Wie is Lise Swart
Lise Swart is gebore en getoë in Somerset-Wes (Wes-Kaap) en het BA Drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.
Sy het bekendheid verwerf as aanbieder van gewilde televisieprogramme soos Pitstop (SABC2), Roer! (KykNET), Kwêla (KykNET) en Kook en Geniet (KykNET) en was ook jare lank agtergrondsangeres vir Anton Goosen.
Die ondervinding wat sy in 2002 by ‘n rehabilitasiesentrum vir tieners in Londen opgedoen het, het haar laat besef dat dit haar eintlike roeping is om met mense te werk. Dit was die groot dryfkrag agter die ontstaan van die weeklikse radioprogram Wie is ek? – met Louis en Lise (Vrydae om 11.30 op RSG). Sy is die vervaardiger en aanbieder van dié program, asook die mediahoof van die besigheid met dieselfde naam.
Lise Swart in gesprek
- Hoekom was jy in Londen en hoe het dit gebeur dat jy by ‘n rehabilitasiesentrum gewerk het?
Soos die meeste jongmense, het ek ‘n studielening gehad om af te betaal. Daardie jare was ‘n twee jaar lange werk in Londen, waar jy in ponde in plaas van rande betaal is, nog die maklikste en vinnigste manier om geld te verdien. Ek het weggespring met ‘n administrasiewerkie by die rehabilitasiesentrum, maar die hoofpsigiater het iewers agtergekom dat die tieners groter aanklank by my vind as by die meeste middeljarige dokters, en so is ek toe opgelei om die aanvanklike assesseringstoetse met die kinders te doen en die ouers by te staan met vrae oor die proses. Dit was ‘n ongelooflike ervaring, wat my opnuut laat besef het dat ek eerder mense met probleme wil bystaan as om op ‘n verhoog te wees.
- Hoekom het jy besluit om ‘n televisie-aanbieder te word?
Dit was nooit vir my ‘n opsie nie, totdat ek in my vroeë twintigs deur die vervaardiger van Roer! (KykNET) genader is om ‘n oudisie by te woon. Omdat die medium in daardie stadium vir my so vreemd was het ek alles verkeerd gedoen, en ek was 100% daarvan oortuig dat ek nie die oudisie geslaag het nie. Dit was ‘n groot skok toe die vervaardigers my laat weet dat ek die werk gekry het. Kort voor lank het ek vertroud geraak met die medium en elke oomblik van my werk geniet, veral om met die mees uiteenlopende persoonlikhede te gesels. In 2011 het ek egter besef dat ek my eintlike droom, naamlik om radiowerk te doen, wil verwesenlik. Dit is toe dat Wie is ek? – met Louis en Lise “gebore” is.
- Hoe het jou drama-opleiding jou loopbaan gehelp?
Siende dat ek nooit in teaterwerk belanggestel het nie, het daardie deel van die opleiding nie veel vir my loopbaan beteken nie, maar die spraakopleiding was van onskatbare waarde. Dit was egter in my studentejare dat ek begin besef het hoe belangrik dit vir ‘n mens is om te weet wie jy is. Of jy ‘n rol moet vertolk, ‘n belangrike keuse moet maak of ‘n verhoudingsmaat moet kies – ‘n mens moet jouself ken. Jy moet weet wié jy is, hóé jy is en hoe die wêreld daar buite jou sien.
- Hoekom het jy met Wie is ek? begin?
In 2011 is ek gediagnoseer met algemene angs. Dit was moeilik om die diagnose te aanvaar, want dit het gevoel asof al die simptome wat die psigiater uitgewys het, deel is van wie ek is. Van medikasie wou ek ook niks weet nie, maar ek het uiteindelik ingestem om dit te gebruik, op dié voorwaarde dat ek die gebruik daarvan (met die psigiater se hulp) enige tyd kon stop.
My lewe het nogal dramaties verander. Vóór my besoek aan die psigiater was ek nie bewus van my swak konsentrasievermoë, hoe geïrriteerd ek met mense kon raak of hoe sleg ek eintlik geslaap het nie. Selfs my kroniese verkoues en griepaanvalle het opgehou.
Dit het ál duideliker geword dat duisende mense daar buite óók hulp nodig het; dus het ek, met ‘n kliniese sielkundige, ‘n gaping raakgesien om mense te help met selfverstaan en die -bestuur van hul onderskeie diagnoses. Hy het saamgestem dat dit ‘n goeie idee is. Ons het ons program aanvanklik op gemeenskapsradiostasies aangebied en in ‘n later stadium by die RSG-familie aangesluit. Sodoende kon ek uiteindelik my droom om ander te help, uitleef.
- Watter rol speel jy in die proses?
My werk gebeur oorwegend in die agtergrond, maar is nogal omvattend: ek is die direkteur, bemarkings- en mediahoof van die Wie is ek-maatskappy, aanbieder van die radioprogram, ek doen die inhoudsbeplanning van die webtuiste, help met die beantwoording van luisteraars- en lesersbriewe, ensovoorts. Eintlik is daar ‘n magdom take wat met die beplanning van so iets gepaard gaan, maar omdat dit ‘n jare lange droom is wat verwesenlik word, geniet ek elke oomblik daarvan.
Ek het lank gesoek na ‘n groep sielkundiges wat my vrae oor sielkunde en menslike gedrag kan beantwoord. Deur my jare lange samewerking met Louis Awerbuck het ek Shickerling Awerbuck Inc. leer ken. Ek hou daarvan om met ‘n groep sielkundiges te werk, want verseker dat mens nie net een persoon se ervaring en opinie hoor nie, maar verskillende professionele mense. Wat bydrae daartoe om die beste advies te bied, maak nie saak wat die onderwerp is nie.
Soos Schickerling Awerbuck inc. groei kry ek, en Wie is ek? se luisteraars ook die geleentheid om meer advies op verskeie areas in te win.
Ek glo alles is in die lewe is ‘n proses. Of jy nou ‘n depressievegter is of deur ‘n egskeiding gaan. Niks gebeur vinnig nie – veral nie as mens dit wegwens nie. Baie keer is ons nie eens seker ons is besig met ‘n proses nie, so Wie is ek? probeer mense help om prosesse te identifiseer, probleme aan te spreek en hoe en hoekom dit soms regtig nodig is om vir hulp te vra. Om ‘n mens te wees kom nie met ‘n handleiding nie so elke geval is uniek, so as jy voel die advies wat ons gee is nie gepas tot jou situasie nie, moedig ons jou aan om jou storie met ons te deel. ‘n Professionele persoon sal dan daarna kyk en jou advies bied oor hoe om die situasie te hanteer. Skryf gerus vir ons via ‘n e-pos.