GEMOEDSVERSTEURINGS

WAT IS 'N GEMOEDSVERSTEURING?

‘n Gemoedsversteuring is ‘n versteuringspatroon wat ontstaan as gevolg van ‘n abnormale gemoed. Die meeste persone met ‘n gemoedsversteuring ervaar depressie in ‘n sekere stadium, maar sommige persone ervaar ook skommelinge in gemoed (“op-en-af”-gevoel).

Het jy geweet?

Die term GEMOED verwys na ‘n persoon se emosionele toestand, m.a.w. hoe hy of sy VOEL.

{ Hoe kan ons jou help? }

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Facebook

DEPRESSIE

Depressie is ‘n term wat gebruik word vir ‘n gemoed (gevoel) wat so aangetas is dat persone wat daarmee saamleef, sukkel om normaal te funksioneer. Depressie kom in verskillende vorms voor, maar die mees algemene en bekendste vorm staan bekend as major depressie.

Het jy geweet?

  • Depressie kom wệreldwyd voor. Na beraming raak dit ongeveer 350 miljoen mense.
  • Die toestand kom by ongeveer dubbel soveel vroue as mans voor.
  • Daar word algemeen aanvaar dat beide fisiologiese en sielkundige redes ‘n rol by die oorsaak daarvan speel.
  • Ongeveer 11% van volwassenes in Suid-Afrika is diagnoseerbaar met major depressie, van wie vroue 70% uitmaak.

Belangrik

Ons almal het ons “op en af” dae, selfs vir lang rukke, maar dit beteken nie dat ons almal die toestand van depressie ervaar nie. Tipiese Sunday blues is ‘n voorbeeld hiervan. Almal kan soms “af” voel, maar dit vorm nie ‘n patroon nie. Dis egter belangrik om jouself of jou geliefdes dop te hou as ligte tekens meer gereeld voorkom, want depressie is ‘n toestand wat geleidelik aankom en stelselmatig kan vererger.

Major depressiewe versteuring is die toestand wat aan baie mense bekend is. Dit is ‘n gemoed wat gekenmerk word deur ‘n volgehoue donker gevoel, en val saam met lae denke van die self en ‘n verlies aan genieting van en belangstelling in alledaagse gebeure. Depressie affekteer die persoon se gesin, werkslewe, slaap- en eetpatrone en algemene gesondheid.

LOUIS EN LISE BESPREEK Depressie

LISE VRA: As ek aan depressie dink, sien ek ‘n beeld van ‘n eensame persoon in ‘n donker kamer wat heeltyd slaap en aan selfmoord dink. Is dit ‘n tipiese voorbeeld?
LOUIS ANTWOORD: ‘n Ekstreme voorbeeld. Soos in die geval van enige toestand of siekte, is daar verskillende grade wat gaan bepaal hoe erg jou simptome is.
Mense kan bv. ligte verkouesimptome soos ‘n loopneus en ‘n bietjie kopseer hê, tot baie erger simptome van dieselfde siekte, soos griep of bronchitis.
Mense met erge depressiesimptome kan dus totaal bedlêend wees, nie eet of praat nie en met selfmoordgedagtes worstel, terwyl miljoene depressielyers vervulde lewens lei. Hierdie mense is skaars bewus van hulle toestand en sal net soms noem dat hulle “’n bietjie af” voel.
LISE: Maar wat ís depressie, en wat nie?
LOUIS: Let daarop dat depressie ‘n diagnoseerbare mediese toestand is, met ‘n lys van simptome waaraan voldoen moet word voordat ‘n spesialis dit kan diagnoseer. Ons almal het ons “op en af” dae, selfs vir lang rukke, maar dit beteken nie dat ons almal depressielyers is nie. Dis egter belangrik om jouself of jou geliefdes dop te hou as ligte tekens meer gereeld voorkom, want depressie is ‘n toestand wat geleidelik aankom en stelselmatig kan vererger.
Om diagnoseerbaar te wees, moet minstens een van die volgende twee simptome voorkom, vir 'n tydperk van ten minste twee weke:
Neerslagtigheid (‘n oorheersende gevoel van hartseer of die onvermoë om emosie te ervaar) en/of 'n afname in belangstelling of genot in die meeste daaglikse aktiwiteite.
Om die diagnose te kan maak, moet ten minste vier van die volgende simptome ook vir ten minste twee weke voorkom:
  • Verandering in eetlus; gewigstoename of –verlies.
  • Slaapprobleme soos slaaploosheid of te veel slaap.
  • Geïrriteerdheid of fisieke lamheid op 'n daaglikse basis.
  • Konstante fisieke en/of emosionele moegheid en verlies aan energie.
  • Intense gevoelens van skuld of hulpeloosheid.
  • Onvermoë om te konsentreer of besluite te maak.
  • Gereelde gedagtes aan die dood en/of selfdood.
Indien ‘n persoon vermoed dat hy of sy of ‘n geliefde aan depressie ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou moontlik die hulp van ‘n professionele persoon (‘n mediese dokter, kliniese sielkundige, predikant/pastor of maatskaplike werker) inroep.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN DEPRESSIE?

Depressie is ‘n diagnoseerbare mediese toestand van die gemoed, met ‘n lys van simptome waaraan voldoen moet word voordat ‘n spesialis dit kan diagnoseer.

Die volgende simptome is ‘n aanduiding, gegrond op die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, wat wêreldwyd aanvaar word as die mees gesaghebbende bron van hoe gediagnoseer moet word. Om diagnoseerbaar te wees moet een of albei van die volgende simptome voorkom, vir 'n tydperk van ten minste 2 weke:

  • Neerslagtigheid (‘n oorheersende gevoel van hartseer, of die onvermoë om emosie te ervaar) EN/OF
  • 'n afname in belangstelling of genot in die meeste daaglikse aktiwiteite.

Om ‘n verdere diagnose te kan maak moet ten minste vier van die volgende simptome ook, vir ten minste twee weke, voorkom:


  • Verandering in eetlus; gewigstoename of –verlies.
  • Slaapprobleme, soos slaaploosheid of te veel slaap.
  • Geïrriteerdheid of fisieke lamheid op 'n daaglikse basis.
  • Konstante fisieke en/of emosionele moegheid en verlies aan energie (bv. om “pap” te voel).
  • Gevoelens van skuld of hulpeloosheid wat intens en gereeld is.
  • Probleme met konsentrasie en die neem van besluite.
  • Gereelde gedagtes aan die dood en/of selfdood (meer as gewoonlik).

DEPRESSIE EN SELFMOORD

“Selfmoord”. Dit is seker een van die hardste, koudste woorde. Deesdae verkies vele om eerder van “selfdood” te praat omdat “moord” te ongevoelig klink. Dit is glad nie waar dat mense wat aan ‘n vorm van depressie ly noodwendig ‘n risiko vir selfdood is nie. Dit is egter omgekeerd meestal die geval, deurdat die meeste mense wat selfdood pleeg aan ‘n vorm van depressie ly.

Baie vrae en opinies bestaan oor hierdie gedrag, en dit wil voorkom asof mense oor die algemeen baie sterk hieroor voel. “Lafhartig”, “dapper”, “sondig” en “tragies” is terme wat gereeld en uit alle oorde opklink.

Die feite oor selfdood in Suid-Arika is ontstellend. Elf persent (11%) van alle onnatuurlike sterftes in die land is weens selfdood. Dit is geweldig hoog (veel hoër as die gemiddelde wêreldsyfer) en beteken letterlik dat daar elke uur of uur en ’n half een selfdood in Suid-Afrika voorkom. Meer mans as vroue pleeg selfdood in ons land, en vir elke vier mans wat selfdood pleeg, neem een vrou haar eie lewe. Dis egter interessant dat meer vroue as mans probéér selfdood pleeg, maar dat mans meer suksesvol in hul pogings is omdat hulle meer gewelddadige metodes gebruik, byvoorbeeld om hulleself te skiet of op te hang.

Die vraag waarom mense selfdood pleeg is nie maklik om te antwoord nie, maar ons weet dat depressie ‘n groot bydraende faktor kan wees as dit nie betyds raakgesien en hanteer word nie. Baie selfdoodgevalle in Suid-Afrika sou dus voorkom kon word. Die volgende is sommige van die waarskuwingstekens waarna ‘n mens kan oplet, óf by jouself óf by jou geliefdes:


  • Oormatige hartseer of gemoedskommelinge.
  • Skielike, “eienaardige” kalmte.
  • Onttrekking van werk en familie/vriende.
  • Gevaarlike of selfbeserende gedrag.
  • Ongewone dreigemente van selfdood.
  • Skielike toekomsvoorbereiding, asook afskeid van vriende en familie.

Mense wat oor die algemeen die hoogste risiko loop om selfdood te pleeg, sluit in:


  • Ouer mense wat ’n eggenoot deur die dood of egskeiding verloor het.
  • Mense wat voorheen probeer selfdood pleeg het.
  • Mense met ’n familiegeskiedenis van selfdood.
  • Mense wie se vriend of medewerker selfdood gepleeg het.
  • Mense met ’n geskiedenis van seksuele, psigiese of emosionele mishandeling.
  • Mense wat ongetroud, ongeletterd of werkloos is.
  • Mense wat weens hul werk aan geweld en trauma blootgestel word.
  • Mense met ’n afhanklikheidsprobleem.

Dit beteken natuurlik nie dat iemand noodwendig selfdood sal pleeg as hy of sy in bogenoemde kategorieë val nie, maar dit kan dien as aanwysings om tekens van selfdoodgedagtes en -voornemens by ons geliefdes en kennisse raak te sien.

Belangrik

Depressie kom nie net onder volwassenes voor nie; enigiemand vanaf die ouderdom van drie jaar kan depressie ervaar. Ouers van kinders en tieners, en kinders van bejaardes, moet dus bewus wees van die simptome. Ongeveer 11% van tieners ly aan ‘n depressieweverwante versteuring voor die ouderdom van 18. Meisies is meer geneig om depressie te ontwikkel as seuns, en die risiko vir depressie word ook groter namate ‘n tiener ouer word.

Wenk

Sekere mense is geneig om stiller en meer teruggetrokke te wees as ander. Dit beteken nie hulle is diagnoseerbaar met depressie nie. Wees egter op die uitkyk vir patroonverandering; met ander woorde, wanneer jyself of ‘n geliefde vir meer as twee weke nie dieselfde voel, dink of optree as normaalweg nie.

KINDERS MET DEPRESSIE

Vir sommige kinders is hulle jeug nie sorgvry en sonder emosionele swaarkry nie. Hulle ervaar ook bekommernisse wat oor die algemeen slegs by grootmense voorkom. “Depressie onder kinders” is ‘n uitdrukking wat mense nie graag wil hoor nie. Dit stuit hulle teen die bors, en daar is ‘n groot aantal mense wat glo dat dit onmoontlik is vir ‘n kind om hiermee gediagnoseer te word.

Ongelukkig is dit so dat depressie deesdae meer kinders en adolessente tref as wat vroeër die geval was. Die jongste syfers wys dat meer as 5% van alle Suid-Afrikaanse jongmense diagnoseerbaar is met depressie. Hierdie is baie ernstige syfers, veral as ‘n mens besef dat dit baie moeilik is om hierdie siekte af te skud as dit op so ‘n jong ouderdom begin het. Kinders met depressie is voorts drie tot vier keer meer geneig om dwelms en alkohol te begin gebruik as die kinders in hulle portuurgroep. Die selfmoordsyfer onder kinders en tieners het ook die afgelope 30 jaar verdriedubbel. Byna een uit elke tien kinders wat depressie voor puberteit ontwikkel, pleeg uiteindelik selfmoord.

Behalwe genetiese faktore, blameer kundiges oor die algemeen die vinnig veranderende sosiale omstandighede in die tyd waarin ons leef. Kinders het minder emosionele ankers as tevore; ouers spandeer nie meer soveel tyd met hulle kinders nie, en gevolglik kry kinders minder ondersteuning by hulle huise. Tot en met twintig jaar gelede was dit ‘n algemene verskynsel dat ‘n oupa en ouma saam met die gesin gewoon het, en die gemiddelde tyd wat ‘n gesin in ‘n woonbuurt gewoon het, was 21 jaar. Daar was gevolglik groter ondersteuning van die uitgebreide familie en onmiddellike gemeenskap en vriende.

Die simptome waarvoor ouers kan oplet, is dieselfde vir ouer kinders en adolessente as vir volwassenes. By jonger kinders kan “uitreageergedrag” soos woedebuie gereeld voorkom. Die mees algemene simptome is:

  • Oormatige hartseer of gemoedskommelinge.
  • Chroniese irritasie of woede.
  • Onttrekking van skoolwerk en familie/vriende.
  • Skielike, ongewone slaappatroon.
  • Verandering in eetpatroon: óf te veel óf te min eet.
  • Ongewone gedagtes; praat van selfdood.
  • Konstante moegheid en lae energie.
  • Konsentrasieprobleme.
  • Fisieke klagtes (soos maagpyn en/of hoofpyn), wat nie beter word met mediese behandeling nie.

Kinders wat oor die algemeen die hoogste risiko loop om depressie te ontwikkel, sluit in:

  • Kinders met ‘n familiegeskiedenis van depressie.
  • Kinders in “chaotiese” gesinne of waar konflik herhalend voorkom.
  • Kinders of tieners wat alkohol of dwelms gebruik.

Die beste raad is om van vroeg af met jou kind te kommunikeer. As jy jou kind straf, onthou om net soveel prys en aanmoediging vir positiewe gedrag of nog meer, uit te deel. Kinders kan maklik skaam en skuldig voel, wat tot lae gemoed kan lei. Laat ook toe dat kinders, veral tieners, foute maak. Oorbeskerming kan ook maklik ‘n boodskap van wanvertroue in jou kind veroorsaak.

As jy na jou kind luister, hou in gedagte dat dit wat vir jou onbelangrik is miskien vir hom/haar belangrik kan wees. ‘n Liefdesteleurstelling op 15 is op daardie oomblik iets verskrikliks, selfs al besef ons as ouers dat dit verby sal gaan.

NAGEBOORTEDEPRESSIE

Nageboortedepressie, ook genoem postpartum depressie, is ‘n vorm van kliniese depressie wat veral vroue beïnvloed, tipies na ‘n geboorte. Nageboortedepressie is iets anders as “baby blues”, wat baie normaal is en by feitlik alle vroue voorkom ná hulle geboorte geskenk het. Oor die algemeen kom nageboortedepressie by ongeveer 15-20% vroue voor. Tipiese simptome is hartseer, moegheid, verandering in slaap- en eetpatrone, verminderde seksdrang, algemene angstigheid, sosiale onttrekking, lae selfbeeld en geïriteerdheid.

Die simptome begin gewoonlik in die eerste paar maande na die geboorte van die baba. Nageboortedepressie is ‘n erkende mediese diagnose en begin normaalweg sowat twee weke na geboorte. Dit is ‘n toestand wat maande lank kan duur. pan>

Daar is tans nog onsekerheid oor presies wat die rede vir nageboortedepressie is, en daar bestaan verskeie teorieë. ‘n Paar faktore wat hiermee verband hou en wat gesien kan word as risikofaktore, is die volgende:

  • n Geskiedenis van depressie
  • Sigaretrook
  • Stres oor die algemeen
  • ‘n Ongelukkige huweliksverhouding
  • Min of geen ondersteuning van familie of vriende
  • Enkelouerskap
  • Ongewenste swangerskap

Dit beteken natuurlik nie dat die teenwoordigheid van hierdie faktore op ‘n moontlike ontwikkeling van nageboortedepressie dui nie, maar die risiko is wel groter, veral as daar voorheen ‘n geskiedenis van depressie was.

Vroue wat sukkel met die simptome van nageboortedepressie, is gewoonlik nie geroetineerd in hul versorging van die nuwe baba nie, en sukkel om aan al die eise van so ‘n versorgingskedule te voldoen. Die mees algemene manier wat dan gebruik word om die nuwe baba te hanteer, is dié van vermyding. Die ma gee byvoorbeeld nie aandag aan die baba wanneer hy of sy huil nie. Dit lei gewoonlik tot skuldgevoelens en versterk ‘n reeds lae selfbeeld (bv. “Ek is ‘n slegte ma”). Ernstiger vermyding van die baba kan ook voorkom, en in ekstreme gevalle, selfs mishandeling.

Die beste behandeling vir nageboortedepressie is voorsorg en om vroegtydig op te tree. As ‘n toekomstige ma weet wat die risikofaktore is, kan sy haar beter daarop voorberei. Die res van die gesin kan betrek word sodat almal bewus is van wat moontlik kan gebeur na die geboorte, en hoe almal die nuwe ma kan ondersteun.

Die goeie nuus is dat hierdie simptome behandelbaar is en opgeklaar kan word. Dit moet egter hanteer word, want dit gaan nie noodwendig vanself weg nie. In hierdie geval is dit baie belangrik om saam met die ginekoloog/dokter/kliniek wat by die geboorte betrokke was, te werk en die regte medikasie te kry om die simptome te beheer. Indien moontlik, is dit ook ‘n goeie idee om saam met ‘n opgeleide sielkundige te werk om die simptome te beheer en te oorwin. As professionele hulp nie ‘n opsie is nie, sal dit goed wees om met ‘n geestelike leier, gemeenskapsleier of berader te gesels, wat ondersteuning kan bied en die ma ook na die regte hulppersone kan verwys.

BEHANDELING VAN DEPRESSIE

1. Hoekom is behandeling nodig vir depressie?
Depressie kan voel asof jy nooit onder ‘n donker wolk uitkom nie. Dit kan, soos ‘n sneeubaleffek, erger en erger raak sonder behandeling. Selfs die meer ernstige gevalle van depressie in behandelbaar. As depressie jou dus ontneem van die lewe wat jy graag wil lei, moenie huiwer om hulp te soek nie. Dit is belangrik om jou toestand en die behandelingsopsies wat daar is te leer ken. Van terapie en medikasie tot by gesonde lewenstylveranderinge, is daar doeltreffende behandeling wat jou kan help om jou depressie te oorkom en die sinvolle lewe wat jy wil lei, terug te eis.

Wat kan ek doen as ek vermoed ek ervaar simptome van depressie?

  • Medikasie is nie noodwendig die enigste opsie nie. Lewenstylveranderinge kan kragtige verligting bied.
  • Bly in kontak met geliefdes.
  • Gereelde oefening is ‘n suksesvolle anti-depressant.
  • Eet gesond.
  • Slaap genoeg (6-8 uur per nag).
  • Verminder stresfaktore waar moontlik.
  • Terapie leer belangrike vaardighede om depressie te beheer.

2. Wat doen medikasie?
Die sielkundige ervaring van depressie is gewoonlik vervleg met spesifiek fisiologiese prosesse. Die populêre term “chemiese wanbelans” word dikwels gebruik om hierdie fisieke prosesse te beskryf, maar in werklikheid is dit heelwat meer ingewikkeld. Foutiewe gemoedsregulering, genetiese weerloosheid en fisiologiese faktore in die omgewing is maar net die begin van hoe kompleks die liggaam depressie ervaar. Medikasie in hierdie geval is daarop gefokus om die gemoed te probeer reguleer.

3. Hoe lank moet ek medikasie gebruik?
Dit verskil van persoon tot persoon. Daar is kort- en langtermynopsies. Medikasie kan byvoorbeeld vir twee tot drie maande of lewenslank voorgeskryf word.

4. My medikasie werk nie vir my nie; wat nou?
‘Daar is nie ‘n “one size fits all”-behandeling vir depressie nie. Wat vir een persoon werk, mag dalk glad nie vir iemand anders werk nie. Die beste manier om depressie te behandel is om kennis op te bou van behandelingsopsies, en dan ‘n behandelingsplan vir jou unieke behoeftes saam met ‘n professionele persoon uit te werk. Dit is uiters belangrik om altyd ‘n professionele persoon te raadpleeg.

WENKE vir behandeling:

  • Ons almal se chemie verskil; daarom mag die medikasie wat vir jou voorgeskryf word, dalk nie vir jou werk nie.
  • Dit is belangrik om nie moed op te gee nie, maar vir ‘n maand jou voorgeskrewe medikasie te gebruik en dan terug te gaan na jou dokter.
  • Skryf gedurende die maand alles neer wat jy voel sodat jy vir jou dokter kan verduidelik hoe die medikasie jou laat voel, dink en optree.
  • Hou aan om saam met jou dokter te werk tot jy die medikasie kry wat vir jou werk.

BIPOLêRE VERSTEURING

Bipolêre versteuring, wat vroeër as bipolêre depressie of manies-depressiewe versteuring bekend gestaan het, is 'n toestand wat dikwels misverstaan word. Hieruit kan ‘n mens aflei dat bipolêre versteuring ‘n aanval op jou GEMOED loods en soms so neerslagtig kan laat dat jy nie normaal kan funksioneer nie. ‘n Mens moet pasop om dit nie met major depressie te verwar nie, al sukkel selfs professionele terapeute soms aanvanklik om bipolêre versteuring te diagnoseer weens die ingewikkelde aard van die simptome. Bipolêre versteuring is dus ‘n diagnoseerbare mediese/sielkundige/psigiatriese toestand wat gekenmerk word deur groot skommelinge in ‘n persoon se gemoedstoestand, vanaf uiterste depressie (lae gemoed) tot uiterste manie (uitermatige, ontoepaslike opgeruimdheid).

Bipolêre versteuring het vroeër bekend gestaan as manies-depressiewe versteuring weens die gemoedskommelinge en periodes van normaliteit tussendeur. Persone wat aan dié versteuring ly, is gewoonlik deeglik bewus daarvan dat hulle sukkel met hulle gemoed as gevolg van die abnormaal hoë gevoelskommelinge. Dit is ook algemeen dat hierdie persone soms probleme het om in die samelewing te funksioneer, veral gedurende ‘n maniese fase, en dikwels skuldig voel oor hul gedrag tydens dié fase.

Navorsing oor die toestand duur steeds voort, maar ‘n kombinasie van medikasie en pisgoterapeutiese behandeling (om ‘n sielkundige te gaan spreek), kan die simptome grootliks verlig en lewenskwaliteit verbeter.

Belangrik

Alle mense ervaar skommelinge of veranderinge in hul gemoedstoestand. Dit is normaal en deel van menswees. Soms is ‘n mens byvoorbeeld ekstaties gelukkig, en dan is daar ook tye in die meeste mense se lewe wat hulle baie donker en “af” kan voel. Die verskil is egter dat die persoon wat aan bipolêre versteuring ly, uitgelewer is aan chemiese skommelinge wat baie meer intensief as die gemiddelde persoon s’n is. Die simptome kan soms so intensief raak dat die persoon met bipolêre versteuring selfs kontak met die werklikheid kan verloor. Die gemoedswisselinge kan dramaties en skielik plaasvind, maar in die meeste gevalle vind 'n geleidelike oorgang plaas.

Het jy geweet?

  • Bipolêre versteuring affekteer ongeveer 3-4% van die volwasse bevolking.
  • Die gemiddelde ouderdom waarop simptome begin wys, is 21 jaar. Tienermeisies en tienerseuns is ewe geneig om bipolêre versteuring te ontwikkel, en die risiko vir bipolêre versteuring word ook groter namate ‘n tiener ouer word.
  • 'n Vyf tot tien jaar gaping kom dikwels voor tussen die ouderdom waarop die siekte begin het en die ouderdom waarop dit vir die eerste keer vir behandeling aangemeld word.

Belangrik

‘n Bipolêre versteuring kan soms gesneller word deur intense spanning, veral as die persoon oor die algemeen sukkel om stres te hanteer. Dit is daarom altyd belangrik dat ‘n persoon wat gediagnoseer is met hierdie siekte, hulself moet dophou wanneer die lewenstressors begin druk. Druk by die werk, finansiële druk, verhoudingsprobleme, ens. is maar ‘n paar voorbeelde van faktore wat spanning by individue veroorsaak.

Hoekom is dit so moeilik om bipolêre versteuring te diagnoseer?
Die eerste voorkoms van bipolêre versteuring kan kenmerke van albei fases (uitermatige terneergedruktheid, afgewissel met buitensporige opgewondenheid) toon. Hierna kan jare volg waartydens die persoon geen simptome ervaar nie. Wat ‘n diagnose verder bemoeilik, is dat sommige van die simptome, veral tydens ‘n maniese fase, dikwels ooreenstem met dié van ander toestande. As ‘n mens dan in isolasie na die simptome van bipolêre versteuring kyk sonder om al die faktore in ag te neem, kan jy maklik die verkeerde afleiding maak en van mening wees dat die simptome op die volgende dui:


  • Persoonlikheidsversteurings
  • Anti-sosiale gedrag
  • Verslawingsversteurings
  • Depressie
  • Algemene Angs
  • Psigotiese Simptome
  • Skisofrenie
  • Grootheidswaan (wanneer iemand glo dat hulle belangriker is as wat hulle in werklikheid is; hulle glo byvoorbeeld dat God vir hulle ‘n spesiale boodskap het.
  • Vervolgingswaan (wanneer iemand glo dat verskillende mense of groepe besig is met ‘n “komplot” om hom of haar te na te kom)
  • Paranoia (wanneer iemand buitengewoon agterdogtig is oor ander se bedoelings; hulle glo byvoorbeeld dat daar ‘n bedekte betekenis agter iemand anders se woorde en optrede lê)

‘n Mens kan dus verstaan dat dit vir ‘n professionele persoon moeiliker gaan wees om bipolêre versteuring te diagnoseer as sommige ander sielkundige toestande.

Wat is die simptome van bipolêre versteuring?

Vir iemand om met bipolêre versteuring gediagnoseer te word, moet BEIDE ‘n maniese fase en ‘n depressiewe fase voorgekom het. Al het ‘n maniese fase net een keer voorgekom, selfs jare gelede, is dit genoeg vir die diagnose.

Die maniese fase word gekenmerk deur 'n periode van uitermatige opgeruimdheid, 'n oormaat van energie en geen behoefte aan slaap nie, in samehang met 'n geïrriteerde gemoedstemming. Persone wat hulself in ‘n maniese fase bevind, kan vir dae aanmekaar wakker bly en uiters besig wees. Om as die maniese fase van die bipolêre versteuring gediagnoseer te word, moet die toestand ernstig genoeg wees om die persoon se funksionering te beïnvloed. Dit gebeur veral op onder meer beroeps- en sosiale vlak, deurdat die persoon in die maniese fase probleme optel met geliefdes, vriende of kollegas by die werk.

Belangrik

Vir iemand om met bipolêre versteuring gediagnoseer te word, kan die simptome ook nie die gevolg wees van die misbruik van alkohol of ander middels nie, en moet ook nie aan 'n ander siektetoestand te wyte wees nie.

‘n Meerderheid van die volgende simptome moet aanwesig wees:

  • Oordrewe selfvertroue of grootheidswaan (hyperlink).
  • Behoefte aan slaap wat merkbaar afneem.
  • Die persoon is baie spraaksamiger as gewoonlik en verkeer duidelik onder druk om aan te hou praat.
  • Ideëvlugte – die persoon spring van die een “wonderlike” idee na die volgende, en dink dat sy of haar idees kreatief en insigryk is.
  • Aandag is maklik afleibaar, sonder dat die persoon oor die algemeen ‘n probleem het met aandagafleibaarheid.
  • Oormatige toename in aktiwiteite, wat skielik nuwe doel en betekenis aan die persoon se lewe gee, byvoorbeeld om uit die bloute sewe nuwe projekte vir gemeenskapsdiens gelyktydig te begin.
  • Fisieke geïrriteerdheid en gejaagdheid, en oormatig “besige” optrede in vergelyking met hoe die persoon oor die algemeen optree.
  • Oordrewe betrokkenheid by genotvolle aktiwiteite, maar aktiwiteite wat groot persoonlike risiko’s inhou. ‘n Paar voorbeelde kan die volgende insluit: onoordeelkundig seksuele eskapades, onbesonne beleggings, skielike dobbel, skielike deelname aan gevaarlike sportsoorte sonder dat die persoon voorheen daarin belanggestel het, ens.

Die depressiewe fase van bipolêre versteuring word gediagnoseer wanneer gevoelens van ernstige terneergedruktheid en depressie (hyperlink) konstant gedurende 'n periode van twee weke voorkom. Die persoon verloor ook alle belangstelling in aktiwiteite wat hy of sy voorheen geniet het. Die aanhoudende lae gemoed het ook 'n negatiewe invloed op interpersoonlike verhoudings, en affekteer prestasie by die werk of op skool/universiteit. 'n Ernstige (major) depressiewe toestand word verder gekenmerk deur die aanwesigheid van ‘n meerderheid van die volgende simptome (let daarop dat die simptome die grootste gedeelte van elke dag moet voorkom):

  • Neerslagtigheid/terneergedruktheid, m.a.w. ‘n baie “lae” gemoed.
  • Sigbare gebrek aan belangstelling in byna alle aktiwiteite wat vroeër normaal was vir die persoon.
  • Merkbare gewigsverlies (sonder dat 'n dieet gevolg word) of gewigstoename (ongeveer 5% van die liggaam se gewig binne een maand is ‘n goeie maatstaf).
  • Slapeloosheid of oormatige slaap, feitlik elke dag. Dit kan ook herhaalde wakker skrik in die nag insluit.
  • ‘n Konstante gevoel van moegheid, uitputting en 'n verlies aan energie. Dit is aanwesig selfs al word daar baie geslaap.
  • Gevoelens van nutteloosheid, asook konstante skuldgevoelens, selfs al is daar nie objektiewe rede voor nie.
  • Konsentrasie- en geheueprobleme (veral korttermynkonsentrasie, byvoorbeeld om telefoonnommers te onthou) en 'n onvermoë om besluite te neem (wat oor die algemeen nie kenmerkend van die persoon is nie).
  • Selfdoodgedagtes of gedagtes aan die dood (hyperlink na selfdood).

Nota

Bipolêre versteuring kom soms ook in ‘n ander vorm voor, wat Bipolêr 2 genoem word. Dit is heelwat minder algemeen. Hier word die maniese fase nie as oormatig opgewonde en uitgelate ervaar nie, maar tog meer intens as gewoonlik, en van ‘n meer “geïrriteerde” aard. Hierdie vorm van bipolêre versteuring is nóg moeiliker om van die staanspoor af raak te sien, aangesien die persoon se normale sosiale- of werksaktiwiteite nie noodwendig negatief beïnvloed word nie.

Wenk

Sekere mense is van nature meer geneig daartoe om terneergedruk of spraaksaam en vol selfvertroue te wees as ander. Dit beteken nie hulle is diagnoseerbaar met bipolêre versteuring nie. Simptome wat uit hierdie toestand voortkom is baie meer intens as by mense wat bloot “stil” of uiters ekstrovert van geaardheid is. Wees altyd op die uitkyk vir patroonverandering, soos wanneer jy of ‘n geliefde vir meer as twee weke nie dieselfde voel, dink of optree as normaalweg nie.

Het jy geweet

  • Geslag speel wel ‘n rol, aangesien maniese fases meer dikwels by mans voorkom as depressiewe episodes, terwyl dit oor die algemeen andersom is by vroue.
  • 'n Familiegeskiedenis van geestesversteurings en genetiese samestelling blyk 'n belangrike rol te speel in die oorsaak van bipolêre versteuring. Persone met ‘n familiegeskiedenis hiervan is dus in 'n groter risikogroep om wel die siektetoestand te ontwikkel. Dit is egter nie bekend in hoe ‘n mate oorerwing (genetika) gekombineer met omgewingsfaktore tot die siektetoestand bydra nie.

BEHANDELING VAN BIPOLêRE VERSTEURING

1. Hoekom is behandeling nodig vir bipolêre versteuring?
Sonder die regte behandeling kan die simptome van bipolêre versteuring geleidelik vererger. Bipolêre versteuring kan in dié opsig met ander siektes, byvoorbeeld diabetes, vergelyk word. Albei vereis deurlopende farmakologiese behandeling (medikasie) en monitering deur ‘n professionele persoon, en resultate is oor die algemeen heelwat beter as die persoon gereeld psigoterapie by ‘n sielkundige ontvang. Professionele behandeling is uiters belangrik vir enigiemand wat gediagnoseer is met bipolêre versteuring omdat die versteuring ‘n sterk chemiese oorsaak het en dit moeilik is om die simptome sonder medikasie te beheer.

Wat kan EK doen om my siekte te bestuur?

  • Bou kennis op oor bipolêre versteuring (vra jou dokter, lees oor die siekte en vra vrae tot jy verstaan).
  • Gereelde fisieke oefening is ‘n suksesvolle anti-depressant, soos deur navorsing bewys.
  • Eet gesond.
  • Slaap genoeg.
  • Verminder stresfaktore, sover dit binne jou beheer is.
  • Psigoterapie by ‘n opgeleide sielkundige kan jou belangrike vaardighede leer om bipolêre versteuring te beheer.

2. Watter rol speel medikasie?
Bipolêre versteuring word grootliks veroorsaak deur ‘n ingewikkelde kombinasie van chemiese wanbalans, genetiese faktore en vele meer. Medikasie is noodsaaklik om die chemiese prosesse wat die depressiewe fases en maniese fases veroorsaak, te stabiliseer. Gepaste medikasie is ontwikkel om die gemoedskommelinge of groot spronge in “op” en “af” tye minder intens te maak. ‘n Kombinasie van inligting, medikasie, psigoterapie (om ‘n sielkundige te gaan spreek) en ondersteuning deur naasbestaandes kan ‘n kernrol speel in die lewens van gediagnoseerde persone en dra daartoe by om hulle ‘n vervulde lewe te laat lei.

3. Hoe lank moet ek medikasie gebruik?
Dit hang grootliks af van die graad van jou diagnose, maar oor die algemeen word langtermynbehandeling voorgestel.

4. My medikasie werk nie vir my nie; wat nou?
Daar is nie ‘n pasklaar, resepmatige behandeling vir individue met bipolêre versteuring nie. Wat vir een persoon werk, mag dalk nie vir iemand anders werk nie. Jou dokter sal aanvanklik verskillende soorte medikasie probeer totdat julle die regte medikasie vir jóú gevind het. Dit is uiters belangrik om altyd ‘n professionele persoon (‘n psigiater in dié geval) te raadpleeg oor medikasie en hom of haar op hoogte te hou van jou ervaring daarvan. Jy word sterk afgeraai om jou medikasie sommer op eie inisiatief te los. Dit is algemeen vir psigiaters om ‘n paar keer met spesifieke medikasie te eksperimenteer voor die regte behandeling vir jou as individu vasgestel kan word.

WENKE vir behandeling:

  • Ons almal se chemie verskil; daarom mag die medikasie wat voorgeskryf word dalk nie vir jou werk nie.
  • Dit is belangrik om nie moed op te gee nie, vir ‘n maand aan te hou om jou medikasie te gebruik en dan terug te gaan na jou dokter.
  • Skryf gedurende die maand alles neer wat jy voel sodat jy vir jou dokter kan verduidelik hoe die medikasie jou laat voel, dink en optree.
  • Hou aan om saam met jou dokter te werk tot jy die medikasie kry wat die beste vir jou werk.

ADVIES VIR GELIEFDES EN FAMILIELEDE WAT SAAM MET IEMAND WOON OF WERK WAT GEDIAGNOSEER IS MET GEMOEDSVERSTEURING.

As ‘n geliefde of vriend(in) gediagnoseer word met bipolêre versteuring, kan jou ondersteuning en motivering ‘n baie belangrike rol speel in die aanvaarding en hantering van hulle diagnose. Hier is riglyne hoe jy ‘n individu kan bystaan:

  • Wees geduldig. Mense wat onder die aanslag van ‘n gemoedsversteuring verkeer, het nie altyd die vermoë om te sê hoe hulle voel of wat hulle ervaar nie. Gee hulle ‘n kans om eers gewoond te raak aan die diagnose, en om geleidelik ‘n daadwerklike plan te kan uitwerk om hulle lewe van nou af te bestuur.
  • Wees ingelig oor bipolêre versteuring. Hoe meer jy en jou geliefde, familielid of kollega van die siekte weet en verstaan, hoe meer kan julle saamwerk aan ‘n plan om die persoon te ondersteun en die siekte te bestuur.
  • Vra wat jou geliefde van jou verwag. ‘n Mens kan maklik dink jy weet wat die beste vir ‘n ander persoon is, maar die maklikste is om te vra hoe hy of sy wil hê jy moet optree
  • Luister na hom of haar, en moenie konstant raad gee of met logika probeer redeneer nie. Dit is balangrik dat die persoon self verantwoordelikheid neem vir die siektetoestand en die effek wat dit op sy/haar lewe gaan hê. Wanneer iemand keuses namens iemand anders maak, kan dit dalk veroorsaak dat persone afhanklik raak van jou en dan nie self die siekte wil beveg nie. Dit is nie jóú siektestoestand nie, maar jou geliefde s’n. Luister is wel ‘n wonderlike manier om jou geliefde te ondersteun.
  • Leer ken die tekens en die simptome sodat jy vroegtydig kan optree. Almal se simptome van bipolêre versteuring manifesteer nie op dieselfde manier nie, so dit is baie belangrik om te verstaan hoe die persoon in jou lewe se simptome manifesteer. Wanneer jou geliefde byvoorbeeld skielik aansienlik meer angs ervaar as ander tye, kan jy solank maatreëls begin tref.
  • Neem deel aan fisieke aktiwiteite saam met die individu. Dit is nie ‘n cliché dat gereelde oefening mense met sielkundige diagnoses help nie. Oefening verlig spanning en angstigheid, en help met die produksie van oordragstowwe wat lae gemoed beveg. Gereelde oefening is dus eintlik ‘n suksesvolle antidepressant.
  • Moedig ‘n gesonde eet- en slaappatroon aan. ‘n Gevestigde roetine help nie net die persoon om hul siekte te bestuur nie, maar help ook om tekens/simptome vroegtydig raak te sien.
  • Kyk mooi na jouself! Onthou, ‘n persoon met gediagnoseerde gemoedsversteuring kan jou ook negatief beïnvloed deur jou by hul versteuring te betrek. Om saam met ‘n persoon te leef wat gediagnoseer is met gemoedsversteuring kan frustrerend, uitputtend en soms chaoties voel. Maak tyd vir jouself ook.

ALGEMENE INLIGTING OOR BEHANDELING VAN GEMOEDSVERSTEURINGS

1. Hoekom is behandeling nodig vir gemoedsversteurings?
Sonder die regte behandeling kan die simptome van gemoedsversteurings geleidelik erger en erger raak. Gemoedsversteurings kan op dié manier met ander siektes, bv. diabetes, vergelyk word. Albei vereis deurlopende farmakologiese behandeling (medikasie) en monitering deur ‘n professionele persoon, en die resultate is oor die algemeen heelwat beter as die persoon gereeld psigoterapie by ‘n sielkundige ontvang. Professionele behandeling is uiters belangrik vir enigiemand wat gediagnoseer is met ‘n gemoedsversteuring omdat daar ‘n sterk chemiese onderbou van simptome is en dit moeilik is om die simptome onder beheer te hou (dit kan m.a.w. eskaleer) sonder medikasie en/of psigoterapie.

2. Wie kan my of ‘n geliefde diagnoseer?
Alle sielkundige diagnoses is kompleks; daarom raai ons jou aan om slegs deur ‘n kliniese sielkundige of psigiater getoets en gediagnoseer te word. Hulle is opgelei om tussen verskillende sielkundige versteurings met soortgelyke simptome te onderskei.

3. Watter rol speel sielkundige in my behandeling?
‘n Kliniese sielkundige kan enige sielkundige toestand diagnoseer en psigoterapeuties behandel. Dit beteken hy of sy kan jou help verstaan wat jou diagnose is, hoe om daarmee saam te leef en hoe om ‘n strategie toe te pas wat tot gedragsverandering kan lei. ‘n Sielkundige in Suid-Afrika mag nie medikasie voorskryf nie en werk gewoonlik saam met ‘n psigiater in spanverband.

4. Wat is die verskil tussen 'n huisdokter, kliniese sielkundige en psigiater?
Huisdokter:‘n Huisdokter studeer medies vir sewe jaar. Omdat hulle nie in die rigting van psigiatrie gespesialiseer het (soos ‘n psigiater) nie, het hulle slegs ‘n beperkte blootstelling aan die opleiding wat noodsaaklik is om mense met sielkundige/psigiatriese toestande te diagnoseer en te behandel. Jou huisdokter mag wel medikasie voorskryf, maar is ook eties verplig om ‘n pasïent te verwys na ‘n spesialis as dit nodig is.

Kliniese Sielkundige:‘n Kliniese sielkundige studeer menslike gedrag en psigoterapie, en moet in Suid-Afrika minstens ‘n meestersgraad hê (ses jaar +), met ‘n internskap en navorsing wat voltooi moet wees om te kan registreer. Dit is die persoon wat jou gaan help om jou sielkundige diagnose (soos posttraumatiese stresversteuring) te verstaan en daarmee saam te leef.

Psigiater:‘n Psigiater studeer ook medies vir sewe jaar, maar spesialiseer verder in psigiatrie, naamlik die chemiese behandeling van afwykings wat met menslike gedrag te doen het. ‘n Psigiater is dus die dokter wat jou kan diagnoseer en die regte medikasie kan voorskryf vir jou sielkundige toestand. Die verwysing na “sielkundige toestande” of “psigiatriese toestande” is presies dieselfde.

5. Is daar ‘n spesifieke soort sielkundige wat ek moet sien?
In Suid-Afrika bestaan daar tans vyf verskillende kategorieë of spesialis-areas waarbinne alle sielkundiges moet registreer:

  • Kliniese sielkundige
  • Voorligtingsielkunde
  • Opvoedkundige sielkunde
  • Bedryfsielkunde
  • Navorsingsielkunde

Die verskillende kategorieë dui die spesialis-areas aan waarbinne sielkundiges volgense regulasies moet hou en aan etiese en wetlike vereistes moet voldoen. Slegs ‘n kliniese sielkundige kan volgens die HPCSA ‘n kliniese diagnose maak.

{ Hoe kan ons jou help? }

Vra ons span

Vra gerus vir die wie is ek?-span deur op die onderstaande skakel te druk. Jou vraag sal so gou as moontlik beantwoord word of maak gerus 'n afspraak by ons praktyk.

Vra die wie is ek?-span

Facebook