat emosies episodes is wat deur 'n aantal stimuli veroorsaak word (m.a.w., 'n reaksie op iets). Die stimuli kan intern (bv. 'n gedagte) of ekstern ('n gebeurtenis) wees. Elke emosie bestaan uit verskillende komponente.

Voorbeelde van die emosiekomponente

KOMPONENT PRIMÊRE FUNKSIE VOORBEELDE
Subjektiewe gevoel Monitering Hartseer, geluk, dankbaarheid, kwaad wees, om goed te voel
Neiging tot aksie Motivering Drang om te huil / te ween, om op en af te spring, om te (be)nader
Beoordeling Om betekenis te gee Ek het pas iets verloor, ek het pas 'n geskenk ontvang, iets goed het met my gebeur
Bewegingsaktiwiteit beweeg Kommunikasie Huil, glimlag, jou ken oplig, jouself klein te maak, jou arms vinnig op en af te beweeg
Fisiologies Ondersteuning Veranderinge in pols(slag), bloedvloei, breinaktiwiteit

Die bogenoemde is aangepas uit: The International Handbook of Emotions in Education (Pekrun & Linnenbrink-Garica, 2014).

Verduideliking

  1. Emosiekomponent
    'n Mens ervaar die emosie. Dit is nodig om 'n mens se interne omgewing te monitor en om te herken / erkenning te verleen aan wat op die spesifieke oomblik ervaar word.
  2. Neiging tot aksie-komponent
    Sodra die emosie geïdentifiseer word, reageer die liggaam. Sekere emosies lei tot sekere aksies. Dit beteken dat,hoewel sekere aksies buite ons beheer is (bv. om jou hand weg te ruk van 'n warm stoofplaat), is daar ander wat ons welkan beheer (bv. om te besluit om die toespraak of aanbieding te voltooi, ten spyte van die vrees).
  3. Beoordelingskomponent
    Die idee is dat 'n mens die emosie kan analiseer en dan kan bewus raak van diesituasie, aksie, omgewing of individu wat die emosie veroorsaak/sneller. Dit help 'n mens om tred te hou met die manier wat die stimuli die persoon se welstand affekteer. Dit help ons ook baie om ons interne realiteit met ander mense te kan kommunikeer.
  4. Bewegingskomponent
    Hierdie is die kommunikasiefunksie van hoe ons uitdruk wat ons ervaar (gesigsuitdrukkings, handgebare, liggaamlike bewegings, ens.). Daarom is dit baie belangrik op 'n individuele, sowel as verhoudingsvlak.
  5. Fisiologiekomponent
    Hierdie komponent ondersteun al die ander komponente en is die chemiese reaksie wat die liggaam ervaar. Dit sluit bv. die verhoogde bloedvloei na die hande wanneer iemand kwaad word in. Hoewel die verskillende komponente van die emosiewiel in almal mag voorkom, verskil die intensiteit en uitdrukkingdaarvan van mens tot mens. Die volgende frases is almal deel van dieverskillende komponente van 'n emosie: “ek is bang”; “ek voel bewerig”; “ek wil nie hier wees nie”; of “ek het net nie genoeg tyd om vir die finale vraestel voor te berei nie”.

“Ek is bang,” – beskryf die subjektiewe ervaring van vrees.

“Ek voel bewerig,” – verwys na die fisiologiese komponent van die emosie..

“Ek wil nie hier wees nie,” – dui op 'n neiging om die aksie, wat uitgevoer kan word, of nie uitgevoer kan word nie, te vermy.

“Ek het net nie genoeg tyd om vir die finale vraestel voor te berei nie,” – beskryf'n paar beoordelings van die situasie, insluitend doelwitfrustrasie (ek is nie voorbereid nie) en 'n gebrek aan mag (ek het nie genoeg tyd nie).

Daar is ook waarneembare bewegingsaktiwiteit betrokke by die emosies, bv. gesigsuitdrukkings soos glimlag of frons; liggaamshouding, soos om die arms oop te maak; om die vuiste te lig; asook 'n verandering in die stemtoon, bv. 'n verhoogde toonhoogte.

(Pekrun & Linnenbrink-Garica 2, 2014)

Die emosiewiel

Tien interessante sienings rondom hierdie teorie: (Changing Minds, 2016)

  1. Mense en diere ervaar dieselfde basiese emosies.
  2. Die stelling word gemaak dat emosies ontwikkel het as deel van die evolusieproses.
  3. Emosies se belangrikste funksie is om ons te help om te oorleef.
  4. Elke emosie is saamgestel uit algemene identifiseerbare patrone en elemente.
  5. Die mees basiese emosies is die primêre emosies: vertroue, vrees, verrassing, hartseer, walging, kwaad wees, afwagting en vreugde.
  6. Wanneer die primêre emosies gekombineer word, ontstaan nuwe emosies bv. liefde = vreugde + vertroue; skuldgevoel = vreugde + vrees; genot = vreugde + verrassing.
  7. Emosies is konstrukte, of idees, wat help om 'n spesifieke ervaring te beskryf.
  8. Elke emosie vorm die teenoorgestelde of teenpool van 'n ander, bv.vreugde en hartseer; vertroue en walging; vrees en kwaad wees; verrassing en afwagting.
  9. Die graad van ooreenstemming tussen emosies bepaal watter emosies verwant is aan mekaar en watter teenoorgesteldes is.
  10. Die verskil in intensiteit van die emosie dra by tot die feit dat soveel verskillende emosies ervaar kan word, bv. die verskil in die intensiteit van vertroue strek van aanvaarding tot bewondering; kwaad wees wissel in intensiteit van irritasie tot woede, ens.

Elemente van die wiel

Die wiel toon drie hoofeienskappe:

  1. Kleur
    Die agt emosies is volgens kleur gerangskik om 'n stel soortgelyke emosies aan te dui. Die primêre emosies word in die tweede sirkel aangetoon. Die emosies wat nie in kleur is nie, is 'n vermenging van die twee primêre emosies.
  2. Laag op laag
    Die intensiteit van die kleure neem toe namate dit nader aan die middel van die sirkel beweeg, en die intensiteit van die emosie neem in dieselfde mate toe. Soos 'n mens wegbeweeg van die middelpunt van die sirkel, verlaag die intensiteit van die kleur, sowel as dié van die emosie.
  3. Teenoorgesteldes
    Teenoorgestelde emosies word teenoor mekaar op die wiel gevind. Die spasies tussen die emosies demonstreer die kombinasies van emosies wat jy kry wanneer die primêre emosies met mekaar vermeng word.

Die agt primêre emosies word gegroepeer in teenoorgestelde pare:

  1. vreugde en hartseer
  2. aanvaarding en walging
  3. vrees en kwaad wees
  4. verrassing en afwagting

Hoe om Plutchik se emosiewiel te gebruik:

'n Mens moet eerstens 'n emosionele probleem kan verstaan, voordat dit hanteer kan word, maar omdat daar soveel onbewuste prosesse met emosies gepaard gaan, kan dit oorweldigend voel om 'n emosie te identifiseer en daaroor te praat. Die doel van die wiel is juis om dié proses te vereenvoudig.

Die wiel help die gebruiker om sy/haar emosies te visualiseer en te verstaan watter emosies ter sprake is. Sodra daar duidelikheid is oor wat ons ervaar, kan ons dit hanteer en probeer beweeg in die rigting van die emosie(s) wat ons wíl ervaar.

Daar is twee maniere om die wiel te gebruik:

  1. As 'n tweedimensionele sirkel – met hierdie metode kan iemand ontdek watter primêre emosie(s) hy/sy voel en hoe hulle vermeng/kombineer om sekondêre emosies (soos aggressie, optimisme, ens.) te vorm.
  2. As 'n driedimensionele ellips – met hierdie metode kan 'n mens die emosionele intensiteit van die primêre en sekondêre emosies identifiseer (Roeckelein, 2006).

Volgens Plutchik se model word emosies geaktiveer deur spesifieke stimuli en lei dit tot bepaalde gedragspatrone (Krohn, 2007). Plutchik identifiseer die volgende oorlewingsgedrag as dryfveer vir ons aksies:

  1. beskerming (geaktiveer deur vrees en verskrikking) – onttrek of val terug /blaas die aftog;
  2. verwoesting (geaktiveer deur toorn en kwaad wees) – verwyder struikelblokke om behoeftes te bevredig;
  3. inkorporering (geaktiveer deur aanvaarding) – inneem van voeding;
  4. verwerping (geaktiveer deur walging) – om ontslae te raak van skadelike materiaal;
  5. voortplanting (geaktiveer deur vreugde en plesier) – om te nader, kontak te maak, genetiese uitruiling;
  6. herintegrasie (geaktiveer deur hartseer en smart) – reaksie op die verlies van voedende element(e);
  7. eksplorasie/verkenning (geaktiveer deur nuuskierigheid en spel) – ondersoek 'n omgewing; en
  8. oriёntasie (geaktiveer deur verrassing) – reaksie op kontak met 'n onbekende voorwerp.
    (Screen, 2017)

Bogenoemde beteken dat ons emosies geaktiveer word om een van bogenoemde oorlewingsdrange te ontlok. Dit gebeur natuurlik op 'n onderbewustelike vlak.

Praktiese toepassing

Vir praktiese oefeninge, kyk gerus na die werksblaaie op die volgende skakels:

Daar bestaan wel verskillende vorme van die emosiewiel, soos bv. die Geneva-emosiewiel, elkeen met sy eie spesifikasies en verduidelikings.

Die gebruik van die emosiewiel in berading of terapie

Iemand begin gewoonlik met terapie wanneer hy/sy 'n krisis ondervind. 'n Krisis lei gewoonlik tot verskeie vrae rondom ons rol in die wêreld, asook die emosies wat ons ervaar en wat dit aan ons en ander kommunikeer. Dit is juis wanneer ons probeer fokus op ons emosies, dat die emosiewiel nuttig is om onsekerheid op te klaar.

Die wiel help iemand dan om sy/haar emosies te ondersoek, te verstaan wat dit geaktiveer het en waartoe dit aanleiding gegee het Emosies beïnvloed ons gesondheid, prestasie, welstand, motivering, gevoel van vervulling en onsvermoë om effektiewe besluite te kan neem. Juis daarom is dit belangrik om ons emosies te verstaan en te leer bestuur.

Wanneer iemand nie die proses van emosionele regulering (verstaan en bestuur van emosies) kan bemeester nie, sukkel hy/sy om effektief te funksioneer en 'n gevoel van interne beheer te behou. Ons praat van 'n interne lokus van beheer. Mense met 'n interne lokus van beheer glo dat gebeure (goed of sleg) in hul lewens veroorsaak is deur beheerbare faktore, soos hul houding, voorbereiding en moeite (Grinell, 2016).

Hulpmiddels soos die emosiewiel help om die presiese emosie te identifiseer en te verstaan hoe die emosie ontstaan het. Hieronder volg die kombinasies van primêre emosies (Anderson, 2017):

Liefde = vreugde + vertroue Berou = hartseer + walging
Skuld = vreugde + vrees Jaloesie = hartseer + woede
Plesier = vreugde + verrassing Pessimisme = hartseer + afwagting
Onderdanigheid = vertroue + vrees Minagting = walging + kwaad wees
Nuuskierigheid = vertroue + verrassing Sinisme = walging + afwagting
Sentimentaliteit = vertroue + hartseer Morbiditeit = walging + vreugde
Ontsag = vrees + verrassing Aggressie = Kwaad wees + afwagting
Wanhoop = vrees + hartseer Trots = Kwaad wees + vreugde
Skaamte= vrees + walging Dominansie = Kwaad wees + vertroue
Teleurstelling = verrassing + hartseer Optimisme = afwagting + vreugde
Ongeloof = verrassing + walging Hoop = afwagting + vertroue
Verontwaardiging = verrassing + kwaad wees Angs = afwagting + vrees

Sodra die persoon die emosie – en waar dit vandaan kom – kan identifiseer, kan daar verder aandag gegee word aan die onderbewustelike prosesse en waarom daar sekere probleme is.

Die wiel:

  1. vereenvoudig emosies;
  2. help die persoon om te verstaan waar die emosie vandaan kom en waartoe die emosie aanleiding gee;
  3. help 'n persoon om hul ervaring te verbaliseer / uit te druk;
  4. bemagtig 'n mens om te verstaan en te erken wat jy voel en om 'n gevoel van beheer te skep in die wete dat die emosie(s) op 'n gesonde manier hanteer kan word (Minter, 2014).

Finale gedagtes

Die emosiewiel en ander soortgelyke hulpmiddele is waardevol omdat dit 'n mens help om betekenisvolle doelwitte vir geestegesondheid te bereik, soos byvoorbeeld:

  1. Leer om aandag te gee aan jou emosies.
  2. Raak nuuskierig, maar wees ook geduldig met jou emosies.
  3. Praat oor jou emosies en wys jou ware emosies aan ander.
  4. Leer om te aanvaar dat 'n mens verskillende emosies het.
  5. Vervang jou emosies met ander emosies (waar nodig, moontlik en toepaslik).

Die waarde van die emosiewiel is dat dit ons help om ons emosies beter te verstaan en daardeur die lewe meer hanteerbaar te maak.